Last update: April 12, 2012 08:37:33 AM E-mail Print

 

Opsit van Hoek- en Trekpale

EJ van Meerten 


HIERDIE kort artikel en die bygaande illustrasies deur Mnr. E. J. Van Meerten, Werktuigkundige, Grootfonteinse Landbouskool, is die resultaat van 'n ondersoek wat ingestel is na 'n behoorlike manier waarop hoek- en trekpale vir omheining opgesit kan word.

'n Metode wat dikwels gevolg word is om die hoekpaal vas te stut sodat dit tegelykertyd as 'n trekpaal dien en dit word in Figuur 1 geïllustreer, waarin paal A die hoek- en trekpaal en B 'n stutpaal is wat in die binnekant gesit word. 'n Boer wat hierdie metode gevolg het, het by die skrywer geklae dat sodra hy die draad styf getrek het, het die paal uit die grond gespring en na sy kant toe gekyk.

Met ander woorde, die paal is nie alleen uit die grond gelig nie, maar dit het ook skuins na die kant van die spanning in die draad oorgehang.

 


In Figure 1 en 2 sal dit gesien word waarom 'n paal dit doen. Veronderstel dat al die drade 'n spanning of trek T uitoefen. Die spanning is miskien nie dieselfde in elke draad nie, en sal waarskynlik nie deurgaans dieselfde wees nie, tog kan dit veronderstel word dat al die spanning 'n uitwerking op een punt het, sodat dit een sterk trek gee, soos geïllustreer word deur die groot pyl gemerk P. Vir hierdie bespreking maak dit geen verskil nie of die spanning of fors P bo of onder die punt is waar die stut B die paal A ontmoet. Die fors P sal 'n drukking uitoefen op die stut en hierdie drukking word opgevang by die voet van die stut op O. Verder sal die paal A in spanning wees, en die neiging van fors P sal wees om die hele spul om te trek met punt O as middelpunt, soos deur die boogpyl aangetoon word. Met ander woorde, enige voorwaartse beweging van P sal veroorsaak dat die paal opgaan soos aangewys word deur die pyl langs die paal, aan; die linkerkant. Die twee-puntige pyle op die paal en op die stut is net daar om die spanning in die paal en die drukking in die stut aan te toon. 'n Soortgelyke geval is waar 'n tou 'n emmer water oor 'n katrol uit 'n put water trek, soos in Fig. 3 aangetoon word. Enige trek T in die tou veroorsaak 'n spanning in die hele tou en ook, as hierdie trekking vorentoe beweeg, sal dit die katrol om sy as laat draai wat dan die sentrum van rotasie is. Nou, as die wrywing tussen die paal en die aarde waarin dit geplant word, groot genoeg is, sal hierdie wrywing verhoed dat die paal uitspring, maar dit is selde voldoende, vernaamlik die eerste keer. Die weerstand wat die grond by die stut op R bied, is nietig.

Om te verhoed dat die paal uit die grond spring, kan 'n plaat aan die onderent van die paal vasgemaak word. So 'n plaat of voetstuk word gewoonlik saam met 'n yster hoek- of trekpaal voorsien, as hulle soos in Fig. 1 ingeplant moet word. As die grond baie deeglik vasgestamp en toegelaat word om vas te sak, nadat die paal geplant is, sal dit min of meer bevredigend wees, maar verreweg nie so goed soos die plan geïllustreer in Fig. 4.

In hierdie geval is C die hoekpaal en daar is 'n aparte trekpaal S wat nie verder as 6 voet van die hoekpaal behoort te staan nie. W is 'n ankerkabel, gemaak van 'n klomp drade, wat aan 'n anker vasgebind is wat omtrent 4 of 5 voet agter die trekpaal begrawe is. Die kabel word aan die trekpaal omtrent twee-derdes of driekwart van die lengte van die paal van die grond af vasgebind, en dit behoort in lyn te wees met die punt waar dit aan die paal en die anker onder die grond vasgemaak word. Die kabel moenie gebuig wees nie. Die anker kan uit 'n groot harde klip of 'n stuk pyp of 'n stuk treinspoor bestaan. 'n Stuk hout moet nie gebruik word nie want dis geneig om vrot te word. Nadat die trekpaal en die anker met sy kabel geplant en goed vasgestamp is kan die drade wat die kabel vorm opgedraai word totdat dit die paal begin omtrek. Die hoekpaal word ook geplant en 'n kruisstuk E word tussen die twee gesit. Die omheiningsdrade word dan aan die trekpaal vasgebind en styf getrek. Wanneer al die drade aan die trekpaal vasgebind en styfgetrek is, kan die draad tussen die hoekpaal en die trekpaal gespan en ook styfgetrek word sonder enige risiko dat die hoekpaal uitgelig sal word aangesien dit bo en onder vasgemaak is, bo met die kruisstuk E, en onder aan die anker in die grond.

Die spannings in die verskillende drade kan weer geïllustreer word deur pyle gemerk T. Al hierdie spannings kan weer beskou word as gelykstaande aan een groot trek P, soos vantevore beskryf. Sien Figuur 5. In die geval word drukking uitgeoefen op die trekpaal en die ankerkabel is in spanning, soos aangedui word deur die twee-puntige pyle. Nou, in plaas daarvan dat die fors of spanning in die drade geneig is om die paal uit die grond te lig, druk dit die paal. eerder sover moontlik by die grond in. As daar nie 'n ankerkabel agter die paal is nie, dan sal die trek P geneig wees om die paal alleen om te trek, met die voet van die paal as die sentrum van rotasie, en die paal sal dan plat op die grond staan, veronderstel dis vas genoeg geplant; die ankerkabel verhinder egter die rotasie heeltemal en die paal sal nie uitgelig word nie. Hierdie metode om die trek- en hoekpaal op te sit is dus beter as die vorige metode, vernaamlik in die geval van permanente omheinings.

As pale geplant word, word die grond soms natgemaak wat gebruik word om die gate, waarin hulle moet kom op te vul. Dit is 'n fout. Dis beter om droë grond te gebruik, en om dit dan goed met 'n koevoet vas te stamp.

Dit help nie veel om klippe saam met die grond in die gate te gooi nie. Konkreet is baie doeltreffend om te gebruik om pale mee vas te sit, maar die konkreet moet toegelaat word om vas te sak en deeglik hard te word voordat die paal onder enige spanning gebring word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 3