Last update: September 2, 2011 11:20:13 AM E-mail Print

 

OORSIG VAN SOMMIGE WOLNAVORSING OP DIE LANDBOUKOLLEGE GROOTFONTEIN UITGEVOER

P D Grobbelaar

Landboukollege Grootfontein

 

Alhoewel wol slegs 'n klein persentasie (ongeveer 5 %) van die wêreld se tekstielveselmark uitmaak, word die wolvesel vanweë sy besondere voortreflike eienskappe as een van die gesogste tekstielvesels beskou. Ten einde die gebruik van en die aanvraag na wol te verseker, is dit noodsaaklik dat die gehalte van die wol verbeter moet word om aan die vereistes van die fabrikant en die verbruiker te voldoen. Elke tipe wol word vir 'n bepaalde doel gebruik. Die fyner vesels word vir liggewig kamstowwe, fyn tabberdstowwe en ander sagte materiaalkleedstowwe aangewend, terwyl die dikker vesels vir jasse, growwe materiaalstowwe en tapyte gebruik word.

Vanweë die sterk mededinging wat wol van kunsvesels en katoen ondervind ten opsigte van sy rol as tekstielvesel, is dit belangrik dat objektief bepaalbare fisiese en chemiese gehaltenorme neergelê moet word, waaraan wol behoort te voldoen ten einde die gebruik daarvan as tekstielvesel te verseker. In die evaluering van wol deur kopers en fabrikante is dit algemeen bekend dat daar opmerklike verskille voorkom in vesels van dieselfde fynheid ten opsigte van baie gehalte eienskappe soos ondermeer sagtheid van aanvoeling, weerstand teen samepersing of veerkragtigheid, verviItingsvermoë asook in die verwerkingseienskappe van wol.

Sedert 1924 toe die eerste wolnavorsingswerk op die Landboukollege Grootfontein deur mnr Gawie Maré begin is, is daar oor die jare heen heelwat baanbrekerswerk gedoen. Gedurende 1929 is die sogenaamde Duerdenstandaarde of -verband (Tabel 1) tussen die veseldikte, kartelfrekwens en spintelling van wol deur Duerden en Bosman (1929) opgestel.

 

Die spintelling van wol is die Bradfortse nommerstelsel en verwys, in teorie, na die getal henks kam garing van 560 jaart (512 m) wat van een pond (0,454 kg) kambol gespin kan word. Van wol met 'n spintelling van 60 word dus verwag om ongeveer 60 x 512 m kamgaring per 0,454 kg te lewer (67 665 m/kg). Wol word egter seIde tot die verwagte spintelling gespin. Vandag word die woord spintelling veral deur die produsent gebruik om die veselfynheid aan te dui.

Hierdie verband tussen veseldikte, karteling en spintelling van wol is later deur die NWKV (Nasionale Wolkwekersvereniging) gebruik in die opstel van die klasstandaarde vir Merinowol. Sodoende is die klas en bemarking van die S A wolskeersel gestandardiseer sodat die S A skeersel vandag nag wêreldwyd as die beste geklasseerde skeersel beskou word.

Navorsing gedurende die vroeëre jare was veral gemik op die effek van voeding op wol. Die invloed van voeding op produksie, veseldeursnit, vesellengte en kartelfrekwensie is welbekend. Baie bewyse vir die verhoging van wolproduksie deur middel van 'n verhoogde voedingspeil word in die literatuur deur verskeie navorsers aangegee. Persone vanaf Grootfontein is onder meer Maré & Bosman (1934), Bosman (1934), Bosman (1937), Botha (1943), Hugo (1952), Venter (1953), Venter, Cloete en Edwards (1969), Venter, Steenkamp & Edwards (1973) en Jacobs & De Wet (1979).

Afgesien van die invloed van 'n voedingsverandering op wolproduksie as sodanig, word ander verwante eienskappe afsonderlik daardeur beïnvloed. Die gehalte van die wol is derhalwe baie gevoelig vir 'n voedingsverandering. Hier word daar veral gedink aan die invloed van voeding op veseldeursnit en vesellengte. Oor die algemeen word daar gevind dat 'n lae voedingspeil 'n verdunning van die vesel tot gevolg het en dat 'n korter wolvesel (stapellengte) geproduseer word. Mare en Bosman (1934), Bosman (1937), Van Wyk (1946) en Venter (1953) het 'n verdunning van tot 36 % in veseldikte met ondervoeding gevind. Bosman (1937) het verder gevind dat wolproduksie met 31,8 % verminder het en vagdigtheid met 36 %. Treksterkte het volgens Venter (1953) met 37 % afgeneem. Alhoewel die kartels per 25,4 mm aanpas by die verandering in veseldikte as gevolg van die voedingsverandering, is die verandering nie so drasties soos in die geval van veseldikte nie en neem dit ook veel langer om te reageer en ook nie tot dieselfde mate nie. Grobbelaar (1987 - ongepubliseerde data) het onder geïnduseerde droogtetoestande gevind dat die wolproduksie van sterkwol Merinohamels met 63 % afgeneem het, terwyl veseldikte vanaf 24 mikron na 17,5 mikron (27 %) afgeneem het. Kartels kon nie tot dieselfde mate as veseldikte aanpas nie met die gevolg dat hierdie wol meer ondergekarteld (21 %) geword het in vergelyking met die 10 % onderkarteling van die ander groepe.

Die invloed van spesifieke voedingstowwe op die fisiese en chemiese eienskappe van wol is ook ondersoek. Uys (1966) haal 'n hele reeks navorsers aan wat die effek van elke belangrike spoorelement vasgestel het. 'n Wanbalans of tekort aan sekere spoorelemente lei tot 'n verswakking van die veselvorming waardeur die gehalte van wol erg benadeel word. Van die bekendste mineraaltekorte wat veral in sekere streke voorkom, is 'n kopertekort. Vesels raak ongekarteld (reguit) terwyl 'n gebrekkige of onvolledige keratinisasie oor die vesel voorkom (Louw 1960). 'n Oormaat molibdeen gee dieselfde simptome as 'n kopertekort deurdat dit die opname van koper beïnvloed.

Voeding het ook 'n invloed op die velafskeidings. Volgens Bonsma en Starke (1934) varieer die hoeveelheid wolvet en sweet, wat die vesels bedek, vanweë hulle afhanklikheid van voeding en klimaatsomstandighede. Dit is nie die hoeveelheid wolwas wat die bepalende faktor is nie, maar wel die vloeibaarheid van die wolwas oor die hele lengte van die stapel. Dit kom egter voor asof die spesifieke beskerming wat wolwas verleen baie gering is ondanks die algemene gedagte dat 'n droë tip meer verweerd is (Le Roux, 1958). Die algemene gedagte is dat wolwas die stapels bind, maar Uys (1966) en Van Rensburg (1966) kon geen verskil in wolwasinhoud by groot en klein stapels vind nie.

Volgens Hugo (1952) het voeding slegs 'n invloed op die aantal follikels voor geboorte en die eerste maand na geboorte. Daarna speel voeding nie meer 'n rol nie, aangesien die aantal follikels geneties vasgelê is. Voeding aktiveer slegs die follikels om langer en dikker vesels te produseer of andersom. Slegs ongeveer 4 % van die totale veloppervlakte van die skaap word deur vesels bedek (Uys, 1966). Die getal vesels per volwasse Merinoskaap is ongeveer 100 miljoen.

Die interverwantskap tussen die verskillende vag en veseleienskappe is volle dig deur Venter (1964) ondersoek. Fenotipiese korrelasies tussen veseleienskappe (objektief en subjektief beoordeel) is bepaal. Die verandering in produksie met toenemende ouderdom by die Merino is ook volledig ondersoek (Venter, 1970). Maksimum produksie word op ongeveer 30 maande ouderdom bereik waarna dit geleidelik daal met toename in ouderdom. Die intensiteit van produksie het met ongeveer 8 tot 10 persent per jaar verminder vanaf 30 maande ouderdom. Dreyer en Venter (1972) het ook die veranderinge in die vel en vag met ouderdom by die Merino ondersoek.

Na 1950 is met wolnavorsing veral klem gele op die oorsake van gehalte afwykings en die uitskakeling daarvan. Die gehalte van wol word in die praktyk aangedui deur die term "kwaliteit". Hier is aanvoeling of styfheid van die wol 'n bepalende faktor. Verskeie ondersoeke op hierdie gebied is onderneem. Van Wyk (1946) het heelwat werk gedoen op die faktore wat die saamdrukbaarheid (weerstand teen samepersing) van die wol beïnvloed. Dit kan grotendeels toegeskryf word aan 'n afwyking van die Duerdenstandaard. Wol wat sterker is  as wat die kartels aandui (oorgekartelde wol) het 'n hoër weerstand teen samepersing (harde hantering) terwyl wol wat fyner is as wat die kartels aandui (ondergekartelde wol) 'n laer weerstand teen samepersing (pap hantering) toon as wol waarvan die kartels en veseldikte volgens die Duerdenstandaard ooreenstem. Dieselfde geld vir verviltingsvermoë van wol. Ondergekartelde wol vervilt baie makliker as oorgekartelde wol (Van Wyk 1946, Venter 1964, Venter 1976, Grobbelaar 1982) wat weer tot 'n groot verlies vir die fabrikant lei deurdat meer vesels breek tydens uitkamming en dus 'n groter persentasie uitkamsels ("noils") tot gevolg het.

Die spintelling van wol is vroeër geskat volgens die aantal kartels per 25,4 mm. Deur die jare is baie klem gelê op die sagtheid van aanvoeling (huidige definisie van 'n goeie kwaliteit wol is duidelik en reëlmatige karteling, sagte aanvoeling en afwesigheid van afwykende tipe vesels). Hierby moet gevoeg word die gedagte dat sterkwol 'n hoër inkomste realiseer as gevolg van hoër produksie. Deur die jare het dit daartoe gelei dat die S A wolskeersel al hoe meer ondergekarteld geword het. Kruger (1971) het aangetoon dat die Duerdenstandaarde nie meer gebruik kon word om die werklike veseldikte van wol te skat nie omdat die aantal kartels nie meer 'n aanduiding van die werklike veseldikte is nie. Van Wyk (1946) en Venter (1964, 1965) wys daarop dat die aanvoeling van die wol die skatting van die spintelling (fynheid) beïnvloed en dit moet in aanmerking geneem word wanneer die fynheid van wol geskat word. Faktore soos hoeveelheid en vloeibaarheid van wololie, duidelikheid en reëlmatigheid van karteling moet ook in aanmerking geneem word by die skatting van fynheid. Deur dit te doen, word tot 'n mate gekompenseer vir die afwyking vanaf die Duerdenstandaard.

Die afwyking van wol vanaf die Duerdenstandaard het ook verder meegebring dat verskeie ander nadele na vore gekom het, wat die gehalte van die wol beïnvloed. Die rouproduk (wol) word ook geaffekteer deur die kartelveseldikteverhouding. Ondergekarteldheid gee aanleiding tot 'n pap wol met min staankrag wat oopval op die skaap en dieper verwering vind dan plaas. Ondergekarteldheid benadeel ook verskeie ander gehalte-eienskappe selfs in die verwerkingsproses soos ondermeer lae weerstand teen uitrekking (Van Wyk & Venter, 1954, 1971), hoer verviltingsvermoë (Veldsman & Kritzinger, 1966; Turpie & Shiloh, 1973), lae weerstand teen samepersing (Van Wyk, 1946; Van Wyk & Venter 1954; Venter, 1976), minder weerstand teen verkreukeling (Veldsman, 1970) en swakker drapeervermoë (Veldsman, 1970). As gevolg van verhoogde verwering van ondergekartelde wol besit dit ook 'n swakker kleurabsorbsievermoë, (Kritzinger, 1958) en hoe uitkamsels persentasie (Turpie & Shiloh 1973; Turpie 1977) as gevolg van veselbreking (verwering) en 'n verhoogde verviltingsvermoë. Oorgekartelde wol daarenteen, toon die teenoorgestelde eienskappe as ondergekartelde wol. Dit het weer ander nadele soos 'n opmerklike harder aanvoeling wat 'n ongewenste eienskap is in sekere fyner materiale, maar weer wenslik is byvoorbeeld in tapyte. Aangesien die bruikbaarheid van wol vir verdere verwerking afhang van die eienskappe en gedrag van die rouproduk soos bepaal deur die samestelling en voorkoms van die vesel is dit duidelik dat wol in baie opsigte benadeel word deur 'n ongewenste kartel tot veseldikteverhouding wat weer oorgedra word op gehalte-eienskappe van die eindproduk.

Om dus die nadelige effekte van verwering van wol op die gehalte daarvan te pro beer uitskakel is verskeie proewe hierop gedoen. Eerstens is die seisoeneffek op die verwering van wol ondersoek. Daar is gevind deur Snyman (1960) en Steenkamp, Venter & Edwards (1970) dat klimaat 'n groot effek op verwering van wol het. lndien die wol lank is oor die warm somermaande, vind dieper beskadiging vinniger plaas. Die effek van skaduweevoorsiening op die verwering van wol is ook ondersoek. Kombers-bedekking is die effektiefste manier om verwering te verhoed maar dit is onprakties. Die enigste praktiese metode is om voldoende skaduwee (bome of goedkoop skuilings) in kampe te voorsien (Venter, Nel en Edwards, 1977). Ook is die effek van tyd van skeer op die verwering van wol ondersoek. Ten einde verwering van wol tot slegs die boonste gedeelte (tip) van die stapel te beperk word aanbeveel dat skeertyd so gereël word dat die wol oor die warm maande van die jaar so kort as moontlik is om oopval en dieper beskadiging (verwering) te beperk.

'n Verdere beskadiging van wol wat ook dikwels voorkom is wolverkleurings. Botha (1945) het die verskillende verkleurings soos kanarievlek, groen en rooikleuring en rooivrot volle dig ondersoek.

Tans word daar 'n aantal fasette beplan en is sommige alreeds aan die gang waar fynwolskape onder goeie en ongunstige toestande evalueer word. Die ontwikkeling van die fynwolproduksie-potensiaal van die RSA word ook verder ondersoek.

Uit al hierdie navorsing is dit duidelik dat onoordeelkundige seleksie en teling, sowel as swak bestuur, mag lei tot 'n ongewenste verhouding tussen vag en veseleienskappe in wol. Dit gee aanleiding tot die produksie van wol wat sekere nadelige gehalte-afwykings openbaar wat verliese vir die fabrikant tot gevolg het. lndirek kan dit lei tot 'n afname in die gebruik van en aanvraag na wol en gevolglik 'n finansiële verlies vir die boer.

Retief (1970) het 'n ontleding gedoen om te bepaal watter woleienskappe die prys van wol beïnvloed. Hierdie ondersoek het getoon dat die kartelfrekwensie 'n betekenisvolle korrelasie van r = 0,35 met die prys van vagwol getoon het. Verder blyk dit dat spintelling (waar kartelfrekwens in berekening gebring word) stapellengte en kwaliteit, in hierdie volgorde, die belangrikste prysbepalende eienskappe in die Suid-Afrikaanse wolbedryf is. Hierdie ontledings is egter gedoen voor die instelling van objektiewe metings voor verkope. Erasmus & Delport (1987) het in 'n ondersoek teen die agtergrond van die huidige wolbemarkingsopset gevind dat veseldikte en skoonopbrengs tans so 'n groot invloed op die prys van wol uitoefen dat alle ander eienskappe se bydrae daardeur verskans word en eintlik nietig is.

Die oorbeklemtoning van een voortreflike eienskap ten koste van 'n ander ewe voortreflike negatief gekorreleerde eienskap moet egter vermy word. Die gehalte van wol kan verbeter word by wyse van oordeelkundige seleksie en teling gegrond op objektiewe maatstawe en die onderlinge verwantskap tussen ekonomies belangrike eienskappe, met voorbehoud van goeie bestuur en gunstige voeding. Dan sal 'n wol met voortreflike tekstieleienskappe geproduseer word om in die vereiste van die fabrikant te voldoen en sal wol altyd 'n gesogte tekstielvesel bly.

 

VERWYSINGS

BOSMAN, v., 1934. lnvloed van vageienskappe op MerinowolproduKsie. Boerdery S. Afr. 9,67.

BOSMAN, V., 1937. Eenvormigheid van vesel as faktor by Merinowolproduksie. Boerdery S. Afr. 12,443.

BONSMA, F.N. & STARKE, J.S., 1934. Woolfat and suint in Merinosheep. Distribution over the body and the effect of nutrition and season thereon. S. Afr. J. Sc. XXXI 271 - 383.

BOTHA, M.L., 1943. lnvloed van dragtigheid en versorging op wolproduksie. Landbouweekblad 25, 1223 Julie 7.

BOTHA, M.L., 1945. Wolverkleuring. Boerdery S.Afr. 20,367.

DUERDEN, J.E. & BOSMAN, V., 1929. Standardisasie van wol. 'n Dubbel stelsel. Kartels & Veseldikte. Boerdery S. Afr. 4,5.

DUERDEN, J.E., 1929. Standard of thickness and crimps in Merino grease wools. J. Text Inst. 20 T93 - 100.

DREYER, J .H. & VENTER, J.J., 1972. Veranderinge in vel en vag met ouderdom by die Merino. Agroanimalia 4, 7 -14.

ERASMUS, G.J. & DELPORT, G.J., 1987. Factors influencing the price of greasy fleece wool in South Africa. S. Afr. Anim. Sci. 1987, 17 (2).

GROBBELAAR, P.D., 1982. Gehalte-verskille tussen oorgekartelde wol binne en tussen streke. MSc. Agric. Univ. Stellenbosch.

GROBBELAAR, P.D., 1987. Ongepubliseerde vorderingsverslag. Karoostreek, Middelburg K P.

HUGO, W.J., 1952. Die invioed van voeding op die ontwikkeling van die follikel en wolgroei by Merinoskape. MSc. Agric.-verhandeling, Univ. Pretoria.

JACOBS, G.A. & DE WIT, P.J., 1979. Veranderinge in Wolproduksie en veseldikte tydens massaveranderinge van skape. Agroanimalia 11, 13 -18.

KRUGER, T.J.J., 1971. Sekere aspekte van prestasiemetings by Merinoskape, PhD (Landbou) - proefskrif, Univ. Stellenbosch.

KRITZINGER, C.C., 1958. Weathering in wool. Repr. S. Afr. Indust. Chem. 11. 218.

LE ROUX, P .L., 1958. Photochemical decomposition of Merino wool. S. Afr.. J. Agric. Sci. 1, 73 - 288.

LOUW, D.F., 1960. Bilateral structure of crimped and steely wool and the origin of fibre crimp. Text. Res. J. 30, 1606.

MARé, G.S. & BOSMAN, V., 1934. The influence of feed on the Merino sheep. Onderstepoort J. Vet. Sci. Anim 'ind Vol. 3 No 1.

RETIEF, J.L., 1970. Die relatiewe ekonomiese belangrikheid van sekere vageienskappe by Merinoskape. MSc. Agric. UOVS.

SNYMAN, J.G., 1960. 'n Ondersoek na die invloed wat omgewingstoestande uitoefen op die verwering van Merinowol. MSc. (Landbou) Univ. Stellenbosch.

TURPIE, D.W.F. & SHILOH, Miriam, 1973. The processing characteristics of S.A. wools: Part V : Properties of Merino wool types varying in stapel crimp. S.A.W.T.R.I. Tech Report, 189.

TURPIE, D.W.F., 1977. The processing characteristics of S.A. Wools. Part XIV. The processing performance during topmaking of wools from a range of breeds. S.A.W.T.R.I. Tech. Report,374.

UYS, D.S., 1966. Merinovagwol soos in Suid-Afrika geproduseer. MSc. Agric. Univ. Pretoria.

VAN WYK, C.M., 1946. A study of the compressibility of wool with special reference to South African Merino wool. 1. Tensile strength. Onderstepoort J. Vet. Sci. Anim. Ind. 21, 99-126.

VAN WYK, C.M. & VENTER, J.J., 1954. The initial resistance of crimped wool fibres to extension. J. Text. Inst. 45, T 809 - 820.

VAN WYK, C.M. & VENTER, J.J., 1971. The effect of Uniplanar crimps in the bending behaviour of fibres and filaments. J. Text. Inst. 62, 655 - 676.

VAN RENSBURG, C.G.J., 1966. 'n Ondersoek na die faktore wat stapelgrootte by die Merino bepaal en beihvloed. MSc. Verhandeling, Univ. Stellenbosch.

VELDSMAN, D.P. & KRITZ INGER, C.C., 1960. Studies on felting properties of South African Merino wools. J. Text Inst. 51, T 1257 -1270.

VELDSMAN, D.P., 1970. Wat wol fabrikante van die Suid-Afrikaanse wolskeersel verlang. Die Wolboer XXIII C, 5 - 7.

VENTER, J.J., 1953. Die noodsaaklikheid van gesonde groei in wol. Boerdery in S.Afr. 28,374.

VENTER, J.J., 1964. 'n Studie van die interverwantskappe tussen vag- en veseleienskappe by die Merino. MSc. Agric. Verhandeling. Univ. Pretoria.

VENTER, J.J., 1965. 'n Studie van die interverwantskappe tussen vag- en veseleienskappe by die Merino. 1. Subjektiewe skatting van die tipe wol (spintelling). S. Afr. Tydskrif Landbouwet 8,1123 -1132.

VENTER, J.J., 1970. Verandering in produksie met toenemende ouderdom by Merinos. Die Wolboer, XXIV (2) 36 - 39.

VENTER, J.J., 1976. Gehalte aspekte van Merinowol. DSc. Agric. proefskrif. Univ. Pretoria.

VENTER, J.J., CLOETE, J.G. & EDWARDS, W.K., 1969. The nutritive value of Karoo veld: The influence of nutrition and climate on the wool of the Merino sheep on divergent veld types. Agroanimalia 1, 103 -118.

VENTER, J.J., NEL, J.W. & EDWARDS,W.K., 1977. Effect of sheltering on the weathering of wool. Agroanimalia 9, 45 - 51.

VENTER, J.J., STEENKAMP, C.H. & EDWARDS, W.K., 1973. Invloed van proteien en energiepeile op wolproduksie en woleienskappe. Agroanimalia 5.

 

Published

Karoo Agric. Vol 4, no 1, 1988 (13-16)Goue vag 18 (11)