Last update: September 2, 2011 02:12:33 PM E-mail Print

 

Fenotipiese parameters vir produksiekenmerke van Angorabokke

 

G.J. Delport

SA Vagtoetssentrum (NIVS)

Privaatsak X529

Middelburg Kaap

5900

 

 

INLEIDING

Die beskikbaarheid van wetenskaplike telingskennis is fundamenteel by die opstel van doeltreffende teeltplanne. Sulke teeltplanne stel weer telers in staat om meer doelgerig te selekteer en sodoende vinniger teelvordering in hulle kuddes te bewerkstellig.

Die prosedure wat gevolg word om 'n seleksiestelsel vir die teeltverbetering van produksie-eienskappe te ontwikkel, word algemeen aan die hand van die volgende stadia beskryf:

 

By die ontwikkeling van seleksiestelsels word die gegewens wat in die bogenoemde drie stadia ingesamel is, gekombineer in byvoorbeeld 'n seleksie-indeks soos deur Poggenpoel & Van der Westhuysen (1981) vir Angorabokke voorgestel Poggenpoel et al. wys in bulle oorsig juis op belangrike tekortkominge in die huidige kennis oor fenotipiese en genetiese parameters. Beskikbare beramings van die mate van fenotipiese variasie, fenotipiese korrelasies en oorerflikhede is op sulke klein getalle diere gebaseer dat Poggenpoel el al. Van verskeie aannames op basis van ondervinding met wolskape gebruik gemaak het by die opstel van hulle teeltplan. In sy oorsig oor die teeltverbetering van Angorabokke, spreek Shelton (1984) ook sy kommer uit oor die teenstrydigheid in die beskikbare genetiese en fenotipiese parameters. Volgens Shelton (1984) is veral genetiese parameters slegs van toepassing op die kuddes of populasies waaroor die beramings gemaak is.

Die studie waarna daar in hierdie artikel verwys word, is weliswaar op 'n klein aantal diere uitgevoer, maar in die lig van die huidige lae peil van telingskennis oor die Suid-Afrikaanse Angorabok kan die volgende gegewens moontlik 'n bydrae maak.

 

METODE

Vir die doel van die analise deur Delport & Erasmus (ongepubliseerd) is gebruik gemaak van ongepubliseerde gegewens wat deur Venter en medewerkers beskikbaar gestel is. 'n Volledige vag analise is elke 4 maande op 'n groep ongeselekteerde Angorabokke in die kudde van die Landboukollege Grootfontein uitgevoer. Die groep diere het aanvanklik uit 25 ooie, 25 kapaters en 25 ramme bestaan, maar na 76 maande was daar nog slegs 11 ooie, 15 kapaters en 13 ramme wat oorleef het. Data van hierdie diere is volgens die normale statistiese prosedures ontleed om KV's, herhaalbaarheid en fenotipiese korrelasies vas te stel.

 

RESULTATE EN BESPREKING

Variasie in kenmerke

Tabel 1 dui gemiddelde produksiewaardes, standaardafwykings en K V's aan. Die verpoelde gemiddelde kan as aanduiding van die produksiepeil onder veldtoestande te Jansenvilleproefstasie dien.

 

Volgens die getuienis van Poggenpoel & Van der Westhuysen (1981) is die KV vir veseldikte ongeveer 9% en vir haarmassa en liggaamsmassa ongeveer 15%. Die syfers in hierdie studie (Tabel 1) is dus in ooreenstemming met die van Poggenpoel et al. Hoewel glans moontlik van ekonomiese belang kan wees by die gehalte van sybokhaar, dui Tabel 1 'n lae K V vir hierdie eienskap aan. Die potensiaal vir moontlike seleksie vir hierdie eienskap is dus laag. Skoonopbrengspersentasie en persentasie egtehaar toon 'n soortgelyke lae K V .

Sommige van die eienskappe soos in Tabel 1 aangedui, kan slegs met groot koste gemeet word en behoort dus nie as roetine-metings vir die doel van seleksie oorweeg te word nie. Hierdie eienskappe sluit byvoorbeeld reguitlengte, lokgrootte, verviltingsvermëe, persentasie sweet en die pH daarvan, S/P-verhouding, follikeldigtheid en veldikte in Herhaalbaarheidsberamings en fenotipiese korrelasies sal dus beperk word tot eienskappe wat oorweeg kan word vir insluiting in 'n prestasietoetsskema om uiteindelik as inligting te dien waarop seleksie gebaseer kan word.

 

Herhaalbaarheid

Herhaalbaarheid kan gemeet word as die verhouding tussen die komponente van variasie wat permanente verskille tussen diere veroorsaak en die wat verskille tussen metings op dieselfde dier veroorsaak.

In die opstel van teeltplanne is dit noodsaaklik om te weet op watter stadium van 'n dier se leeftyd seleksie kan plaasvind ten einde leeftydsproduksie te verhoog en belangriker nog, genetiese vordering te bewerkstellig. Herhaalbaarheidsberamings kan nie alleen vir die bepaling van die korrekte ouderdom vir seleksie gebruik word nie, maar ook om die relatiewe waarde van een of meer rekords per dier vir seleksiedoeleindes te evalueer. Aangesien die prestasietoetsskema vir Angorabokke nog in 'n ontwikkelingstadium is, is die genoemde inligting dus van groot belang vir die korrekte uitvoering van die skema. In hierdie stadium word herhaalde metings nie oorweeg nie weens die koste verbonde aan die metings vir individuele deelnemers. Hierdie aspek is dus buite rekening gelaat vir die studie van Delport & Erasmus (ongepubliseerd).

 

Tabel 2 toon herhaalbaarheidsyfers en korrelasies met leeftydsproduksie aan vir metings wat op 12 maande ouderdom uitgevoer is. Hierdie ouderdom blyk die jongste ouderdom te wees waarop daar akkuraat geselekteer kan word vir die verhoging van leeftydsproduksie (Delport en Erasmus, ongepubliseerd).

Weens die proefuitleg was dit nodig om slegs jaareffekte in die analise te verwyder. Geen geslagsaktiwiteit is byvoorbeeld toegelaat nie en dit was dus nie nodig om daarvoor te korrigeer nie. Die klein standaardfoute van die beramings (Tabel 2) kan daaraan toegeskryf word dat daar reeds 18 metings per dier uitgevoer was tot op die ouderdom van 76 maande. Data van verskillende geslagte is saamgegroepeer as gevolg daarvan dat 'n klein aantal diere betrokke was en die herhaalbaarhede vir afsonderlike geslagte nie grootliks verskil het nie.

Volgens die algemene aanduiding deur Turner & Young (1969) kan herhaalbaarheidsyfers waarin een rekord per dier betrokke is, as hoog beskou word indien t≥ 0,60; medium indien 0,30 ≤ t ≤ 0,60; en laag indien t ≤ 0,30. AIle beramings in Tabel 2 behalwe die vir glans is hoër as 0,30. Die ramings vir veseldikte, krulfrekwensie en liggaamsmassa is hoër as 0,60 en kan dus as hoog herhaalbaar beskou word. Hierdie beramings is dus in ooreenstemming met die afleiding wat Poggenpoel & Van der Westhuysen (1981) in bulle literatuuroorsig gemaak het. Die korrelasies met leeftydsproduksie is met die uitsondering van loklengte medium tot hoog en redelike toenames in leeftydsproduksie met seleksie op 12 maande ouderdom kan dus verwag word. In die geval van loklengte is die akkuraatheid van meting onder verdenking en meer toepaslike tegnieke behoort dus oorweeg te word.

 

Korrelasies

Fenotipiese korrelasies word normaalweg binne subgroepe (soos geslag en ouderdom in hierdie geval) beraam en. indien daar 'n ooreenstemming is tussen die korrelasies, word bulle verpoel volgens subgroepe. Die data vir die ontleding in hierdie studie was egter van so 'n klein aantal diere afkomstig dat monstering die korrelasie binne subgroepe kon beïnvloed. Derhalwe word die korrelasies volgens subgroepe en vir 12 maande oue bokke (seleksie-ouderdom) aangebied. Die korrelasies in Tabelle 3 en 4 moet dus slegs as aanduiding gebruik word tot tyd en wyl daar betroubare resultate beskikbaar raak.

 

Shelton (1984) het die probleemareas wat korrelasies betref gedefinieer as die positiewe korrelasie tussen veseldikte en vagmassa, en tussen gesigsbedekking en produksie-eienskappe, asook die negatiewe genetiese korrelasies tussen haarproduksie met liggaamsmassa en reproduksietempo. Weens die aard van die beskikbare data is reproduksie-eienskappe weggelaat uit die ontleding. Die afleidings in hierdie studie sal beperk word tot die korrelasies waarin daar 'n redelike ooreenstemming binne subgroepe bestaan.

Dit is interessant om te let op die hoë positiewe korrelasie tussen rouhaarproduksie en skoonhaarproduksie. Die implikasie van hierdie korrelasie is voor-die-hand-liggend, naamlik dat dit nie noodsaaklik is om skoonhaarmassa te bepaal as seleksiemaatstaf ten einde haarproduksie te verhoog nie. Die tweede belangrike korrelasie is die hoë positiewe korrelasie tussen veseldikte en beide haarproduksie en liggaamsmassa. Daar kan verwag word dat seleksievordering in beide liggaamsmassa en haarproduksie ernstig gestrem sal word indien veseldikte terselfdertyd verlaag moet word ten einde die gehalte van die haar te verhoog. 'n Verblydende aspek is die relatief hoë positiewe korrelasie tussen liggaamsmassa en haarproduksie. Hierdie korrelasie dui, in teenstelling met die mening van Shelton (1984) oor genetiese korrelasies, op die moontlikheid van vinnige seleksievordering om produksie in die huidige generasie te verhoog sonder 'n nadelige effek van die twee eienskappe op mekaar. Korrelasies tussen die ander haareienskappe is oor die algemeen laag en/of variërend, sodat geen definitiewe gevolgtrekkings in hierdie stadium moontlik is nie.

Hoewel sekere korrelasies moontlik seleksievordering kan strem, is die vooruitsig om produksie aspekte op 'n wetenskaplike basis te verbeter tog goed.

Tot in hierdie stadium was seleksieprosedures op hand- en oogmetodes geskoei en die gevolgtrekking is dat die tempo van seleksievordering, teoreties beskou, versnel kan word deur die gebruikmaking van meer wetenskaplike prosedures.

 

VERWYSINGS

POGGENPOEL, J.M. & VAN DER WESTHUYSEN, J.M. 1981. 'n Seleksiestelsel vir Angorabokke. S. Afr. Tydskr. Veek.,35: 35 - 48.

SHELTON, M., 1984. Breeding and improvement of Angora goats. In: Prof. 2nd Wld Congo Sheep and Beef Cattle Breeding.

 

Published

Karoo Agric 3 (8), 39-42