Last update: August 17, 2011 03:44:46 PM E-mail Print

 

Die reaksie van skape en bokke op ruvoere onder kraaltoestande

 

J.A. Roux en P.G. Marais

Landboukollege Grootfontein, Middelburg KP, 5900

 

INLEIDING

Die Karoostreek kan in sy geheel, behalwe vir enkele besproeiingsgebiede, as 'n ekstensiewe weistreek waar hoofsaaklik met kleinvee geboer word,  beskryf word (Hugo, 1972). Groot fluktuasies in die jaarlikse reënval kom binne die gebied voor. Droogtes en selfs rampdroogtes kom periodiek voor.

Gedurende droogteperiodes verskaf die natuurlike weidings normaalweg nie voldoende ruvoer vir optimale diereproduksie nie. Tydens rampdroogtes is die aanbeveling om diere op kraal te hou en te voer. Die vraag is: watter ruvoere kan gevoer word om die diere aan die lewe te hou, hoeveel en in watter fisiese vorm? In hierdie studie is daar gekyk na die gebruik van verpilde ruvoere en die reaksie van skare en bokke daarop.

 

PROEFPROSEDURE

Proefdiere

Merino- en Dorperhamels, en Angora- en Boerbokkapaters is gebruik. Die diere van al die rasse behalwe die Boerbokke, wat jonger was, was op tweetand stadium. Twaalf diere van elke ras is in die proef gebruik.

 

Behandelings en uitleg

Die twaalf diere per ras is in groepe van vier elk verdeel en in klein kampies (10 m x 12 m) met 'n afdak aangehou. Daar was dus 12 kampies met vier diere per kampie. Vrywillige voerinname en liggaamsmassaverandering is twee keer per week op die ongevaste diere van die verskillende rasse, op die onderskeie dieetbehandelings bepaal.

Die fisiese samestelling van die diëte was: 100 % lusern (100 %-dieet), 75 % lusern en 25 % koringstrooi (75 %- dieet), 50 % lusern en 50 % koringstrooi (50 %-dieet) en 25 % lusern en 75 % koringstrooi (25 %-dieet). Die vier diëte is gemaal en verpil. Slegs water is bygevoeg om as bindmiddel te dien. AIle diëte is in selfvoerders op 'n ad lib-basis aangebied. Die diëte het mekaar opgevolg en 'n aanpassingsperiode van 14 dae op die nuwe dieet is tussen diëte toegelaat. Die chemiese samestelling van die onderskeie proefdiëte word in Tabel1 voorgestel.

 

RESULTATE EN BESPREKING

In Tabel2 verskyn die liggaamsmassa, inname en groei van die onderskeie rasse op verskillende kwaliteite ruvoer.

 

Op die 100 %-dieet (Tabel 2) was die inname van die Dorper (3,027 kg/dag) die hoogste en die van die Boerbok (1,699 kg/dag) die laagste. Deur hierdie inname te skaal na inname per metaboliese grootte (inname/Wkg 0,75), het die Dorper (0,1448) die hoogste waarde gehad en dit het betekenisvol (p < 0,05) met die Merino (0,1336), Angora (0,1273) en Boerbok (0,1251) verskil. Die Dorper het die hoogste gemiddelde liggaamsmassaverandering (GLV) (16,47 kg) en GDT (317 g) oor die proeftydperk van 52 dae gerealiseer. Die GDT het betekenisvol tussen die Dorper, Angora en Boerbok verskil.

Op die 75 %-dieet het die Dorper weer eens die hoogste inname van 3,273 kg/dag gebad, maar met die skakeling van inname na inname per metaboliese massa is geen betekenisvolle verskille tussen die Dorper en Boerbok verkry nie. Die inname per metaboliese massa van die Dorper en Boerbok het betekenisvol van die Angora en Merino verskil. Die GLV en GDT van die Dorper (14,02 kg; 209 g/dag) oor die proeftydperk van 67 dae, was die hoogste gevolg deur die Boerbok, Merino en Angora. Die GDT het betekenisvol tussen die Merino en Dorper, Dorper en Angora, Merino en Boerbok en die Angora en Boerbok verskil.

Die inname van die Dorper (2,785 kg/dag) op die 50 %- dieet was die hoogste en die inname van die Angora (1,989 kg/dag) die laagste. Die inname per metaboliese massa het nie betekenisvol tussen die Dorper (0,1022) en Boerbok (0,1118) verskil nie, maar het wel betekenisvol van die Merino en Angora verskil. lndien die GLV en GDT as maatstaf geneem word, is dit opmerklik dat die nie-veselproduseerders (Dorper en Boerbok) en die veselproduseerders (Merino en Angora) afsonderlik gegroepeer kan word. lnsiggewend egter is die feit dat ook wat die inname per metaboliese massa betref, 'n soortgelyke groepering gemaak kan word wat ooreenstem met 'n soortgelyke groepering op die 75 %-dieet.

Die Dorper se inname op die 25 %-dieet was weer eens die hoogste, naamlik 2,41 kg en die van die Angora (1,510 kg/dag) die laagste. Volgens die inname per metaboliese massa het hierdie tendens voortgeduur. Die inname per metaboliese massa het betekenisvol tussen die Dorper, Merino en Angora verskil. Oor die proeftydperk van 63 dae was die GLV en GDT van die Dorper (1,18 kg; 19 g/dag) die hoogste en die van die Angora (-3,03 kg; -48 g/dag) die laagste. Geen duidelike tendens ten opsigte van die  betekenisvolheid van GDT het tussen rasse voorgekom nie. Hoewel die Dorper die enigste ras was wat 'n klein toename in GDT getoon het, moet hierdie waarde met omsigtigheid hanteer word omrede dit 'n groot standaardafwyking het wat daarop dui dat sekere diere in hierdie groep ook 'n massaverlies gehad bet. Gevolglik wit dit voorkom asof hierdie dieet nie aan die onderhoudsbehoefte van al die rasse kon voldoen nie.

Ter opsomming is dit duidelik (Tabel 2) dat al vier die rasse op die 100 %-dieet 'n inname van ongeveer 5 % van hul liggaamsmassa gehad het. Hierdie relatief hoe waarde is aansienlik hoër as die 3 % wat normaalweg aanvaar word. Die verhoogde inname kan grootliks aan die fisiese vorm (verpilling) van die dieet toegeskryf word. 'n Soortgelyke tendens word ook op die 75 %- en 50 %-diëte waargeneem, met die verskil dat daar 'n afname in persentasie met 'n toename in strooi-insluiting is. Op die 25 %-dieet was die inname ongeveer 3 %. lndien verpillingsfasiliteite beskikbaar is, is verpilling 'n voordelige hulpmiddel om inname van laegraadse ru-voere te verhoog.

Die inname per metaboliese massa is by die vleisrasse (Dorper, Boerbok) op die 75 %- en 50 %-diëte hoër as by die veselproduserende rasse (Merino, Angora). Daar sat in gedagte gehou moet word dat die veselproduseerders vesel en vleis produseer en tog moet reproduseer met 'n laer inname as die vleisproduseerders wat net vleis produseer en reproduseer. Dit is half te verstane en te wagte dat die veselproduseerder 'n beter kwaliteit voer moet kry omrede hy nie so baie vreet nie en meer produkte moot produseer. Tydens droogtes is dit derhalwe belangrik dat die beter kwaliteit voere aan veselproduseerders verskaf word. Gevolglik bring dit mee dat die verskillende rasse (vesel- en vleisproduseerders) van mekaar geskei behoort te word wanneer daar gevoer word.

 

VERWYSING

HUGO, W J., 1972. Ontwikkelingsplan van die Karoostreek. Departement van Landbou- Tegniese Dienste

 

Published

Karoo Agric, Vol 4, No 3, 1991 (9-11)