Last update: April 12, 2012 09:31:32 AM E-mail Print

 

Outydse Skaapboerdery in Suid-Afrika

Metodes wat die Pryse Verlaag

E. N. S. WARREN

 

VOOR die koms van die witman na Suid-Afrika was hier sekere inlandse skape wat nou bekend is as Ronderib, Afrikaner, Namakwa of Kaapse skape. Hulle het geen waarde as wolproduseerders nie, maar weens hulle gehardheid word hulle selfs nou nog deur party boere in die droëre gedeeltes van die Karoo verkies bo die merino.

Die eerste poging om die Merino in te voer is in 1724 onderneem, maar dit was 'n mislukking. 'n Tweede poging is gemaak in 1793, toe 'n sekere Kol. Gordon, wat in die diens van die Hollandse Regering was, 'n klompie Merinoskape aangeskaf het. Hulle is almal die land uitgestuur in 1797, maar dit lyk asof van hulle nakomelinge in die besit van die Van Reenens gekom het.

Omtrent 1812 het Mnr. J. F. Reitz en later Mnr. Michael van Breda begin boer met merinoskape wat van Saksen ingevoer is. Van toe af is dikwels skape ingevoer van Spanje, Frankryk, Duitsland (Saksen), Verenigde State van Amerika (Vermount), Australië en Tasmanië. Die invoer van Australasië het gedurende die twee laaste dekades taamlike groot geword, en die soorte waaraan die voorkeur gegee word is die Wanganella en die Tasmaniese skaap.

In die eerste instansie lyk dit asof die Merinoskape as 'n stamkudde aangehou is en die orige ramme is op Kaapse skape gebruik en die so geteelde ooie is keer na keer weer gekruis met die Merino totdat die kenmerke van die Merino verseker was. Vandag, nadat ons reeds vir jare besig is om die Merino te bevestig, vind ons dat daar in baie kuddes dikwels 'n terugslag is na die vroeëre voorgeslag. Hierdie sisteem om opreggeteelde Merino’s te verkry van skape wat Kaapse of Persiese bloed in hulle het word nog in baie distrikte probeer en dit is een van die redes waarom so baie kemps en minderwaardige wol in Suid-Afrika geproduseer is.

 

Waarom kry Australië Beter Pryse?

Suid-Afrikaanse boere kry nie sulke goeie pryse vir hulle wol nie as die Australiërs nie, en die groot redes hiervoor is:-

  1. Sleggeteelde skape, soos hierbo alreeds genoem is.

  2. Die aanwesigheid van brandsiekte en die gevolglike gebruik van skadelike dipstowwe waarin die skape soms gedip word voordat hulle wol afgeskeer is.

  3. Nalatigheid in party gevalle wat betref die voorbereiding vir die mark, byvoorbeeld die baal van wol net na dit afgeskeer is: penswol, lokke, vuilwol en vliese kom almal bymekaar in dieselfde baal.

  4. Die gewoonte in die verlede om die wol te verkoop aan die plaashandelaar, wat gewoonlik nie die verskil weet tussen twee skeersels wol nie en dieselfde prys, of pryse wat baie min verskil, gee aan elke verkoper, sodat die minderwaardige wol baiemaal die beste pryse behaal, veral wanneer die handelaar strewe na 'n persoon se klandisie. Die gevolg hiervan was natuurlik dat skaapboere probeer het om soveel gewig as moontlik te produseer. Die Vermount skaap het die beste aan hierdie doel beantwoord en sulke skape is toe so baie geteel sodat later in sommige gevalle net 25 persent van die skeersels suiwer was; d.w.s. net 'n kwart van die gewig wat die skaap gedra het was wol.

  5. Tweemaal skeer per Jaar.

  6. Baie slegte klimaats- en weidingstoestande in party distrikte.

  7. Onsekerheid: die produksie van onreëlmatige skeersels in opeenvolgende jare.

  8. Skape in krale jaag. Skape wat in krale gejaag word bly nie in so 'n goeie kondisie as skape wat in hokke gehou word nie, en dit het as gevolg dat die wol nie van so 'n gesonde groei is nie. Siektes sal ook meer voorkom en gevolglik ook meer tingerige vliese. Skape kry baie stof in hulle wol as hulle twee maal per dag dieselfde pad deur die veld loop. Ook sit daar van die kraalmis, ens., aan die wol vas. Die tyd wanneer die skape die graagste wil wei, d.i. in die more, middag en aand as dit koel is staan hulle gewoonlik in die kraal en hulle is nooit in so 'n goeie kondisie as skape wat nie in die kraal staan nie.

  9. Die gewoonte om merino- en Persiese skape deurmekaar te laat wei. Dis die plig van elke boer om hierdie nadele te voorkom. Die boere sien egter die noodsaaklikheid hiervan in en ons sien baie verbeterings in hulle metodes, wat aangetoon word deur die verbetering van ons wol en die gunstige indruk wat dit maak in vergelyking met die wol van ander lande.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 1