Last update: April 2, 2012 12:17:53 PM E-mail Print

 

DIE GEBRUIK VAN RADIO-AKTIEWE WATER OM LIGGAAMSAMESTELLING TE VOORSPEL

 G.A. Jacobs

Voedingseksie

Landbounavorsinginstituut Karoostreek 

 

INLEIDING

Die moontlikhede vir die gebruik van radio-aktiewe stowwe tot voordeel van die landbou word al meer beset en steeds meer en meer ondersoek. Dit is byvoorbeeld reeds algemeen bekend dat tritiumwater (radio-aktiewe water) gebruik kan word om die liggaamsamestelling van lewendige skape te bepaal. In hierdie metode word gebruik gemaak van die verband wat daar bestaan tussen die waterinhoud en die skeikundige samestelling van 'n liggaam.

Dit is bekend dat ook die gewig van 'n dier verband hou met die skeikundige samestelling daarvan. Aangesien die gewig van 'n dier so 'n maklik bepaalbare eienskap is, kan dit alleen gebruik word om byvoorbeeld die hoeveelheid minerale of vet in 'n proefdier te voorspel. Sulke voorspellings is egter nie baie akkuraat nie en deur addisioneel tot liggaamsgewig ook nog die tritiumbepaling van die waterinhoud van die liggaam te gebruik, kan meer akkurate voorspellings verkry word.

Wanneer 'n navorser die verandering in byvoorbeeld die hoeveelhede vet en proteïene in proefdiere wil bepaal sonder om die diere te slag, sal die graad van akkuraatheid wat vereis word bepaal watter metode hy gaan gebruik. Hierdie artikel handel oor die verhoging in akkuraatheid wat verkry kan word wanneer die tritiumbepaling van die waterinhoud saam met die gewig van die dier in voorspellings gebruik word.

 

PROSEDURE

Om vas te stel hoe groot die verskil in akkuraatheid van die twee metodes is, is 17 volwasse Merinohamels in 'n proef gebruik. Hierdie diere se gewigte het tussen 22,0 en 50,5kg gewissel. Na tritiumbehandeling is die skape geslag, die karkasse gehomogeniseer en soos deur Jacobs (1972) beskryf, skeikundig ontleed.

Net voor die tritiumbehandeling is 'n bloedmonster van ongeveer 6ml uit die vena jugularis externa (groot nekaar) van elke skaap getrek en hierop is die agtergrondaktiwiteit in elke skaap se liggaamsvog bepaal. Na 17 uur onthouding van kos en water is 'n binnespierse inspuiting van presies 5ml fisiologiese soutoplossing, wat ongeveer 25µCi tritiumwater bevat het, aan elke skaap toegedien. Sewe uur na die insp,uiting is aktiewe bloedmonsters van ongeveer 5ml uit die vena jugularis externa van elke skaap getrek en die 24 uur vasgewig bepaal. Hierna is alle skape geslag. Nadat die inhoud van die spysverteringskanaal asook die kloutjies, horings en vel verwyder is, is die karkasse gehomogeniseer deur dit met 'n "Wolf King"-karkasmeul deur 'n 7mm sif te maal. Op verteenwoordigende monsters van elke karkas is skeikundige ontledings van die hoeveelhede water, vet, proteïene, energie en minerale gedoen.

Die radio-aktiwiteit in die toegediende dosis sowel as die in die agtergrond en aktiewe bloed, is bepaal met 'n vloeistofsintillasieteller. Vanaf die verdunning in aktiwiteit is die tritiumbepaling van die waterinhoud van elke skaap bereken. 'n Onderskeid word gemaak tussen die totale waterinhoud in die liggaam en die tritiumbepaling van die totale waterinhoud, aangesien laasgenoemde nie 'n presiese voorspelling van eersgenoemde bied nie.

 

RESULTATE EN BESPREKING

In Tabel 1 word die resultate ten opsigte van vasmassa, liggaamskomponente en tritiumbepalings aangegee, waarmee voorspellingsvergelykings bereken is. In die volgende vergelykings vir die voorspelling van die hoeveelhede proteïene, vet, energie, as en water in die liggaam, verwys X1 na liggaamsgewig in kg en X2 na tritiumbepaling in kg.

 

Proteïene in kg:       ŷ = 0,0769X1 + 0,0280X2 + 0,4510

                             ŷ = 0,0880X1 + 0,7074

Vet in kg:               ŷ = 0,6698X1 - 0,6297X2 - 2,8848

                             ŷ = 0,4258X1 - 8,5406

Energie in MJ:         ŷ = 28,3074X1 - 23,5905X2 - 113,0017

                             ŷ = 19,1831X1 - 325,4990

As in kg:                ŷ = 0,0331X1 - 0,0221X2 + 0,7499

                             ŷ = 0,0246X1 + 0,5490

Water in kg:           ŷ = 0,1554X1 + 0,6270X2 + 1,8830

                             ŷ = 0,3978X1 + 7,5351

 

 

Die akkuraatheid, of anders gestel, die mate van fout wat met die voorspellings gepaardgaan, word in Tabel 2 as standaard afwykings aangetoon. Die persentasie vermindering van die standaard afwyking van die voorspelling as gevolg van die addisionele gebruik van tritiumwater word ook aangegee. Wanneer die vetinhoud van 'n 45kg skaap byvoorbeeld met behulp van sy gewig voorspel word, is sy vetinhoud 10,62 ± 1,07kg. Wanneer die tritiumbepaling van 27,5kg water ook gebruik word, verbeter dit in hierdie geval die voorspelling na 9,94 ± 0,83kg vet.

 

 

Uit Tabel 2 is dit duidelik dat die akkuraatheid waarmee vet, energie, water en minerale bepaal kan word, aansienlik verhoog kan word deur addisioneel tot liggaamsgewig ook nog die tritiumbepaling van die waterinhoud van die liggaam by die voorspellingsvergelyking in te sluit. By proteïene is die akkuraatheid egter nie verhoog nie. Hierdie bevindings stem ooreen met die van Keenan, McManus & Freer (1969), behalwe dat hulle groter reduksies van die standaardafwyking, naamlik twee-derdes, vir water, vet en energie gevind het.

 

GEVOLGTREKKING

'n Liniêre regressievergelyking met lewende gewig as veranderlike is genoegsaam om die proteïen-inhoud van 'n lewende dier te voorspel. Geen groter akkuraatheid is verkry deur die tritiumbepaling van die waterinhoud as addisionele veranderlikes in die vergelyking in te sluit nie. Vir die bepaling van die hoeveelheid water, vet, minerale en energie in die liggaam, kan dit loon om die tritiumbepaling as addisionele veranderlike in te sluit. Die akkuraatheid van hierdie voorspellings is met 22 tot 79 persent verhoog.

 

LITERATUURVERWYSINGS

JACOBS, G.A., 1972. Wolproduksie en liggaamsamestelling van Merinoskape tydens massaveranderinge. MSc. (Landbou)-skripsie,.Univ. Stellenbosch.

KEENAN, D.M., MCMANUS, WR. & FREER, M., 1969. Changes in the body composition and efficiency of mature sheep during loss and regain of live weight. J. agric. Sci. 71, 139-147.

 

Published

Karoo Agric 1 (5), 7-8