Last update: April 10, 2012 08:51:20 AM E-mail Print

 

Boere pluk die Vrugte van Bewaringswerke

R van R. Steytler

 

Daar het 'n groot omkeer in die boerderye van distrik Cradock gekom. Vroeër dae, nie so lank gelede nie, het min boere dit gewaag om 'n dam oor 'n spruit te bou. Die oewereienaars laer af sou sonder meer en sonder aansien van die persoon so 'n waaghals voor die geregshof gesleep het aangesien so 'n dam hulle waters sou afgesny het.

Vandag is dit net andersom. Die laerliggende oewerboere is bly om 'n dam of damme hoër op in aanbou te sien. Ja, hulle spoor selfs die boonste boere aan. Hier en daar word een of ander selfs gedreig as by nie die waters wil versper nie. Hulle weet vandag dat binne enkele maande, miskien jare, nadat so 'n dam water begin vang het hulle 'n kristalhelder permanente fontein ryker kan word.

Tot onlangs nog het ons allerweë gehoor dat Suid-Afrika aan die opdroog is. Maar Cradock het omgeswaai. Gedurende die afgelope ses jaar het Cradock beslis meer waterryk geword as wat dit vir die afgelope 30 tot 40 jaar was.

Die kaal laagtes en die naakte, dorre, barre dongas van vroeër dae is vandag in baie gevalle in lushowe van water en gras omskep. Want Cradock se boere het bewaringsbewus geword en aangespoor deur gunstiger wolpryse en die fasiliteite wat kragtens die Grondbewaringswet verleen word, is bewaringswerke en spreiwalle vir die vloedbesproeiing van laagtes in toenemende mate gebou.

 

Leistrome uit fonteine

Sommer gou is die vrugte daarvan gepluk. Waar vroeër water net in goeie jare gesien is. is daar vandag permanente leistrome uit fonteine.

Om maar 'n paar te noem: Gaan kyk by mnr. Fred van Zyl. Montagu-plaas. Sy fontein het so verswak dat hy 'n put daarin moes grawe en die water in die fontein se leisloot moes uitpomp om sy gesaaides aan die lewe te hou. Een groot gronddam aan die onderent van 'n verspoelde vlei, maar bokant hierdie fontein, het die fontein gedurende die afgelope drie jaar reeds so versterk dat die leistroom in die fonteinsloot weer loop, die pompery gestaak is en 35 morge lusern op 'n hoë peil van produksie gehou kan word.

Of gaan kyk by mnr. Schalk Vorster, Mistkraal. Een groot studam oor 'n diep uitgespoelde waterloop het 'n fontein laat ontstaan waar vroeër nie water was nie. Vir die afgelope vier jaar pomp Schalk Vorster hieruit 60,000 gallon water per uur om 20 morge waardevolle lusern te besproei. Trouens, hierdie fontein is so sterk dat die buurplaas Nooitgedacht van mnr. A. Moolman laer af vandag 'n permanente leistroom het.

Afkamping, somerbesparing en twee bewaringswerke ter herwinning van 'n eertydse vlei wat ontaard het tot 'n reeks van dongas en lappe kaalgrond op Suurfontein, die plaas van mnr. L. L. Scheepers, het nie alleen vinnige vordering in die gehalte en bedekking van hierdie stuk veld meegebring nie, maar ook op die koop toe het daar waar daar vroeër net 'n nat kol was, 'n fontein ontspring wat 8,000 gallon per uur gee. Hiervandaan loop vandag 'n pyplyn, 6,800 vt. lank en 4 duim dik, wat dag-en-nag 4,200 gallon per uur aan die bo-ent van sy landerye lewer waar 20 morge lusern, so goed soos die beste in die land, besproei word.

 

Helpende Hand

Die helpende hand van die mens op strategiese plekke is werklikwaar baie ryklik deur die natuur in die Kwaairivier-streek van die distrik Cradock beloon.

In die jare tagtig was Kwaairivier se steilerige afloopbaan geen rivier nie, maar wel 'n laagte vol matjiesgoed en ruigte. Die on transportpad na Burgersdorp het daarlangs opgekronkel. Daar was volop fonteine. Water kon op baie plekke met 'n graaf uitgekeer word en die boere het redelik maklik gelewe. Kwaai en aanhoudende reëns in daardie jare het egter 'n natuurlike keerbank laat padgee en dongas is in die transportpad geruk. Soos dit maar destyds gegaan het, is ook die nuwe paaie langs die verspoelde dele gou uitgery ... al dieper en verder het die dongas stroomop teruggevreet. Vandag is hierdie riviertjie met talryke vingerslote aan weerskante nêrens vlakker as 20 voet nie en is hy uitgespoel van onder tot bo en tot op sy ysterklipfondament. Wat 'n tragedie van gebroke grond!

Die rivier het toe werklik na sy naam "Kwaairivier " geaard. Vanaf sy oorsprong tot by sy uitmonding in die Groot Visrivier is hy maar 12 myl lank maar die vaart van sy waters in sy steil afloopbaan, is so " kwaai" dat hy binne agt uur na goeie reëns totaal afgeloop het en na mate die walle van die slote droog geword het, het meer grond afgekrummel om met die volgende vloed meegevoer te word.

Sedert 1923 het sy fonteine een na die ander opgedroog totdat slegs die plaas Grootfontein no. 1 'n lekstraaltjie gehad het wat agt dae geneem het om sy fonteindammetjie vol te loop. Die een boorgat na die ander is toe gesink, egter sonder veel sukses. Op een plek het 'n boer se moed tot 275 voet diep in soliede ysterklip gehou, maar geen water is oopgeboor nie. Trouens oor 'n afstand van agt myl langs die rivier is daar vandag slegs vier suksesvolle boorgate. Die toestand was dus benard. Daar was skaars genoeg water vir huisgebruik en veesuiping en niks vir landerye nie. Die boordery na water het gate in die beurse van die boere gemaak.

 

Resultate Aansteeklik

Die keerpunt het ses jaar gelede gekom toe mnr. Eben Meyburgh na die beplanning van sy plaas Elandsfontein in die boloop van die Kwaairivier met sy bewaringswerke begin het. Binne twee jaar het sy fontein wat meer dood as lewend was, herlewe en 2,000 gallon per uur gelewer en nuwe lewe gebring. Die opgegaarde waters het later vier myI laer af by mnr. B. M. Botha, Uitkyk, uitgeborrel sodat 8 morge lusern daar .vir die eerste maal in die geskiedenis gekweek kon word.

Sulke resultate het aansteeklik gewerk en die boere het begin damme bou. Twee myI laer af het mnr. N. J . Grobbelaar se £2,000-dam op Grootfontein No.1 ook wonders verrig. Drie maande nadat die dam vir die eerste maal water gevang het, het sy "grootfontein" skielik teen 6,000 gallon per uur uitgeborrel. Sy fonteindam is tans tweemaal so groot gemaak en loop binne 24 uur vol i.p.v. agt dae vir 'n halwe dam soos vroeër. 'n Paar maande later het die fontein of Grootfontein no. 2 van mnr. S. J. van Heerden 'n myI of twee laer af ook met bykans 4,000 gallon per uur verbeter. Hier kon lusern ook twee jaar gelede vir die eerste maal in die geskiedenis gevestig word.

Altesaam is daar vandag op die vyf plase langs die Kwaairivier sowat 60 morge onder besproeiing waarvan 30 marge reeds onder lusern is. Tans is daar nog maar tien redelike groot werke in die rivier ert sy sytakke gebou. Nietemin neem dit vandag reeds twee dae na on groot waterloop verby is voordat die stroompie helder water wat daarop volg in die rivier gaan staan. Twee en miskien drie van die eertydse natuurlike keerbanke wat vandag erg verspoel is, dien ook nog herstel te word. Met die. Voltooiing van hierdie werke en dog kleinere sekondêre werke wat nodig is, sal hierdie gebied sy eertydse glorie binne enkele jare herwin.

 

Van Onskatbare Waarde

Op groter skaal is die Vlekpoortrivier ook 'n sprekende voorbeeld van die groot voordele verbonde aan herwinningswerke. Weliswaar, het die Staat groot bedrae bestee om herwinningswerke in die rivier te bou. Van die eertydse dorre rivier is reeds 25 myI nou nooit meer droog nie. Plek-plek staan waterkuile en plek-plek is die onderaardse water binne 'n paar duim van die oppervlakte aan die beweeg want waar die rotslae vlak is, loop 'n sterk leistroom van minstens 22,000 gallon per uur in die droogste maande. Hierdie water, altyd 'n belangrike produksiefaktor, sal mettertyd vergoed vir die koste verbonde aan die werke.

Selfs sonder enige werke het net die blote besparing van die veld gedurende die somergroeiseisoen die plantbedekking in so 'n mate vermeerder en derhalwe die afloop sodanig verminder dat 'n droë kamp wat mnr. Pierre Lombard, De Hoop, twee jaar gelede gekoop het soveel fonteine gekry het dat by dwarsdeur die afgelope droogte genoeg water vir sy vee gebad het.

Toe, sonder werke, 'n waterbaan gespaar is.het die watertafel in 'n put van 18 voet in 'n vlei by mnr. Willie van Rensburg, van Kleinplaas, tot ses voet van bo gestyg. Die fonteinsloot wat vir baie jare gelede gebruik is om water na mnr. Toefel van Heerden se lande op Kaalplaas te lei, het in Januarie verlede jaar na twee jaar van veldspaar in sy vlei weer begin loop. Hier is weliswaar 'n paar spreiwalle teen geringe koste gebou. Nietemin sonder die digte plantbedekking wat die water vasgebou het, sou daar geen fontein ontstaan het nie.

Dit sal derhalwe interessant wees om te sien hoe gou en hoe sterk die waters by Driefontein en Holtzhuisbaken gaan word nadat die Spoorweë en die plaaslike munisipaliteit die bewaringswerke volt.ooi het wat hulle in die oog het. Hierdie waters sal akkuraat voor en na die tyd gemeet word en die inligting sal vir alma! besonder waardevol wees. Veral sal die produksie-moontlikhede van hierdie versterkte onderaardse waters vir die boer en die land van onskatbare waarde wees. 'n Morg onder lusern is vir enige Karooboer besonder waardevol want dit is dikwels die spil waarom sy sukses as veeboer draai.

Aangespoor deur die resultate wat bewaringsboerdery afgewerp het, word bewaringswerke in Cradock, Tarkastad en Hofmeyr op steeds toenemende skaal aangepak. Die jaar tevore is in hierdie drie distrikte alleen boerewerke ter waarde van £105,000 gebou terwyl maatreëls vir goeie weidingsbeheer in steeds toenemende mate navolging vind sodat 'n nuwe tydperk van bloei en vooruitgang vir hierdie dele aangebreek het.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 30(1)