Last update: March 30, 2012 10:01:50 AM E-mail Print

 

PROEFPLAAS SE ANTWOORD OP DRAKRAGPROBLEME

WF Immelman 

 

Daar word alte dikwels uit die oog verloor dat weidingskapasiteit nie oor die hele oppervlakte van 'n plaas dieselfde is nie, sê mnr. William Immelman, Weidingstegnikus van die Carnarvon-proefplaas.

Waarnemings wat op die Carnarvon-proefplaas gemaak is, het onteenseglik bewys dat 'n egalige weidingsdruk oor die hele proefplaas nie reg aan die veld laat geskied nie.

Toe 'n eenvormige beweidingsdruk van 3,4 hektaar per kleinvee-eenheid nog regoor die hele proefplaas toegepas was, het dit baie duidelik geblyk dat sommige kampe oorbewei en ander weer onderbenut was.

Mnr. Immelman sê dat 'n fitomassaprojek om die produksie van die veld te bepaal hierdie waarneming onderstreep het. Die navorsing het bevestig dat daar vir elke kamp afsonderlik 'n weidingsintensiteit vasgestel moet word.

Deur gebruik te maak van die Ekologiese-Indeks-Metode wat op die Landboukollege Grootfontein ontwerp is, is die verskillende kampe se drakragte bepaal.

Hierdie evaluasie het getoon dat die drakrag van die veld van so hoog as 3 tot so laag as 11 hektaar per kleinvee-eenheid varieer. Die gemiddelde drakrag oor die hele proefplaas het op 5,6 hektaar per kleinvee-eenheid te staan gekom.

Die 3,4 hektaar per kleinvee-eenheid wat vroeër dwarsoor die hele proefplaas gebruik is, was dus totaal buite die kol.

As gevolg van hierdie bevindings is daar op die Carnarvon-proefplaas genoeg kampe aangebring om 'n behoorlike weidingstelsel toe te pas. Sedert 1981 word 'n Driegroep-kampstelsel daar gevolg om sodoende optimale benutting asook herwinning van die veld te bewerkstellig.

Volgens mnr. Immelman word daar ook met 3 verskillende skaaprasse geboer, wat dan effektiewe veldbenutting verder verhoog. Die Merino's, Afrino's en Namakwa-Afrikaners word afsonderlik gehou met 'n minimum van 6 troppe per ras. Hierdie troppe bestaan uit droë ooie, dragtige ooie, speenlammers, jong ooie, jong ramme en gebruiksramme.

AIle diere word volgens bulle fisiologiese stadia geklassifiseer. 'n Droë Merino-ooi word byvoorbeeld geneem as 1 KVE, terwyl 'n dragtige Merino-ooi gelyk is aan 1,2 KVE. Hierdie klassifikasie is gedoen volgens die metode van dr. H.H. Meissner van NIVS te Irene. Sy klassifikasie van plaasdiere en wild om weidingskapasiteit te beraam, is duidelik uiteengesit in die bladskrif: Vleisbeeste C.3j1982 wat verkrygbaar is van die Afdeling Landbou-inligting.

Om al hierdie faktore in berekening te bring en toe te pas, is die weidingsdae van elke afsonderlike kamp op die proefplaas uitgewerk. By voorkeur word 'n kamp gedurende sy beweidingsperiode vir nie langer as 6 weke benut nie.

As gevolg van weidingsverskille kan een kamp veel langer as 'n ander deur dieselfde groep diere bewei word. Aan die anderkant weer kan 'n bepaalde kamp langer deur byvoorbeeld hamels as deur lammerooie benut word.

Teen die einde van elke maand word die weidingsregister opgestel en die weidingsdae bereken en gekontroleer met die totale aantal toelaatbare weidingsdae vir elke bepaalde kamp.

Op die manier, se mnr. Immelman, word daarin geslaag om die regte weidingsintensiteit te handhaaf.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Herfs