Last update: April 4, 2012 02:21:00 PM E-mail Print

 

DIE BENUTTING VAN OUMANSOUTBOS

 

deur

J. D. AUCAMP en

J. G. CLOETE

Landboukollege Grootfontein

 

IN groot gedeeltes van die Republiek behoort die aanplant van droogtebestande voergewasse 'n vername deel van die boerderypraktyk uit te maak. Veral in die dele waar die reënval laag en onseker is en waar die verbouing van die gewone voergewasse as gevolg van 'n tekort aan besproeiingswater nie moontlik is nie, kan 'n gewas soos oumansoutbos 'n versekerde bron van reserwevoer wees.

Oumansoutbos (A. nummularia) behoort tot die groep Atriplex wat verskeie bekende plante insluit soos A. semibaccata (kruipsoutbos, rooibessiebrak) en A. vestita. Proewe met 'n aantal ingevoerde soutbosse soos A. canescens, A. lentiformis en A. breweri word ook tans aan die Landboukollege Grootfontein uitgevoer met die doel om die nadelige effek van droogtes op veeboerdery te probeer verlig.

 

Voordele

Oumansoutbos besit die voordeel dat dit jaarliks bewei kan word sonder enige noemenswaardige invloed op die groeivermoë van die plante. Om hierdie rede is dit dus so geskik as weidingsgewas gedurende periodieke droogtes.

Oumansoutbos kan ook 'n deel uitmaak van goed oorlegde veldbestuur. Gedurende die normale winterdroogtes wanneer die voedingswaarde van die veld afneem, kan oumansoutbos 'n belangrike rol speel om as aanvulling tot die veldweiding te dien.

Vanaf die tweede seisoen na plant kan oumansoutbos bewei word. Trouens, dit is wenslik dat soutbos bewei word sodat die plante 'n bosagtige groeiwyse kan verkry. As die plante buite bereik van skape groei, moet hulle teruggesnoei word tot ongeveer 2-3 voet hoog.

Aangesien oumansoutbos normaalweg nie as 'n smaaklike gewas beskou kan word nie, moet skape dikwels gedwing word om dit te vreet. Daar word egter algemeen gevind dat in gebiede waar vee nie voldoende "brak" van die natuurlike weiding bekom nie, geen probleme met die benutting van soutbos ondervind word nie. Wanneer oumansoutbos dus in weidingskampe gevestig is waar vee nie natuurlike veld ook tot hulle beskikking het nie, behoort smaaklikheid nie 'n probleem te wees nie.

Dit is belangrik om aan skape wat op soutbos wei, voldoende drinkwater te verskaf. As gevolg van die soutinhoud van die plante, word die skape baie dors en drink groot hoeveelhede water. Die resultate van weidingsproewe met oumansoutbos het getoon dat soutbosweiding geen nadelige invloed op die gesondheid van skape het nie.

Die gemiddelde samestelling van oumansoutbos word in Tabel 1 aangetoon.

 

 

Hoewel die ontleding van oumansoutbos daarop dui dat dit nie in alle opsigte 'n gebalanseerde rantsoen vir onderhoud verskaf nie, het weidingsproewe bewys dat hierdie gewas in staat is om hamels en droë ooie aan die lewe te hou. Die drakrag van oumansoutbos soos oor 'n periode van ses jaar bepaal, het gewissel van 17 tot 22 skape per morg vir vier maande per jaar. Gedurende hierdie tydperk is geen byvoeding aan die skape verskaf nie en is selfs 'n geringe gewigstoename van 0.03 pd per skaap per dag verkry. Dit moet egter in gedagte gehou word dat die doel slegs is om verliese van vee te voorkom en nie om skape te probeer vetmaak nie.

Om die plante na beweiding kans te gee om te herstel, word aanbeveel dat die beweiding van oumansoutbos in rotasie geskied. Op hierdie wyse sal verseker word dat altyd voldoende weiding beskikbaar is. Aangesien die herstel van oumansoutbos grootliks van beskikbare vog afhang, sal dit wenslik wees om plantasies liefs op die beter tipe gronde aan te Iê. Oumansoutbos is uiters bestand teen beweiding en kan elke jaar feitlik kaal gestroop word sonder enige nadelige gevolg op die groeiIkragtigheid van die plante.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 46 (2)