Last update: March 30, 2012 02:41:32 PM E-mail Print

 

KEN DIE POTENSIAAL VAN U PLAAS EN BOER DAARVOLGENS

AJ Sieker

 

Die bodemgesteldheid van die ekstensiewe veegebiede verswak nog steeds teen 'n onrusbarende tempo, het Dr. A.J. Siepker Assistent-direkteur (Hulpbronne) van die Karoostreek tydens die Novemberboeredag op Carnarvon gesê.

Dit gebeur ten spyte van verreikende pogings - soos onder andere die veeverminderingskema, weidingsnoodhulp, asook plaasbeplanning onder die Grondbewaringswet - om gronderosie en veldagteruitgang te stuit.

Wanneer 'n noukeurige ontleding van die situasie gemaak word - en aanvaar word dat droogtes 'n deel daarvan is - kom dit, volgens dr. Siepker, aan die lig dat onoordeelkundige benutting van die weiveld die grootste enkele faktor is wat tot ondoeltreffendheid in die boerdery en gevolglik tot bodem agteruitgang aanleiding gee.

Die ekstensiewe boerderygebiede beskik oor 'n inherente landboupotensiaal wat die produksiemoontlikhede bepaal. Dit vloei voort uit die invloede wat uitgeoefen word deur natuurlike omgewingsfaktore waarvan klimaat, topografie, grond en plantegroei die belangrikste is.

Hoewel die natuurlike omgewingsfaktore 'n sekere plantegroeisamestelling daarstel, wys dr. Siepker daarop dat daar ook 'n beskermings- of kwesbaarheidsfaktor is wat met die oog op gesonde langtermynproduksie in ag geneem moet word, anders neem erosie en indringerplante oor. Grond moet dus volgens sy potensiaal benut en volgens sy behoeftes behandel word, het hy gesê.

Die toepassing van doeltreffende boerderypraktyke en -tegnieke is van die allergrootste belang, want dit sal grootliks bepaal of daar 'n wins gemaak of 'n verlies gely word. Die grootste hindernis hier is te klein plase, want dit is net nie moontlik om die hulpbronne optimaal te benut en dan nog 'n menswaardige bestaan op so 'n klein plaas te maak nie.

Ander oorsake van wanaangepaste benuttingstelsels kan teruggevoer word na of ekonomiese druk of selfs 'n materialistiese of spekulatiewe gees. Daar sal dus groot aanpassings gemaak moet word om die natuurlike hulpbronne, waarvan weiveld die belangrikste is, nie te ooreis nie. Om sinvolle aanpassings te kan maak, is dit nodig dat elkeen soveel kennis en ervaring oor die hulpbronne as moontlik moet opdoen.

Dr. Siepker het aan die boere verduidelik hoe die hulpbronne deur die Departement van Landbou geklassifiseer word. Die basis van klassifikasie is landtipes waar klimaat, grond en topografie merkbaar eenvormig is, het hy gesê. Die word weer, waar paslik, gegroepeer om redelike homogene boerderygebiede te vorm om sodanig meer praktiese werksgebiede af te baken. Elke RHB is dan redelik uniform wat potensiële bedryfstakke, produksietegnieke en opbrengste betref.

As die boer se weiveld eers deeglik volgens hierdie sisteem ontleed is, moet dit ooreenkomstig sy potensiaal benut en sy behoeftes behandel word, het dr. Siepker benadruk.

Daar is sekere produksietegnieke binne elke redelik homogene boerderygebied wat groot invloed het op die produksieproses en wat dus veral aandag moet kry, het hy gesê. Die belangrikste van hierdie is: afkamping van plase met die nodige veesuipings, toepassing van wisselweidingstelsels (groepkampstelsels), skuiling teen weersomstandighede, weidingskapasiteite, byvoeding tydens droogtes, aanplanting van droogtebestande voergewasse en beheer van onkruid en indringerplante.

Boere moet verder prioriteit gee aan aangepaste veerasse, bestryding van siektes en parasiete, verhoogde vrugbaarheid, kuddesamestellings, persentasie ramme met ooie gepaar, lam- en speenpersentasie asook speenouderdom en -massa.

Volgens dr. Siepker is die einddoel om vir elke redelik homogene boerderygebied 'n optimale boerderystelsel daar te stel en deur oorredingsprogramme 'n vaste gehoor te bewerkstellig waardeur die stelsel toepassing kan vind.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Somer