Last update: March 23, 2012 10:29:18 AM E-mail Print

 

NUWE ONTWIKKELINGS OP DIE GEBIED VAN DIE EVALUASIE VAN WOLSKAPE IN SUID-AFRIKA

 GJ DELPORT, SA VAGTOETSSENTRUM

 

INLEIDING

Die primêre doel van enige stelsel van evaluasie van vee is om potensiële ouers akkuraat te identifiseer. Dit is dus vanselfsprekend dat enige prestasietoetsskema nuwe en verbeterde meettegnieke op 'n deurlopende basis moet monitor en daarby aanpas indien nodig. Daar moet ook op gelet word dat die eienskappe wat in so 'n skema ingesluit word ooreenstem met die teeltdoelstellings wat aan die orde van die dag is.

Wat die Nasionale Wolskaap Prestasie - en Nageslagtoetsskema betref word die volgende eienskappe tans gemeet: (1) Liggaamsmassa, (2) Rouwolmassa, (3) Skoonopbrengspersentasie, (4) Skoonwolproduksie, (5) Veseldikte, (6) Kartel/veseldikte verhouding, (7) Kartelfrekwensie en (8) Stapellengte. Onlangs is daar by die S A Vagtoetssentrum ondersoek ingestel na die faktore wat verantwoordelik is vir die prys wat vir die Suid-Afrikaanse Wolskeersel behaal word. Sodoende kan bepaal word of daar steeds op meting van die ekonomies belangrikste eienskappe gekonsentreer word en of daar aanpassings gemaak moet word. Die resultaat van sulke studies is natuurlik fundamenteel in enige nuwe ontwikkeling op die gebied van evaluasiesisteme en sal deeglike bespreking geniet.

Enige stel metings op 'n dier hetsy visueel beoordeel of objektief gemeet verskaf gegewens oor die spesifieke dier. In die diereteelt het produksiegegewens van 'n enkele dier geen waarde tensy dit vergelyk kan word met die produksie waarde van 'n groep tydgenote nie. Dit is dus duidelik dat groot hoeveelhede data versamel moet word ten einde sinvolle vergelykings tussen diere te tref. Hierdie data moet dan omgesit word in bruikbare inligting oor byvoorbeeld elke dier se teelwaarde vir 'n spesifieke eienskap. Sonder sulke tegnieke soos teelwaarde bepaling sal die data alleen baie moeilik geïnterpreteer kan word en dus van min nut wees.

In die diereteelt word teelwaarde as 'n baie belangrike evaluasie tegniek beskou aangesien dit die waarde van 'n individu as 'n ouer aandui.

Teelwaarde kan ook gesien word as presies dit dat die stoetteler aan die kommersiële produsent verkoop. Vir die kommersiële produsent is die kern van die saak weer die waarde van die nageslag van 'n aangekoopte ram. Die kommersiële produsent verkoop natuurlik 'n produk (byvoorbeeld 'n sekere hoeveelheid en gehalte wol) maar hy moet besluite neem op grond van die teelwaarde van die diere wat hy aangekoop het van die stoetteler. Teelwaarde is dus 'n belangrike begrip vir beide die stoetteler en die kommersiële produsent. Die akkuraatheid waarmee teelwaardes bepaal word is natuurlik vir alle telers asook formele toetsskemas van belang. Daarom sal nuwe evaluasietegnieke in die verband hier bespreek word en daar sal ook gewys word op die moontlike gevolge wat verbeterde tegnieke op die wolskaapbedryf mag hê.

 

SELEKSIEDOELWITTE

Wanneer seleksiedoelwitte opgestel word moet daardie kenmerke geïdentifiseer word, wat indien hulle verbeter word, die ekonomiese winsgewendheid van die wolskaap sal verhoog. Ten einde vas te stel of die Nasionale Prestasie - en Nageslagtoetsskema tans nog die ekonomiese belangrikste woleienskappe evalueer het die skema ondersoek ingestel na die faktore wat die grootste invloed uitoefen op die prys wat vir die Suid-Afrikaanse wolskeersel verhaal word.

Vervolgens sal die ooglopend belangrike eienskappe evalueer word vir voortgesette nuwe meting aan die hand van die bogenoemde studie asook teen die agtergrond van die omgewing waarin Suid-Afrikaanse wol geproduseer word.

 

1. HOEVEELHEID WOL

Die hoeveelheid wol wat van 'n skaap geskeer word is onder enige produksie situasie van primêre belang vir die ekonomiese lewensvatbaarheid van 'n wolskaapboerdery. Aangesien die produkinkomste op 'n skoonwolbasis verhaal word, is skoonvagmassa die belangrikste objektief meetbare seleksiemaatstaf aangewend. Die prestasietoetsskema vir wolskape meet dus tans skoonopbrengspersentasie op wolmonsters ten einde die skoonwolproduksie van elke skaap te bereken.

Dit is on wetenskaplik erkende feit dat die gebruik van skoonvagmassa as seleksie maatstaf lei tot 'n afname in die produksie van wololie wat op sy beurt weer droë verweerde vagte tot gevolg het. Daarom word seleksie vir laer skoonopbrengspersentasie dikwels verkeerdelik in die praktyk aangewend om die produksie van droë wol te voorkom. Die komponente van skoonopbrengspersentasie bestaan uit beide wololie en ander onsuiwerhede sacs stat en plantemateriaal en dit gebeur dikwels dat die skaap met die laagste skoonopbrengspersentasie die een is met die droogste vag en dus met die meeste stof. Ten einde hierdie verwarring te voorkom het die Vagtoetssentrum 'n loodsprojek begin om die hoeveelheid wololie in elke vag te bepaal vir gebruik as hulpmiddel in seleksie.

Die meting van wololie hou natuurlik ook verband met die gehalte wol en sal dus ook as gehalte aspek bespreek word.

 

2. GEHALTE VAN WOL

Daar is al talle debatte gevoer en geskrywe oor die gehalte van wol en baie punte van verskille tussen die menings van kenners is al uitgewys. Deur die jare is daar egter ooreenstemming oor een gehalte aspek nl. fynheid. Van Bergen het byvoorbeeld reeds in 1953 veseldikte uitgewys as die belangrikste enkele gehalte bepalende eienskap van wol.

In die huidige ondersoek by die Vagtoetssentrum is 12 gehalte eienskappe gemeet en hulle invloed op prys bepaal. Volgens die loodsondersoek op die 1980/81 wolskeersel was die relatiewe bydraes van die verskillende eienskappe as volg:

Persentasie bydrae

  Voorskotprys Veilingsprys
Skoonopbrengs 74,46 45.54
Veseldikte 16,46 38,86
Stapellengte 4,91 1,02
Totaal 96,05 85,21

 

 

Dit is opmerklik dat die groot aantal eienskappe wat in die ontleding ingesluit is, nie in die meegaande tabel figureer nie en dat Veseldikte so 'n oorheersende rol speel wat gehalte betref. In die finale analise op die 1984/85 wolskeersel is soortgelyke resultate verkry hoewel die invloed van die Veseldikte nag meer dramaties was. Hoewel die subjektief beoordeelde eienskappe elk 'n uiters klein effek gehad het, is styl tog ingesluit as 'n faktor wat 'n betekenisvolle bydrae gelewer het tot prys terwyl lengte uitgeval het in die finale analise.

Die resultaat van hierdie studie het duidelik aangetoon dat Suid-Afrikaanse wol veral wat die visueel beoordeelde kenmerke betref, 'n baie hoe peil van gehalte handhaaf. Tydens seleksie kan 'n mindere mate van aandag dus geskenk word aan die handhawing van die peil van meerderwaardigheid wat reeds ten opsigte van sekere gehalte kenmerke behaal is, terwyl meer aandag geskenk kan word aan fynheid.

Daar kan gedebatteer word oor die punt of die huidige hoe premie wat vir fynheid gerealiseer word ook in die toekoms sal voortduur. So 'n voorspelling sal uiters moeilik wees maar daar kan gefilosofeer word dat moderne tegnologie sacs lugversorging en sentrale verhitting dit geleidelik meer moontlik maak vir die mens om sonder swaar klerasie soos dik woljasse wat van growwer tipes wol gemaak word, klaar te kom. Moderne liggewig materiale vereis natuurlik 'n grondstof (wol) van hoe graad van fynheid om sulke dun garings te spin. Dit kan dus geredeneer word dat die langtermyn tenders, een sal wees van hoër aanvraag en dus hoër pryse vir fyner tipes wol.

Ander gehalte aspekte soos die mate van verwering en abnormaliteite soos vagverrotting behoort natuurlik ook aandag te geniet by die opstel van seleksie doelwitte. Die belang van hierdie faktore is hoofsaaklik afhanklik van die omgewingstoestande waaronder die wol geproduseer word en sal dus 'n variërende mate van aandag moet geniet.

Die mate van verwering van 'n vag hang grootliks af van die mate van blootstelling aan die ultra violet bestraling van die son en die beskerming wat wololie aan die wolvesels bied. 'n Dun lagie wololie wat die vesel van die wortel tot by die tip bedek is volgens wetenskaplike getuienis, noodsaaklik vir beskerming. Daarom is daar besluit om die meting van beide hoeveelheid en die vloeibaarheid van wololie geleidelik in te faseer as deel van die evaluasie van wolskape.

Vagverrotting is tot 'n groot mate afhanklik van die verhouding tussen die hoeveelheid wololie en wolsweet asook die alkaliniteit van die wolsweet. Wanneer omgewingstoestande soos 'n hoe reënval somerseisoen die geleentheid skep vir vagverrotting om te ontwikkel is skape wat verhoudelik tot wololie meer wolsweet produseer wat boonop meer alkalies is, meer vatbaar vir vagverrotting. Die meting van veral die alkaliniteit van wolsweet is dus as noodsaaklik beskou vir insluiting in die bogenoemde loodsprojek.

 

EVALUASIETEGNIEKE

Die hoofdoel met die evaluasie van diere is soos reeds genoem, om die waarde van 'n individu as 'n ouer (sy teelwaarde) te bepaal. In Suid-Afrika gebruik die wolskaap prestasietoetsskema tans die afwyking van 'n dier se eie prestasie vanaf die gemiddeld van die groep diere waarin hy grootgeword het, as aanduiding van sy teelwaarde binne daardie groep. Die tekortkominge in die huidige stelsel is dat so 'n waarde slegs vir vergelykings binne die spesifieke groep diere geld en dat vergeIykings tussen verskillende jare ten einde genetiese veranderings (genetiese tendense) te bepaal of vergelykings tussen diere wat uit verskillende kuddes afkomstig is, onmoontlik is. Die Wolskaap prestasietoetsskema maak tans wel voorsiening vir Nageslagtoetsing ten einde 'n meer akkurate teelwaarde beraming vir vaars te verseker. Die toets metode vereis egter dat:

  1. Ooie ewekansig toegeken word aan vaars.
  2. Die nageslag saam onder dieselfde omgewingstoestande groot geword het. So 'n teelwaarde bepaling bly dus steeds 'n funksie van die kudde waarin die nageslagtoets uitgevoer is en dit verg ook 'n lang toetsperiode op 'n groot aantal nageslag alvorens 'n betrokke vaar se teelwaarde bekend raak.

Hierdie tekortkominge is deur Prof. Henderson voorheen verbonde aan die Iowa staatsuniversiteit in Amerika, besef en het reeds so vroeg as 1949 begin om 'n statistiese model te ontwikkel ten einde die bogenoemde probleme te oorkom. Hierdie model is so ontwerp dat dit alle omgewings – en genetiese verskille tussen kuddes in ag neem tydens die bepaling van vaars se teelwaardes binne kuddes. Henderson se aanvanklike model het daartoe aanleiding gegee dat hy 'n hele metodologie ontwikkel het om alle moontlike inligting omtrent die omgewing waarin 'n dier grootgeword het, sy verwantskappe met ander diere binne die ras asook inligting oor die oorerflikheid van elke eienskap en die korrelasies of verwantskappe tussen alle eienskappe, in ag te neem. Hierdie metodes staan bekend as Henderson se BLUP metodologie en kan voorwaar beskou word as 'n volledige inligtingsmodel aan 'n dier se teelwaarde.

Aangesien die model ingewikkelde berekenings op massiewe stelle data behels is daar eers betreklik onlangs begin om die tegnieke van evaluasie in die praktyk toe te pas namate ontwikkelings in rekenaarfasiliteite plaasgevind het. Tans berus die melkbees - en Vleisbees evaluasiesisteme in die V.S.A. Kanada op hierdie beginsels. Daar word ook in Nieu Zeeland daaraan gewerk om hierdie beginsels toe pas in hulle alom bekende evaluasie stelsel vir wat Sheepplan heet. In 1984 is daar ook 'n "BLUP School" in Australië gehou deur die innoveerders van die tegniek ten einde Australiese wolskaap deskundiges bekend te stel aan die metodes wat wêreldwyd die nuwe standaard gestel het vir die evaluasie van teeldiere.

In Suid-Afrika is daar tans navorsing onderweg ten einde Henderson se metodes te implementeer as van die prestasietoetsskemas vir feitlik alle veesoorte. Die voorvereiste vir die implementering van hierdie uiters akkurate gesofistikeerde metode is akkurate prestasiegegewens asook ouer-nageslag identifikasie vir alle diere binne 'n spesifieke ras, bekend moet wees. Daarbenewens moet 'n mate uitruiling van genetiese materiaal tussen verskillende kuddes plaasgevind het.

Die voordele wat uit so 'n stelsel verkry kan word vergoed wel ruim vir die addisionele insette wat gemaak moet word. Dit sal byvoorbeeld moontlik dat die uitruiling van teelvaars tussen verskillende kuddes op 'n uiters akkurate wyse op grond van verwagte verskille tussen die produksie van hulle nageslag kan geskied. Genetiese veranderings wat oor periodes van jare plaasgevind het binne 'n ras sal akkuraat bepaal en voorgestel kan word. Dit sal selfs moontlik wees om die teelwaarde van patenvaars te voorspel volgens inligting omtrent die teelwaarde van sy ouers, sy broers en susters, half broers en susters asook verdere verwantes voordat hulle self al nageslag geproduseer het. Voorwaar 'n opwindende vooruitsig.

 

SAMEVATTEND:

Die wolskaap industrie bevind hom tans in 'n besondere dinamiese tydperk ten opsigte van teeltverbetering. Dit word vertrou dat beide wolskaaptelers en veekundige adviseurs die uitdagings wat hierdie wye reeks van nuwe tegnologie aan hulle sal benut om die gehalte van Suid-Afrikaanse steeds te verlaag. 

 

Published

Merino-telers kwartaalblad 49 (2)