Last update: April 3, 2012 08:12:03 AM E-mail Print

 

RYPERDE BESPAAR BRANDSTOF

M.A. THEUNISSEN

Hooftegnikus: Skaap en Wol 

 

 

Voor die styging in brandstofpryse 'n paar jaar gelede is in groot mate van motorvoertuie gebruik gemaak vir die beheer van kleinvee. Die styging in brandstofpryse het egter geweldige uitgawes tot gevolg gehad en dit was noodsaaklik dat aandag geskenk moes word aan die besparing op motorvervoer. Die gedeeltelike vervanging van motorvervoer deur ryperde is oorweeg; die bekombaarheid van geskikte diere en die hoë aankooppryse was egter groot struikelblokke. Dit was dus 'n puik ingewing toe daar in 1975 besluit is om self ryperde ter plaatse te teel.

Met die aankoop van 'n teelhings moes die volgende in ag geneem word:

Die Landboukollege Grootfontein beslaan ongeveer 11 500 ha, is in 67 kampe verdeel en dra ongeveer 4000 kleinvee- en 120 grootvee-eenhede. Die 4 000 kleinvee-eenhede word deurgaans vir proefdoeleindes gebruik. So ook val die 67 weikampe in voorgeskrewe weidingstelsels. Benewens die navorsingsprogram word skape dwarsdeur die jaar geskeer. Daar kan dus aanvaar word dat die kleinveeboerdery op Grootfontein baie meer aandag vereis as die op 'n gewone skaapplaas.

Ten einde gemelde navorsingsprogram vlot te laat verloop, asook voortdurend voldoende skape by die opstal beskikbaar te hê vir skeerdoeleindes en vir gebruik by die opleiding van studente, word tans daagliks vyf arbeiders te perd gebruik. Dit is die praktyk om die arbeiders te perd daagliks na verskillende kampe, waarvan die meeste 8 tot 10 km van die opstal geleë is, te stuur om die vee op strategiese punte bymekaar te bring sodat 'n blanke opsigter - in baie gevalle ook te perd – die nodige aandag aan die diere kan skenk en kontrole kan uitoefen.

Berekenings het getoon dat die ryperde jaarliks gesamentlik die geweldige afstand van 10000 km aflê.

Die lnrigting was gelukkig om 'n goeie teelhings uit 'n beroemde Palomino-stoetery teen 'n billike prys te bekom. Hierdie hings is aanvanklik op vier merries wat beskikbaar was, gebruik. Die eerste twee jong perde wat hier geteel is, word reeds gery. Binnekort sal 'n verdere drie in gebruik kom.

Dit mag miskien lyk of Grootfontein binnekort oor te veel ryperde sal beskik. Hierdie redenasie hou egter nie stand nie, want die drie proefplase in die Karoostreek, naamlik die Hofmeyr-bewaringsgebied, asook die Carnarvon- en Jansenville-proefplaas het dieselfde probleem in verband met hoë motorvervoerkoste ondervind en navrae vir die verskaffing van ses ryperde is al in hierdie stadium ontvang.

Dit is nie die doel om 'n noukeurige berekening te maak ten einde die verskil in uitgawe tussen die gebruik van motorvervoer en die van ryperde te bereken nie. 'n Vlugtige berekening dui egter op die volgende: Om 20000 km per motorvoertuig af te Iê, beloop ongeveer R2000; om vyf ryperde per dag te voer, beloop ongeveer R2,50, dit wil sê ongeveer R900,00 per jaar.

Aanvanklik was daar huiwering om te begin met die teel van ryperde, hoofsaaklik omdat die Inrigting nie oor 'n geskikte persoon vir die makmaak van die jong perde beskik nie. Hierdie probleem is egter sonder veel moeite soos volg oorkom: Die jong vulletjies word vanaf hul 14de dag al gehanteer en vertroetel. Reeds op die ouderdom van 15 tot 18 maande word die jong vullens aan 'n mak perd met ruiter gekoppel om saam te draf op 'n rit veld toe. Na enkele herhalings word die saal opgesit en draf die jong perd met 'n leë saal, en gekoppel aan die mak perd met ruiter, veld toe. Die volgende stap klim die ruiter in die saal en op die jong perd en dit geskied so ongemerk vir die dier asof dit 'n alledaagse gebeurtenis is.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Junie