
- Home
- Skaapbestuursprogram vir kuddeboerdery in die Karoostreek
| Last update: April 2, 2012 03:04:36 PM | ![]() |
![]() |
SKAAPBESTUURSPROGRAM VIR KUDDEBOERDERY IN DIE KAROOSTREEK
FE Marx
Grootfontein
DAAR is afdoende bewyse dat goeie of swak veebestuur die verskil maak tussen sukses of 'n mislukking met enige veeboerdery. Die rede hiervoor is dat veebestuur feitlik alle fasette van 'n veeboerdery insluit en derhalwe is dit 'n omvangryke taak wat die volgehoue aandag van die boer moet geniet.
Omdat 'n veebestuursprogram deur so baie faktore beïnvloed word wat selfs van plaas tot plaas verskil, is dit slegs moontlik om sekere riglyne neer te lê waarvolgens gehandel moet word.
Hierdie skaapbestuursprogram is so opgestel dat boere die belangrikste bestuurspraktyke, doseer- en inentingsprogramme maandeliks kan naslaan. Gerieflikheidshalwe word 'n paar aanvullende lekke tot veldweidings en 'n liggaamsgewigtelys vir jong skape by die program ingesluit.
HERFSLAMSEISOEN
Januarie
Monster 20 ooilammers (± 9 maande oud) en weeg hulle maandeliks. Vergelyk die gemiddelde gewig met die op die gewigtelys vir dieselfde ouderdom en gee 'n aanvullende lek indien nodig.
Selekteer April-gebore ooi- en hamellammers op liggaamsgewig, tipe en bouvormvoortreflikheid en hou 30% ooi- en 25% hamellammers, bereken op die getal teelooie en hamels wat normaalweg in die kudde aangehou word, as toekomstige verplasingsdiere. Hou die goedgekeurde ooilammers as 'n afsonderlike trop tot na hulle vir die eerste keer gepaar is. Groepeer die goedgekeurde hamellammers met die volwasse hamels in gevalle van beperkte kampe, andersins kan hulle ook afsonderlik gehou word tot na finale seleksie op ± 18 maande ouderdom. Verkoop die ou en prulramme.
Indien een of meer van die siektes 'n probleem op die plaas is, ent die dragtige ooie met Pasteurellose, Tetanus en/of Clostridium septicum. Doseer alle skape breë spektrum parasietmiddel.
Februarie
Verkoop die surplus ooi- en hamellammers. Doseer alle skape met 'n breëspektrum parasietmiddel. Indien nodig ent dragtige ooie teen Pasteurellose, Escherichia coli, Tetanus, Bloedpens en/of CI. septicum. Ent ramme teen Dikkop.
Maart
Skenk spesiale aandag aan die weiding van die dragtige ooie en indien nodig gee byvoeding drie weke voor lam. Vang die swaar dragtige ooie uit die trop en hou hulle afsonderlik in 'n spaarkamp waarin hulle moet lam.
Voetdip alle skape in kampe waar verlammingsbosluise voorkom.
April
Indien moontlik reël dat die dragtige ooie onder toesig lam en skei die ooie met lammers daagliks van die dragtige ooie. Drie aangrensende spaarkampe om in te lam, vergemaklik die skei van ooie met lammers van die dragtige ooie deur die dragtige ooie in die namiddag na 'n volgende kamp, en in die more na 'n derde kamp te skuif. Dit laat baie tyd om met min arbeid die ooie met lammers, wat die vorige dag en gedurende die nag gelam het, die volgende dag na die lammerkampe te skuif. Hou ooie met tweelinglammers tot na speen as 'n trop afsonderlik op groenweiding of in 'n spaarkamp plus 'n aanvullende lek. Ooie met enkellammers op goeie spaarveld en as groenweiding beskikbaar is, wei twee ure daagliks op groenvoer.
Vang al die sigbaar dragtige ooie uit die trop ooie wat gepaar was en groepeer met die dragtige ooie in die lamkamp. Doseer die jong ooitjies, hamels en ramme met breëspektrum parasietmiddel. Voetdip alle skape in kampe waar verlammingsbosluis voorkom.
Mei
Lakterende ooie met enkellammers op spaarveld en daagliks twee-uur weiding op groenvoer indien beskikbaar. Ooie met tweelinglammers op groen weiding of op spaarveld met byvoeding. Merk swak moeders en die ooie wat nie gelam het nie en bemark hulle na skeer in Oktober of November.
In gevalle waar Ensoötiese aborsie voorkom, ent die lammers daarteen. Indien nodig, ent ooie en lammers teen Corynebacterium ovis. Sny sterte en kastreer die lammers en maak koggelramme van 'n paar ramlammers.
Junie
Lakterende ooie op goeie spaarveld en indien beskikbaar twee uur per dag op groenvoer of stel kruipvoeding vir lammers beskikbaar indien nodig. Dieselfde voeding word aan ooie met tweelinglammers gegee, behalwe dat kruipvoeding op veldweiding noodsaaklik is. Kruipvoeding word naby die waterkrippe vir lammers beskikbaar gestel.
Indien nodig ent lammers teen Pasteurellose en Corynebacterium ovis. Voetdip alle skape in kampe waar verlammingsbosluis voorkom.
Julie
Die voeding van lakterende ooie met enkel- en tweelinglammers is dieselfde soos beskryf vir Junie.
Doseer die lammers en alle ander skape met 'n breëspektrum parasietmiddel. Ent die jong ooitjies teen Ensoötiese aborsie terwyl die volwasse ooie ook daarteen ingeënt word as dit nodig is. Ent alle skape uitgesonderd die lammers teen Sponssiekte.
Augustus
Speen die lammers op goeie veld of veld plus twee uur weiding op groenvoer per dag of op veld en 'n hoe proteïenlek. Plaas die ooie op goeie veldweiding.
Ent die speenlammers teen Bloednier en Sponssiekte, en al die ander skape teen Bloednier en Bloutong. Voetdip alle skape in kampe waar verlammingsbosluise voorkom. Koop verplasingsramme aan en ent hulle teen Bloednier en Bloutong indien nodig.
September
Skei die ooi- en hamellammers in afsonderlike troppe. Merk en weeg 20 ooilammers wat hierna maandeliks geweeg word en vergelyk die gemiddelde gewig met die op die gewigtelys. Klas die jong verplasingsooie en -hamels (± 17 maande oud) volgens bouvorm- en wolvoortreflikheid en hou die gekeurde ooitjies afsonderlik tot na paring in November of Desember. Klas die ooie en hamels vir ouderdom. Skenk spesiale aandag aan die voeding en versorging van die ramme voor paring.
Ent die speenlammers teen Bloednier en as nodig ook teen Pasteurellose. Ent al die teelooie en droë skape teen Slenkdalkoors en Wesselsbronsiekte. Doseer al die skape insluitende die speenlammers met 'n breëspektrum parasietmiddel.
Oktober
Skeer alle skape in volgorde, ou ooie en hamels, prulle, jong skape, teelooie, hamels, ramme en laastens die lammers. Dip na skeer. Hou die geselekteerde jong ooie in 'n afsonderlike kamp en verdeel die volwasse teelooie in verkieslik vlaktekampe en in troppe van nie meer as 300 nie. In gevalle van swak weiding kan 'n prikkelvoeding drie weke voor paring aan die ooie gegee word.
Sit 2 tot 3% koggelramme by die ooie 14 dae voor paring op 16 Oktober. Laat die gebruikramme vir vrugbaarheid getoets word. Ent die ooi- en hamellammers teen Slenkdalkoors en Wesselsbronsiekte en doseer hulle teen Melkwurm.
November
Haal koggelramme uit en doen handdekking indien enigsins moontlik, so nie sit 3% vrugbare ramme by die ooie in die verskillende kampe. Jong ooie (19 maande oud) word in 'n afsonderlike kamp verkieslik met jong ramme gepaar. Hou toesig oor die geslagsaktiwiteit van die ramme en merk die onaktiewes.
As koggel ramme vooraf gebruik word, word 30 dae paring in klein troppe en klein kampe as voldoende beskou, andersins is dit 6 weke. As handdekking of kunsmatige inseminasie toegepas word, merk en verkoop die ooie wat nie op hitte gekom het nie. Verkoop ou ooie, ou hamels en prulle. Ent die ooi- en hamellammers teen Bloutong en indien nodig doseer teen Melkwurm.
Desember
As koggelramme nie vooraf gebruik was nie, verwyder dan die ramme van die ooie op 14 Desember. Gee goeie weiding aan die ramme om vinnig te herstel.
Groepeer die jong ooie na paring met die volwasse ooie op goeie weiding. Moenie ooie binne 14 dae nadat ramme verwyder is doseer of hanteer nie.
As die aluingepresipiteerde Bloednier-entstof in September op die April gebore ooi- en hamellammers gebruik was, ent dan weer teen Bloednier teen die einde van die maand. Ent alle skape teen Corynebacterium ovis indien nodig.
VROë LENTELAMSEISOEN
Januarie
Verkoop die prulle, ou en surplus skape. Koop verplasingsramme aan. Skei die ooi- en hamellammers in afsonderlike troppe. Monster en weeg 20 ooilammers wat hierna maandeliks geweeg word en vergelyk die gemiddelde gewig met die op die gewigtelys.
Ent die ooi- en hamellammers teen Bloednier en Sponssiekte en ent die ooie teen Ensoötiese aborsie en Sponssiekte. Doseer al die lammers teen Melkwurm.
Februarie
Sit 2 tot 3% koggelramme by die volwasse ooie en verdeel hulle in troppe van nie meer as 300 nie, verkieslik in vlaktekampe en sit dieselfde persentasie koggelramme by die jong ooie (± 19 maande oud) in 'n afsonderlike kamp op 14 Februarie. Toets die gebruiksramme vir vrugbaarheid.
Ent die ooi- en hamellammers teen Bloutong, Bloednier asook teen Pasteurellose indien nodig. Ent ramme teen Dikkop indien nodig en skenk spesiale aandag aan die voeding voor paring. Doseer alle skape breëspektrum parasietmiddel.
Maart
Haal koggelramme uit en doen handdekking indien enigsins moontlik, so nie plaas 3% vrugbare ramme by die ooie in die verskillende kampe. Jong ooie (19 maande oud) word in 'n afsonderlike kamp verkieslik met jong ramme gepaar. As koggelramme vooraf gebruik word, word 30 dae paring in kleinkampe as voldoende beskou, andersins is dit 6 weke. Hou toesig oor die geslagsaktiwiteite van die ramme en merk die onaktiewes. As handdekking of kunsmatige inseminasie toegepas word, merk en verkoop die ooie wat nie gedurende paring op hitte gekom het nie.
Ent die lammers met Slenkdalkoors- en Wesselsbronentstof. Doseer al die lammers met breëspektrum parasietmiddel.
April
As koggelramme nie vooraf gebruik was nie, verwyder dan die ramme van die ooie op 14 April. Gee goeie weiding of byvoeding aan die ramme om vinnig te herstel en verkoop die ou en onaktiewe ramme.
Groepeer die jong ooie na paring met die volwasse ooie in dieselfde kamp of kampe. Moenie ooie binne 14 dae nadat ramme verwyder is doseer of hanteer nie. Selekteer Augustus gebore ooi- en hamellammers op liggaamsgewig, tipe en bouvormvoortreflikheid en hou 30% ooi- en 25% hamellammers, bereken op die getal teelooie en hamels wat normaalweg in die kudde aangehou word as toekomstige verplasingsdiere. Hou die goedgekeurde ooilammers as 'n afsonderlike trop tot na hulle vir die eerste keer gepaar is en groepeer die goedgekeurde hamellammers met die volwasse hamels in gevalle van beperkte kampe, andersins kan hulle ook afsonderlik gehou word tot na finale seleksie op ± 18 maande ouderdom. Weeg die 20 gemerkte ooilammers en as hulle nie almal vir verplasingsdoeleindes goedgekeur is nie, vul dan aan uit die goedgekeurde ooitjies. Doseer alle skape einde April met 'n breëspektrum parasietmiddel.
Mei
Alle skape op veldweiding. Verkoop die surplus ooi- en hamellammers. As die aluingepresipiteerde Bloednier-entstof in Februarie vir die Augustus-gebore ooi- en hamellammers gebruik was, ent hulle dan weer met Bloednier-entstof. In gevalle waar nodig ent alle skape met Coryne-bacterium ovis. Voetdip alle skape in kampe waar verlammingsbosluis voorkom.
Junie
Dragtige ooie op goeie spaarveld. Ent dragtige ooie met Pasteurellose, Tetanus, Clostridium septicum of Bloedpens-entstof indien nodig. Voetdip alle skape in kampe waar verlammingsbosluis voorkom.
Julie
Vang swaar dragtige ooie uit en hou afsonderlik in 'n spaarkamp en gee byvoeding indien nodig. As groenvoer beskikbaar is, wei vir een tot twee uur per dag vanaf 14 dae voor lam.
Ent die jong ooitjies teen Ensoötiese aborsie en Sponssiekte. Ent dragtige ooie teen Pasteurellose, Tetanus, E. coli, Clostridium septicum of Bloedpens-entstof indien nodig. Doseer alle skape met 'n breëspektrum parasietmiddel.
Augustus
Dragtige ooie in 'n spaarkamp. Indien moontlik reël dat die dragtige ooie onder toesig lam en skei die ooie met lammers daagliks van die dragtige ooie. Drie aangrensende kampe om in te lam vergemaklik die skei van ooie met lammers van die dragtige, ooie deur die dragtige ooie in die namiddag en in die more na 'n volgende kamp te skuif. Dit laat baie tyd om met min arbeid die ooie met lammers wat die vorige dag en gedurende die nag gelam het, die volgende dag na die betrokke kampe te skuif. Hou ooie met tweelinglammers tot na speen as 'n trop afsonderlik op groenweiding of in 'n spaarkamp plus 'n aanvullende lek. Ooie met enkellammers op spaarveld en as groenweiding beskikbaar is, wei vir twee uur daagliks op groenvoer. Vang al die sigbaar dragtige ooie uit en groepeer met die dragtige ooie in die lamkamp.
Ent die jong ooitjies, hamels en ramme teen Bloutong en Bloednier. Voetdip alle skape in . kampe waar verlammingsbosluis voorkom. Ent ramme teen Dikkop indien nodig.
September
Voeding van lakterende ooie dieselfde as vir Augustus en indien enigsins moontlik, beperk die grootte van die troppe tot 200 ooie volgens die ouderdom van die lammers ten minste tot aan die einde van die maand. Merk swak moeders en ooie wat nie gelam het nie, en bemark hulle na skeer in Desember of Januarie. Sny sterte, kastreer lammers en maak koggelramme van 'n paar ramlammers.
Ent ramme teen Dikkop indien nodig. Doseer alle skape uitgesonderd die lammers met 'n breëspektrum parasietmiddel.
Oktober
Voeding van lakterende ooie dieselfde as vir September met die moontlikheid om kruipvoeding aan veral die tweelinglammers beskikbaar te stel indien nodig. Merk die 20 gemerkte ooitjies en gee byvoeding indien nodig. In gevalle waar Ensoötiese aborsie by lammers voorkom, ent die lammers daarteen en ent hulle ook teen Pasteurellose en Corynebacterium ovis indien nodig. Ent die lakterende ooie teen Bloutong en Bloednier.
November
Alle skape insluitende lakterende ooie op veldweiding en indien nodig gee kruipvoeding aan lammers. Klas die jong verplasingsooie en hamels (± 15 maande oud) volgens bouvorm- en wolvoortreflikheid en hou die goedgekeurde ooitjies afsonderlik tot na paring in Maart en April. Klas die ooie en hamels vir ouderdom en hou hulle gesamentlik in 'n afsonderlike trop saam met die prulle en surplus skape.
Ent die lammers teen Pasteurellose en Corynebac-terium ovis indien nodig. Ent die ooie, ramme en hamels teen Slenkdalkoors en Wesselsbronsiekte. Speen die lammers tydens laaste week van November en indien nodig doseer hulle teen Melkwurm.
Desember
Skeer alle skape in volgorde, ou ooie en hamels, prulle, jong skape, teelooie, hamels, ramme en laastens die lammers. Dip alle skape na skeer.
Ent volwasse skape teen Corynebacterium ovis indien nodig. Doseer alle skape, insluitende speenlammers, met 'n breëspektrum parasietmiddel.
ALGEMEEN
-
Vir 'n bepaalde streek raadpleeg die plaaslike veearts vir enige siekte of inwendige parasietprobleme in die kudde. Sekere siektes soos Bloedpens, Corynebacterium Ovis, Clostridium septicum, Dikkop, E. coli, Klem-in-die-kaak en Pasteurellose is net op sekere plase 'n probleem. Dit is dus nie noodsaaklik dat daar teen hulle geënt moet word nie, tensy daar bevestig word dat hulle die oorsaak van vrektes of siekte is.
-
Om embrio-mortaliteite te voorkom moenie dragtige ooie teen Wesselsbron- of Slenkdalkoors ent nie en moenie ooie binne 3 weke na paring skeer of doseer nie.
-
Beperk lammortaliteite met goeie voeding of weiding en goeie bestuur. Dit word aanbeveel om persoonlik aandag te skenk aan ooie wat lam en aan pasgebore lammers vanaf geboorte tot op ten minste 'n ouderdom van 3 dae omdat dit die periode is waartydens die hoogste vrektesyfer by lammers voorkom.
-
Volg 'n weidingsprogram in samewerking met die plaaslike Voorligtingsbeampte.
-
Moenie kampe oorbewei nie, omdat dit 'n stadige herstel van plantegroei sal beteken, terwyl skape ongemerk kondisie sal verloor.
-
Sorg vir skoon drinkwater in alle kampe en indien moontlik op ten minste twee plekke in groot kampe.
-
Om verwering van die wol te beperk, plant immergroen bome wat die beste in u omgewing groei vir skaduweevoorsiening naby die veesuipings.
-
Sorg dat soutlekke deur die jaar naby veesuipings beskikbaar is.
-
Ongeag die skaapkrale, drukgange en ander fasiliteite by die opstal, is dit gerieflik om kleiner krale en 'n drukgang op strategiese plekke in die veld te hê, sodat ten minste vier aangrensende kampe se skape by die stel krale hanteer kan word.
-
Beperk die mees onekonomiese skape in die kudde tot 'n minimum oor twaalf maande. Dit word aanbeveel om lammers op 'n ouderdom van 8 tot 9 maande volgens liggaamsgewig en tipe te selekteer vir beide die herfs- en lentelamseisoene. Hou 30% ooi- en 25% hamellammers, bereken op die getal teelooie en volwasse hamels wat in die kudde aangehou word, as toekomstige verplasingsdiere. Die surplus lammers word so gou moontlik na seleksie bemark.
-
Hou die geselekteerde ooilammers as 'n afsonderlike trop, weeg die 20 gemerkte ooitjies maandeliks en pas die voeding van die lammers by die gemiddelde gewigte aan. Om maksimum besetting by eerste paring op ouderdom van 19 maande te kry, behoort die trop gemiddeld 41 kg (90 Ib) te weeg. Onder goeie toestande moet jong ooie wat na eerste paring oorgeslaan het, gepruI word.
-
Doen finale seleksie op die jong ooie volgens tipe, bouvorm- en wolvoortreflikheid voordat hulle geskeer of vir die eerste keer gepaar word. Verkoop die prulle na skeer.
-
Klas volwasse ooie alleenlik op die prestasie van hul lammers of op vrugbaarheid en ouderdom. Verkoop prulle en ou ooie na skeer. In die geval van 'n herfslamseisoen, verkoop ooie wat nie gelam het nie, direk na die lamseisoen.
-
Dit word aanbeveel om die geslagsaktiwiteit van ooie te stimuleer met koggelramme vir 14 dae voor paring. Daarna word net vir 30 dae gepaar in kleiner kampe en met troppe van nie groter as 300 ooie nie met 3% getoetste vrugbare ramme. As koggelramme nie vooraf gebruik word nie, paar dan met vrugbare ramme vir 6 weke. Maak seker dat die ooie in 'n groeiende kondisie by paring is. Indien nie, voer dan 'n prikkelvoeding 3 weke voor paring aan die ooie.
-
As ooie meer as 6 maande wolgroei het wanneer hulle lam, is dit raadsaam om hulle te mikskeer ten minste 3 weke voordat hulle lam.
-
Wanneer swaar brommeraanvalle by ooilammers en volwasse ooie voorkom, was die lammers en ooie met 'n brommerwerende middel.
-
Skenk spesiale aandag aan die voeding en versorging van ramme gedurende die jaar.
-
Gebruik die gewigtelys om die maandelikse gewigstoename te vergelyk en ook as 'n maatstaf om die potensiële grootte van die jong ooie met optimum voeding te bepaal.
ERKENNING
Dr E.M. van Tonder - vir die dosering en inentingsprogram, Merinotelers se Kwartaalblad, April 1976.
Mnr. G.A. Jacobs - vir die opstel van die aanvullende lekke en byvoeding vir Karootoestande.


Published
Karoo Agric 1 (2), 25-30







