Last update: April 10, 2012 10:45:17 AM E-mail Print

 

Die Ontwikkeling van Vleisskape in die Unie

W. D. Meyer

 

DIE ontwikkeling van vleisskape in die Unie is 'n besonder moeilike probleem omrede die droë en swaar toestande waaronder sulke skape aangehou moet word. Die gehalte veld van ons skaapstreke is dan ook die rede waarom die Unie se enigste inheemse vleisskape, bv. die Ronderib-Afrikaner en die Namakwaland-skaap tot die vetstert tipe behoort. Alhoewel baie gehard teen swak veldtoestande, is hierdie skape beslis nie die geskikste vleisskape vir moderne marke nie omdat hul vet byna alles in die stert opgegaar is.

Die volgende vleisskape wat Suid-Afrikaanse bodem betree het, naamlik die Swartkop- Persie was ook nie juis 'n verbetering op die Afrikaner, nie vir sover dit se vleishoedanighede betref, want hierdie skaap behoort weer tot die vetstuitjie-tipe, d.w.s. wat al hul vet in die stuitjie opgaar. Nogtans het daar. 'n sterk gevestigde Swartkop-Persie-ras in hierdie land ontstaan uit die vier skape (een ram en drie ooie) wat verkry is van 'n beskadigde skip wat in 1870 aan die Swellendamse kus aangedoen het.

Genoemde vetstert- en vetstuite tipes was wel geskik vir ons plaaslike marke en word vandag nog in groot getalle aangebied, maar toe die Unie gedurende die depressiejare 'n surplus skaapvleis gehad het wat op oorsese marke aangebied moes word, is baie gou tot die gevolgtrekking gekom dat die standaard van die Unie se skaapvleis baie laer was as die van oorsese lande. Die gevolg was dat die Unie tot die stap oorgegaan het om verskillende vleisskaaprasse uit Engeland, Australië en Duitsland in te voer met die doel om hul doeltreffendheid onder Suid-Afrikaanse toestande uit te toets. So is by. die Duitse Merino, Suffolk, Ryeland, Welsh Mountain, Southdown , Dorest-Horn, Border Leicester, Romney Marsh en andere ingevoer.

Dit het egter bale gou geblyk dat hierdie rasse hulle nie by die swaar, droë klimaatstoestande van die Unie se skaapstreke kon aanpas nie. Toe is oorgegaan tot die kruising van hierdie goeie vleisrasse met die Unie se aangepaste rasse, met die doel om die gehardheid van die Suid-Afrikaanse rasse sowel as die goeie vleishoedanighede van die ingevoerde rasse in so 'n groot mate as moontlik op die nageslag oor te dra. Die werk is meesal gedoen onder toesig van die verskillende Landbouproefstasies in samewerking met 'n aantal boere in verskillende streke.

Verskeie kruisings is gemaak tussen die ingevoerde rasse en die Merino, sowel as tussen die ingevoerde rasse en die nie-wolskape van die Unie, maar omdat Suid-Afrika so ‘n goeie fynwolproduserende land is, is grootskaalse kruisings met die Merino in geskikte Merinostreke, baie gou afgekeur. Die verskillende kruisings het in die meeste gevalle tot 'n mindere of meerdere mate 'n verbetering getoon op die Swartkop-Persie en ander vetstert-, en vetstuitjie-tipes, grotendeels omdat hul vet baie beter oor en deur die vleis verspreid is, en omdat die kruislam baie gouer slagbare gewig bereik as die suiwer Suid-Afrikaanse vleisrasse. Daarby het die produk van die kruising ook tot 'n groot mate die gehardheid van die inheemse rasse behou.

Verskillende van die kruisings is egter uitgeskakel as gevolg van ongewenste eienskappe wat te voorskyn getree het tydens die uitvoering van die teeltproewe, met die gevolg dat vandag slegs 'n paar van die doeltreffendste kruistelings aanbeveel word. So bv. is die Stellenbosch-Elsenburgse Landboukollege vandag druk besig om uit die Dorset Horn x Duitse Merino-kruis 'n nuwe ras te ontwikkel, naamlik die " Dormer ", wat veral geskik is vir vetlamproduksie onder die half-intensiewe boerderystelsel van die graanstreke in die westelike Kaapprovinsie.

Op die Grootfonteinse Landboukollege word vandag twee kruisrasse ontwikkel. In die jaar 1937 is begin met die kruising van die Southdown met die Swartkop-Persie, waaruit 'n nuwe tipe skaap ontwikkel word. Alhoewel hierdie kruisskaap 'n baie goeie vetlam lewer wat vinnig groei en 'n baie goeie bouvorm het, het dit een swakheid, naamlik, dat die lampersentasie in die herfs baie laag is, indien enige, omdat die Southdown 'n beperkte geslagseisoen het. Om hierdie rede is in 1943 begin met die kruising van die Dorset Horn met die Swartkop-Persie, waaruit 'n tipe skaap ontwikkel word wat vandag bekend is as die "Dorper" en ook "Dorsian ".

Tegelykertyd is dieselfde proewe ook by boere in verskillende streke uitgevoer onder toesig van hierdie Landboukollege, met die gevolg dat hierdie twee geharde vleistipes vandag goed verteenwoordig is in baie dele van die Unie se skaapgebiede. Die voortreflike eienskappe van hierdie twee tipes is hul gehardheid onder Suid-Afrikaanse toestande, gehardheid teen koue weens beter bedekking; hoë melkproduksie; hoë vrugbaarheid, goeie karkasbouvorm, beter verspreiding van vet; hoë gehalte vleis; vinnige groei en bestandheid teen interne parasiete. Oor die algemeen is hierdie twee kruistipes 'n verbetering op die suiwer Swartkop-Persie en die Ronderib-Afrikaner.

Proefwerk het aan die lig gebring dat die halfslagkruis van altwee rasse, d.w.s. die halfslag Dorset Horn x Persie en halfslag South-down x Persie die beste resultate lewer, met ander woorde, die samestelling van die goeie eienskappe van die twee moederrasse word die beste weerspieël in die halfslag kruis. Die Swartkop-Persielam neem van 270 tot 360 dae om vanaf gewone karooveld weiding 'n slagbare lewende gewig van 60 pond te bereik, terwyl die Dorset x Persie kruis sowel as die South-down x Persie-kruis hierdie gewig behaal vanaf 90 tot 150 dae.

Suid-Afrika is dus vandag al in staat om op gewone karoo veld 'n vetlam te produseer wat die vereiste gewig binne 'n redelike kort tyd kan bereik. Daarby is hierdie vetlam se vleis van goeie gehalte met 'n baie beter vet verspreiding, en dit lewer 'n karkas met goeie bouvorm.

Vanaf omstreeks 1930 tot vandag het die ontwikkeling van die Unie se vleisskape dus met rasse skrede vooruitgang gemaak en al beskik die Unie nie vandag oor surplus skaapvleis vir uitvoer nie, is dit definitief seker dat sy skaapvleis baie beter sal vergelyk met die wat op oorsese marke aangebied word as wat dit 20 jaar gelede die geval was.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 25