Last update: April 3, 2012 10:26:00 AM E-mail Print

 

PLANTE SE GROEISIKLUS

L Viljoen

Hoof: Weidingseksie


In die meegaande figuur word die relatiewe groei-aktiwiteit van verskillende veldkomponente vir verskillende tye van die jaar diagrammaties voorgestel. Dit dui op die potensiële groei-aktiwiteit wat die plant kan toon indien omgewingstoestande gunstig genoeg en voldoende vog beskikbaar is. Hierdie figuur is getrek hoofsaaklik op inligting versamel in die Oostelike gemengde Karoo (Middelburg en omgewing) en mag dus (nie noodwendig) verskil onder ander klimaatstoestande.

 

Somergrasse

Soos blyk uit die figuur, word somergrasse in twee groepe verdeel, naamlik meerjarige of klimaksgrasse en soetgrasse of sub-klimaksgrasse.

Dit is plante wat dormant (rustend) word gedurende die winter, wat beteken dat, as gevolg van die lae temperatuur, baie min of geen groei gedurende daardie tyd plaasvind nie. Noemenswaardige groei vind eintlik net vanaf Oktober tot April plaas (sewe maande) en bereik hul hoogste groeitempo gedurende Februarie tot Maart. Dit val gewoonlik saam met die verskyning van die bloeiwyses. Daarom is somergrasse vir somerreën aangepas.

Met behulp van reserwes wat gedurende die groeiseisoen opgegaar is, begin somergrasse ‘n nuwe groeisiklus elke lente.

Subklimaksgrasse toon 'n effens verskillende groeisiklus in vergelyking met klimaksgrasse. Die hoogste groei-aktiwiteit is ook gedurende Februarie - Maart, maar daar is ‘n duidelike afname in groei-aktiwiteit gedurende Januarie (Middelsomer). Hierdie afname mag ook teenwoordig wees in klimaksgrasse, maar dit is gewoonlik baie kleiner. Die groei-aktiwiteit van klimaksgrasse daal nie so laag as die van soetgrasse gedurende die winter nie.

 

Karoobossies

Karoobossies, anders as somergrasse, toon twee definitiewe groeiperiodes, naamlik in die lente, van September tot November en in die herfs, van Maart tot Mei. Laasgenoemde is die belangrikste groeiperiode. Gedurende die middelsomer groei karoobossies relatief stadig, waarskynlik as gevolg van die hoë temperature.

Alhoewel die groei-aktiwiteit van bossies gedurende die winter baie afneem, daal dit nie so laag as die van somergrasse nie. Karoobossies het dus die vermoë om dwarsdeur die jaar te kan groei as dit reën, maar dit reageer die heel beste op herfsreëns (Maart) en tweede beste op lentereëns. Dit is ook nie nodig dat Karoobossies elke seisoen ‘n nuwe groeisiklus met behulp van reserwes hoef te begin nie, maar dit mag wel nodig wees na groot droogtes.

 

 

Bome en struike

Bome en struike toon In geleidelike toename in groei-aktiwiteit van Augustus tot Februarie/Maart en neem dan weer af soos die winter nader, maar daal nie besonder laag gedurende die winter nie. (Een van die redes vir hierdie relatiewe hoë groei-aktiwiteit gedurende die winter is die feit dat bome gewoonlik op beskutte plekke groei).

 

Opslag en eenjariges

Dit is plante wat hul lewensiklus (groeisiklus) in ‘n baie kort tydjie kan voltooi. Daar is ‘n groot verskeidenheid eenjarige plantsoorte met verskillende klimaatsvereistes. Daar is dus altyd eenjarige plante wat sal reageer op reën enige tyd van die jaar. Die voorkoms van hierdie plante en die relatiewe hoeveelheid van die verskillende soorte, word hoofsaaklik deur die klimaatstoestande bepaal.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief