Last update: April 11, 2012 01:51:12 PM E-mail Print

 

Paring en Teling van Pluimvee vir Eierproduksie

A. M. Gericke

 

ONDER teling vir verbeterde eierproduksie word verstaan ‘n teelstelsel wat vir 'n aantal jare toegepas sal word met die doel om 'n aantal winsgewende Iêhenne te teel. Die grondslag van tropverbetering moet die erkenning wees van die individuele hoenders as eenhede van produksie en ook as eenhede by teling. Rasse kan gekruis word om groei en Iewenskragtigheid te kry. Henne met 'n lae produksie kan ook met 'n haan gepaar word wat die vermoë besit om potensialiteite vir hoë produksie oor te dra.

Dis feitlik onmoontlik om die henne in enige trap meer eiers te laat lê as daar nie genoeg aandag gegee word aan paring en teling nie.

Daar bestaan drie definitief vasgestelde teelstelsels, naamlik, inteling insluitende lynteling, uitteling en gradering.

 

Inteling, insluitende Lynteling

Onder inteling word verstaan die paring van naverwante indiwidue, soos eie broers en susters. Daar bestaan verskillende grade van inteling, soos noue inteling, byvoorbeeld, eie broers en susters, en die teling van tantes en neefs, ooms en niggies en kleinniggies. Baie pluimveetelers keur inteling af, maar soms word dit nie reg verstaan nie. Die meeste van die troppe met 'n hoë produksie is verkry deur een of ander vorm van inteling. Die groot doel wat met inteling beoog word is om gewenste eienskappe in opeenvolgende geslagte hoenders te intensifiseer.

Produsente beweer dat inteling die hoenders minder lewenskragtig en groeikragtig maak. Groot groeikragtigheid kan omskryf word as die besit van al daardie nodige eienskappe wat 'n hen in staat te stel om lank te leef en baie eiers te lê. Groeikragtigheid self is nie 'n aanduiding van produksie nie, dis maar net 'n middel om die lêhen te help gesond bly en die gewenste aantal eiers te lê as sy 'n oorgeërfde vermoë besit om eier te lê.

Dis 'n bekende feit dat paring tussen broer en suster lewenskragtigheid verminder. Inteling kan ook ongewenste faktore by die hoenders vestig as strenge seleksie nie toegepas word nie. 'n Paring tussen broer en suster veroorsaak swak uitbroeibaarheid en vermeerder die sterftesyfer onder kuikens maar nie noodwendig die aantal eiers wat gelê word nie.

Op plase waar hoenders los loop, moet die jonghane weggehou word van die jonghenne. Die boer behoort ook te kan sê watter jonghane voortgespruit het uit 'n sekere paring, anders kan die fout om broer en suster te paar feitlik nie verhoed word nie.

Lynteling as 'n vorm van inteling word op die meeste plase aangewend. In hierdie geval word een hoender vir twee of drie jaar agtermekaar met sy nageslag gepaar. 'n Haan kan vir 'n hele paar agtereenvolgende jare met sy dogters gepaar word sonder dat die nageslag op enigerlei wyse daaronder sal ly. Insgelyks kan jonghane, met die mees bevredigende resultate vir 'n hele paar jaar met hul moers gepaar word. By lynteling word noue inteling nie soveel aangewend nie en dis baie waardevol by die ontwikkeling van standaard-geteelde hoenders en eierproduksie. Op plase waar teelrekords nie gehou word nie, is hierdie stelsel baie bevredigend.

 

Uitteling of Kruising

Uitteling of kruising, in teenstelling met inteling, is 'n paringstelsel waarin daar in werklikheid geen gemeenskaplike voorouers is nie. By kruising word onverwante indiwidue dus gekruis. Kruising word soms verkeerd verstaan; dit beteken die paring van een ras met 'u ander, byvoorbeeld, 'n Indiese veghaan met Ligte Sussex-henne en dit kan ook beteken die paring van verskillende soorte in dieselfde ras, byvoorbeeld, die paring van 'n Wit Leghorn met 'n Swarte.

Kruising het die groot voordeel bo enige ander teelstelsel dat dit die nakomelinge meer groei- en lewenskragtig maak. Kuikens afkomstig van sodanige paring groei vinnig uit en die sterftesyfer is laag. Hierdie teelstelsel word hoofsaaklik aanbeveel vir produsente wat slaghoenders teel. As hoenders gekruis word vir eierproduksie, word lewenskragtigheid ook verbeter, maar dit kan 'n nadelige uitwerking hê deur die gewenste eienskappe vir eierproduksie af te skei. As twee rasse of soorte met 'n hoë produksie gepaar word, mag dit miskien nie gebeur nie, maar dikwels gaan eenvormigheid van eier kleur en -grootte verlore. Kruising behoort net tussen twee opregte hoenderrasse of -soorte vir een geslag te geskied.

 

Gradering

Onder gradering word verstaan die paring van baster-hoenders met die wat beter eienskappe besit. Op die meeste pluimveeplase word opregte hoenderrasse of -soorte aangehou, sodat hierdie stelsel teenswoordig nie van veel belang is nie. Dis egter 'n ideale stelsel vir 'n pluimveeboer wat nie 'n opregte hoenderras of -soort aanhou nie. As hy 'n hoë eierproduksie by die nageslag van 'n aantal kruisteelthenne wil ontwikkel, kan 'n goedgeteelde Wit Leghorn-haan met hulle gepaar word.

Watter teelstelsel ook al toegepas word, dit is seker dat die skeidingslyn tussen die koste van eierproduksie en die pryse waarteen die eiers verkoop word, grotendeels afhanklik is van die hoeveelheid en die kwaliteit van die eiers wat gelê word. Dis uiters belangrik dat die vooruitstrewende teler die hoenders op sy plaas moet ken sodat hy verstandige paringsmetodes kan toepas.

Die verskillende paringsmetodes wat toegepas kan word, is trop-paring, paring in die hok en stoetparing.

 

Trop-paring

Trop-paring is die mees algemene stelsel wanneer 'n aantal hane toegelaat word om saam met 'n groot aantal henne te loop. Die nageslag van hierdie paring kan aansienlik verskil wat tipe en eierproduksie betref. Strenge seleksie moet toegepas word om 'n eenvormige groep henne as moers en 'n eenvormige groep jonghane as vaers te kry. By hierdie soort paring mag dit wenslik wees om naverwante hane of jonghane te gepruik.

Dis algemeen bekend dat die persentasie vrugbare eiers onder gunstige toestande gewoonlik hoër is by trop-paring as by paring volgens enige ander metode. Sekere henne sal net met sekere hane maklik paar, wat bekend is as voorkeurparing, terwyl sekere hane meer geredelik die ovum van sekere henne as die van ander sal bevrug, wat bekend is as selektiewe bevrugting.

As teelhenne nie uitgesoek word met die oog op die aantal kuikens wat hulle produseer nie, kan moeilikheid soms ondervind word om 'n hoë persentasie vrugbare eiers te verkry. In die geval van trop-parings geld hierdie moeilikheid nie in so 'n groot mate nie, terwyl in die geval van hok- en stoetparings, met net een haan, daar 'n groter moontlikheid bestaan om onvrugbare eiers te kry. By trop-paring kan van 10 tot 15 henne by een haan gehou word vir ligte rasse, soos Leghorns, terwyl 8 tot 10 henne by een haan gehou kan word vir swaar rasse, soos Australorps. Die aantal henne wat by een haan gehou moet word, hang ook af van die lewenskragtigheid van die hoenders, die grootte van die hoenderkamp en die oppervlakte onder groenvoer. '

 

Hokparing

In die geval van hokparing kan 'n paar henne met een haan afgehok word. Hierdie paringstelsel stel die teler in staat om opregte hoenders te teel as die hok voorsien is van vangneste. Lynteling kan toegepas word omdat verwante henne almal met 'n verwante haan gepaar kan word, byvoorbeeld die vaer van sy eie jonghen-dogters. By hokparing word tien henne by een haan geplaas vir ligte rasse, en 1 tot 8 henne by een haan vir swaar rasse.

 

Stoetparing

Onder stoetparing verstaan ons dat 'n haan alleen in 'n hok gehou en afsonderlik met sekere henne gepaar word. In die Unie word hierdie stelsel ook in die geval van enkelhoktoetse toegepas, wanneer die hane al om die ander dag by individuele henne gesit word. As hierdie stelsel toegepas word, moet die hane in goeie kondisie gehou word om goeie vrugbaarheid te verseker.

In die geval van die ou soort parings waar 'n nuwe haan elke jaar gekoop word, verskil die resultate in verband met vrugbaarheid, broeibaarheid, grootte van eier en eierproduksie baie van jaar tot jaar. Wanneer pluimveeboere hane of jonghane van dieselfde teler koop, word hierdie moeilikheid uit die weg geruim want 'n stelsel van lynteling word dan gevolg.

Verskillende teel- en paringstelsels word toegepas. Dis wenslik dat pluimveetelers hierdie stelsel in ag moet neem veral met die doel om die lê-eienskappe van hul troppe te verbeter. As dit gedoen word, bestaan daar geen rede waarom eiers nie meer ekonomies geproduseer kan word as wat op die oomblik die geval is nie.

Dit word sterk aanbeveel om lynteling toe te pas. Twee of meer tome teelhoenders kan afsonderlik gehou word. Die nageslag van hierdie tome kan afsonderlik gemerk word met 'n onderskeidende gaatjie deur die tone. Na 'n paar jaar wanneer daar niks meer van die ou hoenders oor  is nie, kan die hoenders van die een toom gepaar word met die van 'n ander om noue inteling te voorkom. Dit kan beskryf word as 'n kruising van die bloedlyne van mens se eie trop.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 9