Last update: March 30, 2012 10:43:20 AM E-mail Print

 

Die invloed van plooie op verskillende produksie-eienskappe

 

J.J. Olivier

Carnarvon-proefplaas

CARNARVON

7060

 

 

DIE plooitipes van die Merino in Suid-Afrika het al vanaf die oorplooide Vermont-tipe tot die baie gladde "Geelbek"-tipe gewissel (Hugo, 1966). Dit het gou geblyk dat die oorplooide Vermont-tipe nie in Suid-Afrika aanpasbaar is nie en word dus nie meer algemeen hier aangetref nie. Nogtans word Merino's wat oormatige plooie het, aangetref en as teelmateriaal aangewend.

Die invloed van plooie op produksie-eienskappe is goed in Australië nagevors en die resultate is deur Dun & Eastoe (1970) saamgevat. 'n Belangrike bevinding van die navorsers was dat die invloed van plooie op produksie-eienskappe gering is, mits skape in 'n gunstige omgewing met baie voeding aangehou word. In 'n ongunstige omgewing veral waar voeding skaars is, is die nadelige invloed van plooie op produksie-eienskappe baie meer waarneembaar. Hierdie navorsers het ook 'n verband tussen groeihormoon en plooie gevind. So byvoorbeeld as honde en katte met groeihormone ingespuit is, het dit tot die ontwikkeling van oormatige plooie aanleiding gegee. Daar is ook gevind dat in 'n Merinokudde wat vir plooie selekteer is, daar ongeveer tweemaal soveel groeihormone in die bloedstroom was as in die van Merino's wat teen plooie selekteer is (Dun & Eastoe, 1970). Volgens Dun & Eastoe (1970) "selection for increased skin folds (has) wrecked the physiology of the sheep in a way that no one could possibly have predicted".

In hierdie artikel word die invloed van plooie op die produksie-eienskappe van Merinoskape in ariede skaapweigebiede bespreek.

 

Proefprosedure

Aan die begin van 1962 is 600 Merino kudde-ooie in drie groepe van 200 elk gedeel en vir die eerste twee jaar met stoetramme afkomstig vanaf die Landboukollege Grootfontein gepaar. Aan die begin van 1964 is die 600 ooie plus hulle nageslag na die Carnarvon-proefplaas oorgeplaas.

Die tweetand-nageslag in elke groep is daarna jaarliks as vervangers gebruik en is as volg selekteer: in die een groep is daar net vir skoonwolmassa geselekteer (Groep 5), in die tweede groep is daar vir wolmassa volgens die "hand en oog metode" geselekteer (Groep B) en in die derde groep, wat as die kontrole gedien het, is ramme en ooie ewekansig afgetel (Groep K). Alle ramme is jaarliks vervang en paring is in die herfs met 2% ramme gedoen. Alle groepe het dieselfde behandeling ontvang en alle nageslag is tot op tweetand behou.

 

Proefomgewing

Vanaf 1964 is alle skape op natuurlike veld te Carnarvonproefplaas aangehou. Die proefplaas is in die Dorre Karoo en skyn-woestyngrasveld geleë (Bosch, 1978) en het 'n gemiddelde jaarlikse reënval van 193 mm wat hoofsaaklik in die somer voorkom. Die natuurlike bedekking, wat die hoof voedingsbron vir die vee is, wissel van goed bedekte gras-bossieveld tot yl bedekte bossieveld. Die veebelading van die veld, wat hoofsaaklik van die reënval afhanklik is, is ongeveer 5ha per KVE.

 

Resultate en Besprekings

Vir hierdie artikel is slegs die resultate van die 5- en K-groepe gebruik en wat in 1979 ontleed is. Die plooitellings van die groepe is in 1979 volgens 'n stel standaard foto’s geneem. Volgens die foto's word 'n telling afsonderlik vir die nekgedeelte, middelstel en agterlyf toegeken. Die drie tellings word dan saamgevoeg om 'n plooitelling vir 'n skaap te gee wat dan van 0-17 wissel, met nul as baie glad en 17 as baie geplooid.

In Fig. 1 word die normaalverspreiding van die plooitellings van 195 ooie van Groep 5 en 200 ooie van Groep K wat in 1979 geneem is, aangetoon. Die gemiddelde plooitelling van Groep 5 was 11,75 ± 2,27 teenoor die 11,09 ± 2,49 van Groep K. 'n Groter aantal ooie (48 of 24,6%) van Groep 5 het plooitellings van 14 en hoër as die in Groep K (30 of 15%) gehad. Slegs 30 of 17,4% ooie van Groep 5 het plooitellings van 9 of minder gehad teenoor die 57 of 28,5%van Groep K. Volgens Turner (1977) is 'n genetiese korrelasie tussen skoonwolmassa en plooitelling van -0,40 tot 0,10 gevind en daar kan dus aanvaar word dat Groep 5 meer plooie gehad het as gevolg van die seleksie vir skoonwolmassa. Geen plooitellings was bekend met die aanvang van die eksperiment nie, maar daar kan aanvaar word dat die verskille tussen die verskillende groepe klein was.

 

 

Invloed van plooie op reproduksie

Alle ooie wat in 1979 gepaar was se plooitellings is geneem en in Fig. 2 word die plooitellings van die ooie wat gelam het en die ooie wat nie gelam het nie, aangetoon. Die ooie wat gelam het, het 'n gemiddelde plooitelling van 10,64 ± 2,21 teenoor die 11,84 ± 2,44 van ooie wat nie gelam het nie, gehad. Van die ooie wat gelam het, het 33,5%van hulle plooitellings van 9 en kleiner gehad teenoor die 16,7%van ooie wat nie gelam het nie.

 

 

Volgens Nel (1967) wat met Merino's van die Landboukollege Grootfontein gewerk het, het die gladde teelgroepe 'n lampersentasie van ongeveer 10% hoër as die van die geplooide tipes gehad. Volgens Dun & Eastoe (1970) het 'n kudde in Australië waar daar teen plooie geselekteer is so 'n hoë reproduksie gehad dat 56% van die ooi-aanteel geprul kon word en kon die kuddegrootte konstant gehou word, terwyl slegs 20% van die ooi-aanteel geprul kon word in die kudde waar daar vir plooie geselekteer is.

 

 

In Fig. 3 word die gemiddelde persentasie ooie wat gedek is per ooi gepaar van 1962 tot 1978 in Groepe 5 en K aangetoon. Die aantal ooie wat in Groep K gedek is het effens toegeneem, terwyl die in Groep 5 gemiddeld vanaf 1962 van 91,58% tot 82,61 % in 1978 gedaal het. In dieselfde tydperk het die aantal ooie wat in Groep K gedek is met 0,77% toegeneem. Die aantal lammers gespeen per 100 ooie gepaar, het by Groep 5 vanaf 73,45%in 1962 tot 60,60%in 1978 gedaal (Fig 4). As die regressielyn verleng sou word, sou dit beteken dat die reproduksie in die groep teoreties in 2007 nul word. Die aantal lammers in Groep K gespeen het vanaf 1962 tot 1978 'n geringe daling van ongeveer 1% getoon.

 

 

Uit voorafgaande is dit duidelik dat plooie negatief ingewerk het op die reproduksie van die kudde. Indien 'n seleksie stelsel gevolg word (soos in Groep S) waar plooie toegelaat word om toe te neem, sal daar 'n afname in die reproduksie van die kudde wees.

 

Invloed op geboortemassa

Seleksie vir plooie het volgens Dun & Estoe (1970) tot 'n merkbare verhoging in geboortemassa aanleiding gegee. In Fig. 5 kan gesien word dat die geboortemassa van ramme en ooie uit Groep S teenoor die van die kontrole toegeneem het. Die geboortemassa van ramme het van 4,94% laer as die van die kontrole (Groep K) tot 7,06% hoër as die kontrole toegeneem, terwyl ooie se geboortemassa van 2,61%laer as die kontrole tot 4,91%hoër as die kontrole toegeneem het. Volgens Dun & Eastoe (1970) kan die verhoogde geboortemassas aan 'n verhoogde hoeveelheid groeihormoon toegeskryf word, wat weer met 'n vermeerdering in plooie gepaard gaan.

 

 

Invloed op 18-maande-massa

Volgens Turner & Young (1969) is 'n genetiese korrelasie van -34% tot -17% tussen plooie en liggaamsmassa gevind. Hierdie korrelasie impliseer dat soos plooie toeneem, neem liggaamsmassa af. Omrede skape uit Groep S meer plooie as die van Groep K gehad het (Fig. 1), word dit verwag dat die liggaamsmassa van Groep S ligter as die van Groep K moet wees. In Fig. 6 kan gesien word dat dit in 1978 inderdaad die geval was. Verder blyk dit dat die liggaamsmassas van ramme uit Groep S van 3,40% hoër as die kontrole in 1962 tot 2,04% laer as die kontrole in 1978 afgeneem het. Die vergelykende syfers vir ooie was 3,25% hoër as die kontrole in 1962 tot 3,47% laer as die kontrole in 1978.

 

 

Gevolgtrekking

Uit voorafgaande kan die volgende gevolgtrekkings gemaak word:

 

Verwysings

BOSCH, O.J.H., 1978. Die weivelde van die Karoo. Karoo Agric. 1,9.

DUN, R.B. & EASTOE, R.D., 1970. Skin fold. In Science and the Merino Breeder, pp 71 - 83. Ubtino, New South Wales.

HUGO, W.J., 1966. Die Kleinveebedryf in Suid-Afrika. Dept. Landbou Tegniese Dienste, Pretoria.

NEL, J.E., 1967. Die invloed van kuddesamestelling op produksie en reproduksie-kenmerke van Merinoskape. Ph D-verhand. Univ. Stellenbosch.

TURNER, HELEN N.,1977. Australian sheep breeding research. Anim. Breed. Abst. 45,9 - 31.

TURNER, HELEN N. & YOUNG, S.S.Y., 1969. Quantitative genetics in sheep breeding. Melbourne: Macmillan.

 

Published

Karoo Agric 2 (4), 13-17