Last update: August 17, 2011 01:52:15 PM E-mail Print

 

Die invloed van ouderdom op veseldikte en liggaamsmassa van genetiese fyn- en sterkwol- Merinoramme

 

A.G. Bezuidenhout , J.J. Olivier en A.C. Greyling

Landboukollege Grootfontein, Middelburg KP, 5900

 

INLEIDING

Dit is algemeen bekend dat veseldikte toeneem met toenemende ouderdom tot op ongeveer twee jaar ouderdom. Verskeie navorsingsresutate bevestig hierdie verandering in veseldikte by Merinoskape (Nel, 1967;Venter, 1968; Dreyer & Venter, 1972; Badenhorst, 1987). Die meeste resultate is egter van toepassing op sterkwolskape en die verandering in veseldikte met toenemende ouderdom by genetiese fynwol- Merino's is dus nog onbekend. Daar word verder aanvaar dat genetiese fynwolskape swakker groei as sterkwolskape en laer liggaamsmassas op volwasse ouderdom bereik. Die ouderdom waarop genetiese fynwolramme hul maksimum veseldikte bereik, is ook nog onbekend.

Die verandering in veseldikte en liggaamsmassa met toenemende ouderdom is by drie groepe ramme, waarvan die genetiese potensiaal ten opsigte van veseldikte verskil, ondersoek.

 

PROEFPROSEDURE

Die verandering in gemiddelde veseldikte en liggaamsmassa van 13 genetiese fynwolramme (Groep F), afkomstig van die genetiese fynwolkudde te Cradock Proefstasie, en 16 sterkwol Merinoramme (Groep S) is vanaf 6 tot 22 maande ouderdom ondersoek. Die sterkwolramme is die nageslag van die kontrolekudde op Cradock Proefstasie. Die ramme was dus die nageslag van fynwolooie (ongeveer 21 mikron) en sterkwolooie (ongeveer 26 mikron) wat onderskeidelik met Australiese fynwol- (ongeveer 20 mikron) en plaaslik geteelde sterkwol- (ongeveer 26 mikron) Merinoramme gepaar is. Die ooreenstemmende veranderings in veseldikte en liggaamsmassa is ook by 12 ramme (Groep F x S), die nageslag van die Australiese fynwolramme wat met oorsterk ooie (ongeveer 29 mikron) gepaar is, ondersoek.

Midrib wolmonsters van al die ramme is op 6, 10, 17 en 22 maande ouderdom geneem vir veseldiktebepaling. Die liggaamsmassas van al die ramme is ook gereeld geneem. AI die ramme is deurgaans op 'n hoë voedingspeil, naamlik aangeplante weidings onder besproeiing, aangehou.

 

RESULTATE EN BESPREKING

Die gemiddelde veseldikte van Groepe F en S het op al die verskillende ouderdomme hoogs betekenisvol verskil (p ≤ 0,0l) met totale toenames van 1,4 ± 1,33 en 6,3 ± 0,69 mikron onderskeidelik (Fig. 1). Volgens Fig. 1 is dit ook duidelik dat genetiese sterkwolramme se toename in veseldikte aansienlik vinniger was as die van genetiese fynwolramme. Die genetiese fynwolramme het ook hul maksimum veseldikte op 'n vroeër ouderdom as die ander twee groepe bereik.

 

Vanaf 10 tot 22 maande ouderdom was die gemiddelde veseldikte van Groep F x S hoogs betekenisvol (p ≤ 0,01) laer as die van Groep S. Die gemiddelde veseldikte van Groep F x S was deurgaans min of meer op die middelwaardes van Groepe F en S. Vanaf 6 tot 22 maande ouderdom was die toename in veseldikte by Groep F x S slegs 58,7 % van die toename wat by Groep S voorgekom het. By al die groepe bet die grootste toename in veseldikte tussen 10 en 17 maande ouderdom voorgekom (Fig. 1). Hierdie resultate is in ooreenstemming met die van Venter (1968) en Badenhorst (1987).

Volgens die huidige resultate het fynwolramme (Groep F) hul maksimum veseldikte reeds op 17 maande ouderdom bereik, terwyl die gemiddelde veseldikte van groepe S en F x S betekenisvol (p ≤ 0,05) toegeneem het vanaf 17 tot 22 maande ouderdom (Groep S met 1,7 mikron en Groep F x S met 1,0 mikron). Dit is ook belangrik om daarop te let dat die verskille in veseldikte tussen die onderskeie groepe vergroot het met toenemende ouderdom. Die aansienlike verlaging in veseldikte wat die paring van oorsterk ooie met genetiese fynwolramme by die nageslag (Groep F x S) tot gevolg gehad het, is verder opvallend.

Hierdie resultate impliseer dus dat ramme se maksimum veseldikte eers op 17 maande en ouer akkuraat bepaal kan word en dat genetiese sterkwolramme se maksimum veseldikte eers op 2 jaar en ouer bereik word.

 

Volgens die resultate in Fig. 2 was die gemiddelde liggaamsmassa van fynwolramme (Groep F) op al die verskillende ouderdomme laer as die van sterkwolramme. (Groep S). Hierdie verskil was egter net 4 tot 8 % en slegs op 12 maande ouderdom betekenisvol (p < 0,05). Die gemiddelde liggaamsmassas van Groepe S en F x S het deurgaans nie betekenisvol (p > 0,05) verskil nie. Die grootste verskil in massa tussen hierdie twee groepe bet op 6 maande ouderdom voorgekom toe dit 4 % ten gunste van Groep F x S was.

Verskille in maksimum veseldikte kom voor by ramme met verskille in genetiese potensiaal vir veseldikte. Die genetiese potensiaal vir veseldikte beïnvloed ook die ouderdom waarop maksimum veseldikte bereik word. Die verskille in liggaamsmassa tussen genetiese fyn- en sterkwolramme is aansienlik minder as wat algemeen aanvaar word.

 

VERWYSINGS

BADENHORST, Margaretha A., 1987. Die invloed van ouderdom op die veseldikte van Merinoramme. Karoo Agric., 3 (10), 19.

DREYER, J.H. & VENTER, JJ., 1972. Verandering in die vel en vag met ouderdom by die Merino. Agroanimalia, 4, 7.

NEL, J.E., 1967. Invloed van kuddesamestelling op produksie- en reproduksiekenmerke van Merinoskape. D.Sc.-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch.

VENTER, JJ., 1968. In: Die skaap en sy vag. Red. J.C. Swart. Kaapstad : Nasionale Boekhandel BPK

 

Published

Karoo Agric, Vol 4, No 3 ,1991