Last update: September 2, 2011 11:24:44 AM E-mail Print

 

Peervormige slakwurm dood Angorabokkies

E Snyman

 

GEDURENDE Desember 1987 en Januarie 1988 is twee gevalle van swelsiekte en gepaardgaande vrektes onder jong 2-tand oue Angorabokkies, by die Veterinêre Streekslaboratorium op Grootfontein ondersoek.

In beide gevalle het die aangetaste bokkies wydverspreide waterige swellings (edeem) onder die vel gehad, wat in voorkoms en verspreiding baie ooreenstem met wat gevind word by swelsiekte. Groot getalle onvolwasse peervormige slakkies (Paramphistomum microbothrium) is met nadoodse ondersoeke op dooie bokkies in die melkpens en eerste deel van die dunderm gevind.

"Die omstandighede waaronder die siektesimptome ontstaan het, was vir beide gevalle baie dieselfde," sê dr Snyman. " Jong 2-4 tand oue Angorabokkies is verskuif vanaf veldweiding na aangeplante weiding wat deur water afkomstig van die Oranjerivier of Visrivierskema besproei was. Die simptome by die aangetaste bokkies is ongeveer 'n maand later opgemerk en het ingesluit: verspreide onderhuidse vloeistofaansameling, diarree wat waterig en stinkend was, en, in gevorderde gevalle, vermaering as gevolg van eetlusverlies. Vrektes het ongeveer 5 - 9 dae nadat diarree ontstaan het, voorgekom."

 

NADOODSE BEVINDINGS

Dr Snyman beskryf die nadoodse bevindings as volg:

 

 

LEWENSIKLUS

Om die gevalle wat ondersoek is, te bespreek, is dit eers nodig om kortliks die lewensiklus van die peervormige slakwurm uit een te sit.

Die volwasse peervormige slak kom in die grootpens van skape en bokke (ook by beeste) voor, waar bulle vassuig aan die wand en geen skade verrig nie. Baie eiertjies word egter gelê, wat saam met die mis uitgeskei word. Die eiertjies moet in water beland om te kan uitbroei. Die larfie wat uitbroei is vrylewend en swem rond op soek na 'n geskikte tussengasheer; in die geval is dit die varswaterslakkies van die genus Bulinus. Nadat die larfie die slak gepenetreer het, vind verdere ontwikkeling in die slak plaas, en na omtrent 30 dae verlaat 'n meer ontwikkelde Iarf die varswatersIak en heg vas aan grashalmpies. 'n Omhulsel word afgeskei wat die larfie teen uitdroging beskerm. Nadat die gras met die Iarfies gevreet is deur 'n vatbare dier, breek verteringssappe van die maag die omhulsel af sodat die larf in 'n onvolwasse peervormige slak kan ontwikkel. Die jong slakkies beweeg met suiertjies terug na die grootpens voordat hulle volwasse peervormige slakke word.

Die migrasie van die jong peervormige slakkies, vanaf die dunderm deur die melkpens, is baie skadelik vir die dier, want nie alleen veroorsaak die suiertjies pyn wat lei tot 'n laer aptyt nie, maar die slymvlies raak beskadig en water, proteïene en minerale vanaf die bloed sypel deur na die dermkanaal en 'n stinkende waterige diarree is die gevolg.

Die verlaagde proteïene in die bloed lei tot onderhuidse vloeistof aansameling, soos onder die kakebeen, pote, buik en later selfs in die liggaamsholtes (bors en buikholte).

 

WEI TYDENS VLOEDBESPROEIING

In een van die gevalle wat by die Veterinêre Streekslaboratorium ondersoek is, is genoem dat die Angorabokke die weiding benut het, terwyl dit vloedbesproei was. Die larfies wat die varswaterslakkie verlaat, kan dus afspoel en diep in die land aan grashalms heg en 'n omhulsel afskei.

"Daar kan dus gesien word dat die lewensiklus van die peervormige slak 'n paar swakpunte het," wys dr Snyman uit. "Byvoorbeeld, as die eiers uitbroei in die mis en daar is nie varswaterslakkies op die plaas nie, kan die lewensiklus nie voltooi word nie."

Hy sê verder dat taktiese dosering aan jong vatbare skape en bokke gegee kan word, met middels wat doeltreffend is vir die onvolwasse peervormige slak. Die dosering moet gereeld gedoen word, byvoorbeeld elke 3 - 4 weke.

Die volgende doseermiddels is geregistreer en is doeltreffend teen die onvolwasse en volwasse stadiums van peervormige slak: Lintex L, Lintex M en Terenol. Middels soos Seponver Plus en Flukiver is 60- 79% doeltreffend teen slegs die onvolwasse peervormige slakkies.

Dit is ook bekend dat volwasse skape en bokke 'n goeie weerstand opbou teen herbesmetting van peervormige slak. Dit is ook gesien in die een geval waar daar net ongeveer 200 jong peervormige slakkies in 'n volwasse Angorabok gevind was, sonder dat letsels in die maagdermkanaal waargeneem is. Na die aanvanklike besmetting, skei die volwasse peervormige slakke gedurig eiers in die mis uit, en hulle kan ook jare lank lewendig bly in die skaap of bok.

 

DOELTREFFENDE BEHEER

"Vir doeltreffende parasietbeheer by volwasse skape en bokke, moet hulle nie langer as 50 dae ononderbroke op besmette weidings gehou word, dan na ander weiding oorgeplaas word, en terselfdertyd met 'n doeltreffende middel wat onvolwasse en volwasse peervormige slak beheer, behandel word," sê dr Snyman.

Hy beveel aan dat, waar dit enigsins moontlik is om die besmette vleie, damme of kanale af te kamp van die weidings, moet dit gedoen word.

Daar is ook slakdoodmakende middels soos kopersulfaat wat goed werk as die varswaterslak daarmee benat kan word, maar sy doeltreffendheid neem gou af as dit teen slakdodende konsentrasies (5-15 dele per miljoen) in byvoorbeeld vleie versprei word waar plantmateriaal, slyk, ensovoorts teenwoordig is, aangesien die kopersulfaat aan die gras sal bind en nie die varswaterslakkies sal doodmaak nie.

Ten slotte meld dr Snyman dat jong peervormige slakkies groot verliese, selfs vrektes, kan veroorsaak by bokkies en skape wat vir die eerste keer verskuif word na besmette weidings, en dat die diagnose moeilik bepaal kan word in die lewendige dier met diarree, aangesien geen eiertjies dan al in die mis teenwoordig sal wees nie.

Verdere ondersoeke sal gedoen moet word om die verspreidingsgebied van die varswaterslak, Bulinus spp, te bepaal, meen dr Snyman. "Moontlik is dit nag net beperk tot plase aangrensend aan die Oranjevisrivierbesproeiingsgebied, maar watervoëls kan die varswaterslakkie ook na ander gebiede, soos vleie, versprei," beweer hy.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief 1