Last update: April 10, 2012 10:12:19 AM E-mail Print

 

Is die Merino Onvrugbaar?

D. F. Badenhorst 

 

DIT het vandag 'n algemeen aanvaarde stelling geword dat die Merino 'n betreklike onvrugbare soort skaap is. Die gevolge van hierdie stelling word ook gevoel deurdat kruisteling al meer en meer toegepas word met die doel om vrugbaarheid te verbeter. Met die huidige wolpryse mag hierdie kruisteling 'n bietjie teengehou word alhoewel dit in sommige gevalle ten spyte van die hoë wolpryse sal voortgaan.

As hierdie beweerde onvrugbaarheid aan die waarheid getoets word, moet baie duidelik onderskei word tussen oorerflike onvrugbaarheid en onvrugbaarheid wat deur swak voedings- en versorgingsomstandighede en tyd van paring veroorsaak is.

 

Goeie Weiding

As die Merino so onvrugbaar is as wat beweer word, waarom is dit dan dat met goeie weidingstoestande soos tans ondervind word, dit niks buitengewoons is om te verneem van Merino-ooie wat 95 persent en selfs 100 persent lam nie, en om te verneem dat tweelinge en drielinge 'n taamlike algemene verskynsel is? In proefwerk met Merinoskape het dit al dikwels gebeur dat ooie wat beskou was as redelik onvrugbaar, baie goed gelam het toe ander weidingstoestande vir hulle geskep is, en hulle in 'n ander tyd van die jaar gepaar is. Dit het ook al gebeur dat ooie onder die huidige goeie toestande in Maart tot April en weer in September tot Oktober lam, sodat meer as honderd persent lammers in die twaalf maande van 'n bepaalde groep ooie verkry is. As hierdie getuienisse en gegewens aanvaar word, dan is dit duidelik dat die onvrugbaarheid van die Merino in 'n baie groot mate nie as oorerflike faktor in die dier lê nie, maar dat dit die uitvloeisel en onmiddellike gevolg is van weidings- en behandelingsomstandighede.

Boere is deurgaans bekommerd oor die toestand van die veld as ooie begin lam, want die ooi moet dan die lam goed grootmaak. Belangrik soos hierdie punt mag wees, kan en mag die belangrikheid van die toestand van die ooi gedurende paartyd nie onderskat word nie. As boere liewer bekommerd wil wees oor goeie voedingstoestande gedurende paartyd, sodat ooie in 'n goeie kondisie kan wees, sal die klagte oor swak lammeroeste baie gou verval. As die grond nie nat is as graan gesaai word nie, kom daardie graan nie op nie. In die dier geld dieselfde beginsel, want as die moederdier nie in so 'n toestand is dat sy eierselle kan afskei nie, sal die ram te vergeefs probeer. Dit kan met veiligheid gesê word ,dat .die paarseisoen die belangrikste periode in enige veeteeltbedryf is, en daarom is dit noodsaaklik dat spesiale voorsorgmaatreëls getref moet word vir genoeg voeding gedurende daardie tydperk en liefs groen weiding wat die dier in groeiende kondisie sal bring en wat die fisiologiese werkinge van die vroulike dier sal stimuleer. Om ooie in die regte toestand te bring, behoort hulle in die beter weiding te kom minstens drie weke tot 'n maand voordat die ramme bygesit word.

 

Die Tyd om te Paar

Dit sou egter fataal wees om te beweer dat dit alleen die oplossing van die hele probleem is, want dit het ook al duidelik uit proefwerk geblyk dat van dieselfde aantal ooie gedurende sekere tye van die jaar meer lammers gebore word as in ander tye van die jaar. Geneem op die algemene verskynsel in die natuur, wil dit voorkom asof lente die aangewese tyd vir lam is, selfs by Merinoskape, en tom daar ook werklik meer lammers aan. Dat dit nou 'n erflike eienskap is, kan ook nie beweer word nie, want in die Karoo is April- en Meimaand gewoonlik goeie weidingsmaande, sodat die ooie dan in goeie groeiende toestande is en gevolglik beter beset raak as wanneer die ooie gepaar word in September, Oktober en November, wat, behalwe in uitsonderlike gevalle, gewoonlik redelik droë maande is, en wanneer die veld nog nie veel gegroei het of baie spaar kos het nie, en ooie gevolglik in 'n redelike swak kondisie is.

In sekere dele word baie besware gemaak teen lentelammers op grond daarvan dat lammers erg deur inwendige parasiete aangeval word. Met die ontwikkeling op die gebied van bestrydingsmetodes van inwendige parasiete, moet bereken word wat meer lonend is: 'n groter lammeroes waarvan parasiete doeltreffend deur middels bestry tan word. of moontlik 'n kleiner lammeroes waarvan parasiete ook bestry moet word, al begin daardie bestryding net twee of drie maande later in die lam se leeftyd.

Deur 'n stelsel van veldbeheer toe te pas waar kampe wat vir lammerooie bedoel is vir 'n geruime tyd gespaar word sodat die natuur ook in die bestryding van die parasiete kan meehelp, mag miskien. selfs hierdie probleem doeltreffend opgelos word.

 

Die Ram

Die Merino-ooi is egter nie alleen verantwoordelik vir die lammeroes nie; die ram speel 'n ewe groot, indien nie 'n groter rol nie. Uit 'n paar enkelparings in proefwerk blyk dit dat van sekere ramme baie meet ooie beset raak as van ander ramme onder dieselfde voedings- en versorgingstoestande. Alle ramme het skynbaar nie dieselfde geslagsdrang nie en gevolglik soek die ram nie so goed nie en spring sekere bronstige ooie vry sonder om gedek te word. Dit word ook gevind dat daar ramme is wat eenvoudig nie in staat is om te dek nie, alhoewel die bevrugtingsvermoë van die saad goed is en die geslagsdrang daar is. By groepsparing word hierdie swakhede dikwels nie opgemerk nie omdat die ander ramme die werk van die swakkeres doen.

'n Saak wat homself in dieselfde verband al meer op die voorgrond dring, is of daar nie iets skeel met die sak-aanset van Merinoramme nie. Uit algemene waarneming is dit duidelik dat die ramme met kort sakke, goeie werkers is met 'n hoë geslagsdrang. Merinoramme met kort sakke skyn eweneens baie beter werkers te wees en het skynbaar 'n groter geslagsdrang as ramme met oormatige lang sakke. Het die sak van die Merinoram nie verleng as gevolg van 'n sekere teelrigting nie? Het die hitteregulering van die teelballe nie verstoor geraak deur die oormatige aanpak van wol om die sak en aan die boud nie? Het die natuur nie in sy poging om die teelbaltemperatuur konstant te hou die sak verleng en daarmee 'n lewenslange las op die dier geplaas nie? Dit is duidelik dat ramme met lang sakke moeilik beweeg en in hul oorywerige beweging word die teelballe soms baie pynlik teen die bene geslaan wat die ram in sy jagproses moet belemmer en miskien sy geslagsdrang in 'n mate ontneem. Die slaan-proses moet uiteindelik lei tot die vorming van bloedklonte in die stringe wat op sy beurt 'n invloed op die vrugbaarheid moet hê.

Hierdie skynbaar nietige puntjies kan groot wees in hul gevolge en dra by tot die agteruitgang van 'n tipe dier wat in sy regte omgewing baie winsgewend is. Die tyd het aangebreek dat telers met die uitsoek van teelramme op hierdie kleiner punte baie noukeurig sal moet let, want as ramme nie voordelig kan voortplant nie, sal al hul ander goeie hoedanighede van geen waarde wees nie en sal hul plek deur ander rasse ingeneem word.

As meer noukeurig gelet word op die voeding van die Merino-ooi gedurende paartyd en sy gepaar word wanneer dit haar natuurlike tyd is, en as die Merinoram uitgesoek word volgens sy werkvermoë en nie net op wolproduksie nie. sal daar nie gesê kan word dat die Merino onvrugbaar is nie.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 26