Last update: April 3, 2012 03:02:11 PM E-mail Print

 

SIEKTES VEROORSAAK DEUR RICKETTSIAS EN CHLAMYDIA

 

EM van Tonder

 

 

HARTWATER

Hartwater is 'n akute, dodelike siekte wat ook skape in sekere streke aantas.

 

Oorsaak en verspreiding

Die siekte word veroorsaak deur 'n soort kiem wat rickettsia genoem word en wat bekend staan as Cowdria ruminantium. Die kiem word van besmette na gesonde diere deur besmette bosluise, nl. die bontbosluis oorgedra. Die voorkoms van die bosluis en dus ook die siekte is in 'n groot mate beperk tot die warm bosagtige streke van Noord- en Oos- Transvaal, Natal, die Transkei, die Oos-Kaap en beperkte gebiede van die Suid-westelike distrikte.

 

Voor- en nadoodse tekens

Aangetaste diere toon aanvanklik slegs hoë koors, lusteloosheid, gebrek aan eetlus en vinnige asemhaling, terwyl sommige gevalle akuut vrek sonder dat simptome waargeneem kan word. Gewoonlik word die aanvanklike tekens egter binne 'n dag of wat gevolg deur senusimptome. Die dier kners op die tande, wys spierbewing en swakheid, is onvas op die pote en lig dikwels veral die voorpote hoog op wanneer hy beweeg. Kort voor die dood intree gaan Iê die dier op sy sy en voer trapbewegings met die bene uit, knip die oë aanhoudend, met skuim by die bek en neus. Die dier vrek gou hierna.

By nadoodse ondersoek is die milt vergroot, die longe is vol vloeistof met skuim in die lugpype, daar is 'n helder tot rooigekleurde vloeistof in die hartsak en bloeding aan die binne en buite-oppervlakte van die hart.

 

Diagnose, behandeling en voorbehoeding

Alhoewel die simptome en nadoodse tekens redelik tipies is, is dit nietemin nodig om 'n diagnose te laat bevestig deur mikroskopiese ondersoek van breinsmere deur 'n veearts. So 'n ondersoek sal veral van waarde wees om ander siektes wat moontlik verwarring kan veroorsaak uit te sluit, en behandeling van siek diere waar te neem of voor te skryf.

'n Entstof wat bestaan uit hartwater-besmette skaapbloed word by sowel Onderstepoort as Grahamstad berei. Die entstof moet so gou moontlik na ontvangs, en verkieslik dieselfde dag nog, binne-aars toegedien word. Die temperatuur van geënte diere moot gereeld geneem word, aangesien 'n koorsreaksie van die agste tot die veertiende dag ontwikkel en sulke reageerders dan behandel moot word. Waar 'n groot aantal skape betrokke is moet inenting liefs onder toesig van 'n veearts geskied. In sulke gevalle kan die diere dan op die tiende of twaalfde dag voor die voet behandel word en gevalle wat hierna reaksies toon, word dan weer individueel behandel. Dit is baie belangrik dat diere nadat hulle geënt is weer met besmette bosluise in aanraking moet kom om hulle weerstand te bevorder.

Volledige voorskrifte word gewoonlik saam met die entstof uitgestuur.

 

ENZOöTlESE ABORSIE (CHLAMYDIOSE)

Hierdie probleem het die afgelope twee jaar veral onder skape feitlik landswyd voorgekom, waar dit nie slegs aborsies nie, maar ook groot nageboortelike verliese onder jong lammers veroorsaak het.

 

Oorsaak en verspreiding

Die besmetting by skape word veroorsaak deur een van die tipes wat voorlopig as Ozlamydia psittaci bekend sal staan. Ofskoon weinig nog bekend is oor die presiese wyse van oordraging, dui eksperimentele waarnemings daarop dat besmetting hoogs waarskynlik deur die bek geskied en dat vrugvliese, baarmoeder uitloopsels, dooie lammers, ens. as bronne van besmetting dien. Verder is dit ook bekend dat die organisme in die dermkanaal van gesonde diere kan voorkom en die diere mag dus as draers in bepaalde kuddes optree.

 

Siektetekens

Wanneer die siekte vir die eerste keer sy verskyning maak in 'n kudde kan tot 80 persent aborsies voorkom, terwyl dit daarna afneem tot ongeveer 5 tot 10 persent jaarliks. Die ooi toon geen tekens van besmetting of naderende aborsie nie. Die simptome kan wissel vanaf baie vroeë afsterwing en aborsie van die vrug, wat slegs deur 'n lae lampersentasie weerspieël sal word, tot vroeë aborsies, gewoonlik vanaf 3-maande dragtigheid en verder, tot die lewering van voltydse doodgebore lammers. Gedurende die tyd word ook klein verpotte en swak lammers gebore wat binne 2 tot 3 dae vrek en soms ook langer mag lewe. In geval van aborsies of vroeggebore lammers vind ons wel dat die nageboortes geneig is om vas te sit, en ooie mag dus baarmoederontsteking ontwikkel.

By die lammers wat lewendig gebore word kan senusimptome waargeneem word wat wissel van bewerasie tot stuiptrekkings, stywe nekke, agterlyfswakheid en selfs algehele verlamming. Lammers wat sigbaar aangetas of selfs normaal lyk, het 'n harige kIeed met wit, styl, kroeserige wol.

Sekondêre simptome onder lammers wat skynbaar normaal gebore is varieer vanaf maagwerk, gewrigsontsteking, longontsteking en hoë vatbaarheid vir 'n verskeidenheid van besmettings en parasiete.

Die nadoodse letsels van aborsies is seIde tipies en 'n mens kan slegs tekens van afsterwing in die baarmoederkoeke waarneem. Lammers wat kort na geboorte vrek toon dikwels slegs konsolidasie-areas in die longe. Ander letsels wissel volgens simptome en sluit in gewrigsontsteking, longontsteking, breinvIiesontsteking en maagdermontsteking.

 

Diagnose, behandeling en voorbehoeding

Alhoewel die simptome en voorkoms van die siekte baie tipies is, kan 'n werklike diagnose slegs gemaak word deur die kiem op smere van vrugvliese en long- en ander letsels te demonstreer, of dit uit die orgaanmonsters te isoleer. Dit sal dus raadsaam wees om verdagte gevalle deur 'n veearts te laat ondersoek sodat die nodige monsters en bevestiging verkry kan word.

Daar is tans 'n doeltreffende entstof beskikbaar. Tydens uitbrekings behoort alle diere geënt te word, maar normaalweg vind inenting een maal per jaar plaas. Jong ooitjies wat die eerste keel by die ram moet kom, word een keer ongeveer vier weke voor paring geënt. Sulke ooitjies mag indien verkies word die volgende jaar 'n opvolgdosis kry.

 

AANSTEEKLIKE BLINDHEID

Hierdie siekte is seker een van die algemeenste en oudste probleme in die land, ofskoon die werklike oorsaak vandag nog nie bekend is nie.

 

Oorsaak en verspreiding

Blindheid is by uitstek 'n aansteeklike siekte wat in sommige jare en gedurende sekere tye geweldige afmetings kan aanneem. Daar is verskeie oorsake beskryf, sowel hier as oorsee. Vroeëre navorsing in SA het die oorsaak beskryf as 'n Rickettsia wat ook in die oogslymvliese van normale skape voorkom, maar onder sekere omstandighede, as gevolg van verlaagde weerstand, wel die oogontsteking veroorsaak. In Amerika is die belangrikste oorsaak egter 'n bakterium van die Moraxella-groep, en in Australië waar die meeste werk ook gedoen is, is die veroorsakende organisme geïsoleer. Dit stem naamlik ooreen met die groep wat tans as Ozlamydia geklassifiseer word. Aangesien herhaaIdeIike bakteriese ondersoeke niks opgelewer het nie, sluit dit dus hierdie groep organismes uit. Die voorkoms van die organismes op smere van aangetaste oë wat vroeër as rickettsia beskryf is, toon egter ooreenstemming met Chlamydia, soos ook die hele aard van die siekte en sy onvoorspelbaameid en halsstarrigheid t.o.v. behandeling. Dit is dus baie moontlik dat die oorsaak 'n Chlamydia wat vroeër verkeerdelik vir 'n Rickettsia aangesien is. Volgens waarnemings is die siekte hoogs aansteeklik en kan dit deur noue kontak asook deur insekte versprei word. Die  moontlikheid bestaan ook dat bepaalde faktore soos sekere tekorte 'n rol mag speel.

 

Siektetekens

Hierdie siekte kan in 'n gematigde asook 'n baie akute vorm voorkom.

Die gematigde vorm word gekenmerk deur tranerige oë, waar die uitskeiding aanvanklik waterig is en later etterig word. Die oogslymvliese is intens rooi en die ooglede het 'n pienk voorkoms; terwyl 'n droë etterige aanpaksel dikwels aan die ooghare kleef. By die meeste gevalle ontwikkel die siekte nie verder nie, maar by 'n aantal word die oogbal en horingslymvlies ook aangetas en verkleur dit vaalgrys.

Die akute gevalle volg dieselfde patroon, maar die oogballe en horingvlies word baie gou aangetas. Die are van die oogbal is sterk gevul en die hele oog is intens rooi en bult uit in 'n mindere of meerdere mate. Die horingvlies oor die kykergedeelte is erg ontsteek met 'n gryswit sentrale punt en rooipers rand daarom. Die oog bult steeds meer uit sodat die sweeragtige grys punt yerby die ooglede steek en baie dikwels ook oopbars. Andersins neem dit baie lank om te herstel en in baie gevalle behou die horingvlies 'n vaalgrys, pêrelagtige voorkoms. Dit is by uitstek 'n ekonomiese probleem en aangesien sulke skape nie kan sien nie en pyn verduur, verloor bulle baie gewig. Wanneer albei oë aangetas is, dwaal hulle af van die trap en verongeluk of vrek van die honger. Dit is veral onder lammerooie 'n baie lastige probleem.

 

Diagnose, behandeling en voorkoming

Diagnose is maklik en die probleem wyd bekend.

Behandeling lewer egter baie wisselvallige resultate. 'n Groot verskeidenheid antibiotika, sulfa- en ander middels is van tyd tot tyd aanbeveel, maar geen standhoudende resultate is nog gelewer nie. Soms lyk dit asof 'n sekere middel meer effektief is as 'n ander, maar op 'n ander plaas of met 'n volgende uitbreking is die uitwerking omgekeerd.

Met uitbrekings is dit raadsaam om die toestand met die naaste veearts te bespreek en om aangetaste diere af te sonder en volgens voorskrifte behandel. Party boere beweer dat ligte bespuitings met insekwerende middels goeie resultate lewer en uitbrekings keer. Die dosering van vitamien A en die toediening van fosfate is herhaaldelik uitgetoets met dieselfde uiteenlopende resultate.

Daar is werklik in die stadium geen voorbehoedende maatreëls wat suksesvol toegepas kan word nie.

 

Published

Bladskrifreeks : Wolproduksie E 10/1975