Last update: April 3, 2012 12:29:39 PM E-mail Print

 

PRESTASIETOETSING VAN WOLSKAPE

 

deur G.J.ERASMUS

Verantwoordelike Beampte, S.A. Vagtoetssentrum

 

Goed georganiseerde en uitgebreide prestasietoetsskemas vorm vandag die kern waarom bykans aIle rasteelt en veeverbetering in ontwikkelde Westerse lande gesentreer is. Hierdie tendens is die logiese uitvloeisel van die aanvaarding en toepassing van wetenskaplike teeltbeginsels. In die moderne benadering van teeltverbetering het die klem a.g.v. die inherente eienskap van variasie, soos in die vorige artikel deur dr. Nel bespreek, verskuif na bevolkings of groepe instede van individue.

Die moderne teler se werkseenheid is dus die stoet of kudde as geheel en nie die individu nie, en sy strewe is die verbetering van die gemiddelde produksie van 'n groep en nie die daarstelling van 'n ideale tipe nie. Dit is vanselfsprekend dat sodra hierdie beginsel aanvaar word, die logiese stap is om produksie te meet en uit te druk in syfers waarvan gemiddeldes en ander statistieke bereken kan word. Prestasietoetsing kan met reg beskou word as die eerste en onontbeerlike stap in die toepassing van moderne wetenskaplike teeltbeginsels tot veeverbetering.

Die teler van wolskape is in die gelukkige posisie dat die meeste eienskappe van ekonomiese belang akkuraat gemeet kan word en ook oor die algemeen redelik hoog oorerflik is. Aan die ander kant is daar egter heelwat eienskappe wat met seleksie in ag geneem moet word wat seleksievordering aansienlik kan vertraag - vandaar die algemene stelling dat die wolskaap so 'n moeilike dier is om te teel. Die teler moet dus waak dat hy nie sy taak nog moeiliker maak deur vir eienskappe van geen of twyfelagtige waarde te selekteer nie.

Die S.A. Prestasietoetsskema vir wolskape is 'n Staatshulpskema daargestel om die telers van wolskape behulpsaam te wees deur sekere metings en berekenings vir hulle te doen, en om hulle voor te lig in die aanwending van wetenskaplike teeltbeginsels. Die volgende metings word tans deur die Skema uitgevoer:

(i) Vagmassa: Die ruvagmassa sowel as die skoonvagmassa, dit wil sê die hoeveelheid skoonwol wat die skaap produseer, word bepaal.

(ii) Die skoonopbrengspersentasie as sodanig

(iii) Gemiddelde veseldikte

(iv) Stapellengte

(v) Aantal kartels per 25 mm

(vi) Liggaamsmassa en op versoek ook daaglikse groeitoename

(vii) Vrugbaarheid soos aangedui deur 'n rekord van die lamprestasies van elke ooi

 

Hoewel nie slegs hierdie eienskappe in aanmerking geneem word nie, is sommige van hulle tog van wesenlike belang. Dit is moeilik om 'n seleksieprogram vir wolskape voor te stel waar vagmassa, liggaamsmassa en vrugbaarheid nie in ag geneem word nie.

Die teler is self verantwoordelik vir die neem van vagmassa, liggaamsmassa en die aanstuur van 'n wolmonster van 150 gram (benaderd) t.o.v. elke jong ram op om en by tweetandouderdom.

 

NEEM VAN WOLMONSTERS

Wolmonsterneming geskied in die skeerhok terwyl die skape geskeer word. Dit kan in die volgende stappe verdeel word:

(a) Met 'n stukkie gekleurde kryt (of nat blousel) word 'n kol op die middelrib van die skaap gemaak net voordat dit afgeskeer word. Hierdie kol dien as aanduiding van waar die wolmonster uiteindelik geneem moet word.

(b) Die nommer van die skaap word op 'n klein kaartjie geskryf en by die vag wat geskeer word gelaat om te verhoed dat die vagte deurmekaar raak.

(c) Die neem van die wolmonster uit die vag kan geskied -

(i) terwyl die skaap afgeskeer word,

(ii) wanneer die vag op die sorteertafel lê of

(iii) die monster kan uitgeskeer word nog voordat die skaap afgeskeer is.

In geval van kortwol werk metode (i) uitstekend, terwyl metode (ii) slegs met langwol doeltreffend geskied. Metode (iii) is 'n tydsame en betreklik moeilike proses en word net in sekere gevalle uitgevoer.

(d) Nadat die skaap afgeskeer is, word die vag tesame met die kaartjie op 'n wolpan of wolmat geplaas om die vagmassa te meet. Die massa van die vag word dan op die kaartjie genoteer.

(e) Die wolmonster tesame met die kaartjie word dan in 'n plastieksakkie geplaas wat goed toegemaak word om vogindringing of –verlies te voorkom.

 

Neem van liggaamsmassas

Nadat die skape afgeskeer is, word die skape se liggaamsmassa tot die naaste kilogram gemeet. (Dit is noodsaaklik dat die skape dieselfde behandeling gekry het voordat hulle massa gemeet word, byvoorbeeld ewe lank in skeerhok, ens.). Die liggaamsmassas word op 'n aparte vel papier aangeteken.

Om die groeivermoë vas te stel word die liggaamsmassa op twee ouderdomme gemeet, bv. Op speen- en tien maande-ouderdom.

 

Algemene inligting:

Die volgende inligting moet ook verstrek word:

(a) Ouderdom van skaap (verkieslik in maande),

(b) geslag,

(c) huidige en vorige skeerdatums (om wolgroeitydperk vas te stel) en

(d) geboortestaat (een- of meerlinggeboorte)

 

Die wolmonsters en die inligting word gestuur aan:

Die Verantwoordelike Beampte
S.A. Vagtoetssentrum
Landboukollege
MIDDELBURG
5900

 

Die teler ontvang die ontledingsresultate en verwerkte gegewens in 'n duidelik uiteengesette vorm terug.

Vir elke ram word 'n indeks bereken op skoonvagmassa en een op liggaamsmassa verskaf. Hierdie indekse dui in 'n oogopslag aan hoe elke ram in vergelyking met sy maats presteer het t.o.v. hierdie twee belangrike eienskappe. Die gemiddelde van die groep word as 100 geneem. 'n Ram met 'n indeks van 120 is dus 20 persent bo die gemiddeld terwyl een met 'n indeks van 80, 20 persent onder die gemiddelde is. Omdat nie-oorerflike faktore soos voeding, bestuur en ouderdom so 'n groot rol speel in die produksie van 'n skaap, is dit noodsaaklik dat skape onderworpe aan prestasietoetsing dieselfde toestande geniet en ewe oud moet wees. Sodoende kan daardie diere uitgeken word wat geneties meerderwaardig is en nie slegs beter presteer omdat bulle bv. beter toestande geniet het of ouer is nie. Om hierdie rede is dit dus haas onmoontlik om vergelykings tussen ramme van verskillende telers, afkomstig van verskillende plase, te maak. So moes baie boere al tot hul spyt erken dat bulle besonder duur lusern en mieliemeel in plaas van 'n goeie ram gekoop het en heelwat stoettelers moes al die stryd gewonne gee omdat bulle nie 'n "stoetplaas" besit nie.

Deur slegs een ram of 'n paar ramme te toets kan die teler nie die afleiding maak dat dit 'n goeie of swak ram is nie. Die hele konsep van seleksie berus op vergelykings tussen diere wat dieselfde toestande en nie-erflike faktore, wat tot hul vertoning mag bydra, geniet het. Die teler moet dus al sy ramme wat behoue gebly het nadat by sy voorlopige seleksie-met-die-hand-en-oog uitgevoer het, aan prestasietoetsing onderwerp. Hy moet ook sorg dat hulle almal dieselfde toestande geniet het.

 

Aansluiting by die S.A. Prestasietoetsskema vir Wolskape

Enige geregistreerde teler van 'n erkende wolskaapras kan by die Prestasietoetsskema aansluit. Hy moet egter eers 'n vierdaagse kursus in die beginsels van prestasietoetsing aan die S.A. Vagtoetssentrum voltooi. Die prestasietoetsskema meng nie in met teeltbeleid nie en Iê ook nie seleksiemaatstawwe neer nie. Die teler verloor beslis nie sy individualiteit nie, omdat prestasietoetsing juis 'n waardevolle hulpmiddel is wat 'n teler kan help om sy volle vernuf tot ontplooiing te bring. Kennis van moderne teeltbeginsels en -tegnieke kan vir hom nuwe deure oopmaak en hom tot nuwe hoogtes lei. Volle besonderhede oor lidmaatskap tot die skema is beskikbaar by: Die Verantwoordelike Beampte, S.A. Vagtoetssentrum, Landboukollege Grootfontein, Middelburg 5900.

 

Wat van die kuddeboer?

Namate prestasietoetsing 'n meer algemene verskynsel in die wolskaapbedryf word sa! die kuddeboer by ram aankope met inligting en syfers gekonfronteer word wat vir hom vreemd mag wees.

Hierdie inligting kan egter vir hom van groot waarde wees en dit is dus belangrik dat hy dit sal kan interpreteer. Die S.A. Vagtoetssentrum bied derhalwe ook dagkursusse of lesings oor die interpretasie van die prestasietoets gegewens op aanvraag in die veld aan kuddeboere aan. Omdat teeltvordering wat in 'n betrokke stoet gemaak word in 'n groot mate aan die kuddeboer wat daar ramme koop oorgedra word, is dit vir die kuddeboer belangrik om te weet wat daar in die stoet aangaan. Hy kan dus gerus by die teler verneem of hyself ook prestasiegetoetste ramme in sy stoet gebruik.

Dit is natuurlik wenslik vir die kuddeboer om die ramme met die hoogste indekse wat hy kan bekostig te koop. Sy persoonlike voorkeur en doelstellings sal bepaal of hy meer klem op die skoonvagmassa- of liggaamsmassa-indeks sal lê. Nadat hy die ramme met die hoogste indekse uitgesoek bet, gaan hy die prestasietoesbesonderhede verder deur om te sien of die ramme wat die ander gemete eienskappe betref nie te veel afwyk nie. Die veseldikte mag miskien te hoog of die stapellengte te laag wees. Die ramme word dan ook met die hand en oog deurgegaan om te sien of hulle verder in sy smaak val.

Dit is belangrik om te besef dat prestasietoetsing nie as sodanig 'n teelsisteem uitmaak nie.

Dit is slegs 'n metode van meer akkurate evaluasie van sekere belangrike eienskappe. Dit is egter iets waarsonder die moderne teler nie kan klaarkom nie. Omdat dit nog 'n betreklik nuwe begrip vir die Suid-Afrikaanse skaapboer is, is voorligting oor die aanwending daarvan een van die belangrikste funksies van die Prestasietoetsskema. Die personeel van hierdie Skema voorsien graag hulp en advies aan enige teler van wolskape.

 

Published

Bladskrif : Wolproduksie B 3/1975