Last update: April 2, 2012 02:02:43 PM E-mail Print

 

Hoe om plantegroeipatrone te gebruik om RHB'S af te baken

 

M VORSTER, Weidingsnavorser, Grootfontein Navorsingsinstituut

 

 

VOLGENS die nasionale beplanningsprogram word die makroklimaat, grondpatroon en terreinvorm in die Karoostreek deur die Navorsingsinstituut vir Grond en Besproeiing (NIGB) in 'n groot aantal landtipes verdeel (Dietrichsen, 1979- persoonlike mededeling).

'n Aanvullende stap stel ten doel om plantegroeipatrone in die verskillende landtipes te bepaal om sodoende Redelik Homogene Boerderygebiede (RHB's) af te baken.

Die plantegroeipatroon tesame met die makroklimaat, grondpatroon en terreinvorm in 'n landtipe, gee aanleiding tot 'n spesifieke boerderystelsel wat sekere produksietegnieke en opbrengsnorme tot gevolg het. So 'n landtipe kan as 'n RHB beskou word. Waar 'n aantal landtipes redelike eenvormige plantegroeipatrone, makroklimaat, grondpatrone en terreinvorme bevat, kan daar verwag word dat 'n redelike eenvormige boerderystelsel met sekere produksietegnieke en opbrengsnorme op die betrokke landtipes van toepassing sal wees. Sulke landtipes kan saam gegroepeer word om 'n enkele RHB te vorm.

Voorlopige veldopnames in verskillende landtipes in die Karoostreek het getoon dat die klassifikasie van die plantegroei in formasieklasse (dit wil se boomveld, struikveld, bossieveld, grasveld en sukkulente veld) die basis moet vorm om plantegroeipatrone in landtipes te identifiseer. Die plantegroeipatroon van 'n landtipe word bepaal deur die verhouding van die verskillende formasieklasse tot mekaar en dit is hierdie verhouding van formasieklasse wat in 'n groot mate aanleiding gee tot 'n spesifieke boerderystelsel asook sekere produksietegnieke en opbrengsnorme. 'n Landtipe wat byvoorbeeld 90 persent boomveld en 10 persent bossieveld bevat, sal 'n ander boerderystelsel met sekere produksietegnieke en opbrengsnorme tot gevolg he, as 'n landtipe wat 10 persent boomveld en 90 persent bossieveld bevat. Eersgenoemde sal geskik wees vir bokboerdery, terwyl laasgenoemde weer geskik sal wees vir skaapboerdery. Op grond hiervan sal die produksietegnieke en opbrengsnorme op hierdie twee landtipes ook verskillend wees.

Die formasieklasse van Edwards (1976 - ongepubliseerd) en die uitbreiding daarvan vir toepassing in die Karoostreek is die geskikste vir hierdie doel gevind. Hierdie formasieklasse het egter die nadeel dat in die beskrywing van sommige formasieklasse soos oop boomveld, yl boomveld, oop struikveld en yl struikveld, daar nie 'n aanduiding van die tipe plantegroei in die laer strata gegee word nie. Die tipe plantegroei in die laer strata van bogenoemde formasieklasse het 'n groot invloed op die boerderystelsel en gepaardgaande produksietegnieke en opbrengsnorme. 'n Sekere plantgemeenskap bevat byvoorbeeld 'n redelike stand struike en 'n digte bedekking van bossies in die laer stratum. So 'n veld sal as 'n oop struikveld volgens Edwards (1976 - ongepubliseerd) beskou word. Hierdie beskrywing kan misleidend wees, aangesien dit aandui dat slegs 'n bokboerderystelsel op hierdie formasieklas geskik sal wees. Die feit dat beide struike en bossies teenwoordig is, al is die formasieklas as 'n oop struikveld beskryf, beteken dat beide 'n bok en skaapboerderystelsel op hierdie formasieklas geskik sal wees. Op grond van bogenoemde, is dit noodsaaklik om die plantegroei in die laer strata te beskryf.

Dit is ook belangrik om 'n aanduiding van die dominante spesie van elke teenwoordige plantlewensvorm (dit wil se, bome, struike, bossies, grasse en sukkulente) te verkry, aangesien dit ook 'n effek op die boerderystelsel wat toegepas kan word, sal hê. Byvoorbeeld, twee plantgemeenskappe bevat albei struike en kan as oop struikveld beskou word. In die een plantgemeenskap is Rhus erosa die dominante struik, terwyl Rhigozum obovatum in die ander plantgemeenskap die dominante struik is. 'n Bokboerderystelsel kan nie in eersgenoemde veld toegepas word nie, aangesien R. erosa onsmaaklik en onvreetbaar vir vee is. Laasgenoemde veld sal weer geskik wees vir 'n bokboerderystelsel, omdat R. obovatum wel deur bokke benut word.

Vir die bepaling van die plantegroeipatroon in elke landtipe is die volgende inligting nodig:

  1. Watter formasieklasse kom voor?

  2. Watter persentasie van die landtipe word deur elke formasieklas beslaan?

  3. Op watter terrein-eenhede volgens die landtipe-inventaris van NIGB en veldsoorte van Roux (1966) kom die verskillende formasieklasse voor?

  4. Wat is die persentasie wat die verskillende formasieklasse op elk van hierdie terrein-eenhede en veldsoorte beslaan?

  5. Wat is die bedekking van elke teenwoordige lewensvorm in 'n formasieklas?

  6. Watter dominante plantspesies word deur elke teenwoordige lewensvorm in 'n formasieklas verteenwoordig?

'n Verkenningsopname volgens Cain & Castro (1959) is voldoende om bogenoemde inligting in te samel en daarby het dit ook die voordeel dat dit relatief met lae koste en min tyd gepaard gaan. Die werkmetode word volledig in 'n geregistreerde projek beskryf.

 

 

Tabel 1 dien as 'n voorbeeld om die verskil in plantegroeipatroon tussen twee vlakte-landtipes aan te dui. Uit Tabel 1 is dit duidelik dat daar wesentlik nie 'n groot verskil in die plantegroeipatroon tussen hierdie twee landtipes is nie. In die Galgepaallandtipe is die struikveld dominant (55%) en die bossie-agtige grasveld subdominant (28%), terwyl die struik- en bossieveld ko-dominantes (36% en 35% respektiewelik) in die Frisgewaagdlandtipe is. Beide landtipes is dus geskik vir 'n skaap- en bokboerderystelsel, hoewel die Galgepaallandtipe in 'n mate meer geskik is vir 'n bokboerderystelsel as die Frisgewaagdlandtipe, omdat eersgenoemde 'n groter persentasie (55%) struikveld bevat.

Hoewel die dominante plantspesie/lewensvorm in variërende hoeveelhede voorgekom het, was dit oor altwee landtipes redelik konstant. Beide landtipes het Acacia karoo, Lycium spp, Pentzia incana, Aristida diffusa en Eragrostis lehmanniana as dominante plantspesies bevat.

Op grond van die klein verskil in plantegroeipatroon en eenvormigheid in dominante plantspesie/lewensvorm, kan daar oorweeg word om hierdie twee landtipes te groepeer as 'n enkele RHB.

Voordat 'n finale besluit geneem kan word, moet beide landtipes met betrekking tot die makroklimaat, grondpatroon en terreinvorm vergelyk word. Indien enige van hierdie faktore drasties verskil met die van die ander landtipe, moet sulke landtipes apart gehou word. In beide die Galgepaal- en Frisgewaagdlandtipe, is die makroklimaat en terreinvorm redelik eenvormig, maar daar is 'n groot verskil in die grondpatroon. Hierdie verskil in grondpatroon sal 'n verskil in opbrengsnorme en produksietegnieke tot gevolg he, met die gevolg dat dit raadsaam sal wees om die Galgepaal- en Frisgewaagdlandtipe as twee aparte RHB's te beskou.

 

LITERATUURVERWYSINGS

CAIN, S.A. & CASTRO, G.M. DE O., 1959 Manual of vegetation analysis. Harper & Brothers, Publishers, New York, 325 pp.

DIETRICHSEN, J.A. V., 1979 Persoonlike mededeling

EDWARDS, D., 1976 Formation classes. June 1976. Unpublished.

ROUX, P.W., 1966 Beginsels van veldbeheer in die Karoo en aangrensende droë soetgrasveldgebiede. Hoofstuk XIX in Die Kleinveebedryf in Suid-Afrika, Staatsdrukker, Pretoria.

 

Published

Karoo Agric 1 (4), 13-15