Last update: April 3, 2012 11:47:53 AM E-mail Print

 

OORBEWEIDING

Dr P W Roux 

 

Die term oorbeweiding, waarvan die uitwerking soms bekend staan as uittrapping, word skynbaar nie oral dieselfde geïnterpreteer nie. Oorbeweiding behels die begrip van die veroorsaking van gronderosie deur die oormatige afvreet van plantegroei en versteuring van die grondoppervlakte wat daartoe lei dat die werking van die erosie-agense (veral wind-, water- en reëndruppel erosie) verskerp word en sodoende nadelig inwerk op die grond en sy bedekking. Die resultaat hiervan word geopenbaar in gronderosie waarvan kaalkolvorming, veral op die brakker gronde, ‘n opsigtelike resultaat is. Die uitwerking van oorbeweiding op die plantbedekking word weerspieël in die verlaging van sy samestelling, kwaliteit, kwantiteit en digtheid.

Dit dien daarop gewys te word dat, hoewel oormatige veegetalle die primêre oorsaak van oorbeweiding is, oorbeweiding ook kan plaasvind selfs met veegetalle wat binne perke is, maar waar die beweiding van veld onoordeelkundig of onkundig geskied.

Kolseleksie, wat ‘n lokale vorm van oorbeweiding is, selfs waar veegetalle binne perke is, is in baie gevalle die hoofoorsaak van kaalkolvorming en ontblote oppervlaktes op daardie spesifieke plek. Oorbeweiding kan ook geskied deur beweiding gedurende droogtes sonder dat veegetalle verminder word om aan te pas by die verminderde veldproduksie. Oorbeweiding kan ook geskied deur beweiding gedurende spesifieke seisoene van die jaar. Laasgenoemde is aanskoulik gedemonstreer in proefkampe op Grootfontein.

Dit dien verder daarop gewys te word dat die uitwerking van oorbeweiding beswaar of verlig kan word volgens seisoene en klimaat - veral wat reënval betref. Met goeie reëns byvoorbeeld wanneer plante aktief groei, kan dit gebeur dat sekere soorte kaalkolle tydelik toegroei. Hierdie aspek is ook baie duidelik in die proefkampe op Grootfontein gedemonstreer asook dat groter kaalkolle voorkom en die plantegroei meer uitgedun is waar die veeladings swaarder is en die veld geen rus kry nie. In ‘n veldproef is gedemonstreer dat waar ‘n veldkamp groot was, groot kaalkolle in die leegte ontstaan het. Met die onderverdeling van die kamp, en die toepassing van ‘n geskikte veldbeheerstelsel en met dieselfde getal vee, het die kaalkolle mettertyd gekrimp of verdwyn ten spyte van goeie of swak jare.

In een proef op Grootfontein, onder drastiese behandeling van aanhoudende beweiding, het groot kaalkolle in die laerliggende dele van die kamp ontwikkel as gevolg van selektiewe oorbeweiding. Die laer gedeelte is later afgekamp en selektiewe oorbeweiding aan bande gelê. Ten spyte van die feit dat daar op hierdie afgekampte gedeelte voortgegaan is met aanhoudende beweiding, het die kaalkolle baie gekrimp en sommige het selfs toegegroei. Voor die goeie reëns van 1974 is die kamp gerus en die kaalkolle het feitlik heeltemal verdwyn. Hierdie proef het duidelik geïllustreer dat oorbeweiding die hoofoorsaak van die kaalkolle was, dat die afspan van die oorbeweide gedeelte ‘n gunstige uitwerking gehad het, dat klimaat ‘n baie belangrike rol speel en dat die rus van veld met goeie reëns baie voordelig vir die veld is.

Om oorbeweiding uit te skakel, is die vernaamste stap om veegetalle te beperk met ander woorde sover moontlik in verhouding te bring tot die produksievermoë van die veld. Verder is dit nodig dat ‘n stelsel van beweiding ingestel word wat sal verseker dat die veld nie te kort bewei word nie, en, indien dit wel geskied, dat die veld lank genoeg rus om die bedekking te laat herstel. Om in die doel te slaag, kan daar van verskeie beginsels gebruik gemaak word soos byvoorbeeld kort wei en lank rus, slegs winterbeweiding, of die toepassing van wisselweidingstelsels. Onder die huidige opset van plaasbeplanning kan dit ingeskakel word onder die sogenaamde groepkampstelsel. 

 

Published

Karoo Streeksnuusbrief Junie