Last update: April 3, 2012 11:50:16 AM E-mail Print

 

PENTZIA GLOBOSA : VAALKAROO

P W Roux 


Die Vaalkaroo lyk oppervlakkig baie na 'n uitgegroeide ankerkaroo. Dit is egter ietwat fyner van geaardheid en beskik nie oor ankers nie. Dit het ook 'n baie sterker bitter reuk en die blaartjies is soms baie taai. Die Vaalkaroo is betreklik onsmaaklik vir skape. Hulle sal egter, indien daartoe gedwing, die bossie vreet. Oor die algemeen kan dit as ‘n swak bossie geklassifiseer word. Wat gewone name betref word dit ook Bitterkaroo genoem, maar moet nie verwar word met die Bitter- of Beesbos nie.

Die vaalkaroo kom wyd versprei voor en is veral aktief en volop op.die skeiding tussen die droë grasveld- en karoogebiede. Dit word hoofsaaklik in vlakteveld en leegtes aangetref, en ook meer dikwels op plekke waar die grasveld in die proses van agteruitgang is. Die teenwoordigheid van die bossie op vlaktevelde in die meer droëre gebiede, dui daarop dat die vlaktevelde 'n goeie graspotensiaal het, maar reeds oor baie jare deur die bossie vervang is as gevolg van oorbeweiding en langdurige droogtes.

Selfs in die karoo berggebiede kom die bossie in digte stande voor waar bergsuurpol- en rooigrasveld aan die opbreek is. Wanneer die bossie oorheersend voorkom in die velde, dan is die gevaar van erosie geweldig vergroot aangesien die plant nie in staat is om die grond op dieselfde doeltreffende wyse as grasse teen erosie te beskerm nie. In hooftrekke kan gesê word dat die onsmaaklike bossie goeie veld - veral grasveld - vervang op dieselfde wyse as wat die bekende bitterbossie veld vervang. Ironies is dit dat die bossie volgens sy ontleding ‘n goeie voedingswaarde het, maar dat dit as gevolg van sy onsmaaklikheid nie veel. werd is nie.

Met ‘n lae somerreënval groei grasse nie so goed nie en ly dan ook geweldig onder droogtes. Aan die anderkant bevorder laat reëns bossies se groei. Die gevolg is . dat bossies, veral die suksesvolle voortplanters soos bitterbos en die vaalkaroo geweldig toegeneem het, ongeag watter soort beweidingspraktyk toegepas is.

Die bossie is ongeveer 230 mm hoog en 460 mm in deursnee met dun, veel vertakte houterige stammetjies. Die wortelstelsel is uitgebreid en betreklik oppervlakkig, maar etlike wortels skiet regaf in die grond. Die saamgestelde blaartjies is fyn,diep gelob en kom dig op die groen takkies voor. As die bossie aktief groei, is die blaartjies baie klewerig en het dit 'n skerp bitter smaak en reuk. Die Vaalkaroo blom gewoonlik in die lente, asook in die laatsomer, herfs en vroeë wintermaande. Die saamgestelde blomme lyk soos ronde, goudgeel knoppies op die kort groen steeltjies en is gewoonlik veeltallig. As hulle ryp is, kry hulle 'n dowwe geelbruin kleur. Die saadjies word deur die wind versprei.

 

Published

Karoo Streeksnuusbrief Desember