Last update: April 2, 2012 09:26:20 AM E-mail Print

 

OORDEELKUNDIGE VELDBESTUUR VERSEKER EKONOMIESE SKAAPBOERDERY

PW Roux 


INLEIDING

Die kerngebied van die ekstensiewe skaapweistreke is soos in Figuur 1 aangetoon. Skape wat daar aangetref word, in volgorde van getalsterkte, is die Merino, die Dorper en ander vleisskape en die Karakoel. Die Angorabok en die Boerbok tel as die belangrikste onder die kleinvee.

 

 

Die gebied in Fig. 1 het 'n ariede klimaat; die reënval gradeer, wes na oos, van minder as 100 mm tot ietwat meer as 400 mm per jaar gemiddeld. Die veldgeaardheid wissel rofweg, wes na oos, van egte woestyngrasveld, karoobossievelde, gemengde karoo en grasveld tot veld gedomineer deur soet- en/of suurgrasse.

Die veldweiding is die hoofvoedingsbron en in baie gevalle die enigste, vir die kleinveebedryf in die ekstensiewe gebied. Om hierdie bedryf ekonomies gesond te hou, vereis primêr die geordende eksploitasie van die veld, sowel as die handhawing en verbetering daarvan. Oppervlakkig beskou, staan hierdie twee doelwitte in opposisie tot mekaar. Die feit is egter dat benutting en bewaring aanvullend en onafskeidbaar tot mekaar staan in 'n betreklik delikaat gebalanseerde stelsel. Slegs deur na altwee aspekte om te sien, kan daar verwag word om 'n skaapboerdery ekonomies oor die langtermyn. gesond te hou. Dit vereis as grondslag die sorgvuldige, volgehoue en oordeelkundige toepassing van wetenskaplik gefundeerde veldbestuur; daar moet 'n balans tussen benutting en veldherstel wees.

'n Ontwrigtende, en 'n soms alles oorheersende faktor, is die natuurlike voorkoms van seisoensdroogte, droogtes en rampdroogtes. Daar moet dus voortdurende maatreëls in werking wees wat droogteskokke sover as moontlik temper en die negatiewe ekonomiese impak die hoof bied.

Dit is dus ook absoluut noodsaaklik, gesonde veld bestuur en benutting ten spyt, dat veldaanvullende en reserwevoerbronne op elke plaas tot stand gebring en in stand gehou word. Die versuim om hieraan te voldoen is een van die mees uitstaande faktore wat 'n skaapboerdery onder die mees ongenadigde en voortdurende ekonomiese druk plaas.

Die volgende verskaf bykans volledige aanwysings vir gesonde veldbestuur. Dit is nie moontlik om in die fynere besonderhede van elke aspek in te gaan nie. Vir plaasbeplannings, aanvullende beplannings en advies moet met die naaste voorligtingsbeampte van die Departement van landbou en Visserye in verbinding getree word, of met die naaste Streekdirekteur van die Departement.

 

VEEGETALLE

Die handhawing van realistiese veegetalle in verhouding tot die erkende langtermynweidingskapasiteit (drakrag) van die betrokke veld, is by verre die belangrikste veldbehoudende maatreël wat moet uitgevoer word. Wisseling in die basiese veegetal kan geskied volgens die vermoë van veld om vee te dra gedurende goeie of swak jare. Gewoonlik word die weidingskapasiteit met so om en by 30% oorskat. Waar veegetalle bereken word, moet daar wel deeglik rekening gehou word met die feit dat die relatiewe behoeftes van klasse vee aansienlik kan verskil. So byvoorbeeld benodig 'n hamel (Merino) 1,2 kg droë voer per dag. Daarenteen vereis 'n dragtige ooi 1,5 kg droë voer, en 'n lakterende ooi met 'n lam 2,7 kg. 'n Honderd Merinohamels vreet in 'n jaar veld wat gelykstaan aan 14 900 bale lusern vir slegs onderhoud.

Dit sal dus duidelik beset word watter geweldige en onmiddellike voordelige uitwerking die vermindering van veegetalle op die veld het.

 

VELDRUS

Rotasiespaar

Veld moet rus om te kan herstel na 'n periode van beweiding. Baie swak en uitgetrapte veld moet selfs solank as vyf tot agt jaar rus. Gewoonlik egter vereis veld 'n twaalf-maande rus elke derde jaar rotasiespaar. In die geval rus 'n derde van die plaaskampe jaarliks terwyl tweederdes bewei word. Elke twaalf maande rus 'n nuwe derde. Die twee-derdes wat onder beweiding is, moet verkieslik in rotasie bewei word. Waar die reënval gunstiger is, kan selfs slegs die rus van een-kwart van die kampe baie voordelig wees.

 

Strategiese rus

Strategiese rusbeurte kan toegesê word aan sekere velddele of veldsoorte om die grootste voordeel uit rus te kry. Die voordeligste rus vir leegteveld is van Augustusmaand tot die einde van Mei. Vir karoobossieveld, veral die waardevolle brakveld, is die beste rusbeurt vanaf Maart tot die einde van Mei, of van die middel Augustus tot die einde Oktober. Groter voordeel kan egter verkry word met bossieontwikkeling deur in dieselfde jaar altwee rusbeurte te gee. Die grootste voordeel word egter verkry deur van Maart ononderbroke tot die einde Oktober te rus.

Boesmangrasveld behoort vir 'n volle twaalf maande te rus vanaf Januarie tot einde Desember. Rus van Augustus tot Augustus kan ewe goeie resultate lewer afhangende van die reënval.

Droë bosveld, soos byvoorbeeld die Noorsveld en aanliggende veld, vereis 'n lang rus elke derde jaar van middel Maart tot einde Augustus die volgende jaar.

Dit is absoluut noodsaaklik om te sorg dat geen vee in kampe wat rus, toegelaat word nie. Elke dier wat daar wei, verminder die uitwerking van rus.

 

ONTTREKKING NA REëN

Wanneer dit gereën het, begin veld aktief groei indien temperatuur dit toelaat. Gras- en bossiesaailinge verskyn en probeer vestig, nuwe lote verskyn op gevestigde plante en opslagplante kom oral op. Indien hierdie gevoelige jong groei aan beweiding onderwerp word, kan 'n trap vee geweldig skade – soms onverhaalbaar - daar aanrig. As jong groei vir slegs drie weke na reën gerus kan word - verkieslik egter nie minder as ses weke nie - word die skade aan veld tientalle kere verminder en veldherstel geweldig bevorder. Die onttrekking van vee van die veld af, na ongeveer 10 mm of meer reën geval het, is dus 'n uiters belangrike maatreël wat sover as moontlik uitgevoer moet word.

Onttrekking na reën kan soos volg geskied: Reëns wat gedurende September tot einde Januarie val, bevorder hoofsaaklik gras en gevolglik is dit meer voordelig om veld wat reeds gras het of wat gras ontwikkel te onttrek. Reëns vanaf Februarie tot Augustus bevorder die bossiebedekking en dan is onttrekking, om die bossiebedekking te bevorder, die voordeligste. Indien die veeboer sy veld ken, sal hy egter goed weet hoe om veld te onttrek om die beste voordeel na reën daarvoor te kry. Na 'n droogte gebreek is, is dit aangewese om geen vee op die plaas toe te laat vir ten minste ses weke nie.

Dit is gewoonlik nie moontlik om sulke strategiese ontrekkings soos hierbo beskryf geredelik in die praktyk toe te pas nie, aangesien daar elders vir die vee voorsiening gemaak moet word om strategiese onttrekkings egter selektief toe te pas is heeltemal binne bereik waar daar voldoende bykomende voerbronne op die plaas bestaan, soos byvoorbeeld droogtevoergewasplantasies en landerye. Die noodsaaklikheid van die aanlê van droogtevoergewasplantasies word weereens hier beklemtoon.

 

SPESIALE VELDBEHANDELINGS

Veldontwikkeling

Om grasveld te ontwikkel, moet veld nie gedurende die aktiewe groeiperiode of seisoen vir gras bewei word nie. Benut dus slegs gedurende die maande Junie, Julie en Augustus. om bossieveld te ontwikkel, soos in leegtes, vloedleegtes en brakveld, benut slegs gedurende die somermaande Oktober tot einde Februarie.

Waar veld, as gevolg van te veel reën en/of te lank spaar te ruig uitgegroei het, kan sulke veld teruggevreet word deur 'n hoë lading vee vir 'n kort periode daarop - nie langer as ongeveer drie weke nie. Na so 'n behandeling moet die veld rug totdat dit genoegsaam uitgegroei het om normaalweg te benut.

 

Besproeiing van veld

Waar enigsins uitvoerbaar en regverdigbaar kan leegtes, brakveld en ander laagliggende veld met afloop-reënwater besproei word deur die aanbring van geskikte grondwalle of verwante strukture.

Besproeide veld het 'n verhoogde weidingskapasiteit en kan aansienlik bydra om die drakrag van 'n plaas op te stoot, Besproeide veld vereis dieselfde beheerpraktyk as gewone veld. Dit kan egter volgens oordeel en behoefte benut word, maar daar moet streng teen gewaak word dat as gevolg van benutting die veld nie vier word as die aanvanklike toestand nie. Die neiging op besproeide veld bestaan om dit oor te benut; dit kan dien om nadelige erosieprosesse op tou te sit, grondkompaksie en kaalkolvorming te bevorder en ondoeltreffende vogverliese in die hand te werk.

Daar moet baie streng teen gewaak word dat besproeide veld nie bewei word terwyl die grond nog nat of klam is nie.

 

Wisselweiding

AI bogenoemde veldbenuttings- en bewaringsmaatreëls berus op veldekologiese, plantfenologiese (plantlewenssiklusse) en plantfisiologiese beginsels en praktykbehoeftes. Die toepassing daarvan word aan die gedurige oordeel van die skaapboer oorgelaat. Om al die beginsels egter geordend toe te pas en ook die las van oordeel te verminder, is wisselweidingstelsels ontwerp vir feitlik alle veldstreke, veldsoorte en boerderysituasies. Wisselweidingstelsels kan tereg beskou word as die hoogste vlak waarop veldbenutting en bewaring verenig word en wat in die praktyk doeltreffend toegepas kan word.

Om die grootste voordeel uit wisselweidingstelsels te kry, is dit noodsaaklik dat 'n skaapplaas so volledig moontlik beplan word. Dit is ten opsigte van fisiese fasiliteite, veld, vee en ekonomie. 'n Boer kan self sy plaas beplan as hy oor die nodige kennis beskik.

Dit word egter aanbeveel dat daar gebruik gemaak word van die kundigheid van 'n voorligtingsbeampte.

Daar is tans weidingstelsels beskikbaar wat op twee-, drie-, vier-, vyf-, ses- en veelkampstelsels gebaseer is.

Hierdie stelsels kan op stelle kampe toegepas word. By verre die voordeligste is om 'n wisselweidingstelsel of stelsels, op 'n groepkampbasis uit te voer. Hierdie sogenaamde groepkampstelsel verseker die grootste buigsaamheid om veebestuurpraktyke te akkommodeer asook om aan al die basiese vereistes van veldherstel, -ontwikkeling en -benutting te voldoen. Dit word dan ten sterkste aanbeveel dat elke kleinveeboer daarna moet streef om 'n goedbeplande groepkampstelsel op sy plaas in te stel en doelgerig uit te voer. AI die veldbestuurspraktyke wat reeds hierbo genoem is, is of outomaties in die groepkampstelsel geïnkorporeer, of hulle kan, indien nodig, binne die verloop van die stelsel, volgens oordeel, uitgevoer word. Die belangrike saak is dat onder 'n wisselweidingstelsel, of onder 'n groepkampstelsel daar 'n geordende ontwikkelingsritme vir die veld ingebou is. Gewoonlik word 'n minimum van vyftien veldkampe op 'n plaas vereis om die beste voordeel uit 'n kampstelsel te trek.

Waar, as gevolg van watertekort, ens., daar nie genoeg kampe gemaak kan word nie, moet die basiese beginsels nogtans nagekom word soos hierbo uiteengesit.

Voorsiening vir geleentheidskampies en spesiale kampies - so os vir ramme, lammerskape, ens. – kan afsonderlik gemaak word, indien nodig. Beginsels van feitlik enige stelsel kan binne die raamwerk van die uiters aanpasbare en buigsame groepkampstelsel toegepas word.

 

Droogtevoergewasse

Gedurende droogtes daal veldproduktiwiteit en kom groei tot 'n stilstand. Gesonde veldbestuur dra veel daartoe by om voervoorsiening vanaf droogteveld te verleng en daardeur die las van voeraankope te verminder. Daar kom egter 'n tydstip wanneer die veld as voerbron nie meer genoegsaam aan die behoeftes van vee kan voldoen nie en daar aanvullende voer verskaf moet word of voltyds gevoer word. Om groter versekering teen droogte te he, is dit in die ekstensiewe skaapweistreke 'n noodsaaklikheid dat droogtevoergewasplantasies of -aanplantings gedoen word wat aan die basiese veevoedingsbehoeftes kan voorsien. Die ideaal is om tussen drie en vyf persent van die totale oppervlakte van 'n veeplaas onder droogtevoergewasse te vestig. Dit beteken dat 'n 3000 ha plaas 150 ha onder droogtevoergewasse behoort te hê. Die voergewasse kan in kleiner plantasies oor die plaas versprei word. In die dele waar die reënval minder as 250 mm per jaar is, is dit gerade dat die plantasies so geleë is dat hul beperkte besproeiing uit boorgate (of fonteine) kan ontvang.

Bokant 250 mm reënval per jaar gemiddeld kan die voergewasse onder bestaande reënval gekweek word. Sorg moet gedra word dat goeie grond en nie afskeepgrond vir die plantasies gebruik word nie.

Die belangrikste voergewasse is Oumansoutbos (Atriplex nummularia), Kaalbladturksvye (Opuntia spp.), spekboom (Portulacaria afra) en soutbossoorte (Atriplex spp.) Verdere besonderhede oor die verkryging van saad en plantmateriaal en die vestiging en benutting van hierdie gewasse is verkrygbaar van die Direkteur Karoostreek, Privaatsak X529, Middelburg (KP) 5900, of van die naaste voorligtingsbeampte.

Droogtevoergewasplantasies open ook die weg om vee wat na reëns onttrek word in aan te hou, die weidingsdruk op die veld te verlig en vee in af te rond, met of sonder byvoeding en lekke.

Die aanlê van droogtevoergewasplantasies moet deur elke kleinveeboer as een van sy hoogste prioriteite beskou word.

 

ANDER VELDASPEKTE

Ontblote oppervlaktes

Om die volle voordeel uit veldoppervlakte te kry is dit nodig dat alle ontblote oppervlaktes en kaalkolle met 'n nuttige plantbedekking herbedek word.

Kunsmatige metodes word gewoonlik vereis soos die losmaak van grond, insaai van een of ander aangepaste gewas, moontlike toediening van landbougips, of die aanplant van erosiewerende plante soos die garingboom (Agave americana). Aanplantings van droogtevoergewasse kan soms voordelig op sulke oppervlaktes gemaak word.

 

Gronderosiebestryding

Gronderosie moet te alle tye aktief bestry word deur versperrings op sleutelpunte aan te bring soos klipwalle, grondwalle, takbedekkings, ens. Soms word die konstruksie van groot betonstrukture in erosieslote en riviere vereis. In sulke gevalle moet die hulp van die naaste voorligtingsbeampte ingeroep word.

 

Veldbrand

Die brand van veld in die berggebiede vereis spesiale aandag. Waar veld om goeie rede gebrand wil word, moet 'n voorligtingsbeampte of grondbewaringskomitee geraadpleeg word. Gebrande veld vereis spesiale behandeling.

 

Onkruid

Die produktiwiteit van veld word soms drasties verlaag of bedreig deur 'n groot verskeidenheid van onkruidsoorte. Verklaarde onkruide moet noodwendig bestry word. Die goue reël hier is om vroegtydig te begin bestry voordat onkruid afmetings aanneem waar dit slegs teen hoe koste bestry kan word.

 

Veebestuur

Om die beste waarde uit veld te kry, is dit noodsaaklik dat veebestuurspraktyke in die hoogste rat gehou word. Dit moet aangepaste diere van gehalte wees.

Bestuur het veral betrekking op teelt en seleksie doelwitte, paringsmetodes, voeding van dragtige en lakterende ooie, behandeling van lammers, aanvullende voeding en lekke, droogtevoeding, parasietbestryding, voorkoming van siekte en siektebestryding, hantering van vee, en klasseer en bemarking van produkte. Hoe beter die veebestuurspraktyke, hoe beter produk word gelewer. Minder vee van gehalte kan aangehou word om dieselfde inkomste te lewer as meer vee van 'n swak gehalte.

Dit is noodsaaklik dat skuilings en/of koeltebome aangebring word en strategies geplaas word. Daar moet ook voldoende parasietvrye suipings wees.

Met die hedendaagse dipstowwe, entstowwe, spuitstowwe, lekke voere en aanvullings is daar geen rede - veral wanneer daar vroegtydig opgetree word - waarom veeproduktiwiteit nie op die hoogste vlak kan wees nie. Dit is alles ook direk en indirek tot die voordeel van die veld. 

 

Published

Veld, Junie 1981