Last update: April 3, 2012 02:14:34 PM E-mail Print

 

PENTZIA INCANA (ANKERKAROO)

PW Roux

 

Karooboere ken hierdie bossie maar te goed. In sommige karoogebiede staan die bossie ook net gewoonweg bekend as ‘n karoobossie, goeie-karoo. skaapbossie, skaapkaroo en soetkaroo. Eintlik is die naam ankerkaroo die heel beste. Nie alleen vorm die bossie die kenmerkende omgebuigde takkies wat op die grond anker nie, maar dit is ook in baie gevalle ‘n spreekwoordelike anker vir skaapboere, veral gedurende droogtes.

Die ankerkaroo is ‘n grysgroen dwergstruikie met veelvuldige stammetjies. ‘n Volwasse bossie is gewoonlik 20 tot 30 sentimeter hoog en ongeveer net so wyd as hoog. In sommige suidwestelike karoostreke kan die bossie heelwat groter wees en het dan ook ‘n fyner takstruktuur. Die kenmerkende ankervorming van die bossie geskied hoofsaaklik gedurende goeie reënseisoene en dit is ‘n baie doeltreffende vorm van vegetatiewe voortplanting. Dit is dus ook voor-die-hand-liggend dat wanneer ankerkaroobossieveld bewei word, ankervorming en die vestiging van die ankers om nuwe uitbreidings te bewerkstellig, aan bande gele of verhoed kan word.

Die blaartjies van die bossie is klein en het kort lobbe. ‘n Mens kan maar sê die blaartjies het kort vingertjies. Gedurende aktiewe groei is die blaartjies klewerig en beskik dan ook oor skerp geurige olies in die blare. Hierdie olies gee die kenmerkende skerp bitter reuk aan die plante.

Die blommetjies van die bossie lyk soos klein geel knoppies wat met rypwording ‘n bruin kleur aanneem. Die saadjies, waarvan die oorgrote meerderheid om een of ander rede dan en onvrugbaar is, word deur die wind versprei. Die vernaamste blomtyd is in die laat herfs of in die lentemaande. Blomme kan egter ook te eniger tyd gedurende die jaar in ‘n beperkte hoeveelheid voorkom.

Die digste ankerkaroobosveld kom voor suid van Graaff-Reinet vanwaar dit deur die Middleton-Karoo strek. Ander belangrike verspreidingsgebiede is in die Cradock-, Hofmeyr- en Middelburgdistrik.

Die ankerkaroo kom hoofsaaklik op kalkerige en geërodeerde gronde voor, en is dug in 'n baie groot mate 'n weerspieëling van grondtoestande. In velde wat aktief onderhewig is aan karoobosindringing kan dit gewoonlik aan bladerosie en die uitskakeling van ander plante toegeskryf word. Waar karoobosvelde reeds bestaan, is dit vir die boer van die allergrootste belang om die velde ten beste te bewaar. Herfs- en voorsomerspaar sal veel daartoe bydra om die velde in stand te hou.

Die karoobos is nie sonder sy probleme nie. Neem nou maar die karoo-rusper as voorbeeld. Watter boer het nog nie sy pragtige gespaarde karoobossieveld voor sy oe sien verswart as gevolg van rusperaanvalle nie. Dit is genoeg om van moedeloos te raak. Die troos is egter dat bitter min ankerkaroobossies permanent deur ruspers beskadig word. Skape wil ook nie rusperaangetaste bossies vreet nie. So, in hierdie stadium, is daar nog veel oor om hierdie probleem doeltreffend die hoof te bied.

Vir skape is 'n karoobossie nie juis smaaklik nie, maar dit word tog wel goed gevreet as gevolg van die vreetbaarheid van die bossie. Hoe sê die boere nou weer? Hou die karoobos kort en die skaap gedy. Nou ja, dit is so, maar pasop vir te lank korthou en te veel vee op die veld. Dan kwyn die bossie ook geleidelik en kan deur ander minder nuttige bossies vervang word.

Die ankerkaroo kan met die vaalkaroo en die doringkaroo verwar word. Die voorkoms van ankers behoort egter in die meeste gevalle die deurslag ten gunste van die ankerkaroo te gee.

 

Published

Karoo streeksnuusbrief Desember