Last update: April 3, 2012 12:17:10 PM E-mail Print

 

DIE PRAKTYKE VAN VELDBEWARING

 

Die doel van veldbewaring is om so 'n dig moontlike plantbedekking onder die heersende klimaats- en grondtoestande daar te stel en om terselfdertyd 'n ekonomiese benutting van daardie veld te kry.

Hieruit blyk dit duidelik dat enige doeltreffende metode van veldbenuttiging aan twee hoofvereistes moet voldoen, naamlik dit moet die behoeftes van beide veld en vee in ag neem.

Die Grondbewaringswet bepaal dat een-derde van ons veld jaarliks aan beweiding onttrek moet word. Hierdie bepaling kan op verskeie maniere in die praktyk beoefen word. Om binne hierdie bepaling die maksimum voordele te kry, moet die volgende in ag geneem word.

 

1. Veld

Om die maksimum produksie van die veld te verkry, moet dit toegelaat word om tot die klimaksstadium te ontwikkel. Dit sal alleen bereik kan word as die volgende praktyke uitgevoer word:

 

(a) Afkamp van veldsoorte

Op die meeste plase kom daar 'n verskeidenheid van grondsoorte en gronddieptes voor wat verskil in hulle plantesamestelling en smaaklikheid. Om die oorbenutting van ons beste veldsoorte te bekamp en hulle toe te laat om ten volle te ontwikkel, moet die verskillende veldsoorte apart afgekamp word. Veral die meer waardevolle veldsoorte soos waterbane en leegtes moet voorkeurbehandeling kry.

 

(b) Onderverdeling in kampe

Die blote afkamp van veldsoorte sal nog nie die boer in staat stel om In gesonde stelsel van veldbeheer toe te pas nie en verdere onderverdeling van kampe is nodig om by elke besondere plaas se omstandighede en bestuurspraktyke aan te pas. Die aantal kampe sal dus bepaal word deur die stelsel van boerdery op elke plaas.

 

(c) Spaar van veld

Wanneer genoeg kampe beskikbaar is, moet stelselmatige veldbeheer toegepas word. Die rusperiodes van kampe moet sodanig wees dat die plantegroei die maksimum voordeel uit die rusperiode kan behaal. Die periodes van beweiding hierna moet egter weer so wees dat die vee die volle voordeel van die spaarveld kan geniet.

Hoe hierdie rusperiodes ingespan kan word, sal behandel word nadat die behoeftes van die vee behandel is.

 

2.Vee

Die stelsel van veldbenuttiging moet sodanig wees dat die vee die voedsame veld tot hul beskikking moet hê gedurende tye wanneer hulle dit wel nodig het.

  1. In hierdie verband is die dier se invloed op die produksie en smaaklikheid van die plantegroei van belang .Kortliks kom dit daarop neer dat hoe jonger of korter plantegroei is, hoe smaakliker of voedsamer is daardie plante. Aan die ander kant is dit egter ook waar dat plante wat gereeld kort gevreet is, nie dieselfde produksie kan lewer as sterkgroeiende plante nie, hoofsaaklik omdat hulle wortelstelsel te klein is.  

  2. Die dier het ook ‘n invloed op die gehalte van die plantegroei. Onder onbeheerde toestande vreet die diere sekere veldsoorte of sekere plantsoorte selektief uit sodat die getalle van die veld afneem. Dit is dus belangrik dat veldsoorte in die eerste plek geskei word en tweedens dat kampe gereeld aan ‘n redelik swaar weidingsdruk onderhewig moet wees om egalige benuttiging te verkry, maar dit moet gevolg word deur ‘n rusperiode sodat die plantegroei ‘n geleentheid kry om te herstel.  

  3. Sekere tipes diere het hoër voedingsbehoeftes as ander. Hierdie diere is kortliks:  

            Dragtige ooie

            Lammerooie

            Speenlammers

            Wissellammers

            Ooie wat gepaar word

 

Die bestuursprogram moet sodanig wees dat hierdie tipes diere sover moontlik altyd die beste voedingstoestande kry,dit wil sê spaarveld indien moontlik.

 

3. Stelselmatige veldbeheer

Die veld of plant se behoeftes in die dorre gebiede kan die beste voorsien word deur die toekenning van 'n lang rusperiode van 12 maande of selfs langer. In die praktyk kom dit daarop neer dat een-derde van die veld vir 'n periode van 12 maande gespaar word. Hierdie rusperiode begin gewoonlik in Februarie vir die dorre westelike gebiede en September vir die meer vogtige oostelike gebiede van die Karoostreek.

Die gebruik van die orige twee-derdes word aan die oordeel van die boer oorgelaat. Indien die orige twee-derdes egter aanhoudend gebruik sou word, sou dit beteken dat elke kamp twee jaar bewei word en een jaar daarna gespaar word. Baie groter nut sal uit hierdie kampe verkry word indien hulle afwisselend gebruik sou word, dit wil sê elke derde word vir ongeveer drie maande gebruik en daarna word oorgeskakel na die orige derde. Die kondisie van die dier word dan hier gebruik as maatstaf om te bepaal wanneer kampe geruil moet word. Dit sal ook die verdere voordeel meebring dat dieselfde kampe nie jaarliks gedurende dieselfde seisoen bewei word nie.

Om hierdie beginsels in die praktyk toe te pas, is dit egter van die allergrootste belang dat daar genoeg kampe moet wees vir al die verskillende veetroppe, en om dan selfs nog 'n paar ekstra kampe beskikbaar te hê om voorsiening te maak vir periodes van paring en lamtyd wanneer die vee se voedingsbehoeftes hoër is as gewoonlik.

Weens die feit dat veldsoorte apart afgekamp word, kan sekere benuttigingsprobleme ontstaan aangesien vee dan beperk word tot ‘n redelik eentonige dieet. Dit kan in die praktyk opgelos word deur al die kampe op die plaas te groepeer en dan die beginsels van die weidingstelsels op die groepe kampe toe te pas. In elke groep kampe moet ‘n verteenwoordigende monster wees van elke veldsoort op die plaas. Wanneer die groep kampe se beurt vir beweiding kom, kan die vee binne die groep kampe gebruik word soos dit die beste in hulle behoeftes pas en daar kan selfs 'n uitruiling van troppe vee tussen kampe wees.

Om hierdie beginsels op 'n buigsame metode toe te pas, is dit weer eens van die grootste belang dat daar 'n genoegsame getal kampe moet wees. Dit kom dus daarop neer dat die basiese verdeling van 'n plaas in kampe geskied volgens veldsoorte. Enige onderverdeling daarna, is bloot ‘n bestuursaspek en dit sal afhang van elke besondere plaas se besondere boerderystelsel, aantal veetroppe en die stelsel van benuttiging wat gevolg gaan word.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Junie 1975