Last update: April 12, 2012 09:08:00 AM E-mail Print

 

Ondersoek van 39 Jaar se Reënval

Moontlike weersgesteldheid vanaf volgende jaar

EJ van Meerten  

 

DEUR die bereidwilligheid van Mnr. W. P. Stahl van Middelburg, Kaap, is die reënval statistieke van die jare 1888 tot 1926 (altwee jaartalle ingesluit) beskikbaar gestel en ons wil hom bedank vir die gebruik wat ons daarvan gemaak het.

Die reënval statistieke is die van Middelburg, Kaap, en hoewel dit wenslik sou wees om die syfers vir 'n baie groot streek te hê en wat op baie punte geneem is sodat die gemiddelde maandelikse reënval vir 'n groot verteenwoordigende streek kon deurgaan, kan ons tog uit die gegewens waaroor ons beskik party interessante gevolgtrekkings maak.

 

Kom Droogtes Gereeld Voor?

Die skrywer het probeer uitmaak of daar bepaalde of meer of min bepaalde kringlope is waarin groot droogtes en reënvalle voorkom. Om 'n konklusie te kan trek is dit nodig om nie alleen die syfers van 39 jaar maar van sê 100 jaar te hê. Sulke syfers is nie beskikbaar nie en die geheues van oumense, wat gebeurtenisse van 60, 70 of selfs 80 jaar gelede kan onthou, is nie betroubaar nie veral wat meteorologiese verskynsels betref.

Die beste wat ons dus kan doen is om die statistieke van die 39 jaar te neem en hulle te bestudeer.

 

Wat die Diagramme Aantoon

Die eerste stap in die werk was om die reënval in vertikale maand-na-maand kolomme aan te gee en dit word gedoen in die boonste helfte van die diagram. Dit wys baie maklik abnormaliteite aan soos byvoorbeeld die reënval van Januarie 1898 en Desember 1900, Februarie 1913 en Maart 1918 en die groot droogte van 1903. Dit wys ook die periode van betreklike hoë reënval aan van 1888 tot 1900 met uitsondering van 1897 wat gevolg is deur 'n periode van vermeerderde reënval tot omtrent 1920.

Vir die orige gedeelte is dit moeilik om iets af te lei uit die kolomme, sodat hulle vir verdere studie in verband met 'n moontlike kringloop daar gelaat moet word.

 

 

Die Gemiddelde Reënval

Die volgende stap was om die punte vir die jaarlikse reënval aan te teken en om die punte, wat die verskillende reënvalle verteenwoordig, met reguit lyne te verbind op dieselfde manier as wat dit op 'n koorskaart gedoen word. Dit word onder aangetoon en dit toon die verskille beter aan dan die kolomme.

Die gemiddelde reënval vir die aantal jare bedra 13.55 duim wat as 'n gestipte reguit lyn aangegee word van links na regs. Ons sou kon aanneem dat enige reënval, wat onder daardie lyn is, as 'n droogte kan beskou word maar skynbaar is alleen sulke periodes, waar die reënval onderkant 10 duim was, as werklike droogtes beskou geword.

Daar dit die geval is kan ons aanneem dat enige reënval tussen 10 en 15 duim meer of min as middelmatig kan beskou word in teenstelling met die "gemiddelde reënval." Bo 15 duim sal 'n swaar reënval en onderkant 10 duim 'n baie lae reënval wees.

 

Droogte volg op 'n Middelmatige of Swaar Reënval

Die eerste ding wat ons oog raak is feit dat 'n droogte altyd onmiddellik volg op 'n middelmatige of swaar jaar. Dis opmerklik dat daar nie 'n enkele geval is nie waar twee droogtes op mekaar volg, d.i. daar is nie twee opeenvolgende jare nie waar die reënval minder dan 10 duim per jaar was. As die jare tot 1894 as abnormaal beskou word is dit ook opmerklik dat, met uitsondering van 1917 en 1918; daar nie twee opeenvolgende jare is nie wat elkeen meer as 15 duim reënval gehad het nie. Selfs in die abnormale jare wat net genoem is, is 1891 en 1893 uitstaande jare met swaar reënvalle wat nie onmiddellik gevolg is nie deur jare wat net so groot of byna net so groot reënval gehad het nie. Ons kan dus 'n taamlik veilige konklusie trek wat betref jare van groot reënvalle en jare van groot droogtes. Dit lyk asof hierdie jare klasse op hulself vorm, sodat as 'n jaar baie droog is, dit tenminste gaan gevolg word deur 'n jaar van middelmatige reënval en nie deur 'n jaar wat baie min reën sal kry nie of wat deur 'n swaar droogte geteister sal word nie. En omgekeer: as dit gedurende een jaar baie gereën het sal dit die volgende jaar baie minder reën en glad nie so nat wees nie.

 

Opeenvolgende Middelmatige jare

Dit moet goed verstaan word dat hierdie gevolgtrekking alleen betrekking het op baie droë en baie nat jare en nie op middelmatige jare nie, want hier vind ons wat kan verwag word, n.l. dat in jare van "middelmatige" reënval die een op die ander kan volg soos duidelik aangetoon word in die gevalle 1899-1900, 1909-1910 en 1923-1924. Daar hierdie jare middelmatig is kan ons ook verwag dat hulle sal gevolg word deur 'n "nat" of deur 'n " droë " jaar soos aangetoon word in die geval van 1905-1906,1910-1911, 1916-1917, ens., en deur 1902-1903, 1907-1908, 1914-1915.

Alhoewel die middelmatige reënvalle willekeurig tussen 10 en 15 duim geplaas is, is dit opmerklik dat waar die reënval van bo of in die middelmatige reënval gebied daal tot onder 10 duim dit ver onderkant die 10 duim-lyn daal en nie die neiging het nie om naby daardie lyn te bly nie. Met uitsondering van 1913 is dit ook waar bokant die middelmatige gebied waar, as reënvalle van binne of onderkant die middelmatige reënvalgebied styg tot bo 15 duim dit tot ver bokant die lyn styg.

 

Periodieke Voorkoms van Reën of Droogte

Met die gevolgtrekking wat tot dusver gemaak is, is dit nou nodig om die periodieke voorkoms van droogte en reënval te bepaal. Een, twee of driejaar kringlope is buite kwessie en selfs 'n vierjaar kringloop is heeltemal onwaarskynlik. Dis gevind dat iets wat op 'n vyfjaar kringloop lyk begin in 1888 met taamlike swaar reënval, nl. in duime: 14.19,21.21,17.78, 3.57; 5.71, 16.13, 20.53, 12.29. Die "groot" aansig van hierdie reeks word teëgespreek deur die 3.57 en die 5.71 vir 1903 en 1908 terwyl die 14.19 van 1888 en 12.29 van 1923 nie aan hierdie klas skyn te behoor nie. Selfs die 10.34 van 1902 en die 13.20 van 1907 versterk nie die kringloop nie en derhalwe verniel dit die reëlmatigheid van die periode. Die vyfjaarkringloop word dus van die hand gewys. Skynbaar is dit die enigste aanspraak wat op 'n vyfjaar kringloop gemaak kan word.

Dit lyk asof 'n sesjaar kringloop moontlik is, beginnende by 1895, en dis 'n kringloop binne die "middelmatige" gebied maar in die kringloop is daar twee periodes van sewejaar hoewel die tweede sewejaar periode twyfelagtig is. Om hierdie rede sien ons ook af van 'n sesjaar kringloop.

'n Sewejaar kringloop val meer in die oog en daar is ten minste twee reekse gegewens (wat altwee in 1891 begin) ten gunste van so 'n kringloop maar in die een kringloop is daar twee agjaar periodes en in die ander een 'n sesjaar periode. Altwee is kringlope van swaar reënvalle bokant die middelmatige gebied.

Vir 'n agjaar kringloop is ook gesoek maar daar is nie genoeg gegewens om te bewys dat daar so 'n kringloop bestaan nie.

Ons kan 'n negejaar kringloop vaag uitmaak in die droë gebied onderkant die 10 duim lyn maar dit het een tienjaar periode en een abnormaliteit, n.l. 'n reënval van feitlik 18 duim in 1894. Die enigste vergoedende trek van hierdie abnormaliteit is dat dit in die abnormale periode van jare val aan die begin van die jare onder bespreking en dat dit 'n vermindering in reënval is na 'n jaar met 'n swaar reënval, wat heeltemal reg is met die oog op vorige gevolgtrekkings, n.l. 'n groot vermindering na 'n jaar met 'n swaar reënval, Die negejaar kringloop word egter nie van die hand gewys nie omdat dit betrekking het op die vergelykings van kringlope met die oog om 'n voorspelling te maak vir die volgende vyf jaar d.i. tot 1933.

 

Opspoor van Bepaalde Kringlope

'n Bepaalde tienjaar of meer of min tienjaar kringloop kan nie gevind word nie. 'n Tien.jaar periode kom eenmaal voor in wat lyk na 'n elfjaar kringloop en dus is 'n tienjaar kringloop ook buite die kwessie. Dit kom ook voor in die negejaar kringloop soos hierbo aangetoon word.

Dit lyk asof daar meer bewys is ten gunste van 'n elfjaar kringloop sowel in die middelmatige as in die droë gebiede. Die kringloop begin met die droogte in 1886 want alhoewel die werklike syfers nie by die hand is nie, toon troubare informasie aan dat daardie jaar 'n droë jaar was. Die kringloop is reëlmatig. tot 1919 en, soos later aangetoon sal word, sal dit waarskynlik reëlmatig bly tot 1930.

Die elfjaar kringloop in die middelmatige gebied kan teruggelei word tot 1884 en behalwe 'n bietjie onreëlmatigheid in 1906 en weer in 1917 lyk dit asof dit gaan saamval met die sewejaar kringloop in 1927. Om hierdie rede dink ons dat die elfjaar kringloop in die middelmatige gebied 'n kans het om bevestig te word.

Dis opmerklik dat dit lyk asof daar tenminste drie kringlope is en dat hierdie drie almal ongelyke getalle is, nl. sewe, nege en elf jaar en verder is dit vreemd dat daar 'n verskil van twee jaar is tussen elke twee van hierdie kringlope. Hierdie eienaardighede moet verder ondersoek word en dit sal later in hierdie artikel gedoen word.

'n Verdere ondersoek betreffende die grafiese voorstelling van die reënval, wat veral betrekking het op die gemiddelde reënval, wys op die eienaardigheid dat waar daar gedurende een jaar 'n vermindering van bo die gemiddelde tot onder die gemiddelde reënval is die daling in die reënval aanmerklik onder die gemiddelde sal wees soos aangetoon word deur die dalings in 1897, 1912, 1914, 1919, 1922 en 1926 met 1907 as die enigste uitsondering. En verder, dat as 'n vermindering nie daal nie tot die gemiddelde reënval so 'n reënval deur 'n dergelike reënval gevolg sal word. Die gegewens wat dit staal is egter nie genoegsaam nie sodat ons dit nie as 'n algemene reël kan aanneem nie. Dit sal egter goed wees as ons hierdie puntjie in gedagte wil hou.

Aan die ander kant lyk dit asof ons met taamlik baie sekerheid kan sê dat 'n bepaald droë jaar gevolg sal word deur een met 'n reënval bo die gemiddelde en dat die reënval ver bo die gemiddelde sal wees soos aangetoon deur die jare 1898, 1913 en 1917, want hoewel dit volgens die reënval nie baie droog was nie gedurende 1916, was dit darem in werklikheid die geval. Aan die anderkant, as die reënval na ‘n droë jaar nie die gemiddelde bereik nie is dit waarskynlik dat dit twee of drie jaar sal neem om die toppunt te bereik, soos aangetoon word deur die jare 1903 tot 1906, 1908 tot 1911, 1915 tot 1918 en 1922 tot 1925, sodat ,dit skynbaar op beide kante uitwerk net soos die afwesigheid van twee opeenvolgende jare van hewige droogte of groot reënval, waar alreeds melding van gemaak is.

 

Voorspelling van Weersgesteldheid

As die kringlope getabelleer en vergelyk word, blyk dit dat die elfjaar droogtekringloop, wat in 1886 begin die sewejaar droogtekringloop, wat in 1897 begin, saamval in 1897 en weer in 1919. Die moontlikheid bestaan dat ons weer 'n droë jaar sal hê in 1933 en as gevolg van die sewejaar middelmatige kringloop wat 1933 as 'n middelmatige jaar aangee en as gevolg van die negejaar droogtekringloop wat op 'n droogte in 1930 wys wat ook gestaaf word deur die elfjaar kringloop, is daar meer kans vir 'n groot droogte in 1930 en 'n middelmatige jaar gedurende 1933.

Die elfjaar groot reënval kringloop en: die sewejaar groot reënval kringloop val saam in 1906 en weer in 1928 terwyl die twyfelagtige vyfjaar kringloop ook 'n groot reënval vir daardie jaar aantoon sodat ons kan veronderstel dat die jaar 1928 'n groot reënval, wat goed bo die gemiddelde is, sê 17 duim of meer sal hê. Die sewe- en elfjaar middelmatige kringlope val saam in 1927. Wat betref 1929 lyk dit, vir sover ons dit nou kan uitmaak, asof dit volg op 'n jaar van swaar reënval, sodat met die moontlike geringe reënval in 1930 ons weer 'n herhaling kan kry van die jare 1919 tot 1921 waar die vermeerdering van onder die middelmatige gebied tot ver daarbo plaasvind in twee jaar terwyl die vermindering vandaar tot 930 dieselfde kan wees as in die gevalle van 1906 tot 1908 en 1913 tot 1915 waarby eersgenoemde daling van bo die middelmatige gebied tot onderkant die middelmatige gebied plaasvind in twee jaar.

Bogenoemde is natuurlik net moontlikhede en nie waarskynlikhede nie maar tog is daar kans genoeg dat die voorspellings mag uitkom. Wat die studie van die diagramme betref, blyk dit uit die verskillende plekke waar die kringlope saamval en uit die stand van sake in die algemeen dat die reënval gedurende 1927 middelmatig sal wees, in die buurt van 12 duim. In 1928 sal dit waarskynlik 17 tot 19 duim wees. In 1929 sal dit dan waarskynlik weer daal tot 12 duim en miskien 'n bietjie laer en daarna sal dit waarskynlik daal tot 6 of 8 duim in 1930.

Die reënvalboog soos aangetoon in die diagram is nie 'n vaste matematiese boog nie, soos b.v. die grafiese voorstelling van die kosiene of een van die keëlseksies, en daarom is die hoë alleen van toepassing in verband met die ondersoek van die reënval van 39 jaar.

Dit sal interessant wees om die saak in die oog te hou en te sien hoever die voorspellings uitkom.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 2