Last update: April 4, 2012 03:00:32 PM E-mail Print

 

DlE N.W.K.V.-WOLKLASSTANDAARDE - Ontstaan en ontwikkeling

 

deur

T. J. KRUGER

S.A.- Vagtoetssentrum

Agrikollege

Middelburg, K.P.

 

DIE standaardisasie van enige produk wat te koop aangebied word, is in belang van die koper, verkoper en produsent. So is goeie standaardisasie van wol seker een van die beste wapens wat wolprodusente kan aanwend om wol (en ook hulself) te beskerm teen mededingende tekstielvesels. Doeltreffende wolklasstandaarde is daarom 'n absolute noodsaaklikheid vir die beveiliging en vooruitgang van die wolbedryf.

In hierdie opsig is die Suid-Afrikaanse wolboer baie gelukkig, want sulke standaarde is reeds 3,5 jaar gelede aanvaar deur die Nasionale  Wolkwekersvereniging (N.W.K.V.). Vandag kan allerweë getuig word van die goeie invloed van hierdie standaarde op die wolindustrie van die Republiek. Die klasstandaarde van Merinowol is nie alleenlik baie eenvoudig en duidelik nie, maar voldoen baie goed aan die vereistes van die wolfabrikant. Dit het dan ook grootliks bygedra tot die goeie reputasie van die Suid-Afrikaanse skeersel t.o.v. klassering en verpakking.

Daar was egter 'n tyd toe daar geen amptelike klasstandaarde was nie, en gevolglik baie min of geen klassering van wol in die algemeen plaasgevind het nie. Om dus groter waardering vir ons huidige wolklasstandaarde te verkry, is dit nodig om die verwikkelings na te gaan wat uiteindelik gelei het tot die huidige standaarde.

 

GESKIEDKUNDIGE ONTWIKKELING

Tydperk voor 1910

Geen amptelike wolklasstandaarde vir hierdie tydperk kon opgespoor word me. Daar was egter in 1891 slegs 13 631 011 wolskape in die Kaapkolonie en die wolproduksie was maar 56,038,659¾ pond (gemiddeld 4.1 pd per skaap). In 'n Londense wolmarkverslag is hierdie wol as volg beskryf: "grease super combing, grease combing, grease super clothing, kaffrarians lamb's wool, damaged fleeces, grease pieces, grease locks", ens. Vanselfsprekend was die wolklassering baie onbevredigend en die algemene voorkoms van die wol baie swak. Sekere vooraanstaande Britse fabrikante wou glad nie Suid-Afrikaanse wol aankoop nie. Een leidende fabrikant net hulle misnoeë as volg opgesom: "Keep your dirt".

Aan die begin van die huidige eeu het wolklassering reeds 'n vername rol in Australië gespeel. Wol was reeds geklas en verpak volgens sekere standaarde en dit het gelei tot groot vertroue in die Australiese wolmark. 'n Tegniese Kollege in Adelaide het 'n vername funksie vervul in die opleiding van wolklassers.

Die nadele van hierdie toestand in Suid-Afrika is egter besef, gevolglik is aan die begin van hierdie eeu heelwat gedoen om die toestand te verbeter. So is lesings en demonstrasies by verskillende plekke gehou. 'n Paar deskundiges is uit Australië gekry om behulpsaam te wees met die verbetering van die plaaslike skaap- en wolbedryf.

Wolkwekersverenigings is ook gestig, en een van die oogmerke was om wolklassering en verpakking te verbeter. (Ongelukkig het hierdie verenigings nie lank voortbestaan nie.) Verskeie voorstelle is ook gemaak t.o.v. wolklasstandaarde. Doeltreffende wolklassering is egter bemoeilik deur die groot aantal klein skeersels wat algemeen voorgekom het. Die boere met suIke skeersels is aangemoedig om slegs die wol te klas in vagklas, stukkies, penswol en lots.

Een van die vernaamste voorstelle wat destyds gemaak is, was die van mnr. W. Forbes Clark in 1908. Hy het onder andere voorgestel dat vagwol geklas moes word in die volgende klasse nl  "Super" en "First Combing fleeces", "Super" en "First clothing fleeces" en "Fleeces". Stukkie moes in "First" "Second" en "Stained Pieces" geklas word en penswol ook in twee klasse.

Ten opsigte van die merk van bale het hy voorgestel dat die wolprodusent sy voorletters en/of naam van sy plaas op die bale moes aanbring en indien die wol van 'n goeie gehalte was, ook die naam van die distrik. Verder was die inhoud van die baal noodsaaklik en/of die wol geklas was. Hoewel dit nie duidelik is watter van die voorstelle algemeen aanvaar is nie, was die goeie invloed van sulke pogings vanselfsprekend.

 

Vanaf 1910

Na Uniewording in 1910 was daar 'n geweldige mate van landbou-ontwikkeling. Die skaap- en woldeskundiges was voltyds besig met klassering van kuddes, demonstrasies, lesings en algemene advies en hulp aan boere. Ongelukkig was die aantal deskundiges onvoldoende en was daar ook nie bekwame persone beskikbaar nie. Die Landboukollege Grootfontein is in 1911 gestig en het in latere jare 'n vername rol vervul in die opleiding van wolklassers en het sodoende 'n belangrike bydrae gelewer in die ontwikkeling, verbetering en popularisering van ons huidige wolklasstandaarde.

Gedurende 1912 het mnr. B. C. Mallinson (Hoof "Flockmaster" van die Unie van Suid-Afrika) die volgende interessante voorstel gemaak oor wolklasstandaarde en merk van bale. Die eerste en tweede vagklasse moes "Fleeces A" en "Fleeces AA " gemerk word. Die stukkiesklasse moes ook "Pieces A" en "Pieces AA" gemerk word. Penswol moes "Bellies", loks moes "Locks" en lammerwol moes "Lambs" gemerk word,

Die bale moes op die sye en ente gemerk word met letters nie kleiner as 1¾ duim in hoogte nie. Die naam van die produsent, plaas of distrik, inhoud en nommer van baal moes op die baal verskyn. Met hierdie eenvoudige stelsel was gepoog om wolklassering te verbeter.

In 'n verslag oor sy ondersoek van die nywerheid, in Engeland en Amerika om die Suid- Afrikaanse wolbedryf te verbeter, het generaal B. C. Enslin in 1920 aanbeveel dat die Suid-Afrikaanse skeersel in 29 verskillende klasse verdeel moes word. Hoewel in 'n mate omslagtig, kan dit beskou word as die begin van die verskillende lengteklasse in die huidige standaarde.

Die eerste Wêreldoorlog 1914/1918 het talle probleme teweeggebring veral op landboukundige gebied. Dit het grootliks bygedra tot die organisasie van wolprodusente op 'n geronde basis. Die Middelburg- en Graaff-Reinet-wolkwekersverenigings het veral die voortou op die gebied geneem. Om die standaard van wolklassering te verhoog, is kort kursusse en/of woIskole gehou en sekere woIklasstandaarde is vir die doel opgestel in 1922. Persone wat sulke wolkursusse suksesvol deurloop het, kon die spesifieke merk van sy Vereniging op sy bale gebruik as waarborg van geklasseerde wol.

Die personeel van die Landboukollege, Grootfontein het veral 'n belangrike rol gespeel in die hou van hierdie kursusse of wolskole. Die eerste wolskool (weg van Grootfontein) is gehou op mnr. Gerrie van Niekerk se plaas, Kareelaagte, Nieu-Bethesda, deur mnr. G. J. Schuurman.

 

Die 1924-kongres

Daar was 'n algemene behoefte aan eenvormige wolklasstandaarde gedurende hierdie tyd. Dit was dan ook een van die vernaamste besprekingspunte op die unieke kongres van 1924 op Middelburg, K.P. Die afgevaardigdes het 'n spesiale komitee (bestaande uit woldeskundiges, produsente, kopers en makelaars) gekies om ondersoek in te stel na die aangeleentheid. Die standaarde wat deur die komitee saamgestel is en goedgekeur is deur die kongres kan beskou word as die eerste amptelike wolklasstandaarde. Die klasse en klassimbole was kortliks die volgende.

 

Klas                                Simbool

Super kamwol                       SC

Eerste kamwol                      1C

Tweede kamwol                     2C

Derde kamwol                       3C

Hogget-wol                            H

Eerste lammerwol                  LL

Lammerwol                             L

Rugwol                               BKS

Kampense en stukke            CBP

Pense en stukke                    BP

Loks                                  LOX

Tengerwol                          TDR

Saad en/of klitswol              BUR

Oorsterkwol                         XM

Ramwol                             RAM

Dooiewol                           Dead

 

Dit is interessant om daarop te let dat baie van die byklasse en van die simbole tans nog in gebruik is. Die basiese patroon vir die merk van bale het ook grootliks ooreengekom met die huidige vorm.

Kort na hierdie kongres is die verskillende wolkwekersverenigings georganiseer op 'n nasionale basis en die N.W.K.V. (Nasionale Wolkwekersvereniging) is gestig. Onderlinge verstandhouding wat later aangegaan is met die Departement van Landbou het bepaal dat aIle sake rakende die wolbedryf deur me N.W.K.V. behartig sou word.

Die eerste N.W.K.V.-wolklasstandaarde is gepubliseer in 1926. Met enkele wysigjngs aan die vagklasse en merk van bale was hierdie standaarde dieselfde as die van 1924. Die Springbokkopmerk is ook in hierdie jaar aanvaar as die amptelike brandmerk van die N.W.K.V.  Wie verantwoordelik hiervoor was kon egter nie opgespoor word nie.

Gedurende 1930 is die eerste wolregulasies gepubliseer wat onder andere bepaal het dat penswol, stukkies en lots ooreenkomstig die N.W.K.V.-klasstandaarde geklas en verpak moes word. Alle bale wat ongeklasseerde wol bevat moes duidelik "Unskirted" gemerk word.

Heelwat is gedurende die dertigerjare gedoen om die wolnywerheid te bevorder veral t.o.v. navorsing en voorligting. Baie is gedoen om die gebruik van die Springbokkopmerk te bevorder.

In hierdie opsig het woIskole veral 'n belangrike rol gespeel in die popularisering van die wolklasstandaarde.

Die wolklasstandaarde was egter nog in sekere opsigte baie ondoeltreffend, gevolglik het die N.W.K.V. in 1933 'n Permanente Veselkomitee aangestel om weer eens die aangeleentheid te ondersoek. Hierdie komitee het nuwe standaarde voorgestel waarvolgens vagwol b.v. in lengte en fynheidsklasse verdeel is met Afrikaanse en Engelse simbole, b.v. superkamwol is as volg  beskryf:

 

 

In 1934 het die Uitvoerende Komitee van die N.W.K.V. egter eers hierdie standaarde goedgekeur nadat die simbole op voorstel van mnr. Japie Labuschagne verander is na die meer eenvoudige stelsel (bv. AF, AM, AS, ens) wat tans nog in swang is. Ten opsigte van die byklasse is slegs sekere byvoegings gemaak soos die van kampense (CB), kamstukkies (CP), lammerloks (LLOX) , velwol (VEL) en dooiewol (DEAD). Hoewel daar in latere jare sekere kleinere byvoegings en veranderings aangebring is, het hierdie standaarde basies onveranderd gebly. Die jaar 1934 kan dus beskou word as die algemene ontstaantydperk van ons huidige woklasstandaarde.

Die volgende byvoegings tot die standaarde is gedurende 1941 gemaak, nl. kort lammerwol onder ¾ duim (SL) , lammerpenswol en stukkies (LBP), uitskotvagte (ODD) asook sekere kruisrasklasse. (Die merk van die bale is  reeds in 1936 verander na die huidige vorm). In 1950 is spanlengteklasse (M) en Superfynklasse (FF) bygevoeg sowel as die Superstukklas (A, B, C en D). Na minder belangrike wysigings en byvoegings in 1955, is die standaarde gefinaliseer in 1956. Sekere belangrike veranderings en byvoegings is gedurende 1956 gemaak, bv. Die lengteklasse vir wissellam en lammerwol, asook sekere nuwe klassimbole vir karakoel- en kruisraswol. In 1965 is die klasstandaarde beter omskryf en die SS-simbool vir ekstra sterkwol (58's) is bygevoeg.

 

Algemeen

Met die vyf-en dertigjarige bestaan van ons wolklasstandaarde vanjaar, bring ons hulde aan die pioniers wat die standaarde ontwikkel, verbeter en gepopulariseer het. As hierdie standaarde vergelyk word met die van ander lande, dan besef ons dat hierdie eenvoudige dog baie doeltreffende stel standaarde van die beste in die wêreld is.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 45 (9)