Last update: March 30, 2012 02:56:16 PM E-mail Print

 

MELD REPRODUKSIEVERLIESE WEENS SIEKTETOESTANDE AAN

EM van Tonder

 

 

Reproduksieverliese, soos verteenwoordig deur verlaagde lampersentasies, aborsies en perinatale verliese, is die mees algemene en gereelde probleem waaraan die kleinveebedryf feitlik daagliks onderhewig is, het dr. Marius van Tonder, Hoof van die Veterinêre Streekslaboratorium op Middelburg, KP, tydens 'n boeredag wat op Beaufort- Wes gehou is, gesê.

Wat die oorsake betref, het hy gesê, is verkeerde paringsbestuur en teelseisoene, met gevolglike laer lampersentasies, waarskynlik bo-aan die lys.

In soverre dit siektetoestande aangaan, het hy genoem dat 'n wye verskeidenheid van besmettings en ander toestande reeds in oorsese lande geïdentifiseer en beskryf is. In Suid-Afrika is daar egter tot dusver slegs 'n paar ondervind en gerapporteer en bestaan die moontlikheid dat sekere van die toestande reeds voorkom maar nog nie geïdentifiseer is nie, of dat hulle wel nog op een of ander tydstip hul verskyning kan maak.

Dr. Van Tonder het dus daarop aangedring dat alle gevalle van lae lampersentasie, aborsie en perinatale verliese vir ondersoek aangemeld word, ten einde vroegtydig die moontlike oorsake te identifiseer en beheermaatreëls te oorweeg.

Onder bestaande siektetoestande wat reproduksieverliese by kleinvee veroorsaak, is daar die wat veral ooie aantas en tot aborsies en perinatale verliese lei, en veneriese besmettings wat pertinent die ram aantas en aanleiding gee tot onvrugbaarheid of lae vrugbaarheid, met gevolglike verlaagde lampersentasies.

In die geval van ooie, kan ensoötiese aborsie groot skade aan die boer berokken. In aanvanklike uitbrekings kan 'n aborsiestorm van so hoog as 60 tot 70 % voorkom, wat dan in opvolgende uitbrekings daal na 'n peil van 1 tot 5 %.

Behandeling is gewoonlik van geen nut nie, aangesien dit gewoonlik te laat is. As die besmetting wel vroegtydig opgespoor word, moet daar - soos dr. Van Tonder dit stel - "voor die voet geënt word: van die kruiptrekker tot die kombuisbediende."

In die geval van "Border"-siekte is die baie kenmerkende simptoom dat lammers, wat voltyds gedra en of dood of lewendig gebore word, 'n geweldig harige kleed het. Ooie wat een keer geboorte gegee het aan sulke aangetaste lammers, lam gewoonlik die volgende jaar weer normaal as gevolg van self-ontwikkelde immuniteit, het dr. Van T onder gesê. Ongelukkig gee sulke ooilammers wat oorlewe egter geboorte aan harige lammers.

Dragtige diere wat Slenkdalkoors opdoen aborteer voor die voet, sodat 85 % aborsies en meer nie ongewoon is nie.

Wesselsbronsiekte, aan die anderkant, kan eintlik beskou word as 'n tipiese aborsiesiekte, waar die groot skape - afgesien van enkele agtergeblewe nageboortes - nie juis waarneembare simptome wys nie. Tot 60 % van die ooie aborteer en jong lammertjies kan ook binne die eerste paar dae na geboorte vrek.

Ofskoon bloutong nie daadwerklik aan reproduksieverliese gekoppel is nie, kan dit, volgens dr. Van Tonder, wel aborsies veroorsaak wanneer dragtige ooie gedurende die herfsmaande aangetas word, veral wanneer laat-ryp en koue weer ondervind word.

Daar word baie sterk vermoed dat 'n skrikwekkende virussiekte, naamlik Akabane-siekte, wat ook reproduksieverliese veroorsaak in die land voorkom, het dr. Van Tonder gesê. Verwarring word egter veroorsaak deur die onbedagte enting van vroegdragtige ooie met lewendige entstowwe van Slenkdalkoors, Wesselsbronsiekte en bloutong, aangesien dit basies dieselfde sindroom en tipiese simptoomkompleks veroorsaak.

Die belangrikste simptome van Akabane-siekte is dat die dragtige ooie nie kan lam nie en selfs weke lank oortyd loop en uiteindelik vrek aan die gevolge van vertraagde lamming. In die tussentyd word die ooie se buike abnormaal groot as gevolg van die aansameling van tot soveel as 20 liter nageboortevog in die baarmoeder. Die fetus toon tekens van vermonstering, terwyl die breinholte gevul is met 'n taai, donkerbruin vloeistof. Vir hierdie siekte is daar geen voorkoming of behandeling nie, het hy gesê.

Vibriose is tot dusver slegs een keer by skape in die RSA vasgestel, maar die kanse vir hernude  uitbrekings duur steeds voort.

Volgens dr. Van Tonder, is daar ook enkele siektetoestande wat in die land op redelik wye skaal by ramme voorkom.

Beide Brucella Ovis- en Actinobacillus seminis-organismes kom as primêre geslagsbesmettings by ramme voor.

Brucella ovis word hoofsaaklik van ram tot ram met of sonder die tussenkoms van die ooi oorgedra, terwyl Actinobacillus seminis hoofsaaklik van die ram via die ooi na die lam tydens dekking, oorgedra word. Ramme wat met hierdie organismes besmet is, kan permanent onvrugbaar raak.

Dr. Van Tonder het boere dus aangeraai om altyd voor paring alle ramme deur 'n veearts te laat ondersoek.

Balanoposthitis is nog 'n probleem wat dikwels by ramme ondervind word, veral jong verkoopsramme wat in stalle met houtvloere en op hoe konsentraatvoeding aangehou word. Hamels onder vetmesting is ook baie onderhewig hieraan. Hierdie toestand veroorsaak nie net dat ramme weens pyn ongeneë is om te dek nie, maar dat dekking selfs onmoontlik is.

Voorbehoeding berus hoofsaaklik op die regstelling van die voeding van die diere. 'n Oormatige hoë eiwitinhoud moet vermy word, aangesien dit nie net die toestand bevorder nie, maar ook onekonomies is, het hy gesê.

'n Verdere siektetoestand wat ramme onwillig maak om te dek, is nekrotiese balanitis. Die voorkoms hiervan word bevorder deur buitengewone hoe reënval en die gepaardgaande nat, modderige toestande en kom hoofsaaklik in die dekseisoen voor. Behandeling met sekere antibiotika gee goeie resultate, het dr. Van Tonder gesê.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Lente