Last update: March 30, 2012 10:10:40 AM E-mail Print

 

DIE EFFEK VAN PRIKKELVOEDING OP DIE REPRODUKSIEVERMOë VAN MERINOSKAPE EN ANGORABOKKE

 

P.G. LOUBSER

Diereproduksie

Landboukollege Grootfontein

Middelburg KP 5900

 

 

Die gebruik van prikkelvoeding vanaf ongeveer twee weke voor paartyd ten einde reproduksie te verhoog, is 'n algemeen bekende praktyk wat hoofsaaklik aangewend word wanneer ooie buite die natuurlike paarseisoen gepaar word. In die Karoostreek is die belangrikste voedingstekort wat normaalweg voorkom een van energie en kan dit dus verwag word dat energie-aanvulling die prestasie van diere sal beïnvloed.

'n Proef is derhalwe beplan om die effek van energieprikkelvoeding gedurende die natuurlike paarseisoen op die reproduksie-prestasie van Merino- en Angorabokooie te ondersoek.

Twee-en-sewentig volwasse Angorabokooie en honderd-en-negentien Merino-ooie is volgens liggaamsmassa eweredig in twee groepe verdeel: die een groep het prikkelvoeding van 400 g sjokolademielies per ooi per dag ontvang, terwyl die kontrolegroep geen byvoeding ontvang het nie. Die prikkelvoedingstydperk het vanaf 3 weke voor paartyd tot en met die vierde week van die paarperiode gestrek. Die veldtipe waarop die diere vir hierdie tydperk (en wel gedurende die aktiewe teelseisoen) aangehou was, is 'n gemengde struik- en grasveld, wat in 'n relatiewe goeie toestand verkeer het. Alle proefdiere het vanaf die tweede week van prikkelvoeding 'n behandeling van MAP sponse, gevolg deur prostaglandieninspuitings, ontvang ten einde bronstigheid te sinkroniseer. Gedurende die vierde week van prikkelvoeding is die diere met behulp van aktiewe koggelramme twee maal daagliks vir bronstigheid getoets en vervolgens met vrugbare, klinies-gesonde ramme handgedek. Handdekking is volgehou totdat die ooie nie meer paring toegelaat het nie. Twee weke na die eerste paring is die ooie weer vir bronstigheid getoets en die wat wel op hitte was, is weer gepaar.

 

RESULTATE

(i) Reproduksie by Merino-ooie

Die effek van prikkelvoeding op die reproduksievermoë van Merino-ooie word in Tabel 1 aangetoon.

Volgens die resultate, soos aangetoon in Tabel 1, het 'n 400 g sjokolademielie-byvoeding per ooi per dag voor en tydens die dektyd 'n aansienlike verhoging van 24,5% in die aanteelpersentasie by Merino-ooie veroorsaak, dit is 91,5 % vir die prikkelvoedingsgroep versus 67 % vir die kontrole groep. In terme van fekunditeit (% lammers gebore/ooie gelam) was die verhoging 25% ten gunste van die groep ooie wat prikkelvoeding ontvang het (146% versus 121 % ).

 

 

'n Verdere interessante verskynsel was die feit dat prikkelvoeding geen merkbare effek op die persentasie ooie wat op die hormonale sinkronisasie-behandeling reageer het, gehad het nie. In die geval van die prikkelvoedingsgroep het 81 % ooie op hitte gekom en in die kontrole groep 80 %. Ten opsigte van konsepsie (%ooie gelam/ooie gepaar) was daar slegs 'n verskil van 8 % ten gunste van die groep wat prikkelvoeding ontvang het.

 

(ii) Reproduksie by Angorabokooie

Die effek van prikkelvoeding op die reproduksievermoë van Angorabokooie word in Tabel 2 aangetoon. Vit Tabel 2 is dit duidelik dat prikkelvoeding by Angorabokooie voor en tydens die dekperiode ook 'n merkbare verhoging in die aanteelpersentasie veroorsaak het. 'n Verhoging van 17% in lampersentasie ( % lammers gebore/ooie gepaar) het voorgekom - 125 % versus 108 % ten gunste van die prikkelvoedingsgroep. Prikkelvoeding het ook 'n merkbare verhoging in fekunditeit ( % lammers gebore/ooie gelam) van 30% veroorsaak - 145% versus 115% ten gunste van die prikkelvoedingsgroep. Soos in die geval van die Merino-ooie, het prikkelvoeding nie die sinkronisasiereaksie of konsepsiepersentasie beïnvloed nie.

 

 

(iii) Liggaamsmassa by Merino- en Angorabokooie In die volgende figure word die veranderinge in die gemiddelde liggaamsmassas van die verskillende behandelingsgroepe gedurende die proefperiode aangetoon.

 

By beide die Angorabokooie en die Merino-ooie het prikkelvoeding 'n merkbare (p< 0,01) styging in liggaamsmassa veroorsaak. Toename in liggaamsgewig by die Merino-ooie was 2,01 kg en by die Angorabokooie 3,28 kg. In teenstelling hiermee het die twee kontrole groepe geen noemenswaardige verandering in liggaamsmassa getoon nie (p > 0,05), wat aandui dat die veld genoeg voedsel voorsien het om die ooie op 'n vaste liggaamsmassa te hou. Die skerp daling in liggaamsmassa by die Merinoskape tydens die derde week, kan toegeskryf word aan 'n fratskoue met gepaardgaande reën gedurende daardie week. Hierdie daling was veral opmerklik in die geval van die kontrolegroep.

 

GEVOLGTREKKING

Volgens die resultate van hierdie proef is dit duidelik dat die gebruik van sjokolademielies as prikkelvoeding voor en tydens die dekperiode by beide Merino's en Angorabokke verhoging in die aanteelpersentasie veroorsaak het.

Ten opsigte van die Merino's is dit interessant om daarop te let dat in teenstelling met die algemeen aanvaarde riglyn dat prikkelvoeding gedurende die natuurlike paarseisoen Die 'n groot rol by reproduksie speel nie, dit in hierdie geval wel 'n merkbare invloed gehad het. Die gebruik van so 'n praktyk sal noodwendig bepaal word deur die koste daarvan teenoor die verhoogde inkomste wat deur die hoër aanteelpersentasie gerealiseer word.

In die geval van Angorabokke moet dit aanvaar word dat die aanteelpersentasie van die kontrolegroep (108 %) relatief hoog was, wat die effek van prikkelvoeding moontlik in 'n mate kon verskans het. Indien natuurlike weidingstoestande swakker was, kon die effek van prikkelvoeding dalk groter gewees het. Desnieteenstaande, dui die huidige resuItate wel op die voordelige invloed van prikkelvoeding op reproduksie en, veral in die lig van die groter aanvraag vir kleinbokkiehaar en vanuit 'n ekonomiese oogpunt gesien, kan so 'n praktyk aansienlike voordele vir die bokhaarprodusent inhou.

 

Published

Karoo Agric 3 (1), 21-24