Last update: April 3, 2012 07:44:52 AM E-mail Print

 

Plantmonsters van groot belang

P. BOTHA 

 

Omdat dit menslik gesproke onmoontlik is om al 250000 plantspesies in die wêreld, of selfs die 20000 in Suid-Afrika te ken, word voorbeelde van plante in herbariums gehuisves. 'n Herbarium het ook groot geskiedkundige waarde, deurdat voorbeelde van plante bewaar word wat moontlik met die verloop van jare reeds uitgesterf het. By so 'n herbarium word die plantmonster wat geïdentifiseer moet word, vergelyk met reeds benoemde plante ten einde die korrekte botaniese naam te kan verskaf.

Dit is juis die vergelyking van nuwe monsters met reeds benoemde plante wat probleme verskaf. By so 'n groot verskeidenheid plante berus die uiteindelike beslissing ten opsigte van die korrekte benaming op klein verskille; indien die plant wat geïdentifiseer moet word dan nie daardie klein verskil bevat nie, kan dit die identifikasie geweldig bemoeilik.

 

Monstering

Daarom bestaan daar sekere vereistes vir 'n goeie plantmonster. Hoewel hierdie vereistes nie altyd op plaasvlak prakties uitvoerbaar sal wees nie, sal ons dit op prys stel indien u dit as riglyne by die versameling van plante sal gebruik.

 

Omdat dit wenslik is dat boere 'n eie versameling van plante opbou, kan twee monsters versamel word, een vir eie  gebruik en een wat weggestuur word vir identifikasie.

Wanneer 'n plant versamel word, word 'n nommer daaraan toegeken, u versamelnommer. Wanneer die plant geïdentifiseer word, op Grootfontein of waar ook aI, word slegs die naam teenoor die ooreenstemmende nommer aan u teruggestuur. U kan dus nou die naam invul op die plant vir u eie versameling. Wanneer u 'n plant vir identifikasie wegstuur, is dit noodsaaklik dat die volgende inligting verskaf moet word:

  1. U naam en versamelnommer.

  2. Vindplek (lokaliteit) - Dit is die plaas en distrik waar die plant aangetref is. Hierdie inligting is van uiterste belang by die opstel van geografiese verspreidingskaarte van die verskillende plantsoorte. Die nommer van u plaas sal voldoende wees, maar indien dit nie beskikbaar is nie, slegs 'n kort beskrywing.

  3. Habitat - Slegs 'n kort beskrywing van die omgewing waar die plant aangetref is, bv. dolerietrantjie, klipperige of sanderige grond, suidhelling, in skadu, ens.

  4. Datum van monstering - Afgesien van die geskiedkundige waarde van die datum, is dit ook van belang vir die fenologiese (lewensiklus) waamemings van die plant, waar by. die saadproduksie, blomvorming, ens. Met die datum vergelyk word.

  5. Spesifieke aantekeninge - dit kan enigiets insluit en gaan dikwels oor die kleur van die blomme, kenmerke van saad, groeivorm, grootte en voorkoms, dit wil se volop of skaars, meerjarig, eenjarig, opslag, smaaklikheid of aanvaarbaarheid, ens.

Die inligting wat u saam met die monsters stuur, mag wel lyk of dit nie van toepassing is nie, maar die waarde daarvan kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit kan selfs van groter waarde wees as die monster self.

 

Identifikasie

Die metode waarvolgens plante geïdentifiseer word, kan soos volg opgesom word: Die plant word eers in 'n groot klas ingedeel en daarna word dit op grond van fyner besonderhede in kleiner klasse ingedeel totdat die korrekte naam verkry word.

Daar word van verskeie eienskappe gebruik gemaak om plante te identifiseer waarvan die volgende die belangrikste is:

Vars materiaal is ideaal vir identifikasiedoeleindes, maar omdat dit nie altyd prakties uitvoerbaar is nie, moet ons die plante droog. Die plante word soos volg gedroog: Die plantmonster word tussen absorberende papiervelle geplaas (koerantpapier is geskik). Hoe vlesiger die plant, hoe meer papierlae moet tussen monsters geplaas word. Dit is ook wenslik om 'n stuk karton tussen monsters te plaas sodat die monster reguit gedroog kan word. Hoe vlesiger die plant, hoe meer dikwels moet die absorberende papier verwissel word, aangesien 'n klam monster geneig is om te verrot. Wanneer verskillende plante gedroog word, is dit wenslik dat die vlesige plante en nie-vlesige plante geskei moet word, omdat die nie-vlesige plante gouer droog. Vir die droogproses moet vetplante in lampolie gedoop word om die plant dood te maak. Dieselfde reël geld vir bolplante, waar die bol egter deurgesny word. By 'n fyn en delikate plantmonster moet slegs die boonste absorberende papier vervang word, sodat die monster nie onnodig gehanteer word nie.

Wanneer al die monsters nou tussen absorberende papier geplaas is met karton tussen die verskillende monsters, moet die monsters onder drukking geplaas word. Vir hierdie doel is 'n plantpars natuurlik die beste, maar enige swaar voorwerp wat die drukking eweredig oor die hele oppervlak versprei, kan gebruik word. Nadat die plant goed gedroog is, word dit op 'n stuk wit stywe papier of dun karton gemonteer met behulp van gom of dun plakpapier. Die gegewens wat saam met die plantmonster verskaf is, word nou in die regterkantse onderste hoek aangebring.

Die waarde van 'n eie versameling kan nie genoeg beklemtoon word nie, nie alleen vir wetenskaplike doeleindes nie, maar veral vir kennis van die plantegroei op die plaas. Hierdie kennis kan dan met groot vrug toegepas word by die evaluering van die veldtoestand deur middel van indikatorplante.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Junie 1978