Last update: August 18, 2011 03:17:51 PM E-mail Print

 

Lineêre Punteskaal vir kwantifisering van nie-meetbare eienskappe by Merinoskape

 

J. J. OLIVIER

 

Tydens seleksie van Merinoskape speel die nie-meetbare eienskappe soos byvoorbeeld hakke, kote, voorbene, kwaliteit van wol ens. 'n belangrike rol. Die veronderstelling is dat van hierdie eienskappe 'n positiewe bydrae tot produksie en reproduksie lewer. Die invloed van die nie-meetbare eienskappe op produksie en reproduksie kan egter slegs bepaal word as die eienskappe gekwantifiseer (syfers) is. Kwantifisering van hierdie eienskappe is verder van belang om die onderlinge verwantskappe tussen die eienskappe (geneties sowel as fenotipies) asook die erfbaarhede van hierdie eienskappe vas te stel. In 'n nageslagtoetsprogram is dit noodsaaklik om die eienskappe te kwantifiseer sodat ramme wat nadelige eienskappe het en na hulle nageslag oordra, geïdentifiseer kan word om die verspreiding van sulke eienskappe in die bedryf te voorkom. By Merino's is die Keurkaart van beoordeling 'n poging om nie-meetbare eienskappe te beskryf en word 'n punt van a - 10 aan 'n bepaalde eienskap toegeken. So 'n punteskaal moet egter aan sekere vereistes voldoen nl. dit moet akkuraat wees en die punte moet normaal rondom 'n gemiddelde versprei wees. Laasgenoemde is belangrik sodat gemiddeldes en standaard afwykings wat eie is aan meeste produksie-eienskappe, bereken kan word.

Normaalweg word eienskappe op 'n punteskaal van 1-5 of 1-10 beskryf. Hierdie nou punteskale maak die vereiste van normaalverspreiding moeilik haalbaar omrede diere in klasse (1 of 2 of 3 ens.) opgedeel word. 'n Moontlike oplossing is om die punteskaal na 0-50 of 0-100 te verander. Met 'n punteskaal van 1-10 kan 'n dier bv. Tussen 'n 3- en 'n 4-punt Iê. Weens die feit dat 3 en 'n half nie in die punteskaal opgeneem is nie, word die dier dan 'n punt van 3 of 4 gegee. Met die wye skaal kan die dier die punt van 35 gegee word. As twee persone gesamentlik punte toeken kan die een persoon die dier 'n 3- en die ander 'n 4-punt gee. Met 'n wye punteskaal kan die gemiddelde van die twee persone se punte aan die dier toegeken word.

By meeste Landboukolleges waar Merino's beoordeel word, word die volgende punteskaal gebruik:

0        -     prul

4        -     tweede kudde

6        -     eerste kudde

7 - 8   -     stoet

10      -     topstoet

Hierdie punteskaal is so oorgeneem, maar vanaf 0 na 100 verander. Sedert die punteskaal in gebruik is, het sekere tekortkominge aan die lig gekom. Die ernstigste hiervan is dat beoordelaars baie geneig is om 'n dier 'n punt van laer as 40 te gee, met die gevolg dat die gemiddeldes rondom 60 varieer. As 'n dier baie swak in 'n spesifieke eienskap is, word maklik 'n 0 gegee. Die feit dat die onderste deel van die punteskaal nie korrek gebruik word nie, veroorsaak dat sommige eienskappe nie normaal versprei is nie. Hierdie beperking kan moontlik oorbrug word deur die punteskaal na 20-100 te verander.

'n Tweede vereiste van 'n punteskaal is dat dit so akkuraat as moontlik moet wees. Die punte word subjektief toegeken en daar moet sorg gedra word dat die mees akkurate metode gebruik word. Dit is vir die rede dat 'n heIe aantal eienskappe apart beoordeel moet word. Volgens die keurkaart is "kop" byvoorbeeld as een eienskap beoordeel. Die "kop" kan egter opgedeel word in horingdraai, horingdikte, gesigbedekking, kleur, wangplooie, kortbek, visbek en die kop as geheel. As elkeen van die eienskappe apart gepunt word behoort die akkuraatheid hoër te wees as wanneer al hierdie eienskappe in een punt vir "kop" saamgevoeg word.

'n Verdere vereiste is dat die punt wat toegeken word die eienskap moet kan beskryf. Dit volg dus dat die punte lineêr vanaf die swakste tot die ideale toegeken moet word. Daar is egter sekere eienskappe waar die ideaal intermediêr is. So 'n eienskap is bv. wololie. Te veel wololie is ongewens en so ook te min wololie. Vir sulke intermediêre eienskappe is die ideaal in die middel van die skaal. Vir te min olie word 'n punt tussen 0 en 50 toegeken en vir te veel olie word 'n punt van 50-100 toegeken.

Meeste van hierdie beginsels is opgeneem in die lineêre punteskaal wat deur Olivier et al. 1987 beskryf is. Die punteskaal het uit 23 bouvorm en 9 woleienskappe bestaan. Ondertussen is die getal eienskappe tot 13 bouvorm- en 8 woleienskappe verminder. Die redes vir die weglating van sekere van die eienskappe was as gevolg van:

Die lineêre punteskaal wat tans gebruik word, word in Tabel 1 aangetoon.

 

Die akkuraatheid van die punteskaal om nie-meetbare eienskappe doeltreffend te kwantifiseer is met twee beoordelaars by 27 ramme getoets. Die beamptes het gesamentlik punte vir alle eienskappe toegeken. Dieselfde groep ramme is weer in die namiddag deur die twee beoordelaars vir alle eienskappe gepunt. Die resultaat word in Tabel 2 aangetoon.

Vir al die eienskappe het die gemiddelde punt wat in die voormiddag toegeken is nie betekenisvol van die punt in die namiddag verskil nie.Hierdie is 'n baie belangrike resultaat wat aantoon dat die standaard van die voormiddag in die namiddag gehandhaaf is. As 'n groep diere gepunt word moet die standaard van begin tot die einde dieselfde wees.

Die korrelasie tussen die voormiddag- en namiddagpunt van dieselfde dier het van 0,34 (sagtheid van aanvoeling) tot 0.94 (kleur in die gesig) gewissel. Drie-en-sestig persent van die eienskappe het 'n korrelasie van 0,60 en hoër gehad. Dit impliseer dat meeste van die eienskappe redelik akkuraat gepunt is. Die eienskappe met laer korrelasies sal beter omskryf moet word om die akkuraatheid te verhoog.

 

GEVOLGTREKKING

Alhoewel die lineêre punteskaal wat tans gebruik word nie sonder foute is nie bied dit 'n werkbare metode om nie-meetbare eienskappe te kwantifiseer. Waar gemiddeldes van groepe diere met mekaar vergelyk word, soos bv. in 'n nageslagtoetsprogram, blyk die akkuraatheid van die punteskaal bevredigend te wees. Die akkuraatheid van die punteskaal om eienskappe van individuele diere te beskryf is egter nog onbevredigend, veral ten opsigte van sekere eienskappe, en behoort met omsigtigheid in sulke gevalle gebruik te word.

 

Published

Merino joernaal 52 (1)