Last update: April 11, 2012 09:44:12 AM E-mail Print

 

Lusern in Suid-Afrika

2. Oes en Gebruik van die Gewas.

dr. H. W. Turpin

 

IN 'n vorige uitgawe van hierdie blad is die distribusie van lusern en die metodes waarvolgens dit verbou word, bespreek; hierdie artikel handel nou oor die oes en gebruik van die gewas.

 

OES

Lusern word hoofsaaklik vir hooi verbou, en dit vereis ondervinding en oorleg om 'n eerstegraad-hooi te produseer. Opbrings en kwaliteit word beïnvloed deur die stadium waarop die lusern afgesny word, soos bewys is deur proewe uitgevoer aan die Grootfonteinse Landbouskool.

Die syfers in die bygaande tabel is onder ideale toestande verkry. In die praktyk sal die verskille tussen die stadiums gewoonlik meer opvallend wees, aangesien die lusern, wanneer hooi daarvan gemaak word, sy blare makliker verloor as dit in die later stadiums van die blomtyd afgesny word. As die lusern gereeld afgesny word voordat dit in die blom is, sal die lewe van die gewas verkort word. Dus om 'n goeie opbrings en kwaliteit en 'n lang lewe vir die gewas te verseker, word aanbeveel dat dit afgesny word wanneer dit ongeveer 10 persent blomme het.

 

 

Kwaliteit by lusernhooi word weerspieël deur blaarrykheid, die fynheid van die strooi, die afwesigheid van onkruid, 'n soet reuk en goeie kleur, terwyl die kwaliteit van die finale produk aanmerklik beïnvloed word deur die wyse waarop dit gehanteer word nadat dit afgesny is sowel as deur die heersende klimaatstoestande. Aangesien hierdie toestande van plek tot plek en van seisoen tot seisoen afwissel, is dit onmoontlik om definitiewe aanbevelings te maak wat onder alle toestande van toepassing sal wees, en derhalwe moet die boer hom op sy ondervinding verlaat.

As daar reën aan die lug is, moet lusern nie afgesny word nie, want die kwaliteit en voedingswaarde van die gewas kan maklik deur die reën benadeel word. Bowendien sal die hantering van die gewas in nat weer ekstra koste veroorsaak. Die droogmaak van afgesnyde lusern noodsaak verskillende tydperke in die werpsel, windry en hope voordat dit in die mied kom, om te verseker dat die gewas geleidelik uitdroog 'n goeie reuk ontwikkel en die kleur en blare behoue bly. Die lusern droog die vinnigste in die werpsel uit, dog in hierdie toestand moet die drogingstydperk nie te lank uitgerek word nie, anders sal die hooi verbleik en die blare bros word, sodat baie van hulle met hantering verlore sal gaan. Die blare kan behou word deur die lusern in al die stadiums alleen gedurende die koel ure van die dag te hanteer, d.w.s. of vroeg in die oggend, wanneer die dou verdamp het, of laat in die namiddag. In die geval van groot lappe lusern kan hierdie praktyk nie altyd gevolg word nie, maar dit behoort sover moontlik toegepas te word.

Die gewas moet ook vroeg in die oggend nadat die dou weggedroog het afgesny word, sodat die lusern tot so 'n mate kan uitdroog dat dit die volgende oggend in windrye gehark kan word, en as die weer warm en droog is, sal dit moontlik wees. Die blare sal behou word as die lusern vroeg in die more, nadat die dou verdamp is, bymekaar gehark word. Waar groot lappe lusern afgesny word, behoort die harkproses op die hitte van die dag gestaak en laat in die namiddag en vroeg die volgende oggend voortgesit te word. As die lusern yl of baie dig is, mag dit nodig wees om hierdie behandeling ietwat te wysig en mag dit ook nodig wees om die lusern vir 'n korter of langer tydperk in die werpsel te laat uitdroog.

Onder sekere toestande, veral waar dit die plan is om die droogmaakproses te bespoedig, word die gewas alleen in die werpsel en die windry gelaat maar waar beoog word om die droogmaakproses op die land te voltooi, is dit wenslik om die hooi in hope te hark. Laasgenoemde metode word algemeen in Suid-Afrika gevolg.

Die tydperk wat die lusern in windrye gelaat kan word, sal weer afhang van die gewas sowel as van die heersende klimaatstoestande, maar onder normale toestande kan dit 'n volle dag in die windry gelaat word, sodat die lusern twee dae nadat dit afgesny is in hopies gehark of gepak sal word.

Die gewas word algemeen in klein hopies drooggemaak, waarskynlik om die proses te bespoedig alvorens die hooi in die mied gepak word, maar die hopies behoort taamlik groot te wees en elkeen behoort sowat 300 lb. hooi te bevat; hulle behoort ook op die walle van die beddings gemaak te word. Die hopies moet kompak wees met skuins sye sodat die reënwater kan afloop. Die tydperk wat die hooi in die hoop bly, sal afwissel na gelang van die omstandighede en die toestand van die lusern voor dit in die hoop gepak word, dog oor die algemeen moet die lusern omtrent twee dae in die hoop bly voordat dit droog genoeg is om in die mied gepak te word. By ondersoek van die hope sal blyk of hulle oopgemaak moet word ten einde verhitting te voorkom en of die hooi in die mied gepak kan word.

Vir die ervare boer is dit moontlik om met die hand te voel of die hooi goed is om in die mied gepak te word. Daar is sekere fisiese eienskappe van die hooi wat hom in hierdie opsig help, nl. Die moontlikheid om vog uit die stingels te pers deur dit vinnig te draai, die weerstand van die stingel se nerf wanneer dit afgekrap word en die afwesigheid van 'n koel gevoel as 'n hand vol hooi teen die gesig gedruk word.

Die miedens behoort op 'n goed-gedreineerde plek en verkieslik op 'n fondament van klippe of pale gepak te word. Miedens van verskillende fatsoene word gemaak, dog in elke geval moet behoorlike aandag aan die middel van die mied gegee word. Dit behoort stewig en dig gepak te word sodat dit nie naderhand sal skeeftrek nie. Waar die mied op so 'n manier gepak is, dat dit van die mid del af na die kante geleidelik losser word, sal dit later, wanneer dit vasgesak het, 'n goeie fatsoen hê. Groot miedens is minder verkwistend as kleintjies, dog wanneer eersgenoemdes gepak word, is dit gewoonlik noodsaaklik om 'n hystoestel en 'n gryphaak te gebruik. In geval daar enige twyfel bestaan omtrent die voggehalte van die lusern wat in die mied moet kom is dit veiliger om twee of meer miedens gelyktydig te maak en beurtelings te pak, want dit sal die hooi gouer laat droog word.

Geswete hooi word gewoonlik toevallig verkry as die lusern 'n oormaat van vog bevat wanneer dit in die mied gepak word, en as gevolg van die gevaar van 'n gedeeltelike of algehele verlies van die gewas deur skroeiing of brand probeer boere nie doelbewus om geswete hooi te maak nie. Geswete hooi sal waarskynlik smaakliker wees as groen hooi, maar sy voedingswaarde is laer,

 

Baal

Aangesien die hooi sekere definitiewe veranderings in die mied ondergaan, is dit minder geneig om te sweet of warm te word as dit gebaal word; derhalwe kan sulke hooi met groter veiligheid gebruik word. Sommige boere verkies om die hooi direk van die land af te haal om sodoende dubbele hantering en 'n onnodige verlies van blare te voorkom en 'n goeie kleur te verseker. Die waarde van hierdie praktyk word egter deur baie persone in twyfel getrek, maar dit word met sukses gevolg wanneer sorg gedra word om alleen hooi van die regte voggehalte te baal. In die reël behoort sulke hooi droër te wees as die wat in die mied gepak word, aangesien daar 'n gevaar is dat skimmel kan ontwikkel. As die lusern baie droog is, kan 'n groot persentasie van die blare, wat anders verlore sou gaan, behou word deur die hooi vroeg in die oggend te baal.

 

Besproeiing

Hoewel die hoeveelheid water, die aantal toedienings en die tyd wanneer die lusern besproei word, die opbrings aanmerklik beïnvloed, gee boere oor die algemeen baie min aandag aan hierdie sy van die saak. Dit sal van die diepte en tipe van grond afhang of swaar enkel toedienings dan wel ligter toedienings met korter tussenpose wenslik sal wees. As die grond vlak en lig is behoort laasgenoemde metode gevolg te word. Om min of meer noukeurig te bepaal hoeveel water per besproeiing toegedien word, behoort 'n permanent opgerigte of 'n vervoerbare meetsluis gebruik te word. Waar beddings reeds uitgelê is, kan die hoeveelheid water wat toegedien word alleen gereguleer word deur 'n groter of kleiner leistroom te gebruik of deur die bedding korter te maak.

Die volgende tabel dui die hooi-opbrings aan wat verkry is met verskillende besproeiingsbehandelings op diep spoelgrond.

 

 

Aangesien die grond op Grootfontein oor die algemeen diep is het dit nie veel gebaat om meer as 6 duim in een besproeiing per snysel toe te dien nie. Boere gebruik onwetend soms meer water per besproeiing, en dit beteken 'n onnodige verlies van water as gevolg van wegsyfering. Dis reeds daarop gewys dat ligter besproeiings met kort tussenposes met voordeel op ligter en vlakker gronde toegedien kan word. Opgemerk sal word dat selfs in die geval van diep grond, twee besproeiings van 3 duim per snysel die opbrings met ongeveer 17 persent vermeerder het bo die wat verkry is met 'n enkele besproeiing van 6 duim per snysel.

Daar is min bewys van 'n verskil tussen die resultate wat verkry word deur die gewas onmiddellik voor of na 'n snysel te besproei. Tot hiertoe het die Grootfonteinse proewe die uitwerking van besproeiing met afwisselende tussenposes nadat die gewas afgesny is, aangetoon, en dit sal opgemerk word dat die beste resultate verkry word met besproeiing wanneer die gewas sowat 6 duim hoog is, of met ander woorde omtrent 14 dae nadat dit afgesny is, wat baie goed by die oeswerk inpas. In die geval van twee besproeiings van 3 duim elk is daar min verskil, wat die resultate betref, wanneer die tweede toediening 10, 14 of 21 dae nadat die gewas afgesny is, geskied.

Die opbringste van die persele wat nie besproei was nie, skyn buitengewoon hoog te wees en dit is toe te skryf aan die feit dat gewone plaasverlies onder proeftoestande voorkom kan word. Onder gemiddelde Karootoestande groei lusern wat sonder besproeiing verbou word gewoonlik so swak dat dit nie vir hooi gebruik kan word nie.

Dis interessant om op te merk dat daar 'n verhouding bestaan tussen die hoeveelheid besproeiingswater wat gebruik word en die opbrings per morg-duim; die kleiner besproeiings gee in hierdie opsig die hoogste opbringste.

 

Opbringste

Die hooi-opbringste per morg verskil baie in Suid-Afrika, as gevolg van variasies wat betref grond, beskikbare water, duur van groeiseisoen, ens. Daar is nie syfers wat aantoon watter persentasie van die gewas afgewei word nie, derhalwe skyn die Unie se gemiddelde hooi-opbrings laag te wees. Met 'n goeie stand lusern, taamlik goeie grond en 30 tot 36 duim water per seisoen kan 'n opbrings van 10 ton hooi per morg verwag word. Hoër opbringste is onder ideale toestande wel moontlik maar word nie dikwels verkry nie, soos blyk uit die resultate van die proewe uitgevoer op Grootfontein, waar verliese tot 'n minimum beperk word. Onder besproeiing word gewoonlik 5 of 6 snysels per seisoen verkry, maar waar die gewas uitsluitlik van die reënval afhanklik is, sal minder snysels verkry word. Die aantal sal van die heersende toestande afhang, dog in die reël word 2 tot 4 snysels verkry, en is die hooi-opbrings van 2 tot 4 ton per morg. Die opbrings van pas gesaaide lusern is vir die eerste jaar maar laag. Die maksimum produksie word onder besproeiing eers in die derde of vierde seisoen bereik.

 

Gebruik

Lusern word hoofsaaklik in die vorm van hooi gebruik, maar dit kan ook gebruik word vir weiding, groenbemisting of kuilvoer, en onder gunstige toestande vir die produksie van saad. In Suid-Afrika is daar behalwe in die geval van pluimvee, blykbaar min rede indien wel, waarom lusernmeel in plaas van hooi gebruik moet word.

Die hoe voedingswaarde van lusernhooi is lank reeds besef en word hieronder gestaaf deur vergelyking met ander welbekende voedingstowwe.

Die onmoontlik om in hierdie artikel te beskryf hoedat vee op lusernhooi gevoer moet word, maar aangesien hooireserwes gedurende droogtes vir die veevoer van onskatbare waarde is, is die volgende resultate van sekere proewe wat aan die Grootfonteinse Landbouskool uitgevoer is, van belang.

 

 

Proewe het bewys dat skape vir 'n onbepaalde tyd aan die lewe gehou kan word op rantsoene van net soveel doringlose turksvy as wat hulle wil vreet, aangevul deur 3 onse lusernhooi per skaap per dag gedurende die somer, en 8 onse per dag gedurende die winter, terwyl 'n vermeerdering van die rantsoen tot 10 onse lusern per skaar die dier in gewig sal laat toeneem.

As 'n weidingsgewas het lusern sekere nadele, t.w. die gevaar van opblaas in die geval van herkouende diere, die verkorting van die lewe van die gewas en die verkwisting en verminderde opbringste wat gewoonlik met hierdie gebruikswyse gepaard gaan.

Die kort groei gedurende die winter of droë tye word gewoonlik vir weiding gebruik; maar dit is nie raadsaam om lusern voortdurend te laat bewei nie veral as dit net half-uitgegroei is, omdat die gewas op hierdie wyse eerder doodgemaak word as wat anders die geval sou wees. Uit die oogpunt van die hoogste opbringste in die vorm van weiding, en die minste skade aan die gewas, word aanbeveel dat dit in die eerste blomstadium bewei word.

Waar die lusern slegs af en toe bewei word, word die stand die minste beskadig en die beste weiding verkry as die somergroei vir hierdie doel gebruik word. Dis skadeliker om lusern in die lente as in die herfs te laat bewei, terwyl herfsbeweiding weer meer skadelik is as somerbeweiding. Natuurlik moet die lusern nie bewei word wanneer die grond nat is nie, en as die gewas in die winter besproei word om weiding te verkry, kry die gras gewoonlik 'n kans om in te dring, en word die lewe van die gewas verkort.

As lusern gereeld bewei word, word aanbeveel om die land in kampe te verdeel om die hoogste drakrag te verseker en die minste skade aan die lusern te doen. In so 'n geval kan die diere een kamp na die ander bewei, terwyl individuele kampe besproei en gespaar word en meer diere op 'n kleiner oppervlakte gekonsentreer kan word om die stand vinnig af te wei. Die aantal kampe sal van die omstandighede afhang, maar selfs twee kampe is beter as net een kamp. Waar die boer wisselweiding wil toepas, sal die getal diere ooreenkomstig die drakrag van die gewas gereël moet word, d.w.s. in die geval van 'n tweekampstelsel moet daar genoeg diere wees om te verseker dat die eerste kamp in 30 tot 36 dae afgewei word, wanneer die lusern in die tweede kamp kan groei. Waar die stelsel uit 3, 4 en 5 kampe bestaan, kan die weiperiode onderskeidelik 15, 10 en 7 dae wees.

Deur wisselweiding toe te pas. en drie of meer kampe te gebruik sal dit moontlik wees om die lusern in sommige kampe vir hooi te sny en dit op te berg ten einde die diere daarop te voer gedurende die winter, wanneer daar min of geen groen lusern is nie, en sodoende 'n eenvormige drakrag oor die hele jaar moontlik te maak.

Die drakrag van lusern wissel af na gelang van die opbrings en die weistelsel wat gevolg word, maar as wisselweiding toegepas word en die stand goed is, kan dit gemiddeld 40 skape per morg per seisoen dra, en selfs 60 per morg wanneer die groei van die gewas sy toppunt bereik het. Ook is aan die Grootfonteinse Landbouskool gevind dat dit moontlik is vir 'n morg ou lusernland om sowat 24 skape die hele jaar deur te dra as die skrapse weiding in die winter aangevul word met hooi wat gedurende die somer op 'n gedeelte van dieselfde land geoes is. As gevolg van die hoë drakrag van lusern en die hoë voedingswaarde daarvan word meer en meer aandag geskenk aan die gebruik van die gewas vir die produksie van vetlammers. Die waarde van lusern vir hierdie doel is nog nie definitief vasgestel nie, aangesien daar in alle gevalle nie volslae sukses in hierdie opsig behaal word nie. Gevalle is egter bekend waar dit moontlik is om lammers in 3½ tot.4 maande vir uitvoer gereed te maak. In ander gevalle is weer baie swvak resultate verkry.

Ten einde die moontlikhede van die gewas vir vetlamproduksie te ondersoek is 'n vetlamproef, met lusern as weiding al vir vyf jaar by die Grootfonteinse Landbouskool aan die gang, maar die resultate, wat tot hiertoe behaal is, is. baie ontmoedigend. Oor die algemeen is gevind dat die lammers gedurende die eerste twee maande goed groei, maar daarna is hul groei sodanig dat hulle nie binne 4½ maande vir slag geskik is nie. Ten einde die swak resultate te verklaar, is lammers, wat alleen op lusern gewei het, vergelyk met ander lammers wat gedeeltelik op gewone veld of somergraan gewei het; maar tot hiertoe het die resultate nog geen lig op die saak gewerp nie. Dis. nog nie vasgestel watter faktore verantwoordelik is vir die gedeeltelike sukses wat gedurende sommige jare, en die onbevredigende resultate wat in ander jare behaal is nie, maar die vraagstuk word nog verder ondersoek.

Dis gevind dat melkkoeie, wat net op lusern gewei het, soveel as vyf gallon melk gegee het, maar ongelukkig kan hierdie produksie nie voortduur nadat die sappige toppe van die lusern afgewei is nie. Die vraagstuk, hoe om 'n egalige melkvloei te verseker, wag nog steeds op 'n oplossing, en kragvoervoeding, wisselweiding om vinnige afwei te verseker, en die gebruik van die minder voedsame oorblyfsel deur ander vee, word ondersoek.

Groen lusern gee aan melk en room 'n bysmaak, en om dit te vermy of te verminder behoort die koeie ongeveer drie uur voor hulle gemelk word, van. Die lusernweiding af weggeneem te word.

 

Opblaas

Waar herkouende diere op lusern wei is daar die gevaar dat hulle kan opblaas. Op sekere lusernlande is daar in hierdie opsig miskien geen gevaar nie, maar in algemeen moet met oorleg te werk gegaan word waar verwelkte of baie sappige lusern of lusern wat ryp gekry het, bewei word. Die gebruik om die diere dag en nag op die lusern te laat wei, die weiperiode geleidelik te verleng en voorsiening te maak vir drinkwater en droë voer in lusernkampe is praktyke wat deur verskillende boere aanbeveel word en wat in die toepassing met 'n afwisselende mate van sukses bekroon word. Gesorg moet word dat purgeermiddels, 'n maagpomp en 'n trokar altyd beskikbaar is. Lusern is minder gevaarlik wanneer dit in volle blom is.

 

Kuilvoer

Dis vandag moontlik om, volgens die laetemperatuurmelasse-proses, 'n goeie smaaklike kuilvoer van lusern te maak. In geval die weer ongunstig is vir hooimaak, kan die moontlike verlies van die oes voorkom word deur kuilvoer van die gewas te maak. As die kuilvoer volgens bogenoemde proses gemaak word, is daar drie vereistes wat stiptelik nagekom moet word, naamlik: (1) by die groen lusern moet 1½ persent melasse (volgens gewig) gevoeg word en die melasse moet met drie of vier dele water verdun word om toediening te vergemaklik; (2) die voerkuil moet onder koel toestande gevul word om die materiaal koel te hou, en (3) die materiaal moet goed vasgepak word in die voerkuil, en om dit te do en behoort die Iusern opgekerf en vasgetrap te word. Dit word aanbeveel dat die lusern vir hierdie doel in die vroeë blomstadium afgesny word.

Hoewel die chemiese samestelling van lusernkuilvoer uitstekend mag blyk, moet dit nog deur die resultate van voedingsproewe gestaaf word. Voorlopige ondersoek by die Grootfonteinse Landbouskool toon aan dat lusernkuilvoer as die enigste voer nie heeltemal bevredigend is nie, en dat dit verbeter kan word deur 'n bietjie lusernhooi, 'n graangewas as weiding of 'n ander soort voer by te voeg.

 

Saadproduksie

In Suid-Afrika is die verbouing van lusern vir saad van minder belang, Oudtshoorn is die grootste saadproduserende streek, en die pryse van hooi en saad, sowel as die hoeveelheid water wat beskikbaar is, bepaal grotendeels tot watter mate dit gewas vir saadproduksie gebruik behoort te word.

In sommige streke is die grond- en klimaatstoestande meer geskik vir saadproduksie as in ander. Waar die boer dus in 'n geskikte streek saad wil produseer, sal een goeie besproeiing nadat die gewas afgesny is op diep grond voldoende wees. In die geval van ligter gronde mag rot nodig wees om aanvullende ligte besproeiings toe te dien wanneer die lusern in die blom is. As die gewas op 'n later stadium besproei word, ontstaan daar gewoonlik nuwe groei wat 'n nadelige uitwerking op die rypwording en kwaliteit van die saad het. Die saadopbrings van die eerste en laaste stand van die seisoen is gewoonlik swak, en onder die toestande by die Grootfonteinse Landbouskool is die derde stand die geskikste vir saadproduksie, met die oog op die saadopbrings sowel as die addisionele hooi-oeste wat verkry word. Die tyd wat dit neem vir die gewas om saad te skiet staan ongeveer gelyk aan die tyd wat dit neem om twee hooi-oeste te produseer.

Dit word aanbeveel dat geoes moet word wanneer ongeveer twee-derdes van die peule donkerbruin van kleur is. Die tweede aanwas word net soos 'n hooigewas geoes. Sorg moet egter gedra word om die lusern nie te veel of te rof te hanteer nie. Die lusern word nie altyd in 'n mied gepak nie, maar dit gee die gewas kans om goed uit te droog voor dit gedors word. Sorg moet egter gedra word dat verhitting nie in die hoop of mied plaasvind nie.

Die saadoes kan gedors word met 'n gewone kleingraan-dorsmasjien, voorsien van spesiale siwwe, en hoewel die saad nie deeglik skoongemaak word nie, word dit in die toestand aan saadhandelaars verkoop.

Waar die gemiddelde saadopbrings 800 lb. per morg is, sal die produksiekoste waarskynlik sowat 1½d. per lb; wees. Die pryse wat vir saad betaal word, hang gewoonlik af van die aanvraag, sowel as van die hoeveelheid in voorraad by die saadhandelaars, aan wie die saad in die reël verkoop word. As die waarde van saad met die van hooi vergelyk word, moet nie uit die oog verloor word nie dat ongeveer twee hooi-oeste opgeoffer word om een saadoes te verkry.

 

Produksiekoste

Die produksiekoste van lusern in Suid-Afrika wissel aanmerklik af, maar volgens inligting van kwekers verkry, blyk dit dat die koste gewoonlik van £1. 10s. tot £2. 10s. per ton is. Die opbrings verkry, die koste verbonde aan die voorbereiding van die lande vir besproeiing, die pomp van water, waterregte en die hoe pryse van geskikte grond, is die vernaamste faktore wat hierdie koste beïnvloed. Die volgende syfers wat goedgunstiglik verstrek is deur 'n lusernplaas in Suid-Afrika wat 'n paar duisend morge lusern kweek is van belang, en toon aan dat die produksiekoste hoër mag wees as wat algemeen veronderstel word. Met 6 snysels per jaar en 'n totale opbrings van 8 ton per morg, was die produksiekoste per morg as volg:

Onderhoud, £4. 10s.;

oes, £5. 16s.;

baal, £3. 2s. 6d.;

vervoer vanaf die mied, £1. 10s.;

gradering, £1. 8s;

totaal, £16. 6s. 6d.;

koste per ton, £2. Is.

 

Hierdie syfer sluit nie waterregte of rente op die waarde van die grond in nie. Dus, met inbegrip daarvan, sou die koste per ton gebaalde lusern heelwat hoër wees.

 

Siektes en Insekteplae

Die siektes van lusern in Suid-Afrika word oor die algemeen as van minder belang beskou, maar hulle kan die opbrings en die lewe van die gewas meer beïnvloed as wat die meeste mense dink. Blaarroes en blaarvlek is die twee belangrikste siektes, en die enigste praktiese manier om hulle te bestry, is om die gewas af te sny of te laat bewei voordat dit te veel van sy blare verloor het. Kroonvrot word taamlik dikwels in die Transvaal aangetref en om dit te bestry moet verbeterings in dreinering en bewerking aangebring word of, waar die besmetting baie erg is, moet die lusern omgeploeg en 'n wisselboustelsel gevolg word. Lusern word deur verskeie insekteplae aangeval. Die vernaamste daarvan is die; lusernrusper en bolwurm. Die natuur se bestrydingsmiddels in hierdie geval is die sprinkaanvoël en 'n spesifieke siekte van die rusper, wat verwelking genoem word. Die verspreiding van hierdie siekte kan aangehelp word deur die lusern te laat oorstroom of dit gereeld te besproei om sodoende, 'n vogtige atmosfeer in die gewas te bewerkstellig. Dis egter raadsaam om die gewas vroegtydig af te sny ten einde die verlies van blare te probeer voorkom en te verhoed dat die ruspers aanteel en later stande aanval.

 

Erkenning

Skrywers wil hul dank betuig aan almal wat hulle voorsien het van die informasie wat vir hierdie artikel nodig was. Hulle is ook dank verskuldig aan die beamptes van die Grootfonteinse Landbouskool vir die hulp wat bulle verleen het, en veral aan die Prinsipale van die ander vier Landbouskole vir informasie in verband met lusernbou in hul onderskeie streke.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 12