Last update: August 16, 2011 03:24:29 PM E-mail Print

 

Siektes en parasietprobleme by skape en bokke na die goeie lentereëns

E Snyman

 

Na goeie reëns word toestande gunstig vir siektes en parasietprobleme wat ernstige produksieverliese en selfs vrektes by skape en bokke kan veroorsaak. Daar is byvoorbeeld plantvergiftigings soos blousuurvergiftiging en geeldikkop, en bakteriese siektes soos bloednier, longontsteking en klontwol wat direk na die reën kan voorkom. In die laat somer kan virussiektes soos bloutong, Slenkdalkoors en Wesselsbronsiekte oor groot gebiede uitbreek as die nat toestande voortduur.

Ernstige besmettings van haarwurm, bankrotwurm en langnekbankrotwurm kan ongeveer 3 weke na die reëns verwag word. Koksidiose by jong lammers wat gedurende die nat periodes op kraal of op aangeplante weidings grootgemaak word, kan ook tot verliese lei. Brommer aanvalle kan by wolskape voorkom.

Hierdie produksie- en veeverliese kan tot die minimum beperk word as boere vroegtydig goeie voorkomende maatreëls vir hulle diere tref.

Die boer moet in samewerking met sy veearts diere wat siek raak, ondersoek om die presiese oorsaak van die toestand vas te stel. Na vrektes moet nadoodse ondersoeke uitgevoer word. Slegs na 'n diagnose gemaak is, kan die korrekte behandeling of voorkomende behandeling toegepas word. Mismonsters van 'n groep diere in 'n trap moet oor gereeld by 'n veearts of by 'n veterinêre laboratorium ontleed word om die inwendige parasietlading in die kudde te monitor.

Die kudde kan ook volgens 'n kuddebestuursprogram teen siektes ingeënt en vir parasiete gedoseer word. Gebruik in die inentingsprogram die entstowwe teen siektes wat reeds op die plaas gediagnoseer is, asook bloutong-, Slenkdalkoors- en Wesselsbronentstof om uitbrekings van die siektes te verhoed.

Die tye wanneer die inentings uitgevoer gaan word, gaan verskil volgens die paar- en lamseisoene wat toegepas word. Ooie wat in die herfs paarseisoen gedek moet word, sal bloutong A, B en C in die lente kry. Ooie wat weer in die lente paarseisoen by die ram moet kom, kan gedurende die winter bloutong entstof ontvang.

Die drie komponente van bloutong entstof, bloutong A, B en C, moet afsonderlik toegedien word met 'n minimum van 3 weke tussen die toedienings. So sal skape maksimum beskerming teen bloutong ontwikkel. Entstowwe sacs bloednier, pasteurella, longontsteking en ensoötiese aborsie kan op dieselfde dag as bloutong entstof toegedien word, sodat die diere so min moontlik gehanteer word.

Slenkdalkoors- en Wesselsbronsiekte-entstof kan gekombineer word en in een spuit toegedien word. AI die ram- en ooilammers wat na seleksie behou word, moet die inenting kry, gewoonlik na speen. Dit sal lewenslange beskerming bied. Dragtige ooie mag nie met die entstof geënt word nie.

Soos vroeër genoem, moet daar gereeld by 'n aantal diere in die trap misontledings gedoen word. By 'n laboratorium word die gemiddelde parasiet eiertelling van skape of bokke in die trap bepaal. Larfkwekings van die mis kan oor 'n aanduiding gee van die verskillende rondewurmsoorte wat in diere voorkom. Parasiet eiertelling is nie baie betroubaar nie, want dit dui net aan dat daar volwasse vroulike rondewurms is wat eiers Iê. Met gereelde toetsing, byvoorbeeld elke 2 of 3 weke, kan stygings in die telling groter opname van rondewurms vanaf die weidings aandui. Met gereelde misontledings oor die somermaande kan die boer sien of die doseerprogram suksesvol is (die telling moet daal en vir ten minste 2 weke lae peile handhaaf). Daar moet nie net op doserings staatgemaak word nie, maar wisselweiding moet toegepas word vir doeltreffende parasietbeheer.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief 1