Last update: April 11, 2012 11:12:07 AM E-mail Print

 

Pluimveeboerdery in die Unie

1. Voer

A. M. Gericke

 

AS 'n mens hoenders voer, stel jy jou ten doel om hulle die regte soort en hoeveelheid materiaal te gee wat nodig is vir die vervaardiging van energie, die opbouing van die liggaam en vir eierproduksie. Baie pluimveeboere is geneig om te dink dat kuikens grootgemaak kan word sonder dat daar aandag gegee word aan die soort voer wat hulle kry. By die bereiding van sommige meelkossoorte word nie ten volle aandag gegee aan die voer wat vir die grootmaak van kuikens en eierproduksie vereis word nie.

Alle soorte hoendervoer is saamgestel uit een of meer groepe voedingstowwe, naamlik, water, mineraalstowwe, proteïen, koolhidrate, vette en vitamiene.

Die geskikte rantsoen kan bes omskryf word as 'n samestelling van bestanddele wat die nodige voedingstowwe, soos proteïen, koolhidrate en vette bevat in verhoudings en hoeveelhede wat, as dit met mineraalstowwe, vitamiene en water aangevul word, die liggaam deeglik sal voed en die nodige bestanddele vir groei en eierproduksie sal verskaf.

 

Faktore in verband met Voer

Onderstaande faktore moet in aanmerking geneem word wanneer voersoorte vir die samestelling van 'n rantsoen uitgesoek word:-

(a) Smaaklikheid -Kuikens of henne sal sekere voersoorte bo ander verkies. Pluimvee verkies geelmielies, gebreek sowel as heel, bo hawer en gars.

(b) Verteerbaarheid -Lywige of veselagtige voersoorte word nie geredelik deur hoenders verteer nie. Lusernmeel wat 30.1 persent ru-vesel bevat of sonneblom waarvan die dop uit 27.9 persent ru-vesel bestaan, is van weinig waarde as dit in groot hoeveelhede gevoer word.

(c) Gesondheid -Voer moenie geskimmel of suur wees nie. Gedurende warm weer sal nat meelkos suur word as dit vir 'n lang tyd in die kosbakke staan en derhalwe is dit wenslik om nat meelkos, wat die vorige dag nie opgevreet is nie, uit die voerbak te verwyder.

(d) Verskeidenheid -'n Verskeidenheid van voersoorte sal die hoenders prikkel om meer te vreet. 'n Rantsoen wat bestaan uit 2 soorte graan en 3 tot 4 soorte gemaalde voer sal waarskynlik die beste resultate oplewer mits dit in 'n gebalanseerde verhouding gevoer word.

( e) Meganiese uitwerking - Meelkossoorte moet krummelrig van tekstuur wees. Nat meelkos wat 'n groot persentasie fyn mieliemeel bevat, is klewerig van tekstuur en kuikens vreet dit nie graag nie. Om hierdie rede word aan growwe mieliemeel voorkeur gegee.

(f) Geneeskundige Uitwerking -Koringsemels het 'n lakserende uitwerking en dis wenslik om dit te voer ten einde die pluimvee gesond te hou.

(g) Uitwerking op die Kwaliteit van die Produkte -Groenvoer en geelmielies bevat 'n sekere kleurstof wat oorsaak is dat eiers met donkergeel dooiers geproduseer word. Witmielies en afgeroomde melk bevat nie geel kleurstof nie en is oorsaak dat eiers met 'n effens gelerige dooier gelê word. As katoensaadmeel weer gevoer word, laat dit die geel verkleur, terwyl sekere soorte plante soos koolrape, rape en vars uie die smaak van die eiers aantas, as dit in groot hoeveelhede oor 'n lang tydperk gevoer word.

(h) Beskikbaarheid  – Pluimveeboere behoort voer te gebruik wat op hul eie plase of in die omtrek daarvan gekweek word. Hoewel sekere soorte voer, soos hawer en gars nie as pluimveevoer aanbeveel word nie, bestaan daar geen twyfel nie dat goeie gebruik daarvan gemaak kan word as dit ontkiem of gemaal is.

(i) Koste -Goedkoop soorte voer lewer nie altyd die beste opbringste nie. Produsente behoort meer aandag te gee aan die kwaliteit van die voer gebaseer op die verteerbaarheid van die voedingstofgehalte.

 

Proteïene

Proteïene is chemiese stowwe wat die noodsaaklike bestanddeel van die protoplasma of jellieagtige stof uitmaak wat in alle lewende diere en plantselle gevind word. Hierdie proteïene ondergaan 'n voortdurende proses van vernietiging, en tensy die pluimvee 'n bestendige voorraad in voer kry, sal hulle weens gebrek daaraan ly. Dis noodsaaklik dat hoenders daagliks 'n voorraad proteïen in hul meelkos kry. As te veel daarvan gevoer word, word die oormaat dadelik deur die niere uitgewerk, en dit is baie skadelik, aangesien proteïenvoedingstowwe die duurste bestanddeel van die meelkos is. Dis nie alleen verkwistend nie maar kan selfs organiese siektes soos nefritis (Nierontsteking) veroorsaak.

Wanneer proteïen aan pluimvee verskaf word, is kwantiteit sowel as kwaliteit faktore van groot belang. Proteïene bestaan uit onoplosbare stowwe wat gedurende die verteringsproses verander en amino sure wat wel oplosbaar is en deur die bloedstroom opgeneem word om verslete weefsels te herstel en nuwes te vorm. As die voerproteïene uit meer as een bron verkry word, is daar 'n moontlikheid dat aan al die vereistes van die hoender ten aansien van kwaliteit sowel as kwantiteit voldoen sal word.

 

Proteïen byvoer

Die mees gebruiklike proteïen-byvoer in pluimvee-rantsoene, soos vleismeel, vismeel, bloedmeel, sprinkaanmeel en melkprodukte is van diere afkomstig. Hulle gee almal goeie resultate behalwe droë bloedmeel wat onsmaaklik is en nie op groot skaal gebruik word nie. Aan die anderkant is vars bloed uiters smaaklik, maar dis moeilik om dit gereeld in voldoende hoeveelhede te kry.

Proteïen-byvoer kan van plantkundige bronne, soos sojaboontjie-olie en grondboontjie-meel verkry word. Bevredigende resultate is verkry met sojaboontjie-meel as die enigste proteïen-byvoer waar die nodige minerale verskaf is. As lêhenne gevoer word, moet 1½ tot 2 lb. Van onderstaande mineraal-mengsels by elke 5 lb. sojaboontjie-meel gevoeg word:-

 

 

Mengsel 1

Mengsel 2

Mengsel 3

Beenmeel

Fyngemaalde kalkklip

Kombuissout

60 dele

20 dele

20 dele

22 dele

24 dele

15 dele

2 dele

2 dele

1 deel

 

As kuikens gevoer word moet 1½ tot 2 lb. van mineraalmengsel No.1 gevoeg word by elke 5 lb. sojaboontjie-oliemeel wat met die meelkos gemeng is.

Of proteïen-byvoersoorte wat van dierlike of plantkundige bronne verkry is, gevoer moet word, hang af van die koste en beskikbaarheid daarvan. Waar sojaboontjie-oliemeel geproduseer of teen 'n lae prys verkry kan word, kan dit gebruik word in die plek van proteïene wat van dierlike bronne verkry word. Tot tyd en wyl ons meer kennis het van die voedingswaarde van proteïene wat uit plantkundige bronne afkomstig is, is dit miskien wenslik om aan te hou met byvoer wat uit vleis of melk verkry word.

Totaal Verteerbare Voedingstowwe. Die totaal verteerbare voedingstowwe word aangedui deur 'n term wat verkort word tot T.V. V. en gebruik word om die totale voedingswaarde van 'n voersoort aan te dui. Die T.V. V. word verkry deur die som te vind van die verteerbare proteïen, koolhidrate, met inbegrip van vesel en verteerbare vet, maar laasgenoemde word eers met 21 vermenigvuldig aangesien vet 21 maal soveel energie per eenheid van gewig verskaf as koolhidrate. In die ontleding vir pluimveevoer word die T.V.V. gewoonlik aangegee, waardeur die produsent die moeite bespaar word om die som te vind van die verteerbare proteïen, verteerbare koolhidrate, die vesel en 21 maal die verteerbare vet.

Die voedingsverhouding (V. V.) is die verhouding tussen die verteerbare proteïen en die verteerbare koolhidrate en vette gesamentlik. As die verhouding klein is, word dit eng genoem en as dit groot is noem 'n mens dit wyd. 'n Eng verhouding bevat meer proteïen as 'n wye.

As aan jong kuikenhennetjies 'n hoë persentasie proteïen gevoer word, is dit bevorderlik vir hul groei en ook vir vroeë produksie. Vroegrypheid is ook 'n erflike eienskap van sekere soorte hoenders. Die verhouding van die voedingstowwe word dit bereken as volg:-

Trek die verteerbare proteïen af van die totaal verteerbare voedingstof, T.V.V. en deel die verskil deur die verteerbare proteïen:-

 

T.V.V. - Verteerbare proteïen Verteerbare proteïen

'n Rantsoen vir pluimvee behoort te bestaan uit 3.5 tot 5 persent vesel, 12.5 tot 15 persent verteerbare proteïen, en 70 tot 75 persent totaal verteerbare voedingstowwe. Die verteerbaarheid van die vesel is laer in die geval van hoenders as in die geval van soogdiere. Op grond hiervan kan 'n mens ten volle besef dat swaar meelkos lêhenne nie tot maksimum produksie sal prikkel nie.

Wanneer kuikens of lêhenne gevoer word, is dit die mees algemene gebruik om altyd droë meelkos in voerbakke vir die hoenders beskikbaar te stel en hulle daarby van vars skoon water, graan in skropgoed, groenvoer en minerale te voorsien.

Aangesien die meelkos die proteïen en byprodukte van sekere graansoorte bevat, word dit gewoonlik eiervormende materiaal genoem. Weens die hoë proteïengehalte van die eier en die lêhen se liggaamsverseistes ten aansien van proteïen, verskaf die gewone mengsel graansoorte wat op die plaas gekweek word nie voldoende van hierdie materiaal van die vereiste kwaliteit nie, tensy die rantsoen deur dierlike proteïen in een of ander vorm aangevul word.

 

Suiwer Meelkos vir Kuikens

In die afgelope paar jaar is die metode ingevoer om kuikens en jong henne wat groei, suiwer meelkos te voer en die voorstanders daarvan beweer dat dit die volgende voordele het bo die meelkos-graanvoedingstelsel: (1) Alle hoenders kry 'n gebalanseerde rantsoen; (2) daar is beter eenvormigheid in groei; (3) dis meer sanitêr aangesien alle voer in emmers gegee word; (4) dit vereis minder werk om die kuikens groot te maak.

Die nadele daaraan verbonde, is dat daar meer voerbakke nodig is en dat gemelde graansoorte gewoonlik duurder is as heel graan.

Hierdie metode om kuikens te voer, is gedurende die laaste vier jaar by die Grootfonteinse Landbouskool uitgetoets en baie goeie resultate is verkry. Die metode om suiwer meelkos te voer, is uiters geskik in die geval van slaghoenders wat geslag word wanneer hulle van 18 tot 20 weke oud is.

Onderstaande rantsoen van suiwer meelkos is gebalanseer vir die voer van kuikens van 1 dag tot 18 of 20 weke oud.

Suiwer Meelkos No.1.

Meelkosmengsel

Vesel

Verteerbare proteïen

T.V.V.

70 lb. Geelmieliemeel (Grof)

20 lb. Pollard

15 lb. Semels

10 lb. Vleismeel

2 lb. Beenmeel

1 lb. Fyngemaalde kalkklip

118 lb. Totale meelkos

1.61

0.94

1.42

0.21

-

-

4.18

3.54

4.83

3.14

1.72

3.66

0.45

-

13.8

11.7

55.23

15.3

 5.97

 6.42

 0.59

-

83.51

70.8

Die voedingsverhouding (V. V.):-

 = V.V. = 1 : 5.05

 

Onderstaande suiwer meelkosrantsoene is ook gebalanseer vir kuikenvoer:-

Bestanddele

Meelkos

No 2

Meelkos

No 3

Meelkos

No 4

Meelkos

No 5

Geelmieliemeel (grof))

Pollard

Semels

Vleismeel

Beenmeel

Fyngemaalde kalkklip

Hawermeel

Lusernmeel

70

20

15

10

2

1

10

-

70

20

15

10

2

1

-

5

50

20

14

10

2

1

-

5

60

20

20

10

2

1

-

-

 

Hoewel suiwer meelkos No.4 minder voedingstowwe as die ander bevat, het dit as kuikenvoer goeie resultate gelewer. Die waarde van 'n meelkos moenie slegs volgens sy totale verteerbare voedingsbestanddele bepaal word nie. Voertoetse moet ook gemaak word om te bepaal of kuikens sonder enige voedingsgebreke die volwasse stadium sal bereik. Die waarde van bostaande soorte meelkos is verkry deur die verskillende groepe kuikens weekliks te weeg en hul groeisnelheid te bepaal. Die gemiddelde gewigte van jong henne van verskillende kruisings wat op bostaande soorte meelkos gevoer is, was op die ouderdom van 16 weke van 50 tot 59 ons, terwyl die gewigte van die haantjies op dieselfde ouderdom 60.3 tot 72.1 ons was.

Meelkos vir hoenders wat groei, moet 'n totale hoeveelheid van 0.7 tot 1.0 persent fosfor en 1.5 tot 2 persent kalsium bevat. Die verhouding van kalsium tot fosfor is 2 tot 1. 'n Hoër fosforgehalte as 1 persent sal dikwels die oorsaak wees van vertrekte senings of misvormde hakke by groeiende hoenders. Uit resultate wat op Grootfontein verkry is, blyk dat 3 persent beenmeel en 2 persent fyngemaalde kalkklip swak hakke by kuikens wat groei, laat ontwikkel. As vleis- en beenmeel (d.w.s., vleismeel wat 'n taamlike hoeveelheid beenmeel bevat) gevoer word, sal dit miskien wenslik wees om die beenmeel van die meelkos vir die kuikens uit te sluit. Fyngemaalde kalkklip verbeter gewoonlik die verhouding van kalsium tot fosfor en help om die organiese en anorganiese sure wat die liggaam produseer, te neutraliseer. Van hierdie opmerkings sou 'n mens aflei dat 'n ongebalanseerde verhouding van kalsium tot fosfor miskien net so skadelik vir groeiende kuikens mag wees as die uitsluiting van hierdie minerale uit die meelkos.

Behalwe bostaande soorte meelkos moet kuikens skoon drinkwater en groenvoer kry. Dis nie nodig om graan in skropgoed te gee nie. Die produsent behoort die soort meelkos vir voer uit te soek wat mees ekonomies gekweek of gekoop kan word.

Kuikens is kieskeurig wat betref variasies in hul voer. As byprodukte, soos gekookte onvrugbare eiers, gevoer word, sal dit wenslik wees om dit deeglik met die meelkos te meng.

 

Lêhenne -'n Meelkosmengsel vir lêhenne kan gebalanseer word, soos volg :-

 Meelkos vir Lêhenne No.1.

Meelkosmengsel

Vesel

Verteerbare proteïen

T.V.V.

100 lb Koringsemels

100 lb Pollard (fyn)

100 lb Gemaalde hawer

100 lb geelmieliemeel (no 2)

100 lb Vleismeel

500 lb Totale meelkosmengsel

100 lb Meelkosmengsel

9.5

4.7

10.9

2.0

-

27.1

5.42

11.5

15.7

9.0

6.9

54.2

97.3

19.46

39.8

76.5

58.1

78.9

78.0

331.3

66.26

 

As bostaande meelkos alleen, d.w.s. sonder graan, gevoer word, sal die beste resultate nie verkry word nie, want die vesel- en proteïen-gehalte is te hoog, terwyl die totaal verteerbare voedingsbestanddele te laag is. Die voedingsverhouding tussen die proteïene en koolhidrate in meelkos No.1 is 1 tot 2.4 en veels te eng vir 'n lêrantsoen. As dit alleen gevoer word, kan 'n mens dit 'n forserende meelkos noem.

Dis wenslik om hierdie meelkos met gelyke dele graan, d.w.s., 2 ons graan en 2 ons meelkos per hoender per dag te voer. As gebreekte geelmielies gevoer word, kan die hele rantsoen gebalanseer word as volg:-

 

Meelkosmengsel No 1

Vesel

Verteerbare proteïen

T.V.V.

100 lb Meelkos

100 lb Gebreekte geelmielies

200 lb Rantsoen

100 lb Rantsoen

5.42

2.0

7.42

3.71

19.46

7.4

26.86

13.43

66.26

79.8

146.06

73.03

 

V.V. =  =  = 1 : 4.44

 

Vir eierproduksie moet ook mineraalstowwe by die meelkos gevoeg word; 15 lb. gemaalde kalkklip of oesterskulpmeel plus 5 lb. beenmeel moet by meelkos No. 1 gevoeg word. Lêhenne het kalsium nodig vir hul liggaamsprosesse en ook om eierdoppe te vorm. Soos in die geval van kuikens, moet beenmeel van die meelkos uitgesluit word wanneer vleis- en beenmeel gevoer word. Mineraalstowwe kan ook in die vorm van growwe skulp of oesterskulp in aparte voerbakke gegee word. Hierdie voerstelsel bevorder nie die verbruik van mineraalstowwe nie. As mineraalstowwe in 'n gemaalde vorm by die meelkos gevoeg word, word dit saam met die kos verbruik. Hierdie stelsel is geneig om 'n eenvormige mineraal-balans in die liggaam van die hoender te handhaaf en sal waarskynlik bevorderlik wees vir maksimum produksie en die instandhouding van die gesondheid van die trap.

Die insluiting van vleismeel by meelkos wat vir lêhoenders bestem is, veroorsaak aanmerklike verwarring by pluimveeboere. As 20 persent vleismeel ingesluit word, beteken dit nie dat die meelkos 20 persent proteïen bevat nie. Die hoeveelheid proteïen hang af van die samestelling; 20 lb. vleismeel met 'n samestelling van 54.2 persent verteerbare proteïen bevat byvoorbeeld 10. 84 lb. verteerbare proteïen. In meelkos No.1 is die hoeveelheid verteerbare proteïen 19.46 lb. per 100 lb. meelkos. Hierdie meelkos word egter nie alleen gevoer nie. As gelyke hoeveelhede vleismeel en graan gevoer word, word die proteïen verminder tot 13.43 persent, aangesien die proteïengehalte van geelmielies laer is as die van meelkos.

Onderstaande rantsoene is gebalanseer vir eierproduksie:-

 

Bestanddele

Meelkos No 2

Meelkos No 3

Koringsemels

Pollard

Geelmieliemeel (no 2)

Vleis- en beenmeel

Fyngemaalde kalkklip

Gemaalde hawer

300

200

200

160

25

-

10

25

80

20

3

10

 

In die geval van meelkos No.2, wat vir lêhoenders bestem is, word geelmielies as graan in skropgoed gevoer. Meelkos No.3 is 'n gebalanseerde lêrantsoen van suiwer meelkos, en dis nie nodig om dit saam met graan te voer nie. Hoewel die suiwer meelkosrantsoen reeds vir die grootmaak van kuikens gebruik is, word dit nie op groot skaal vir eierproduksie gebruik nie; vir laasgenoemde doel verkies die lêhenne nog 'n meelkos plus 'n graanrantsoen.

Uit die voorgaande resultate sal opgemerk word dat dit moeilik is om meelkos wat betref totaal verteerbare voedingstowwe te balanseer, as mieliemeel uitgesluit word. Mieliemeel bevat 78,9 persent totaal verteerbare voedingstowwe, terwyl semels en fyn pollard onderskeidelik 39, 8 en 76.5 persent totaal verteerbare voedingstowwe bevat.

In sekere dele van die Unie is mielies duur. In Kalifornië is 'n toets gemaak met onderstaande rantsoen sonder mieliemeel en goeie resultate is verkry : 50 lb. koringsemels, 50 lb. pollard, 50 lb. gemaalde gars of hawer, 10 lb. sojaboon of lynsaadmeel, 30 lb. vleismeel, 5 lb. houtskool, 1 lb. sout, 5 lb. beenmeel; 2 dele gedopte gars of koring plus 1 deel gebreekte mielies word as graan in skropgoed gevoer.

Onderstaande rantsoen geelmieliemeel en afgeroomde melk vir lêhenne en kuikens word aanbeveel vir gebruik op plase waar afgeroomde melk beskikbaar is: 85 lb. geelmieliemeel No.2, 10 lb. koringsemels, 5 lb. vleismeel, 2 lb. beenmeel en 2 lb. fyngemaalde kalkklip. As fyn geelmieliemeel gebruik word, is die rantsoen nie smaaklik vir kuikens nie. Gebreekte geelmielies word as graan in skropgoed gebruik. Die vleismeel is ingesluit omdat afgeroomde melk miskien nie die hele jaar deur beskikbaar mag wees nie. Honderd lêhenne sal van 4 tot 5 gallon afgeroomde melk per dag verbruik, na gelang van die snelheid van produksie en die seisoen van die jaar, d.w.s., winter of somer. Semels word ingesluit omdat dit 'n lakserende uitwerking het; dit bevat ook vitamien B wat die groei bevorder en in mieliemeel kortkom.

As slegs afgeroomde melk met mieliemeel gevoer word, vreet die kuiken nie voldoende verteerbare proteïen nie, aangesien afgeroomde melk, hoewel dit proteïen van hoë gehalte bevat, nie voldoende hoeveelhede daarvan bevat nie. Die kuiken moet 'n groot hoeveelheid afgeroomde melk inneem ten einde die proteïen te verkry wat vir sy normale groei nodig is, en aangesien sy krop en lyf waarskynlik daarvoor te klein is, kan hy dit nie doen nie. As verteerbare proteïen in gekonsentreerde vorm soos vleismeel by die kuiken se meelkos gevoeg word, sal hy vinniger groei. Dis 'n erkende feit dat 'n hoeveelheid vleismeel plus afgeroomde melk in 'n rantsoen beter proteïen verskaf vir kuikens wat groei, as wat verkry word wanneer vleismeel of afgeroomde melk alleen gevoer word.

Afgeroomde melk, vars of suur, is 'n goeie voer vir pluimvee. As 'n mens begin om hoenders met vars melk te voer, moet jy daarmee aanhou; maar dis soms moeilik om daarmee aan te hou. In die somer word afgeroomde melk gou suur, terwyl dit in die winter taamlik lank soet bly.

Onderstaande rantsoene word vir vetmaakdoeleindes aanbeveel:-

Bestanddele

Meelkos No 1

Meelkos No 2

Meelkos No 3

Meelkos No 4

Mieliemeel No 2

Pollard

Semels

Vleismeel

Gemaalde hawer of gars

50

20

20

10

-

120

20

20

5

10

38

31

16

5

-

50

-

-

-

50

Totaal

100

175

90

100

 

Vyftien dele van hierdie meelkos moet in die aand met 20 dele afgeroomde melk gemeng en die volgende oggend gevoer word. Een persent kombuissout sal die voer smaakliker maak en dikwels word ook nog twee persent uitgebraaide vet by die meelkos gevoeg na gelang van die prys daarvan. Gedurende die vetmaaktyd moet 'n beperkte hoeveelheid water verskaf word. Dis nie nodig om graan of groenvoer te gee nie.

 

Vitamiene

Reeds in 1906 het Hopkins die volgende bewering gemaak: "Geen dier kan van 'n mengsel suiwer proteïen, vet en koolhidraat leef nie; selfs wanneer die nodige organiese stowwe sorgvuldig verskaf word, kan die dier nie floreer nie. Die dierlike liggaam is so saamgestel dat dit moet leef van plantvesels of ander diere en die voedsels bevat tallose ander stowwe behalwe proteïene, koolhidrate en vette ".

'n Vitamien word as volg omskryf:

" Dis 'n stof met 'n eenvoudige chemiese samestelling wat in verskillende sterktes in verskillende natuurlike voedselsoorte voorkom, en die voortdurende gebrek daaraan in 'n dieet laat vroeër of later 'n siektetoestand ontstaan wat dit moontlik maak om definitief te sê watter vitamien kortkom ".

Groenvoer word grotendeels weens sy vitamiengehalte en lakserende uitwerking aan pluimvee gevoer. Hoewel daar vitamiene A, B, C, D, E, F en G is, is die belangrikstes wat in pluimveevoer in aanmerking geneem moet word: vitamiene A, B, D, E en G.

'n Tekort aan vitamien A veroorsaak voedings-" roup ", en 'n tekort aan vitamien B verlamming van die bene en vlerke; as daar 'n tekort aan vitamien D is, sal die bene nie behoorlik ontwikkel nie, en 'n tekort aan vitamien E is oorsaak dat die vrugbaarheid van die hen verswak of dat sy haar moederlike instink verloor.

Daar is geen twyfel dat, as groenvoer gereeld verskaf word, sulke siektes as gevolg van 'n tekort aan vitamiene nie behoort voor te kom nie. Vitamien A kan in die vorm van geelmielies en groenvoer soos koolblare, ens., verskaf word. Vitamien B word deur die graansoorte in die meelkos verskaf, veral deur koringsemels. Dit word soms die " groei vitamien " genoem. Sedert 1927 is aangetoon dat vitamien B 'n kompleks van verskillende vitamienfaktore is. In Engeland word die vitamien-B-kompleks B 1 anti-neuritiese faktor, d.w.s., die faktor wat senuwee-ontsteking verhoed, en B 2 of faktor vir verhoeding van Lombardiese melaatsheid genoem. In Amerika word die vitamien-B-kompleks B genoem wanneer na die anti-neuritiese faktor, en G wanneer na die faktor vir verhoeding van Lombardiese melaatsheid, verwys word. Lombardiese melaatsheid is die eerste in die suidelike gedeelte van die Verenigde State van Amerika aangetref. Dit kan eintlik van die vel gediagnoseer word. Die vel word geel en skurf en soms is daar uitslag. Dis gemeld dat tekens van Lombardiese melaatsheid ook op pluimvee voorkom. Eiers, melk en vars groente bevat die faktore vir verhoeding van Lombardiese melaatsheid.

Vitamien C word (sinteties) deur die lewer in die hoender se lyf gevorm en hoenders ly nooit aan 'n tekort hiervan nie, d. w .s., ly nie aan skeurbuik nie; vitamien D kan verskaf word in die vorm van afgeroomde melk, groen lusern en lewertraan - laasgenoemde is 'n uitstekende bron. Uitgeloopte graan is gewoonlik ryk aan vitamien E, maar moet gevoer word wanneer die groen kleur ontwikkel is. As die rantsoen 'n tekort aan vitamiene het, is die weerstandsvermoë van die liggaam so swak dat feitlik enige siekte wat deur 'n tekort daarvan veroorsaak word kan ontwikkel. In hierdie opsig is afgeroomde melk en groenvoer nuttig op 'n pluimveeplaas.

 

Voerroetine

Aangeklamde of droë meelkos of albei moet in die oggend gegee word. As droë meelkos alleen gevoer word, kan die selfvoer-kosbakke die hele dag oopgehou word, sodat die kuikens of lêhenne te eniger tyd self kan vreet. Groenvoer behoort voor die middagete verskaf te word. Graan in skropgoed moet in die namiddag teen 4 of 5 uur gegee word. Dit is onverstandig om groot hoeveelhede graan en groenvoer aan lêhenne te voer wanneer hulle in die oggend vir die eerste maal kos kry. 'n Mens moet besef dat meelkos die eiervormende voer is, en lêhenne eers 'n sekere hoeveelheid meelkos laat vreet, alvorens hul kroppe gevul word met graan, d.w.s., met energie-vormende voer, en groenvoer, d.w.s., met lywige voer. Skoon drinkwater moet gereeld verskaf word.

Die suiwer meelkosrantsoene wat vir die grootmaak van kuikens aangegee; word, is ook by hierdie inrigting uitgetoets in verband met die grootmaak van eendjies, kalkoentjies en gansies. Die suiwer meelkos No.1 vir kuikens en meelkos No.2 vir lêhenne behoort voldoende te wees om enige soort pluimvee groot te maak en te laat lê.

‘n Groot aantal rantsoene wat uit verskillende bestanddele en hoeveelhede bestaan kan vir pluimveevoer gebalanseer word. Dit word gehoop dat die inligting in hierdie artikel vervat die leser 'n duidelike begrip sal gee van gebalanseerde rantsoene en die faktore wat pluimveevoer beïnvloed.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 11