Last update: April 3, 2012 10:10:18 AM E-mail Print

 

OORDEELKUNDIGE BENUTTING VAN WEIVELD DEUR ANGORABOKKE

I du T van der Merwe 


In die verhoging en stabilisering van diereproduksie speel voeding 'n vername rol, want dit word gesê dat 70 persent van 'n dier se produksie van voeding afhanklik is. Die korrekte en oordeelkundige gebruik van veld is dus van uiterste belang.

Ten einde veld te bewaar, te benut en te ontwikkel, is die kanse om met die Angorabok te slaag, groter as met enige van die ander kleinveesoorte. Dit is goed bekend dat Angorabokke in die bosstruikvelde meestal hul voeding van bosse, bome en struike verkry, maar dat hulle net so goed op karoobossieveld , grasveld of lusernlande (aangeplante weidings) kan klaarkom. Hulle benut beslis ‘n baie wyer spektrum van plante as enige van die skaaprasse.

In teenstelling met skape vreet Angorabokke verkieslik hoër bokant die grond, wat tot gevolg het dat die uiters gevoelige onderste laag plantegroei wat kiemplante, jong plante en krone van plante insluit, minder beskadig deur Angorabokke gelaat word. Die benuttingsvlak van plantegroei is vertikaal oor ‘n baie dieper stratum versprei as byvoorbeeld by skape en die neiging is om van bo-af na ondertoe te vreet.

Proefwerk het die volgende getoon:

In die Uitenhage-bosveld bestaan die Angorabok se dieet uit 70 persent struike.

Waar Spekboom 25 persent van die plantbedekking uitmaak, bestaan die Angorabok se dieet uit 32 persent daarvan.

Waar veld aanhoudend oor 10 jaar met Angorabokke bewei is, teen ‘n gemiddelde belading van 1,9 ha per kleinvee-eenheid (Graaff-Reinet distrik) was daar slegs ‘n verdubbeling van die opslagplante terwyl die permanente bedekking en samestelling van die plantegroei dieselfde gebly het.

Onder aanhoudende ligte beweiding is die nadelige gevolge baie minder met Angorabokke as met skape.

Wanneer Angorabokke en Merinoskape saam wei, is die gemiddelde liggaamsmassa swaarder as wanneer hulle afsonderlik in kampe wei. In die geval van Angorabokke was die verskil van 0, 9 tot 2, 3 kg.

Die potensiële grondvertrappingsfaktor van Angorabokke is tussen 20 en 30 persent hoër as die van Merinoskape.

Die verhouding van voedselinname tussen vergelykbare groepe (ooie teen ooie) van die volgende veerasse is soos volg:

Angorabokke    =    120

Merinoskape    =     100

Dorperskape   =       67

Boerbokke      =       67

 

As die inname van ‘n droë ooi op 1,0 gestel word, dan is inname van ‘n dragtige ooi =1,6 en van ‘n ooi wat soog= 2,3.

Die Valleibosveld van Uitenhagedistrik produseer ongeveer 730 kg benutbare biomassa vir diereproduksie. ‘n Droë Angorabok-ooi van 45 kg neem ongeveer 1 141 kg voedsel in, wat impliseer dat ongeveer 1,56 Kleinvee-eenhede op ‘n hektaar veld aangehou kan word.

Onder toestande van oorbeweiding kan Angorabokke die veld so opvreet en vertrap dat dit gewoonlik die beginpunt van ‘n geleidelike ineenstorting is.

Spekboomveld wat 50 persent ontblaar is, neem nege maande om te herstel. Hoe droër dit is, hoe stadiger die tempo van herstel.

Die belangrikste riglyne om veld optimaal deur middel van Angorabokke te benut is:

Die bes beplande stelsel van benutting kan oor die langtermyn nie slaag as daar te veel vee aangehou word nie.

Om te kompenseer vir die verhoogde inname van reproduserende ooie behoort gespeende lammers as kleinvee-eenhede bereken te word en suiplammers as 0,4 van In eenheid.

Drie kampe per trop, maar verkieslik vier, met ‘n minimum van sewe kampe per plaas, maar 15 of meer is die ideaal.

Waar prakties moontlik moet veldsoorte geskei word sodat elkeen ooreenkomstig sy behoeftes beskerm en volgens sy potensiaal benut kan word.

Daar moet gepoog word om soveel moontlik vir so lank moontlik te rus en die periode van beweiding so kort moontlik te hou. Rusperiodes van 18 maande wat in Maartmaand begin, moet vir Struikbosveld beplan word.

Aan die einde van 'n beweidingsperiode behoort daar 40 tot 50 persent van die beskikbare weimateriaal van die smaaklike plante oor te bly.

Na goeie reëns, veral na droogtes, moet soveel veld moontlik vir ten minste ses weke algeheel van beweiding onttrek word.

Ongeveer drie persent van die oppervlakte van elke plaas behoort onder droogtebestande voergewasse, veral Oumansoutbosse en Garingbome, geplaas te word.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Desember