Last update: March 30, 2012 11:37:45 AM E-mail Print

 

Sertifisering van ramme

 

EM van Tonder

Veterinêre Streekslaboratorium

Middelburg

5900

 

SERTIFISERING van ramme behels 'n veeartsenykundige bevestiging van hul kliniese gesondheid, potensiële vrugbaarheid en fisiese vermoë om suksesvol te kan dek. Al hierdie aspekte word omsluit deur die term geslagsgeskiktheid. Ten einde 'n ram se geslagsgeskiktheid te evalueer, word gebruik gemaak van 'n reeks ondersoeke en toetse. Die ondersoeke en toetse is egter slegs wetenskaplike hulpmiddels wat onderhewig is aan beperkings en dus as aanvullend tot mekaar beskou en uitgevoer moet word. Dit is dus wenslik dat, afhangende van omstandighede, 'n kombinasie van soveel toetse en ondersoeke as moontlik in elke geval gedoen behoort te word. Die bevindinge van al die moontlike ondersoeke en toetse word uiteindelik gesamentlik beoordeel ten einde 'n beslissing ten opsigte van die reproduksievermoë van die ram te maak.

 

OMSKRYWING VAN TERMINOLOGIE

Daar is veral drie terme naamlik vrugbaarheid, geslagsgeskiktheid en telingsgeskiktheid wat algemeen ten opsigte van die toetsing van ramme gebruik word en dikwels verwarring veroorsaak.

Vrugbaarheid is waarskynlik die oudste term en ook die een wat die meeste gebruik word. Streng gesproke, beteken die term dat 'n ram in staat moet wees om te kan voortplant, d.w.s. om nie slegs potensieel vrugbare semen te produseer nie, maar ook in staat moet wees om ooie suksesvol te dek en te bevrug. Dit het egter algemene gebruik geword om die term slegs te assosieer met 'n semenondersoek. Ramme is dus as vrugbaar gesertifiseer indien die kwaliteit van die ejakulaat bevredigend was, ongeag sy vermoë om onder natuurlike toestande ooie suksesvol te dek. Die klem het dus hoofsaaklik geval op die produksie van vrugbare semen, eerder as reproduktiewe doeltreffendheid.

Ten einde die onbevredigende toedrag van sake uit te skakel, is die term geslagsgeskiktheid ontwikkel. Dit is 'n omvattende begrip wat in geheel die ram se voortplantingsvermoë en potensiaal as teeldier insluit. 'n Geslagsgeskikte ram kan dus gedefinieer word as een wat klinies gesond is, oor goedgevormde, funksionele geslagsorgane beskik, 'n goeie gehalte semen produseer en in staat is om ooie onder natuurlike omstandighede suksesvol te dek. Die beoordeling van geslagsgeskiktheid is die uitsluitlike funksie van die veearts en behels 'n volledige ondersoek vir vrugbaarheid en aIle ander aspekte wat 'n ram se voortplantingsvermoë mag beïnvloed. Vrugbaarheid is dus 'n belangrike aspek van die begrip geslagsgeskiktheid. Dit volg egter vanselfsprekend dat 'n ram wat 'n uitstekende kwaliteit semen lewer, maar vanweë enige ander rede onbevoeg is om ooie suksesvol te dek en te bevrug, funksioneel of prakties gesproke, onvrugbaar is.

Die term telingsgeskiktheid word ook dikwels gebruik in verband met die sertifisering van ramme. Dit word egter gevoel dat waar geslagsgeskiktheid slegs die ram se reproduksievermoë behels, ongeag daarvan of hy geskik of aanvaarbaar is vir teling, die term telingsgeskiktheid gereserveer moet word om daardie ramme in te sluit wat geskik geag word om van te teel. lndien 'n ram as 'n teeldier behou word, is hy - wat die eienaar betref - 'n telingsgeskikte ram, ongeag daarvan of hy vir stoet-, kudde- of kruisteling gebruik word. Die standaard van telingsgeskiktheid sal dus varieer van indiwidu tot indiwidu asook die doel van teling. Daar is egter minimum rasstandaarde en prulfoute vir elke ras wat van tyd tot tyd neergelê word om as riglyne te dien. Beoordeling van telingsgeskiktheid berus by die eienaar, teler of keurder van die bepaalde ras. So 'n ram behoort egter ook vir geslagsgeskiktheid getoets te word. Daar mag egter 'n mate van oorvleueling plaasvind, veral ten opsigte van fisiese of anatomiese afwykings, veral waar die graad van afwyking van belang is.

 

ONDERSOEK VIR GESLAGSGESKIKTHEID

Die erkende ondersoeke en toetse vir geslagsgeskiktheid behels die volgende:

 

IDENTIFIKASIE EN ALGEMENE INLIGTING

Afgesien van gegewens soos die naam en adres van die eienaar, datum en plek van ondersoek, moet 'n volledige identifikasie van elke ram verkry word. Enige ander relevante inligting soos voorafgaande voeding, behandelings en entings moet so akkuraat as moontlik verkry word. In Ouer ramme is die teelprestasie ook belangrik.

 

 

ALGEMENE KLINIESE ONDERSOEK

'n Bepaling van die ram se fisiese toestand en die aan of afwesigheid van besmetlike of ander toestande is van uiterste belang by die evaluasie van geslagsgeskiktheid. By so 'n ondersoek is dit ook noodsaaklik dat daar nie slegs opgelet sal word vir tekens van heersende en ontwikkelende of sluimerende siekte nie, maar ook vir enige getuienis van vorige siekte, veral gedurende die voorafgaande twee maande. Tekens waarna spesifiek opgelet moet word, sluit in breekplekke in die wol en breekplekke of riwwe op die wand van die kloutjies of horingbasis. Spermatogenese in die ram neem ongeveer 49 dae en beweging van die spermselle deur die epididimis 'n verdere 2 tot 3 weke. Dan moet in gedagte gehou word dat die vroeëre stadiums van spermatogenese meer sensitief is vir hoë - temperature en ander ongunstige toestande en dat 'n swak saadprent dikwels die gevolg kan wees van 'n aantasting op enige stadium in die voorafgaande 2 tot 3 maande of langer.

Afgesien van bepaalde sistemiese siektetoestande moet noukeurig gelet word op spesifieke anatomiese of bouvormfoute wat geslagsgeskiktheid mag beïnvloed. Voorbeelde hiervan is oormatige kraagontwikkeling, heupdisplasie en ander agterbeenabnormaliteite.

 

ONDERSOEK VAN DIE UITWENDIGE GESLAGSTELSEL

Inspeksie en palpasie van die skrotale organe kan die beste uitgevoer word wanneer die ram staan. Daar word spesifiek opgelet na simmetrie en lengte van die skrotum, funksionering van die termo-regulatoriese sisteem, aandoenings van die skrotale vel en vergrotings of onreëlmatighede van die skrotum self. Palpasie word uitgevoer deur van agter beide teelbalstringe, een in elke hand, vas te vat en die hande stadig na onder te beweeg sodat die verskillende strukture soos die testes en epididimi stadig deur die hande gly en behoorlik bevoel kan word. Die vernaamste afwykings wat gevoel kan word is varikoseel, skrotale breuke, spermatoseel, spermatogranulome, epididimitis, orgitis, atrofie, hipoplasie, skrotale absesse en paradidimale siste.

Die ram word dan in 'n sittende posisie geplaas om die penis en skede van nader te ondersoek. Die penis self word ondersoek terwyl dit in die skede is en ook nadat dit ten volle uitgetrek is. Hier word veral opgelet na abnormaliteite soos laaghangende penis, stenose van die skede, balano-postitis, ulseratiewe balanitis, fimose, parafimose, en prolaps van die skedeslymvlies.

 

SEMENKOLLEKSIE EN EVALUASIE

1. Semenkolleksie

Ofskoon semen wat by wyse van 'n kunsvagina versamel word oor die algemeen van 'n beter kwaliteit is as die wat deur middel van elektriese stimulasie verkry word, is die eersgenoemde tegniek beperk tot ramme wat daaraan gewoond is.

Dit is dus van min waarde by roetine vrugbaarheidsondersoeke. Aan die ander kant weer kan met ondervinding en oefening semen van uitstaande kwaliteit en vergelykbaar met die wat by wyse van 'n kunsvagina verkry is, met gemak deur middel van elektriese stimulasie versamel word.

Spesiale tafels kan gebruik word vir die immobilisasie van ramme, maar dit beperk egter die aktiwiteite tot die spreekkamer of laboratorium, tensy vervoerprobleme uitgeskakel kan word. Aangesien die ram op die tafel getel en vasgegord moet word, neem dit ook baie meer tyd in beslag. Waar voldoende helpers beskikbaar is, kan ramme baie maklik op enige geskikte vloeroppervlak neergelê en deur vier helpers op die sy platgedruk en gehou word.

Die penis word op die gebruiklike wyse uitgetrek en gefikseer deur 'n stuk gaasband of lint van ongeveer 1 tot 2cm wyd. Die band word in enkele Ius bo-oor die penis en styf om die collum glandis gevou en die twee kante van die Ius onmiddellik onder die ventrale aspek van die penis, regoor die urethra, na mekaar gedruk met die duim en wysvinger van die linkerhand. Sodoende word 'n sterk greep op die band en penis verkry. Onmiddellik voor ejakulasie word die drukking op die band en urethra verlig.

Die elektrode van die ejakulator word, nadat dit met aptekersparaffien gesmeer is, versigtig in die rektum geplaas vir 'n afstand van ongeveer 12 tot 15cm op so 'n wyse dat die ingeplaasde gedeelte term teen die onderste wand van die rektum, teenoor die ampullae, geleë is. Sodra die persoon wat die monster opvang gereed is, word die slinger van die ejakulator gedraai. Aanvanklik word baie stadig begin, dan al vinniger tot 'n klimaks bereik word waarna die proses dan skielik vir 'n kort periode gestaak word, terwyl die elektrode in die rektum rondbeweeg word. Gedurende hierdie tussenpose, kry die kollekteerder sy houer gereed, maak dit oop en plaas die processus urethralis en punt van die penis in die opening. Die elektrode word nou weer in die korrekte posisie geplaas en die slinger van die ejakulator 'n kort vinnige draai gegee. Dit word gewoonlik gevolg deur spontane ejakulasie.

Semen word gewoonlik in gegradueerde buise opgevang of andersins kan wyebek McCartney-bottels gebruik word. Die verwarming van die houers en glasplaatjies lewer gewoonlik praktiese probleme wanneer 'n aantal ramme na mekaar getoets moet word. Termosflesse kan wel gebruik word vir die houers, terwyl die standaard verhitte platformpies slegs een glasplaatiie op 'n slag kan akkommodeer en ook lank neem om die regte temperatuur te bereik. Vir die gelyktydige verwarming van 'n aantal houers en glasplaatjies word 'n warmplaat met 'n plat elektriesverwarmde emalje-oppervlakte baie prakties en handig gevind. Die glasplaatjies en houers word direk op die oppervlak geplaas terwyl die houers ook nag met watte bedek word. Die houers word. slegs kort voor opvangs van semen verwyder en styf in die palm van die regterhand van die kollekteerder gehou.

 

2. Visuele ondersoek

Hierdie ondersoek word onmiddellik na opvangs van die saad uitgevoer en bestaan uit direkte waarneming van die volume, kleur, digtheid en beweeglikheid van die monster.

Die volume van die semenmonster kan of direk gemeet word in 'n gegradueerde buis waarin dit opgevang is of moet in geval van ander houers geskat of na die kritieke toetse gemeet word. Dit wissel gewoonlik vanaf 0,5 tot 2,5 ml.

Die kleur van 'n goeie monster ramsemen wissel van 'n melkerige wit tot effens romerige kleur. Abnormaliteite in voorkoms sluit in die teenwoordigheid van bloed, urine en ettervlokkies.

Die digtheid van die semenmonster word gebruik om die aantal spermselle per milliliter te skat, aangesien 'n werklike seltelling 'n tydsame prosedure is. Die volgende skaal is deur Gun, Sanders en Granger4 voorgestel.

 

Digtheid

Geskatte aantal sperme

(Miljoen per ml)

Baie dik romerig 3000
Dik romerig 2500
Romerig 2000
Dun romerig 1500
Dik melkerig 1000
Melkerig 500
Wolkerig 100
Minder as wolkerig onbeduidend

 

 

By die visuele ondersoek kan 'n goeie idee van die beweeglikheid van 'n semenmonster verkry word deur baie noukeurig te kyk en die houer skuins te draai en dan weer regop te hou sodat die semen in 'n dun laag teen die kant terug na die bodem vloei.

 

3. Mikroskopiese ondersoek

(1) Beweeglikheid

Die ondersoek moet so gou moontlik na versameling uitgevoer word en die monster moet nie skielik blootgestel word aan laer temperature nie.

Beweeglikheid word beoordeel op golf-of massabeweging asook die beweging van die indiwiduele sperme. In die eerste instansie word 'n druppel semen onder lae vergroting (40 tot 100 x) ondersoek. Ofskoon 'n hangdruppel op 'n McMaster glasplaatjie vir die doel aanbeveel word, lewer 'n gewone druppel wat versigtig op 'n verwarmde glasplaatjie geplaas is ewe goeie resultate, veral wanneer 'n aantal ramme ondersoek moet word.

Golfbeweging word waargeneem as donkergekruinde golwe wat vinnig in aIle rigtings oor die mikroskopiese veld beweeg. Volgens die intensiteit van beweging en die skerpheid van die golwe, word beweeglikheid beoordeel op 'n skaal wat varieer van 0 tot 5. 'n Hoë kwaliteit semen moet 'n 5 beweging he en moet skerp, goed gedefinieerde donkerkruinige golwe wys wat vinnig beweeg en van rigting verander. So 'n monster sal ook ten minste 'n romerige digtheid en kleur hê. Semen wat 'n golfbeweging van 4 en hoër wys, word algemeen as bevredigend aanvaar.

Volgens golfbeweging word die persentasie lewende en aktief bewegende sperme as volg geskat:7

 

Golfbeweging

Persentasie lewende en aktief

bewegende sperme

5 95 - 100
4 75 - 95
3 55 - 75
2 30 - 55
1 baie min
0 geen bewegende sperme

 

 

Die persentasie lewende sperme kan ook geskat word deur mikroskopiese velde nader aan die rand van die druppel te ondersoek. Indiwiduele beweging word bepaal deur 'n druppel semen ongeveer 10 keer met normale soutoplossing by die korrekte temperatuur te verdun en 'n druppel hiervan onder 'n dekglasie te ondersoek. Indiwiduele sperme behoort egalig en doelgerig te beweeg.

 

(2) Persentasie lewende sperme

Afgesien van die skattings soos voorheen verduidelik word die eosin-nigrosin metode1 ook uitgevoer. Daar is twee metodes wat gevolg kan word.

In die een geval word een druppel 5 persent eosin en twee druppels 10 persent nigrosin op 'n verwarmde glasplaatjie, apart maar digby mekaar geplaas. 'n Druppel semen word dan direk by die druppel eosin gevoeg en versigtig met 'n glasstaaf geroer waarna dit onmiddellik weer met die nigrosin gemeng word. Die finale mengsel word vir 'n verdere paar sekondes deeglik geroer waarna 'n klein druppeltjie dan op 'n skoon glasplaatjie uitgestryk word.

By die ander metode word die druppels eosin en nigrosin eers gemeng voordat die druppel semen bygevoeg word. Die mengsel word vir ongeveer 5 sekondes versigtig geroer voordat smere gemaak word.

AIle dooie of gekleurde en Iewendige of ongekleurde sperm selle in 'n aantal mikroskopiese velde word dan apart onder lae vergroting getel en die persentasie lewendige en dooie selle bereken. 'n Persentasie van 20 persent of minder dooie selle word gewoonlik as bevredigend aanvaar.

 

(3) Morfologie

Die morfologiese ondersoek van indiwiduele sperme kan op die eosin-nigrosin gekleurde smere of deur middel van spesiale kleurtegnieke gedoen word. Die mees algemene metodes behels Giemsa3 kleuring, die eosin en carbol fuchsin metode9 en die metode van Karras volgens Onderstepoort se modifikasie2.

Alhoewel daar nie algehele ooreenstemming is omtrent die persentasie abnormale sperme wat toelaatbaar is nie, blyk dit tog dat dit nie 20 persent te bowe moet gaan nie. Sekondêre abnormaliteite, d. w .s. die wat gewoonlik ontwikkel nadat die sel gevorm is, soos krulsterte en onvolwasse vorms met protoplasmiese druppels en afkoppe word die meeste aangetref.

Primêre abnormaliteite wat die kop van die spermsel aantas en van 'n meer ernstige aard is, word seIde teëgekom.

 

(4) pH van die semen

Die normale pH-waarde van ramsemen val binne die perke van 5,7 tot 7,3. Die pH van die semen dui op die metaboliese aktiwiteit van die sperme en is 'n indirekte aanduiding van die spermkonsentrasie van die monster.

 

ONDERSOEK VIR GESLAGSBESMETTING

Afgesien van die tipiese letsels in kliniese gevaIle, word geslagsbesmetting in beide kliniese en subkliniese gevalle gekenmerk deur die teenwoordigheid van neutrofiele, epiteelselle en die veroorsakende organisme in die saad. Dit moet egter in gedagte gehou word dat die kliniese siekte, sodra dit verby die akute stadium is, gewoonlik uitloop op totale afsluiting van die buis van die epididimis van die aangetaste kant met gevolglike verdwyning van die inflammatoriese produkte uit die saad. 'n Semenondersoek in sulke gevalle sal dus negatief wees mits die ander teelbal natuurlik vry is van besmetting.

 

1. Semensmeerondersoek

Semensmere vir die ondersoek vir besmetting word na afhandeling van die ander ondersoeke voorberei. 'n Druppel saad word in die vorm van 'n band dwarsoor die plaatjie met 'n glasstaaf uitgestryk sodat dit uit digter en dunner gedeeltes bestaan. Smere van tot vier ramme kan op dieselfde plaatjie gemaak word. Die digter dele word ondersoek vir die teenwoordigheid en konsentrasie van neutrofiele, terwyl die dunner gedeeltes meer geskik is vir die waarneming van organismes en hul morfologie.

Die Giemsa metode3 van kleuring van semensmere is baie geskik vir die opwys van neutrofiele en ander sellulêre elemente, maar nie om bakteriese organismes te identifiseer nie.

Die ander kleurmetodes wat gebruik word om bakteriese en Chlamydia-organismes op te wys is Stamp se modifikasie van die Ziehl-Neelsen tegniek6, Hansen se metode soos aangehaal deur van Drimmelen8 en ook die Gram kleurmetode5.

Die gemodifiseerde Ziehl-Neelsen6 en Hansen8 kleurmetodes is spesifiek vir die identifikasie van Brucella-organismes, terwyl eersgenoemde metode ook Chlamydia spesifiek opwys. Beide metodes is egter nie spesifiek vir die identifikasie van ander organismes wat in ramsemen voorkom nie, ofskoon hul teenwoordigheid wel bepaal kan word.

Aangesien aIle selmateriaal in semen negatief kleur met die Gram-metode en Gram-positiewe bakterieë slegs sekondêre indringers is, is die gebruik van die metode van beperkte waarde by roetine semenondersoeke.

Daar is dus twee metodes wat vir roetine-doeleindes oorweeg kan word, nl. Giemsa en die gemodifiseerde Ziehl- Neelsen tegnieke, maar aangesien laasgenoemde metode ook neutrofiele en ander selelemente baie duidelik kleur, is die voorbereiding van Giemsa smere vanuit 'n praktiese oogpunt beskou ook oorbodig.

Aangesien normale semen geen neutrofiele behoort te bevat nie, moet hul teenwoordigheid as 'n aanduiding van geslagsbesmetting beskou word. Ofskoon vrugbaarheid alleen beïnvloed word wanneer neutrofiele en bakterieë en hul produkte in so 'n mate teenwoordig is dat die kwaliteit van die semen aangetas word, moet ramme met neutrofiele in die semen nietemin nie as geslagsgeskik deurgelaat word nie.

Brucella OVIS kleur swak suurvas met Stamp se kleurmetode en kan dus maklik waargeneem word. Ramme wat tekens van die besmetting toon moet sonder huiwering geëlimineer word.

Actinobacillus seminis kleur nie-suurvas met Stamp se kleurmetode, maar kan gewoonlik uitgeken word op morfologie en rangskikking van die organismes. Soms,veral in akute gevalle, kan die organismes egter nie duidelik gesien word nie ten spyte van die aanwesigheid van groot getalle neutrofiele in die semen en suiwer en aanmekaar groei op bakteriologiese kulture van so 'n semenmonster. Aangesien 'n groot persentasie jong ramme ontslae te raak tussen speen- en laat tweetandouderdom, moet gewaak word teen die onoordeelkundige eliminasie van jong ramme met neutrofiele en/of organismes in die semen. Ramme op besmette plase behoort dus eers ondersoek te word op 'n ouderdom van 14 tot 18 maande wanneer bulle normaalweg vir verkoop aangebied word en behoort dan alleen geëlimineer te word, wanneer na ten minste drie ondersoeke met maandelikse tussenposes, die semen steeds besmet is of 'n stygende mate van besmetting toon.

 

2. Bakteriologiese ondersoek

Dit kom hoofsaaklik meer op die versameling van steriele semenmonsters en die deursending daarvan, in 'n vars toestand of op ys bewaar, na die naaste laboratorium. Die waarde van die ondersoek lê daarin dat bakteriese en selfs ander oorsake sonder twyfel geïdentifiseer kan word. Verder kan latente of baie milde sub-kliniese besmettings wat op smeerondersoek gemis kan word, ook deur die ondersoek vasgestel word.

 

 

3. Serologiese toetse

Hierdie toets vereis dat bIoed in 'n voorgeskrewe bewaarmiddel versamel en die afgeskeide serum na die naaste laboratorium gestuur word. Die waarde van die toets Iê daarin dat die besmetlike oorsaak steeds in aIle gevalle waar daar nag sirkulerende teenliggame is vasgestel kan word en waar aIle ander toetse sou faal. Dit is veral van waarde in daardie kliniese gevalle waar die epididimisbuis reeds afgesluit is en die besmetting dus nie langer in die semen uitgeskei word nie. Dit is ook 'n handige toets om geslagsbesmetting op 'n kuddebasis te identifiseer.

In subkliniese besmettings moet die toets egter met groot omsigtigheid benader word, veral in geval van A. seminis-besmetting. Geslagsbesmetting by ramme kom hoofsaaklik in die epididimisholte voor en in die subkliniese stadium is dit baie oppervlakkig van aard, sodat sistemiese indringing van die besmetting en gevolglike serologiese reaksie nie noodwendig ter sprake is nie. 'n Ram kan dus op smeerondersoek positief wees, maar geen teenliggame in die bloedstroom wys nie. Aan die anderkant kan, veral in A. seminis-besmetting in jong ramme, hulle reeds van die besmetting ontslae geraak het, terwyl daar nog 'n variërende mate van teenliggame in die bloedstroom is.

 

DIE PAARTOETS

Hierdie toets word baie seIde uitgevoer ofskoon dit een van die belangrikste aspekte van geslagsgeskiktheid dek. Dit behels die werklike dekkingsproses en is die enigste metode wat gebruik kan word om die ram se deklus en dekbehendigheid te bepaal. Deur ramme vir dieselfde bronstige ooi te laat kompeteer kan ander neigings soos dominansie of ondergeskiktheid en homoseksualiteit waargeneem word.

Die noukeurige waarneming van eienskappe soos hofmaking, bestyging en werklike dekking en die aantal en tussenposes tussen die verskillende aktiwiteite sal 'n baie goeie aanduiding gee van die dekvermoë van die ram.

 

DIE TEELTOETS

Hierdie toets word alleenlik uitgevoer waar daar ernstige geskille by kooptransaksies ontstaan het. Die toets bestaan uit die dekking van 'n voorafbepaalde aantal ooie, deur die spesifieke ram. In die geval word dit onder streng kontrole gedoen en word daar of van handdekking of indiwiduele paring gebruik gemaak. Die persentasie ooie wat beset is, bereken op die aantal ooie wat gepaar is, is finale bewys van die ram se vrugbaarheid en dekvermoë. Ooie kan oor 'n tydperk van een of twee hitteperiodes gedek word. Dit is normaalweg nie nodig om te wag totdat die ooie lam voordat 'n uitspraak gegee word nie. Berekeninge kan gemaak word op die aantal ooie wat sigbaar beset is of die aantal ooie wat nie weer na die eerste of tweede dekking op hitte kom nie, of indien die ooie beskikbaar is vir slagting kan bulle op enige geskikte tyd, byvoorbeeld 30 tot 40 dae of langer na dekking, geslag en vir dragtigheid ondersoek word.

 

FINALE OPMERKINGS

By die sertifisering van ramme moet die uitgangspunt wees om die ram se geslagsgeskiktheid te bepaal, eerder as om slegs op vrugbaarheid te konsentreer. Aangesien aIle toetse nie onder aIle omstandighede uitgevoer kan word nie, behoort daar altyd gepoog te word om die beste kombinasie van toetse te kies, sodat die beste inligting te aIle tye verkry kan word ten einde 'n behoorlike beslissing te maak. 'n Sertifikaat vir geslagsgeskiktheid behoort dan 'n opsomming van die verskillende toetse en bevindinge te gee en dan 'n finale opinie oor die ram se geslagsgeskiktheid.

 

VERWYSINGS

I. BLOM, E. 1950. En hurtig - farvningsmetode til adskillelse af levende og dode spermier ed hjaelp af Eosin-Nigrosin (A rapid staining method using Eosin-Nigrosin to distinguish between live and dead spermatozoa). Nordisk Veterinaermedicin. 2: 58---61.

2. BOSMAN, P.P. 1975. Sertifiseringvan beeste vir teeldoeleindes. In Voortplantingsteumisse en vrugbaarheid van herkouers. Kortkursus aangebied deur Produksie en Reproduksie Groep, Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging, 1-3 Julie 1975.

3. GIEMSA, G. 1902. Farbemethoden fur Malaria-parsiten. Zentralbladfur Bacteriologie. 32: 307-313,

4. GUNN, R.M.C., SANDERS, R.N. & GRANGER, W. 1942. Studies in fertility in sheep. 2. Seminal changes affecting fertility in Tarns. Council for Scientific and Industrial Research. Commonwealth of Australia. Bulletin No. 148.

5. PRESTON, N.W. & MORRELL,A.1962.Reproducibleresults with the Gram stain. Journal of Pathology and Bacteriology, 84: 241.-243.

6. STAMP, J.T., McEWEN, A.D., WATT, J.A.A. & NISBET, O.I. 1950. Enzoojtic abortion in ewes, I. Transmission of the disease. Veterinary Record, 62: 251-254.

7. STARKE, N.C. 1949. The sperm picture of rams of different breeds as an indication of their fertility. II The rate of sperm travel in the genital tract of the ewe. Onderstepoort Journal of Veterinary Science and Animal Industry, 22: 415-525.

8. V AN DRIMMELIN, G.C. 1960. Grepe uit die Afrikaanse Handleiding by die Bakteriologie, 2e Uitgawe, Pretoria: Wallachs.

9. WILLIAMS, W. W. 1920. Diseases of the bull interfering with reproduction. Journal of the American Veterinary Medical Association, II: 29-32.

 

Published

Karoo Agric, Vol 2 , no 3, 1983, 2-10 Merino Breeders Journal 46