Last update: August 15, 2011 03:44:10 PM E-mail Print

 

OOISELEKSIE BY MERINO'S: OPVOLGENDE GENERASIE

 

J.J. Olivier en A.P. Pretorius

Grootfontein Landbou‑ontwikkelingsinstituut, Middelburg KP, 5900

 

Dit is algemeen bekend dat seleksievordering in 'n kudde hoofsaaklik deur middel van ramseleksie verkry word. In die praktyk word ooie op tweetandouderdom geselekteer met die doel om die kudde geneties te verbeter. Die doeltreffendheid hiervan word egter dikwels bevraagteken. Daar is gevolglik ondersoek ingestel na die doeltreffendheid van die verskillende seleksiemetodes en seleksie-intensiteite wat by ooiseleksie gebruik word om die opvolgende generasie te verbeter.

 

PROSEDURE

Honderd en twintig tweetandooie uit die Grootfontein Merinostoet is gedurende 1986 volgens die gebruiklike hand-en-oog-metode in drie groepe, naamlik stoet- en spesiale eerstekudde (H1), eerstekudde (H2) en tweedekudde en prulle (H3) verdeel. Hulle is ook volgens 'n seleksie-indeks [(1 x liggaamsmassa) + (25 x skoonwolmassa) - (15x veseldikte) - (4 x plooie)] in drie groepe, naamlik die boonste derde (S1), middelste derde (S2) en onderste derde (S3) verdeel. Die getal ooie in S1 het ooreengestem met die in H1, die in S2 met die in H2 en die in S3 met die in H3. AI hierdie ooie is as een trop bestuur en vir 4 agtereenvolgende jare gepaar. Die produksierekords van al die nageslag van hierdie ooie is tot op 'n ouderdom van 16 maande aangeteken. Op 16‑maande‑ouderdom is die liggaamsmassa, wolmassa, veseldikte, skoonopbrengs, stapellengte en die getal plooie gemeet of bepaal. AI die nageslag is terselfdertyd ook vir 11 eienskappe volgens die lineêre metode (Olivier, 1991) beoordeel. Die reproduksie- gegewens van geselekteerde ooinageslag van bogenoemde ooie is ook aangeteken.

Die data wat op 16-maande-ouderdom ingesamel is, is volgens die standaard-kleinste-kwadraat-metodes (Harvey, 1991) ontleed met jaar, geslag, geboortestatus en seleksiegroep as vaste effekte, en alle tweefaktor-interaksies tussen die vaste effekte. Die toevallige effek van vaars binne jare is ook in die model ingesluit om die effek van die ramme wat gebruik is te verwyder. By die reproduksiedata is korreksies vir die getal lamkanse wat die ooi gehad het, aangebring.

 

RESULTATE EN BESPREKING

Die kleinste-kwadraat-gemiddeldes van die nageslag van die ooie wat volgens die verskillende metodes geselekteer is, word in Tabel 1 aangetoon.

 

Die liggaamsmassa van die nageslag van die hand-en-oog-ooie bet betekenisvol vir die drie groepe verskil; die H1-nageslag was die swaarste en die H3- nageslag die ligste. Die skoonwolmassa van die H1- en H2- nageslag was ook hoër (P<0,05) as die van die H3-nageslag. Soortgelyke verskille bet ook by die diere se moeders in die verskillende groepe op tweetandouderdom voorgekom (Olivier & Vorster, 1992). Dit lyk dus asof hierdie verskille na die nageslag oorgedra is. Die verskil tussen die H1- en H3-ooie was byvoorbeeld 5,8 kg teenoor 3,09 kg tussen die nageslag van die H1- en H3-ooie. Veseldikte en getal plooie het nie betekenisvol tussen die verskillende hand-en-oog-groepe verskil nie. Op tweetandouderdom bet die twee eienskappe by die diere se moeders ook nie betekenisvol tussen die onderskeie groepe (H1, H2 en H3) verskil nie.

By die nageslag van die seleksie-indeks-ooie het net die veseldikte van die S3-nageslag se wol betekenisvol (P<0,05) van die van die SI- en S2-ooie se nageslag verskil. Op tweetandouderdom het betekenisvolle verskille in veseldikte by al die ooigroepe voorgekom; die S1-ooie se wol was die fynste (22,1 mikron) en die S3-ooie se wol was die sterkste (24,8 mikron) (Olivier & Vorster,1993). Die skoonwolmassa van die S1-ooie het ook betekenisvol van die van die S2- en S3-ooie verskil, maar soortgelyke verskille het nie by die nageslag van die drie groepe voorgekom nie (Tabel 1).

Met die hand-en-oog-metode wat in hierdie geval gebruik is, was die nageslag van die H1-ooie swaarder en het hulle meer wol geproduseer as die nageslag van die H2- en H3- ooie. Daarteenoor bet die nageslag van die SI-ooie fyner wol as die van die S2- en S3-ooie geproduseer.

Tydens seleksie volgens die hand-en-oog-metode word redelike klem op subjektiewe eienskappe gelê, terwyl daar met indeksseleksie gewoonlik minder klem op die eienskappe gelê word. Die kleinste-kwadraat- gemiddeldes van die subjektiewe eienskappe van die nageslag van ooie wat volgens die onderskeie metodes geselekteer is, word in Tabel 2 aangetoon.

 

Geen betekenisvolle verskille het tussen die hand-en-oog-groepe (H1, H2 en H3) se nageslag ten opsigte van woleienskappe voorgekom nie. Die H1-ooie se nageslag se koppe was egter groter (P<0,05) as die van die H2- en H3-ooie se nageslag. Dieselfde tendens is ook by die voorkwarte gevind, naamlik die voorkwarte van die H1-ooie se nageslag was beter (P<0,05) as die van die nageslag van die H2- en H3-ooie. Hierdie verskille is moontlik veroorsaak deur die groter liggaamsmassa van die H1-nageslag in vergelyking met die van die H2- en H3-nageslag (Tabel 1). Daar was geen betekenisvolle verskille tussen die onderskeie groepe ten opsigte van die ander eienskappe nie.

By die nageslag van die seleksie-indeks-ooie bet die variasie ten opsigte van die lyf van die S1-nageslag minder (P<0,05) varieer as die van die S2- en S3- nageslag. Dit kan moontlik verklaar word aan die hand van die fyner wol van die S1-nageslag (Tabel 1). Ten opsigte van die res van die eienskappe het die groepe nie betekenisvol van mekaar verskil nie.

Daar kan dus afgelei word dat nie een van die twee seleksiemetodes daarin kon slaag om die gemete eienskappe betekenisvol in die nageslag te verbeter nie. Binne die onderskeie seleksiegroepe het daar slegs in enkele gevalle waar redelike seleksiedruk toegepas is (H1vs H2+H3 en S1 vs S2+S3), betekenisvolle verskille voorgekom. Verder blyk dit dat hierdie verskille eerder aan gekorreleerde veranderinge in liggaamsmassa en veseldikte toegeskryf kan word.

Volgens Olivier & Vorster (1993) het die speenpersentasie van die hand-en-oog-ooie redelik gevarieer; die van die H1-ooie was die hoogste (121 lammers gespeen per ooie gepaar) en die van die H3-ooie die laagste (103 lammers gespeen per ooie gepaar).

By die seleksie-indeks-ooie was daar geen verskille in speenpersentasie nie (Olivier & Vorster, 1993). Die reproduksieprestasie van die nageslag van die ooie wat volgens hierdie twee seleksiemetodes geselekteer is, word in Tabel 3 aangetoon.

 

Daar was geen betekenisvolle verskille ten opsigte van lammers gebore per ooie gepaar (NLB) of lammers gespeen per ooie gepaar (NLW) nie. Hoewel die H1‑ooie die meeste lammers gespeen het, het hierdie tendens nie in bulle nageslag voorgekom nie. Dit blyk dus dat seleksie volgens die hand‑en‑oog‑metode wel die reproduksie van die huidige generasie kon verhoog, maar nie die van die opvolgende generasie nie.

 

OPSOMMING

Soos verwag is, bet die seleksie van ooie op tweetandouderdom nie die produksie in die opvolgende generasie betekenisvol verhoog nie. Selfs waar akkurater seleksiemetodes gebruik is, (seleksie‑indekse), was daar nie veel vordering in die kudde nie. Hierdie resultate bevestig die algemene opvatting dat ooiseleksie toegepas moet word om die doeltreffendheid van die bestaande diere te verhoog en dat die opvolgende generasie deur ramseleksie verbeter moet word.

Volgens die resultate van hierdie ondersoek blyk dit dat streng ooiseleksie op tweetandouderdom die wolinkomste redelik kan verhoog, maar nie die vleisinkomste of die produksie van die nageslag nie. Die genetiese verbetering van die kudde word dus hoofsaaklik deur die ram bewerkstellig. Akkurate ramseleksie is dus uiters belangrik.

Swakhede in 'n kudde (bv. te sterk wol of baie kleur) kan vinniger reggestel word indien doeltreffende ooiseleksie saam met ramseleksie toegepas word. In die stoetteeltbedryf is ooiseleksie baie belangrik aangesien sekere ooie uitstekende teeldiere kan wees.

Met die huidige swakker wolpryse is die wolboer se grootste inkomste van vleis afkomstig (±60 %). 'n Hoër aanteeltempo is dus baie belangrik. Produsente behoort seker te maak dat die ooie wat geselekteer word wel sal reproduseer en daar moet so gou moontlik van ondoeltreffende ooie ontslae geraak word.

 

VERWYSINGS

OLIVIER, J.J., 1991. Quantifying type traits in Merinos. Karoo Agric 3(9):1.

OLIVIER, J.J. & VORSTER, S.L., 1992. Doeltreffendheid van ooiseleksie by Merinoskape:l. Huidige generasie. Karoo Agric (5):1.

 

Published

Karoo Agric, Vol5, No 1, 1993 (14-16)