Last update: August 15, 2011 03:37:17 PM E-mail Print

 

OOISELEKSIE BY MERINO'S: HUIDIGE GENERASIE

 

J.J. Olivier en S.L. Vorster

Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut, Middelburg KP, 5900

 

 

Die ooikudde is die kuddeboer se belangrikste bate omdat sy grootste inkomste (wol en vleis) hieruit gegenereer word. Die metodes van ooiseleksie moet dus maksimum wins verseker. Die doeltreffendheid van die huidige kudde (current generation) word grootliks deur die seleksie van vervangingsooie beïnvloed, terwyl die doeltreffendheid van die volgende generasie (future generation) hoofsaaklik deur ramseleksie beïnvloed word.

Met ooiseleksie is die doel om 'n ooi te selekteer wat vir ten minste die daaropvolgende 3 tot 4 jaar in 'n spesifieke omgewing sal oorleef en reproduseer. Sy moet ook goeie moeder eienskappe hê en terselfdertyd 'n redelike hoeveelheid wol van goeie kwaliteit produseer. Verder moet sy dogters produseer wat aan dieselfde vereistes voldoen. Die aanteelvermoë en moeder eienskappe van jong ooie is nie bekend nie en indirekte seleksiemetodes soos liggaamsmassa en subjektiewe eienskappe word gevolglik gebruik. As gevolg van die relatief hoë herhaalbaarheid van wolmassa en veseldikte kan direk vir die eienskappe op tweetandouderdom geselekteer word. Die effektiwiteit van die hand-en-oog-metode om bogenoemde doelwit te bereik, en die voordele van objektiewe meting ten opsigte van ooiseleksie word egter bevraagteken.

 

METODE EN RESULTATE

Honderd en twintig tweetandooie van die Grootfontein stoetery is gedurende 1986 op die gebruiklike hand-en-oog-metode in drie groepe, naamlik stoet- en spesiale eerste kudde (H1, 39 ooie), eerste kudde (H2, 44 ooie) en tweede kudde en prulle (H3, 37 ooie) verdeel. Hulle is ook volgens 'n seleksie-indeks [(1 x liggaamsmassa) + (25 x skoonwolmassa) - (15 x veseldikte) - (4 x plooie)] in drie groepe, naamlik die boonste derde (S1), middelste derde (S2) en onderste derde (S3) verdeel. Die getal ooie in S1 bet ooreengestem met die in H1, die in S2 met die in H2 en die in S3 met die in H3. Die produksiedata van hierdie diere op tweetandouderdom word in Tabel 1 aangetoon.

Die liggaamsmassa van die H1-ooie was betekenisvol (P<0,01) hoër as die van die H2- en H3- ooie, terwyl die van die H2-ooie hoër (P<0,01) was as die van die H3-ooie. Die skoonwolmassa van die drie groepe bet ook betekenisvol (P<0,01) van mekaar verskil. Die veseldikte en plooie van die H1-ooie was Die betekenisvol hoër as die van die ander twee groepe nie (Tabel 1). Die groepe wat volgens die seleksie-indeks uitgesoek is (SI, S2 en S3), bet egter Die betekenisvolle verskille in liggaamsmassa getoon nie. Die skoonwolmassa en veseldikte van die S1-groep was onderskeidelik betekenisvol hoër en laer as die van die ander twee groepe terwyl die veseldikte van die S3- groep betekenisvol (P<0,01) hoër as die van die S2- groep was. Die plooitelling van die S3-groep was ook laer as die van die ander twee groepe, hoewel die verskille nie betekenisvol was nie (Tabel 1). Dit kom dus voor asof die groter diere, in hierdie geval, met die hand-en-oog-metode uitgesoek is. Daarteenoor het die spesifieke seleksie-indeks meer klem op 'n groter hoeveelheid fyner wol asook op diere met minder plooie, gelê (Tabel 1).

Een en veertig persent van die diere in die H1-groep was ook in die S1-groep, 45 % van die in die H2-groep was ook in die S2-groep en 43 % van die diere in die H3-groep was, het ook in S3-groep voorgekom. Daar kan dus afgelei word dat verskillende tipes diere deur die twee metodes geselekteer is. Hierdie resultate is in ooreenstemming met die 42 % wat tussen die hand-en- oog-klasse en die Woolplan-indekse by Australiese Merino's gevind is (Ponzoni et al., 1991).

Die vraag bly egter wat die leeftydproduksie van 'n ooi wat in 'n spesifieke klas ingedeel is, sal wees. Die 120 ooie is gevolglik behou en vir 4 jaar gepaar. Al die produksiedata is aangeteken. Na 4 jaar was die volledige rekords van 96 ooie beskikbaar. Die getalle in die onderskeie groepe was soos volg:

H1        29        S1 30

H2        40        S2 33

H3        27        S3 33

Daar was aansienlike verskille ten opsigte van die oorlewing van die ooie in die verskillende groepe. In groep H1 het 74 % ooie oorleef, 91 % in die H2- en 73 % in die H3-groep. Daarteenoor het 77 % van die ooie in die S1-, 75 % in die S2- en 89 % in die S3- groep oorleef. As aanvaar word dat die eerste twee groepe- (H1 en H2 of S1 en S2) normaalweg vir vervanging gebruik word, was die oorlewing van die hand-en-oog-groep 83 % teenoor 76 % van die seleksie-indeksgroep.

Die gemiddelde produksie- en reproduksiedata oor 4 jaar (1986-1990) van die ooie in die onderskeie groepe word in Tabel 2 aangetoon.

Die verskille in liggaamsmassa, skoonwolmassa, veseldikte en plooie, wat op tweetandouderdom tussen die onderskeie groepe voorgekom bet, is vanaf die ouderdomme 2,5 tot 5,5 jaar gehandhaaf (Tabel 1). Die liggaamsmassa en skoonwolmassa van die H1-ooie was, soos op tweetandouderdom, betekenisvol hoër as die van die H2- en die H3-ooie (Tabel 2). Die S1-groep het steeds betekenisvol meer (P<0,01) en fyner (P<0,01) wol as die S3-groep geproduseer, hoewel die verskille in veseldikte minder geword het.

Geen betekenisvolle verskille het tussen die seleksiegroepe, binne die hand-en-oog-ooie asook binne die seleksie-indeksooie, voorgekom nie (Tabel 2). Die lampersentasie van groep H1 was egter 6 % hoër as die in die H2- en 23 % meer as die in die H3-groep. Die getal lammers (1,21) wat in die H1-groep gespeen is, was 3 % meer as die in die H2- en 17 % meer as die in die H3-groep. Hierdie verskille word ook in die speen-indekse weerspieël. In die SI-groep is gemiddeld 6 % minder lammers as in die S2-groep en 9 % minder as in S3-groep gebore. Dit blyk ook dat die spesifieke seleksie-indeksooie meer wol van 'n beter gehalte as die hand-en-oog-ooie geproduseer het. Die hand-en-oog-ooie het egter meer lammers geproduseer.

Dit blyk dus dat die hand-en-oog-metode (of die beoordelaars) redelik suksesvol tussen die toekomstige meer en minder reproduktiewe ooie kon onderskei (Tabel 2). Hierdie resultate is in ooreenstemming met die op die Carnarvon proefplaas, naamlik dat die ooie wat subjektief volgens die hand-en-oog-metode geselekteer is, 'n hoër aanteeltempo gehad het as die wat objektief vir wolmassa geselekteer is (Olivier, 1980; Delport, 1989).

Aangesien ekonomiese oorwegings deurslaggewend is, is verskillende pryse aan die produksienorme gekoppel om die totale inkomste per ooi te bereken. Vir hierdie doel is aanvaar dat die wol:vleisprysverhouding ongeveer 2,5:1 is. Dit is in ooreenstemming met die langtermyn verhouding. Verder is aanvaar dat die prysverskille per mikron ongeveer 15 % is. Die gemiddelde jaarlikse wol- en vleisinkomste, asook die totale inkomste per ooi oor 4 jaar word in Tabel 3 aangetoon.

Die totale inkomste van die H1-ooie was 5 % hoër as die van die H2-ooie en 15 % hoër as die van die H3- ooie. Hierteenoor was die totale inkomste van die S1- groep 7 % hoër as die van die S2-groep en 12 % hoër as die van die S3-groep. Met die gegewe prysverhouding wil dit voorkom of daar min verskil in die gemiddelde inkomste tussen die ooie wat met die hand-en-oog-metode en die wat volgens ‘n spesifieke seleksie-indeks geselekteer is, was.

Indien die wol:vleisprysverhouding kleiner sou word, sal dit die hand-en-oog-ooie bevoordeel, terwyl die seleksie-indeksooie meer deur 'n groter wol:vleis- prysverhouding bevoordeel sou word. Dieselfde geld vir prysverskille per mikron; groter prysverskille bevoordeel die seleksie‚ÄĎindeksooie, en andersom. Hierdie resultate beklemtoon dat teelbeleid verkieslik op 'n individuele basis, met inagneming van al die faktore, vasgestel moet word. Daar moet ook gewaak word teen die aanpassing van teelbeleid op grand van kort termyn fluktuasies (1-2 jaar) in produktepryse.

Die vraag is steeds hoe doeltreffend hierdie twee metodes is om die ekonomiesste ooie te identifiseer. Die 30 diere wat die hoogste inkomste gelewer het, het gemiddeld R115,01 per jaar vir die produsent verdien. Agt en tagtig persent van hierdie diere was in groepe H1 en S1. Die vraag ontstaan dus of daar 'n metode is waarvolgens die meer doeltreffende produseerders reeds op 'n vroeë ouderdom geïdentifiseer kan word. Die relatiewe belangrikheid van die verskillende objektiewe eienskappe (tweetandouderdom) op die totale inkomste, is met behulp van 'n meervoudige regressie bepaal. Die resultate word in Tabel 4 uiteengesit.

Uit Tabel 4 is dit duidelik dat variasie in leeftyd- wolinkomste in 'n redelike mate deur objektief bepaalde data op tweetandouderdom (liggaamsmassa, skoonwolmassa, veseldikte en plooie) voorspel kan word (R2 = 0,59). Die tweetanddata het egter 'n baie lae korrelasie met vleisinkomste (R2 = 0,05) of met totale inkomste (R2 = 0,11). Hierdie korrelasie word aansienlik verhoog (R2 = 0,40) indien die getal lammers gespeen in die eerste lamjaar, as onafhanklike veranderlike in die regressie ingesluit is (Tabel 4).

Hierdie resultate bevestig dat die gemete eienskappe op tweetandouderdom 'n goeie aanduiding gee van die totale wolinkomste wat tydens die leeftyd van die ooi verwag kan word. Daar is egter geen korrelasie tussen tweetanddata en aanteeltempo of leeftydproduksie van vleis nie. Die klaarblyklike oplossing is gevolglik om die diere eers te laat lam voordat finaal geselekteer word. Daar moet beklemtoon word dat hierdie moontlikhede deur toekomstige wol:vleisprysverhoudings, prysverskille per mikron relatief tot die gemiddelde wolpryse, en die aanteeltempo in die spesifieke kudde beïnvloed gal word.

 

OPSOMMING

Die wolinkomste uit 'n ooikudde kan verhoog word deur 'n seleksie-indeks te gebruik, maar die ekstra inkomste wat hierdeur verkry word, moet met die gepaardgaande ekstra insette (rekordhouding, koste van wolontleding) rekening hou. Tans blyk dit dat die vleisproduksie van die ooi gedurende haar leeftyd eers redelik akkuraat na die eerste, en in sommige gevalle (waar lae aanteeltempo's voorkom) eers na die tweede lamkans bepaal kan word. Vir hierdie doel kan 'n eenvoudige seleksietegniek soos die "skoonsuip" ("wet and dry"- metode Fourie et al., 1990) toegepas word. Dit behels die identifisering van ooie met lammers (spene skoon gesuip of nie) tydens merktyd. Met die seleksie van vervangingsooie behoort slegs die ooglopende prulle op tweetandouderdom uitgeskot te word en moet finaal na die eerste of tweede lamkans geselekteer word.

 

VERWYSINGS

DELPORT, G.J., 1989. A mixed model approach for selecting Merino ewes. Ph.D-dissertation, Univ. Orange Free State.

FOURIE, A.J. & CLOETE, S.W.P., 1990. Reproductive efficiency of breeding ewes in commercial merino flocks in the Bredasdorp district. Proc. 1990 World Merino Conference, 2-4 May 1990, Pretoria, Vol. 2 (paper 5).

OLIVIER, J.J., .1980. The influence of objective and subjective selection methods and environmental factors on production and reproduction characteristics in Merino sheep at the Carnarvon experimental farm. M.Sc. Agric-treatise, Univ. Stellenbosch, Stellenboch. (Afrikaans).

PONZONI, R.W., ANCELL, P.M.C., GILLFORD, D.R., 1991. Classers grades and woolplan-indices in South Australia: Agreement, consequences and problems. Proc. 9th. Conference of AAABG. 24-27th June, Univ. Melbourne Australia 368.

 

Published

Karoo Agric, Vol 5, No 1, 1993 (11-13)