Last update: March 30, 2012 09:28:01 AM E-mail Print

 

RIGLYNE VIR DIE BRAND VAN VELD IN DIE KAROO-BERGGEBIED

 

G DU PREEZ

Hoofvoorligtingskantoor Substreek Middellande

Posbus 30

Graaff-Reinet

6280

 

 

Geharde bossoorte en suurpolgras is oor groot dele in die Karooberggebied die dominante plantegroei. Hierdie spesies skep benuttings- en bewaringsprobleme en vereis derhalwe bestuurstegnieke om hul te onderdruk of meer benutbaar te maak. Die enigste praktiese metode om dit te bewerkstellig is deur sulke plantgemeenskappe te brand. Dit vereis noukeurige voor- en na-brandbehandeling om enigsins die gewenste uitwerking te verkry.

Na aanleiding van deurtastende ondersoeke, oorlegpleging met die Grondbewaringskomitee van Graaff-Reinet en weidingkundiges van die Landboukollege Grootfontein is die volgende van belang by die brand van veld in die berggedeeltes van die landdrosdistrikte van Aberdeen, Murraysburg, Graaff-Reinet, Middelburg K P, Cradock, Pearston en die oorgrote noordelike gedeelte van Somerset-Oos.

Die bergreeks vorm 'n groot gedeelte van die Groot Eskarpement en bestaan uit die volgende berge: die Koueveld-, Sneeu-, Tandjies-, Coetzees- en Bankberge en die Groot Bruintjieshoogte.

 

REDES VIR DIE BRAND VAN VELD

Die volgende plantspesies neem toe in die gebied: Elytropappus rhinocerotis (rhenosterbos), Euryops spp. (harpuisbossoorte), Passerina montana (oumeidebos), Eumorphia dregeana (windmakerbos), Dodonea viscosa (ystertop), Rhamnus princides (blinkblaar) en Merxmuellera disticha (suurpolgras).

Hierdie houtagtige bosstruike en harde veselrige gras skep belangrike veldprobleme beide ten opsigte van beheer en benutting.

Die brand van veld is ‘n algemene praktyk om van hierdie indringerbossoorte ontslae te raak, asook om die veld te verjong deur die ruig uitgegroeide suurpol af te brand en veral vir kleinvee vreetbaar te maak.

Veldverbetering deur brand hou besliste moontlikhede in op dolerietiese grond waar die reënval gunstig is, mits 'n versigtige bestuursbeleid voor en na die brand gevolg word.

Die moontlikhede vir sukses op die vlak gruiserige en skalieagtige gronde en gebiede met 'n laer reënval is nie goed nie en daar moet begin word alvorens veld in hierdie gebiede gebrand word.

 

 

RIGLYNE

Voorafbebandeling

Om 'n skoon en vinnige brand te verseker is 'n digte plantbedekking noodsaaklik. Indien die moontlikheid bestaan dat die veld kollerig of selektief sal brand, is dit 'n vereiste dat die veld vir minstens die voorafgaande groeiseisoen aan beweiding onttrek word.

Hierdie voorbereidingsperiode wat hoofsaaklik grasse sal aanmoedig, mag so kort as een groeiseisoen op die hoër liggende gebiede wees, tot heelwat langer in die bosstruikveld van, byvoorbeeld, die Kamdeboo-berge.

Indien die veld nie skoon brand nie, moet aIle pogings aangewend word om dit binne 14 dae skoon te brand.

 

Datum van brand

Geen vaste algemene datum kan voorgeskryf word om veld te brand nie. Daar behoort egter nie vroeër as ongeveer die middel van Augustus en nie later as die end van Oktober gebrand te word nie.

Dit is egter baie wenslik dat daar slegs gebrand sal word nadat die eerste goeie lentereëns van ongeveer 25 mm geval het of waar die grond nog klam is na die winterreëns en sneeu.

Die rede waarom daar nie vroeër as die helfte van Augustus gebrand behoort te word nie, is omdat hierdie vroeë brande die plantegroei tot buiteseisoense spruiting stimuleer en geweldige rypskade van die groeipunte van die grasse tot gevolg het.

Hierdie rypskade aan die grasse benadeel hul groeivermoë geweldig en plaas hul in 'n nadelige posisie ten opsigte van die bosstruike. Hierdeur word struike dus bevoordeel bo die graskompleks omdat bome en struike net soos grasse op hul aktiefste gedurende die somermaande groei.

Daar behoort ook nie later as Oktober gebrand te word nie want dan word daar in die droë voorsomermaande inbeweeg. 'n Droë brand moet sover moontlik vermy word want dit beskadig die krone van gewenste grasse en vernietig die grondhumus, grondmikro-organismes en saad. Na 'n droë brand spruit die plante ook nie uit nie en kan sodoende nie die grondoppervlakte beskerm nie. 'n Droë opvolgperiode is ook baie nadelig vir die plantegroei.

'n Lentebrand is egter nie so suksesvol om bosstruike dood te brand nie en het 'n groter persentasie hergroei tot gevolg.

Waar bosse en struike egter 'n groot probleem is, kan goedkeuring vir 'n somerbrand verleen word na 'n inspeksie en aanbeveling deur die plaaslike grondbewaringskomitee. Dieselfde geld waar vaste Merxmuellera districha-veld bokant 1 800 meter bo seespieël voorkom.

 

Behandeling na brand

In die meeste gevalle is mislukkings om veld deur middel van brand te verbeter te wyte aan die volgende faktore: aanvanklike ongeskiktheid vir brand, droogtetoestande wat heers voor en na brand, grondgeaardheid en veral die lengte van die rusperiode na die brand.

Die duur van die rusperiode na brand hang ten nouste saam met hergroei van die probleemplante en algehele veldherstel. Goeie reëns voor en na die brand sal die graskompleks bevorder. Hoe langer die reëns egter wegbly, hoe meer sal die ongewenste plante bevorder word.

'n Beweiding wat te gou op die brand volg is die vernaamste oorsaak van die indringing van bosstruike en die vernietiging van die smaaklike meerjarige grasse soos veral rooigras, Themeda triandra, en die gepaardgaande vermeerdering van harde suurgrassoorte.

Die algemene riglyn is dat die weiveld vir ongeveer 14 maande aanhoudend gerus moet word. Beweiding kan dus eers aan die einde van die daaropvolgende Desember plaasvind.

Waar suurpol, Merxmuellera disticha, oorheers kan die weiveld in die winter, dit is gedurende Mei, Junie en Julie bewei word, verkieslik met beeste. Hierdie praktyk word egter nie aanbeveel nie omdat dit skadelik is vir saadvorming van veral rooigras, Themeda triandra.

Na die rusperiode moet die kamp onder 'n wisselweidingstelsel geplaas word of spesiale behandeling ontvang soos, onder andere, 'n winterbeweiding met beeste.

Beweiding op enige ander tydstip behalwe bogenoemde periodes sal slegs toegelaat word na 'n inspeksie en skriftelike goedkeuring deur die plaaslike grondbewaringskomitee. Grondbewaringskomitees behou hul ook die reg voor om gebrande velde te besoek voordat beweiding in aanvang neem.

Die versigtige bestuur van die gebrande veld vir 'n aantal jare, kan nie oorbeklemtoon word nie.

Indien bosstruike binne drie jaar weer in 'n groot mate hul verskyning maak behoort die veld, na 'n inspeksie en aanbeveling deur die komitee, weer afgebrand te word.

 

VERWYSINGS

DIREKTEUR: KAROOSTREEK, 1972. Ontwikkelingsplan van die Karoostreek. Par. 1.6 en 6.1.2.

ROUX, P.W., 1966. Veldbrand. Hfst. XIX in: Die Kleinveebedryf in Suid-Afrika. Saamgestel deur W.J. Hugo, Staatsdrukker, Pretoria.

 

Published

Karoo Agric 3 (2), 8-11