Last update: April 2, 2012 01:35:47 PM E-mail Print

 

PRODUKSIENORME: TEGNIEKE VIR NORM-INSAMELING

D.J. v Z Smit

Adjunk-Direkteur: Karoostreek 

 

Gangbare produksienorme moet aan bepaalde vereistes voldoen. Uit die omskrywing van die term kan afgelei word dat so 'n norm nie sommer uit die lug gegryp of uit die duim gesuig kan word nie.

Die werkgroep vir norme van die Departement L.T.D. bied die volgende definisie aan:

'n Opbrengsnorm is die fisiese opbrengs wat in die praktyk per omskrewe hulpbroneenheid oor tyd verkry kan word deur van die beste beskikbare produksietegnieke gebruik te maak.

 

In die boerderysituasie kan ons aan hierdie definisie gestalte gee deur te sê:

die x kg wol en y kg vleis per ha, wat gedurende die 1979/80 produksieseisoen op die groep kampe 1, 2, 3 en 4 van die vlakteveld van die plaas Lekkerwater geproduseer is, word as 'n aanvaarbare opbrengsnorm vir daardie ekotoop (of redelik homogene boerderygebied (RHB) beskou, omdat die erkende produksietegnieke in die geval toegepas is.

 

In die geval van 'n koringstreek kan ons sê:

Die 2 000kg/ha INIA-Koring wat op die Huttongronde (Iande 5 en 6) van die plaas Spitskop gedurende die 1979/80 seisoen geproduseer is, kan as gangbare norm beskou word vir daardie ekotoop.

 

Ons sien dus dat 'n aanvaarbare opbrengsnorm verskeie elemente bevat. Die fisiese opbrengs van 'n lokaliteit (bv. van 'n omskrewe hektaar grond op 'n plaas) is die resultaat van die natuurlike hulpbronne (grond, klimaat, helling) plus die arbeid, produksiemiddele, tegnieke en bestuursinsette wat deur die benutter (boer) aangewend word in die produksieproses. Daar is baie veranderlikes. Die opbrengste wat verskillende produsente van 'n gegewe hulpbron-eenheid verkry, verskil dikwels aansienlik omdat hul vermoëns (kundigheid, vaardigheid) verskil. Vir die voorligter is dit belangrik om te weet wat die opbrengs van daardie hulpbron-eenheid behoort te wees. Hy soek 'n norm - 'n maatstaf van hoe ver sy kliënte te kort skiet en van die omvang van die voorligtingspogings wat geloods sal moet word.

 

1. Die voorligter vind self norme

Die voorligter beland in die voorligtingsituasie waar hy telkens 'n kliënt moet takseer aan bepaalde norme. Die opbrengsnorm is dan 'n nuttige maatstaf om die kliënt se meriete as boer te takseer.

 

Maar hoe kry die voorligter die norme?

Dusver moes hy dit gewoonlik self vind by wyse van persoonlike navraag by kundiges, boere, die landboukoöperasie en so meer. Dit is 'n geval van nood leer bid. Daar is ‘n taak wat gedoen moet word en as die fyn meetinstrumente daarvoor nog nie beskikbaar is nie, moet die voorligter homself maar intussen met growwer tuisgemaakte gereedskap bedien. Hy moet egter steeds die bogenoemde 'elemente' van die opbrengsnorm in gedagte hou. 'n Produk word geproduseer op 'n bepaalde plek (Iokaliteit) deur die aanwending van 'n stelsel wat bestaan uit 'n reeks van erkende produksie-tegnieke.

Die gekursiveerde items hierbo moet duidelik omskryf word sodat die norm nie vir misverstand vatbaar is nie.

 

2. Normbepaling deur paneelbespreking

'n 'Een-man-norm' wat deur die voorligter op eie houtjie bepaal is, kan moontlik goed genoeg wees om hom oor die weg te bring tot tyd en wyl 'n meer aanvaarbare een beskikbaar is. Die betroubaarheid van die 'een-man-norm' is egter dikwels onder verdenking omdat die gewenste oorlegpleging daaroor ontbreek en 'n suiwer objektiewe benadering van die persoon wat so eng betrokke is, gewoonlik betwyfel word.

 

2.1 Normbepaling deur 'n paneel van topboere en kundiges

'n Senior voorligter nooi hoogstens 3 of 4 van die beste boere uit 'n bepaalde RHB om deel te neem aan die paneelbespreking saam met kundiges, met die doel om die optimale produksiestelsel vir (sê) Merinowol in daardie RHB te formuleer, die reeks van praktyke en tegnieke van die stelsel in besonderhede te beskryf en dan die opbrengsnorm vir die stelsel in die RHB aan te dui in kg wol per ha.

Die voorligter lig die boere behoorlik in oor wat van hulle verwag word, ook die kundiges wat hy betrek. In oorleg met laasgenoemde stel hy 'n raamwerk op van alle aspekte wat ter sake is in die wolproduksieproses. Tydens die byeenkoms lei hy die bespreking, sorg dat die boere ten volle deelneem deur elkeen se mening telkens uit te lok oor elke aspek wat ter sprake kom, lig die deskundiges se kommentaar toe waar hy dit nodig vind en probeer om konsensus te verkry oor elke besprekingspunt. Volledige notule word gehou van die bespreking op so 'n wyse dat die onderwerp te boek gestel kan word vir publikasie. Dit moet minstens op rekord staan vir naslaandoeleindes en ter aanvulling/verfyning algaande namate nuwe en beter inligting beskikbaar word.

Die resultate van verskeie van hierdie soort paneelbesprekings met die oog op praktykbeskrywing en normbepaling is gepubliseer in die nuusbrief Winterreënstreek doen verslag en in Elsenburg Joernaal, byvoorbeeld deur Kriel (1975), Kriel & Du Toit (1975), Smit (1976), Basson & Smit (1977).

Die opbrengsnorme wat op die wyse verkry is, het in die wandel bekend geword as beste-boer-norme of topboernorme.

Besware wat teen die beste-boer-norme geopper word, is dat selfs die beste boere wat in gegewe omstandighede beskikbaar is, nie opgewasse is vir die taak nie; dat boere selde ingestel is vir so 'n oefening; dat meeste van hulle ongeneë is om 'ongewilde menings' in teenwoordigheid van kundiges te lug en dus liewer saampraat; dat die norme wat verkry word uit so 'n poging nie fyn genoeg is nie; ens.

 

2.2 Normbepaling deur 'n paneel van kundiges

In hierdie geval neem die Hoofvoorligtingsbeampte van 'n substreek gewoonlik die inisiatief om kundiges van die Departement te nooi na 'n paneelbespreking soos onder 2.1 hierbo beskryf word. Behalwe die HVLB bestaan die paneel uit die wyksvoorligtingsbeampte en navorsers wat kenners van die gegewe bedryf in die RHB is en wat kom uit die personeel van die Streek of van 'n Instituut. 'n Bodemkundige en 'n ekonoom behoort ingesluit te word op so 'n paneel, ongeag die bedryf wat ter sprake is. Die prosedure t.o.v. bespreking en verslaggewing is soos in 2.1 beskryf. Die verslag kan vir kritiese evaluering aan uitgesoekte boere voorgelê word voor finalisering.

Die formulering van produksietegnieke en opbrengsnorme wat daarmee gepaard gaan, behoort onderskraag te word deur konkrete data verkry uit proewe en praktykstudies.

Die rekord van inligting oor produksietegnieke en norme - die leerstelsel of databank - moet gereeld aangevul of gewysig word om tred te hou met tegnologiese ontwikkeling en nuwe bevindings.

 

3. Normbepaling deur gevallestudies

Beamptes van die Oranje-Vrystaatstreek het gedurende die afgelope 3-4 jaar 'n tegniek van praktykbeskrywing en norminsameling ontwikkel wat bekend staan as gevallestudies, of praktykstudies. Kortliks word die studies soos volg gedoen:

Die VLB kies enkele medewerkers in 'n RHB (of landtipe) vir 'n intensiewe opname van al die fasette en aktiwiteite wat in verband staan met 'n bepaalde bedryfstak(ke) wat daar beoefen word. Die medewerker is 'n GBK-lid of studiegroeplid of 'n boer wat instrumenteel kan wees om die voorligtingsboodskap uit te dra. Hy word behoorlik voorberei tot heelhartige samewerking vir die ondersoek; Elke fase, gebeurtenis en bedrywigheid wat in verband staan met die betrokke bedryfstak word aangeteken - van die begin tot die einde van die produksieseisoen.

Voorbeeld: Die medewerker boer met Merinoskape. Die VLB neem 'n 10% monster van die ooitrop. Hy merk hulle, weeg hulle, beskryf die veld en veldtoestand van die kampe waar hulle wei - in kort, hy stel die gehele beginsituasie op rekord. Hy besoek die 'proef' gereeld op gesette tye, weeg die skape, meet die wolgroei en noteer alle gebeurtenisse en behandelings sedert sy vorige besoek, bv. klimaatsdata, inentings, dosering, paring, ens. Alle waardes wat meetbaar is, word gekwantifiseer. Saam met die medewerker word die 'monitoring' van praktyke en toestande t.o.v. die 'proef' volgehou tot aan die einde van die produksieseisoen. Dan word die data vertolk, die 'proef' geëvalueer en voortsetting daarvan heroorweeg. Die proses word vir etlike jare volgehou.

O.V.S.-streek meen dat, behalwe die hoogs betroubare inligting oor produksiepraktyke en -norme wat verkry word die studies uiters waardevolle voorligtingsgeleenthede bied. Ons sien uit na publikasies oor die soort oefening.

Gevallestudies vir langtermyngewasse is ook in die Bolandsubstreek sowat 'n jaar gelede beplan onder leiding van mnr. A.F. Kriel, Hoofvoorligtingsbeampte. Vir die doel is 'n data-insamelingsvorm ontwerp waarop gegewens gemaklik aangestip kan word.

Die Normewerkgroep van Departement L.T.D. het al 'n verskeidenheid van data-insamelingsvorms (konsepte) vir die belangrike bedryfstakke ontvang. Stappe word tans geneem om die vorms te standaardiseer met die oog op eenvormigheid.

 

4. Normprojektering

By die oorweging van tegnieke vir norm-insameling moet ons kennis neem van die indirekte metodes, waar die norm by wyse van 'n berekening gevind word, bv. Aan die hand van 'n rekenkundige formule, of 'n wiskundige model deur middel van die elektroniese rekenaar. Mens kry die gevoel dat laasgenoemde metode reeds groot inslag vind.

Die berekende norm - ons kan dit ook die teoretiese norm noem - is 'n baie nuttige waarde om die produksiepotensiaal van onontginde gebiede te voorspel, of te projekteer: Normprojektering lyk dus na 'n gepaste term vir die tegnieke waar norme d.m.v. berekening bekom word.

As voorbeeld van normprojektering kan verwys word na Grobler et al (1970) se boerderybeplanning gebaseer op grondgebruiksklassifikasie. Beamptes van Hoëveldstreek het al heelwat 'gespeel' met die voorspelling van mielie-opbrengste in gegewe lokaliteite. Natalstreek se Dairy Model is seker redelik algemeen bekend, want beamptes uit bykans elke Streek het reeds by wyse van 'n kortkursus daarmee kennis gemaak. Ook die Natalstreek sê regressieformule vir die berekening van Eragrostis curvula-opbrengs is al getoets op Nooitgedacht, Döhne en in Hoëveldstreek.

 

5. Norme uit navorsingsresultate

Natalstreek was die eerste om te demonstreer dat waardevolle norme gevind kan word uit 'n studie van die navorsingsresultate van proewe wat oor jare uitgevoer is. Uit die projek Data collation for Annual Fodder crops in the Natal Region het minstens twee nuttige publikasies gekom naamlik oor mielies en mielies as voer. Navorsingsinrigtings en -seksies by Streke behoort dergelike studies oor jare se proefwerk t.o.v. belangrike bedryfstakke te onderneem met die oog op formulering van produksietegnieke en -norme.

 

LITERATUURVERWYSING

AGENBACH, D.J. (ongedateerd). Die implementering van optimale hulpbronbenutting. Amptelike publikasies deur Dept. L.T.D.

BASSON, W:J. en SMIT, D.J. v Z., 1977. Verbouingspraktyke en produksienorme vir Frans- en ander wyndruifsoorte in die Poortjieskloof-Dwarriga-gebied te Montagu. Elsenburg Joernaal 1(4) 20.

GROBLER, J.H., EDWARDS, P., en GERICKE, S.J., 1970. Handleiding om grondgebruiksklassifikasie as basis vir bewaringsboerdery te verduidelik. Referaat gepubliseer in "Optimale Bodembenutting in die Landbou" 1970 Dept. L.T.D. p.27-34

HYAM, F. R., 1979. Maize for fodder.

HYAM, F.R., 1979. Data Collation for Annual Fodder Crops in the Natal Region. 1. Maize. Project No N-Ce 143/1. Progress Report 1979.

KRIEL, A.F., 1975. Optimale produksietegnieke en opbrengsnorme vir Waltham Cross tafeldruiwe op rooi en geel Paarlse berggrond. "Winterreënstreek doen verslag." Spes. Uitgawe Nr. 2 van April 1975.

KRIEL, A.F. en DU TOIT, D.M., 1975. Optimale produksietegnieke en Opbrengsnorme van Wingerdkwekery in Weilington. "Winterreënstreek doen verslag" Nr. 11 Sept. 1975.

KRIEL, A.F. en DU TOIT, D.M., 1977. Produksietegnieke van kommersiële tafeldruifcultivars in die Paarl. Elsenburg Joernaal 1 (2) 25.

NATAL REGION DEPT: A.T.S., 1979. A Farm Plan for Trent Lodge. N.14/1979.

NATAL REGION, 1979. E. curvula Regression. Bylae Notule van die vyfde vergadering van die Nasionale Werkgroep vir Norme-insameling 15-16 Aug. 1979. Pretoria, 71/11/5.

SMIT, D.J. v. Z., 1976. Verbouingspraktyke en Produksienorme vir Hanepootdruiwe op die Dundee-gronde van die St Helena vlaktegebied te Calitzdorp. "Winterreënstreek doen verslag" Nr. 3, Jan. 1976.

 

Published

Karoo Agric 1 (5), 12-14