Last update: August 18, 2011 10:34:35 AM E-mail Print

 

Proefneming bewys: Voeding speel rol in veseldikte van wol

PD Grobbelaar 

 

DIE doel van die studie was om Merinowol te produseer waarvan die veseldikte kunsmatig deur middel van 'n voedingstekort op 'n voorafbepaalde plek in die stapel verdun word. Die vageienskappe, bundelbroeksterkte en verwerkingseienskappe van hierdie wol is verder ondersoek.

Laasgenoemde faset is op versoek van en in samewerking met die Tekstielprogram van die WNNR onderneem.

Ses-en-dertig Merinohamels (ouderdom 4-tand) uit Grootfontein se kudde is gebruik. Hulle is in vier groepe van sewe diere en een groep van agt diere ingedeel.

Die volgende behandelings is vir 12 maande toegepas:

 

Groep 1: Agt skape is vir 12 maande op beperkte voeding (Kunsmatige droogte) aangehou.

Groep 2: Sewe skape is vir 12 maande op konstante goeie voeding aangehou.

Groep 3: Sewe skape is vir 2,5 maande op konstante goeie voeding en dan vir 6 weke op beperkte voeding aangehou. Daarna het die diere weer vir 8 maande konstante goeie voeding ontvang.

Groep 4: Sewe skape is vir 5,5 maande op konstante goeie voeding en dan vir 6 weke op beperkte voeding aangehou. Daarna het die diere weer vir 5 maande konstante goeie voeding ontvang.

Groep 5: Sewe skape is vir 8,5 maande op konstante goeie voeding en dan vir 6 weke op beperkte voeding aangehou. Daarna het die diere weer vir 2,0 maande konstante goeie voeding ontvang.

 

Die diere van Groep 1 is in individuele hokke aangehou om te verseker dat elke dier slegs sy hoeveelheid voer per dag inneem. Diere van die ander vier groepe is gesamentlik in ‘n kraal aangehou waar hulle ad lib goeie voeding ontvang het. Tydens die beperkte voedingsperiode is die groep diere in individuele hokke aangehou om ook te verseker dat elke dier slegs sy hoeveelheid voer per dag inneem.

 

(a) Goeie rantsoen

Konstante goeie voeding het bestaan uit goeie kwaliteit lusernhooi wat deur on 25 mm sit gemaal is. Diere het ad lib hiervan ontvang. Die gemiddelde daaglikse inname per dier was 2,31 kg gemaalde lusern.

 

(b) Beperkte voeding

Hierdie rantsoen is dieselfde as bg goeie voeding behalwe dat die inname per dier beperk word. Die hoeveelheid per dag is aangepas sodat diere by ongeveer 30 kg liggaamsmassa gehou word.

Aan die begin van die proefperiode is die inname tot 500 g lusern per dier per dag beperk. Die hoeveelhede is geleidelik aangepas oor die 12 maande periode sodat diere aan die einde van die periode 850 g lusern per dier per dag ontvang het om hul gemiddelde liggaamsmassa van ongeveer 30 kg te handhaaf. Die gemiddelde daaglikse inname per dier (Groep 1) was nagenoeg 720 g lusern.

 

(c) Beperkte voeding om tengerwol te veroorsaak (6 weke periode)

Groepe 3, 4 en 5 is op verskillende stadiums van die wolgroeitydperk op 'n beperkte rantsoen vir ses weke lank geplaas. Die diere wat vanaf ad Iib-voeding onder 'n voedingspanning geplaas moet word is na individuele hokke gebring sodat elkeen sy hoeveelheid voer inneem. Diere is vir ongeveer drie weke op 'n inname van 500 g lusern per dier per dag aangehou. Vir die volgende drie weke is die diere se inname beperk tot 300 g lusern per dier per dag.

 

Resultate

In Tabel 1 word die gemiddelde waardes van die verskillende eienskappe vir die vyf groepe diere aangetoon.

 

 

 

* Liggaamsmassa

Hiervolgens (kyk ook fig 1) is daar goed in geslaag om die gemiddelde liggaamsmassa van die lae voedingspeilgroep relatief konstant te hou oor die 12 maande, naamlik 29,1 kg aan die begin teenoor 29,7 kg aan die einde van die periode. As gevolg van die ad lib-voeding het die ander vier groepe se liggaamsmassas aansienlik meer toegeneem – tot soveel as 22 kg vir Groep 2.

Die verskil tussen Groep 1 en Groep 2 was 36,3 kg. Uitgedruk as 'n persentasie van die kontrole (Groep 2) het Groep 1 55% minder geweeg as Groep 2.

 

* Wolproduksie

Die gemiddelde ruwolproduksie van die lae voedingspeilgroep was ongeveer 'n derde van die van die ad lib-groep, naamlik 3,2 kg teenoor 9,1 kg. Dit gee 'n persentasieverskil van -64,8%. Die skoonopbrengspersentasie (droë basis) was hoog vir al die groepe en het gevarieer van 68% tot 72,6%. Dit bring mee dat die hoeveelheid skoonwol geproduseer ook relatief hoog is (TabeI1).

 

* Veseldikte

Verskeie veseldiktebepalings is gedoen en die resultate word in Tabel 1 aangetoon.

Die veseldikte, bepaal volgens die lugvloeimetode, toon dat Groep 1 (Iae voedingspeilgroep) se gemiddelde veseldikte 17,5 mikron is. Individuele diere se veseldiktes het gewissel van 15,8 mikron tot 18,8 mikron.

Die ad lib-groep se veseldiktes was gemiddeld 24,6 mikron, met individuele diere wat gewissel het van 23,3 tot 26,1 mikron. Die gemiddelde verskil in veseldikte tussen die ad lib-groep en die lae voedingspeilgroep is 7,1 mikron of 28,9%. Ondanks die feit dat die lae voedingspeilgroep se veseldikte so laag is, het die wol nogtans 'n goeie treksterkte en toon dit nie 'n breek nie.

Die veseldikte van die groepe waarop kunsmatige verdunnings veroorsaak is, was as volg:

 

* Kartelfrekwens

Die kartelfrekwens van die ad lib-groepe is almal ongeveer dieselfde, naamlik 7 kartels per 25,4 mm. Die kartels van die laepeil-voedingsgroep het aangepas by die fyner vesels en het 10,5 kartels per 25,4 mm. Dit gee 'n toename van ongeveer 40% in aantal kartels.

Die laepeil-groep was gemiddeld 21 % ondergekarteld teenoor die 9% van die ander groepe. Dit toon dat hoewel kartels by die verdunning in veseldikte aangepas het die aanpassing nie voldoende was nie.

 

* Stapellengte en reguitlengte

Die stapellengte van die laepeil-groep was ongeveer 1,5 tot 2,0 cm korter (21 %) as die van die ad lib-groep. Die verskil in reguitlengtes tussen die hongersnood- en ad lib-groepe is heelwat minder, naamlik 0,8 tot 1,5 cm oftewel 11 %. Die laepeilgroep se wol is ook baie dieper gekarteld as die ander groepe, wat weer veroorsaak dat hierdie groep se reguitlengte minder verskil van die ander groepe as wat die geval is met die verskil in stapellengtes. Die kartelverhouding (reguitlengte verdeel deur die stapellengte) van die laepeilgroep is 1,51 teenoor 1,31 van die ad lib-groep (TabeI1).

Word die daaglikse groeisnelheid uitgewerk. word gevind dat die laepeilgroep 0,339 mm per dag gegroei het teenoor die 0,382 mm van die ad lib-groep. Die verskil is baie klein, ongeveer 0,043 mm per dag (11,3%). Die vermindering in vagmassa by die laepeil-groep is dus die gevolg van dunner en effens korter vesels en 'n minder digte vag as gevolg van die feit dat van die follikels onaktief raak weens die swak voeding en ophou vesels produseer.

 

Published

Goue vag 20 (2)