Last update: April 5, 2012 09:26:04 AM E-mail Print

 

Plant Oumansoutbos In Droogtestreke Aan

JD Aucamp

 

DIT is 'n kenmerk van die somerreëngebied en veral van die Karoo, dat tye van volop weiding gevolg word deur tye van skaarste. Periodieke droogtes is byna meer die reël as die uitsondering. Die gewone voergewasse kan slegs op beperkte skaal in die Karoo verbou word, omdat besproeiingswater skaars is, en ook omdat die Karoo 'n, klimaat van uiterstes het.

Deur die kweek van droogtebestande voergewasse soos soutbos en doringlose turksvye kan die nadelige gevolg van droogtes en tye van skaarste in 'n groot mate voorkom word. Daar is proefondervindelik bewys dat bogenoemde gewasse gedurende sulke periodes die basis van 'n onderhoudsrantsoen kan uitmaak waarby ander voersoorte soos lusernhooi en mielies in beperkte hoeveelhede aanvullend gevoer word.

Een van die bekendste van die droogtebestande voergewasse is oumansoutbos (Atriplex nummularia). Hierdie gewas kan baie doeltreffend van water gebruik maak, want die plant het 'n goed-ontwikkelde wortelstelsel. Verder is die waterbehoefte van die gewas laag.

Oumansoutbos lewer hoë opbrengste aan plantmateriaal onder betreklik ongunstige toestande en bly selfs onder droogtetoestande groen en sappig. Soutbosblare bevat van 70 tot 80 persent water en kan die dier beter in staat stel om ander droë plantmateriaal te benut.

 

KLIMAATS- EN GRONDVEREISTES

Oumansoutbos is by 'n verskeidenheid klimaats- en grondtoestande aangepas. Die gewas is baie bestand teen ryp en koue en beantwoord dus goed in die Karoo. Dit kan aangeplant word op feitlik enige grond wat daar aangetref word.

Oumansoutbos kan suksesvol sonder besproeiingswater gevestig word indien die saailinge onmiddellik na 'n deurdringende reën geplant word. Waar dit moontlik is om te besproei, sal 'n paar besproeiings, veral in die eerste jaar na vestiging, die plante vinniger laat ontwikkel. Om besproeiing moontlik te maak, kan kampies vir beweiding dus by windpompe of damme aangeplant word.

 

SAADBED EN SAAl

Omdat soutbossaad swak ontkiem, is dit wenslik om die saad in saadbeddings te saai en die saailinge te verplant.

Die grond word eers besproei en dan omgespit en gelyk gemaak sodat 'n fyn saadbed verkry word. Indien goed verrotte kraalmis beskikbaar is, kan dit met voordeel ingespit word. Die beddings moet ongeveer 20 voet by 20 voet wees, wat groot genoeg is om een pond saad op te saai. Die saad word gedurende Augustus of September egalig oor die bedding gesaai en liggies ingehark. 'n Dun lagie sand of mis kan bo-oor gestrooi word.

Die grond moet klam gehou word deur dit gereeld met 'n gieter nat te gooi Die oppervlakte moet ook met riete, gras of takke bedek word om dit klam te hou totdat die plantjies 'n paar duim hoog is.

Die saad kan ook in blikke of kissies gesaai word. Die plante word in die houers na die land vervoer. Die voordele hieraan verbonde is dat die wortels van die plante minder beskadig word met die uithaal, en die plante word nie onnodig aan die son blootgestel nie omdat hulle in die houers bly totdat hulle vetplant word.

Die eerste metode is die waar die plante op 'n land gevestig word. Die grond moet vooraf goed geploeg word. Daarna word vore ses voet vanmekaar getrek waarin die soutbosse verplant moet word. Hierdie vore vergemaklik die besproeiing van die plante heelwat.

Tweedens kan soutbosse in die veld op die kontoer aangeplant word deur vore op onbewerkte grond te trek. Die vore moet vroegtydig getrek word sodat die saailinge met die eerste deurdringende herfsreëns in die vore verplant kan word. Dit sal die plante in staat stel om enige verdere reën wat val, te benut.

 

UITPLANT

Sodra die plante 12 tot 18 duim hoog is, word hulle verplant. Verplanting geskied dus gewoonlik gedurende Februarie tot Maart, sodat die planttyd met die herfsreëns saamval.

Met verplanting moet die plante versigtig uit die beddings gehaal word, sodat soveel grond as moontlik aan die wortels bly vaskleef. Draai die plante in nat sakke toe as hulle na die land vervoer word. Plante wat in blikke of kassies is, word in die houers na die land vervoer waar hulle met grond en al geplant word. Die plante word ook voor verplanting teruggesny tot 'n hoogte van ongeveer agt duim.

Die vore waarin die plante geplant gaan word, word vooraf deeglik besproei en die plante dan van drie tot ses voet vanmekaar in die vore geplant. Sorg dat die wortels goed bedek is met grond en trap ook die grond rondom die plant goed vas. Na verplanting moet die vore weer besproei word.

In gevalle waar besproeiing nie moontlik is nie, moet die plante onmiddellik na die eerste deurdringende herfsreëns uitgeplant word.

Van 10,000 tot 15,000 plante word van een pond saad verkry, en 2,500 tot 5,000 plante is nodig om een morg te beplant.

As dit nie reën nie, moet die plante drie weke nadat hulle geplant is, weer besproei word, en gedurende die winter kan een verdere besproeiing gegee word.

Gedurende die eerste somer kan 'n paar besproeiings gegee word na gelang van die reënval, en die daaropvolgende winter sal een besproeiing voldoende wees.

 

BEWEIDING

Die benutting van oumansoutbos moet tot die tweede jaar uitgestel word, wanneer beweiding egter belangrik word, ten einde 'n bosagtige groei te verseker.

Omdat soutbos nie 'n baie smaaklike gewas is nie, word dit aanvanklik nie baie geredelik bewei me, maar skape word gou gewoond daaraan. Plante wat buite bereik van die skape ontwikkel, moet teruggesny word tot 'n hoogte van ongeveer twee voet, sodat die blare en sappige lote altyd binne bereik van veral skape bly.

Die drakrag van soutbos, soos in weidingsproewe vasgestel, was oor 'n periode van vier jaar met 'n beweidingstydperk van vier maande per jaar, gemiddeld 18 skape per morg. Soutbos kan elke jaar feitlik kaal gestroop word sonder enige blywende nadelige uitwerking op die groeikrag van die plant.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 37 (5)