Last update: April 10, 2012 01:34:43 PM E-mail Print

 

Skaapbrommer-bestryding

II. Seleksie en Teling vir minder-vatbare Merino-tipes.

H. C. Bonsma 

 

DIE skaapbrommerplaag het die afgelope paar jaar 'n besonder groot rol gespeel om Merinoskaapboerdery minder aantreklik te maak. Groot somme geld word jaarliks bestee om die plaag te bestry en tot nog toe was die resultate nie al te bemoedigend nie. Waar skape vrek as gevolg van brommeraanvalle, beteken dit 'n geldelike verlies en daarby is daar ook verliese ten opsigte van wol met mikskeer, ens., en die indirekte invloed van brommerbesmetting op die wolgroei deurdat skape wat straf aangeval is, gou kondisie verloor. Die produksiekoste van wol word hierdeur steeds hoër, en die probleem om genoegsame arbeid te bekom, word kritiek. Die gevolg hiervan is dat boere sterk aandag begin skenk aan kruisteling, eenvoudig omdat dit algemeen bekend is dat kruisskape minder vatbaar is as die merino vir brommers.

Sodra kruisteling toegepas word, en veral in die streke wat as gevolg van die heersende klimaatstoestande by uitstek merinostreke is en moet bly, word daar al weer dadelik nuwe probleme geskep. Kempvesels, steekhaar en swart vesels kom meesal voor by die ras ramme wat gebruik word, en dit is juis hierdie onwenslike eienskappe waarvan die merinoskaapboer by skape moes suiwer, deur streng seleksie en teling. Wat jare van teling geneem het om op te bou, word nou met een geslag weer afgebreek.

Daar is vandag 'n groot verskeidenheid van brommermiddels beskikbaar wat, soos voorgegee word, ontsmettings sowel as afweereienskappe besit. Tot 'n sekere mate is sukses hiermee bereik, maar die arbeid verbonde aan die gereelde inbring van skape, ten minste een maal per week, en veral op groot plase. is soms baie.groot en vir die boer selfs prakties onmoontlik. Die gedurige inbring van skape is ook 'n baie ongesonde praktyk, veral wanneer skape in uitgestrekte kampe wei. Met die rondjaag verkwis die skape onnodige energie, die kondisie gaan vinnig agteruit, wat op sy beurt die geslagsaktiwiteit van die ooie nadelig mag beïnvloed, en gevolglik laer lammeroeste veroorsaak. Ook word die wol baie stowwerig en minder aantreklik deur die gedurige hantering.

 

Brommerbesmetting op Plooilyfskape

Die vraag word gestel of die merinoskaap nie as gevolg van die teelbeleid wat in die verlede gevolg was 'n uiters vatbare tipe van bouvorm vir brommeraanvalle aangeneem het nie? Met die strewe na 'n verhoogde produksie van wol per skaap, waarmee gepaard gegaan het 'n sekere mate van plooi-ontwikkeling, het 'n tipe merino ontstaan waarvan 'n groot persentasie van die ooie, selfs by sogenaamde gladdelyf ooie, 'n sekere mate van plooie ontwikkel langs die skaamspleet (vulva) of ook miskien van die stert af onder tot in die mik. Soos later sal blyk uit die onderstaande proefgegewens is dit juis hierdie gedeelte van die skaap wat so uiters vatbaar is vir brommeraanvalle.

Die bestryding van die brommerplaag moet dus nie net van eenkant aangepak word nie, nl., om die brommer self te bestry, maar dit moet ook die doel wees om met seleksie en teling 'n minder vatbare tipe skaap te teel. Dat dit wel prakties moontlik sal wees om langs hierdie weg sukses te bereik, sal blyk uit die waarnemings op brommers op 'n aantal kudde-ooie gedurende die afgelope drie jaar.

 

Tegniek

As proefskape is 250 merino-kuddeooie gebruik, hoofsaaklik om die wenslikheid van ses- teenoor agt- en twaalf-maande skeer van skape uit te toets. Die ooie was verteenwoordigend van die Grootfonteinse kudde wat as gladdelyf merinokuddeskape bestempel moet word.

Al die ooie is gereeld eenkeer en, indien nodig geag, twee keer per week indiwidueel. ondersoek vir brommeraanvalle. Elke aanval is noukeurig aangeteken, d.w.s., nommer van ooi, datum van aanval en presies waar die aanval op die skaap voorgekom het. Hierna is die aangevalle plekke direk skoongeskeer en behandel met 'n standaard brommermengsel.

Verder is die ooie behandel volgens die vereistes soos neergelê vir die ses-, teenoor agt- of twaalf-maande skeerproef, nl., die skape het altyd in een trop geloop onder gewone veldtoestande en is gepaar, geskeer en gemikskeer op gesette tye. Brommeraanvalle is aangeteken volgens bogenoemde metode oor 'n periode van twee jaar, t.w., vanaf September 1939 tot September 1941.

Gedurende September 1941 is al die ooie in 4 tipes geklas as volg:

Tipe A.-AI die ooie wat glad is in die mik, en sonder laterale voue. Ooie met 'n baie klein mediale plooitjie aan weerskante van die vulva is in hierdie groep ingesluit. Geen stertplooie is egter toegelaat nie, en die stert moes van 'n "normale" lengte wees, d.w.s., tenminste in die 2de lid afgesny.

Tipe B .-Hierdie groep ooie het bestaan uit skape wat veral 'n foutiewe stert gehad het, d. w .s., plooistert, perdeskoenstert, of gesplete stert. Laasgenoemde word veral veroorsaak deurdat die stert te kort afgesny is.

Tipe C.-Skape met prominente laterale en/of mediale voue in die mik, maar waarvan die stert normaal is, d. w .s., nie te kort: afgesny nie, of ook geen plooie op of om die stert aanwesig nie. Ooie waarvan die vulva skeef is, is ook, in hierdie groep ingesluit.

Tipe D.-Ooie met laterale en/of mediale voue, dieselfde as tipe C, en ook nog 'n foutiewe stert, soos beskryf onder tipe B.

Hierdie klassifikasie van ooie is gedoen sonder om enigsins vooraf, of tydens de klasseer te refereer na die aantal kere wat so 'n skaap deur brommers aangeval is gedurende die proefperiode.

 

Proefgegewens

In Tabel 1 word die besonderhede gegee van brommeraanvalle: op die vier groepe gedurende die twee jaar soos waargeneem.

 

Uit Tabel 1 kan die volgende opmerkings gemaak word:

 

1. Vatbaarheid van verskillende tipes

(a) -Slegs 11.92 persent van die skape onder tipe A, is gedurende die twee jaar aangeval, in vergelyking met 81.16, 93.93, en 89.74 persent vir tipes B, C en D onderskeidelik. Hierdie uitstaande verskil tussen die vatbaarheid van die verskillende tipes toon duidelik aan dat merino-ooie sonder enige plooie van agter, en wat 'n normale stert het, so te sê geen brommeraanvalle ondervind het nie.

(b) Uit 'n totaal van 250 ooie is nie minder as 109 (43.6 persent) as A. tipe geklassifiseer, en hiervan is slegs 5.96 persent per jaar aangeval. Dis 'n uiters belangrike punt met betrekking tot seleksie en teling vir onvatbaarheid.

(c) Tipes B, C en D is ooie wat byna almal uiters vatbaar is vir brommeraanvalle. Van 41 tot 47 persent van hierdie ooie is jaarliks een of meer keer aangeval. Hierdie drie groepe, bestaande uit 141 ooie, is nie minder as 309 keer aangeval gedurende die proefperiode nie, in vergelyking hiermee is daar slegs 14 aanvalle vir die 109 A-tipe ooie, oor dieselfde tydperk.

 

2. Besonderhede van Aanvalle

Tipe A (Ooie glad van agter)

Van die 14 aanvalle wat in hierdie groep aangeteken is, het 57 persent op die stert, 36 persent langs die vulva, en slegs 7 persent onder die vulva voorgekom. Alleen -een skaap is gedurende die twee jaar meer as een keer aangeval, wat ook bewys dat die groep as 'n geheel nie vatbaar vir brommeraanvalle was nie.

 

Tipe B (Foutiewe stert)

Van die 125 aanvalle uit Groep H, het 75 (60 persent) op die stert voorgekom, wat aantoon dat die foutiewe stert wel die vernaamste en aantreklikste gedeelte van die skape is vir brommeraanvalle. Hier dien ook aangehaal te word dat die 12 lyfaanvalle in hierdie groep voorgekom het en almal het hul oorsprong op die stert gehad, en daarvandaan tot aan die kruis uitgebrei. Sommige van die skape uit hierdie groep is nie minder as 7 keer op die stert aangeval nie. (Vergelyk resultate tipe A.)

Dat 30 persent van die aanvalle langs die vulva voorgekom het, dui aan dat hierdie gedeelte ook 'n baie kwesbare plek is.

Met die verdeling van skape in die vier verskillende tipes was dit soms moeilik om elke ooi juis te laat inpas by een van die tipes, veral omdat die skeidingslyn tussen die tipes nie so definitief bepaal kon word nie, en daarom was die aanvalle nie altyd volkome in ooreenstemming met die seleksie van tipes nie.

 

Tipe C (Mediale en/of laterale plooie)

Die 33 ooie in hierdie groep is 59 keer aangeval, en dit is veral opmerklik dat 47 (79.7 persent.) van die aanvalle langs die vulva voorgekom het en slegs 9.1 persent op die stert. Die groot persentasie aanvalle langs die vulva is gevolglik veroorsaak deur die plooi-ontwikkeling van hierdie ooie in die mik, en die klassifisering van die skape het in hierdie groep besonder goed ooreengestem met die werklike aanvalle, soos opgeteken. Sommige skape van hierdie groep is 7 keer aangeval, waarvan 6 langs die vulva voorgekom het.

 

Tipe D (Mediale en/of laterale plooie asook foutiewe stert)

Volgens die klassifisering moes hierdie skape besonder vatbare tipe gewees het. In werklikheid het dit ook geblyk dat hierdie 39 ooie nie minder as 125 keer aangeval is nie: 34 4 persent van die aanvalle het op die stert voorgekom en 56 persent langs die vulva. Die aanvalle wat op die lyf voorgekom het, het almal hul oorsprong of op die stert of langs die vulva gehad.

 

3. Voorkoms van aanvalle

Die 323 aanvalle, soos aangeteken, het op die volgende plekke voorgekom:-

Op lyf                         24, of 7.4 persent.

Op stert                    130, of 40.2 persent.

Langa vulva               159, of 49.2 persent,

Onder vulva                10, of 3.1 persent.

 

Uit bostaande gegewens blyk dit dus dat die aanvalle op die stert en langs die vulva by verreweg die meeste voorgekom het. Die lyfaanvalle, wat 7.4 persent van die totaal uitgemaak het, was almal langs die boud of op die kruis. Die oorsprong van hierdie aanvalle was almal op die stert of langs die vulva, en slegs, weens die uitgebreidheid van die aanval na genoemde gedeeltes versprei het. Werklike lyf-aanvalle het dus nie voorgekom nie.

Dat slegs 3.1 persent van die aanvalle direk onder die vulva voorgekom het, wys dat hierdie gedeelte as sulks nie so 'n kwesbare plek is nie.

 

4. Ooie word herhaaldelik op dieselfde plek aangeval. Dat skape, ten spyte daarvan dat die aangevalle plek skoongeskeer en behandel is met 'n standaard mengsel, telkens weer op dieselfde plek aangeval word, blyk uit die onderstaande ontledings.

(1) Stert-aanvalle.-28 ooie wat. twee of meer keer aangeval is en waarvan die eerste aanval op die stert voorgekom het, gee die volgende besonderhede by verdere ontleding:-

 

Aantal ooie

Totale aantal kere aangeval

Aantal kere op stert aangeval

Aantal kere nie op stert aangeval nie

Persentasie kere op dieselfde plek aangeval

28

105

86

19

81.9

 

(2) Aanvalle langs vulva. – Dieselfde prosedure is gevolg met 42 ooie wat twee of meer keer aangeval is, en waarvan die eerste aanval langs die vulva was.

Aantal ooie

Totale aantal kere aangeval

Aantal kere langs vulva aangeval

Aantal kere nie langs vulva aangeval nie

Persentasie van totale aanvalle langs vulva

42

143

111

32

79.6

 

Die kanse dat 'n aanval weer op dieselfde plek voorgekom het, was in die geval van stert-aanvalle 81.9 persent en in die geval van aanvalle langs die vulva 79, 6 persent.

Uit bostaande gegewens moet ons tot die gevolgtrekking kom dat merino-ooie nie onwillekeurig op enige plek in die mik aangeval word nie, maar dat hulle herhaalde male op dieselfde plek besmet raak, veroorsaak deur 'n sekere kwesbare plek in hierdie omgewing.

Nieteenstaande die behandeling van die aangevalle omgewing en deur mikskeer, het die maaiers maar weer op dieselfde plek voorgekom en dit bewys duidelik dat so 'n skaap dwarsdeur haar lewe, as gevolg van haar bouvorm, vatbaar sal bly vir brommeraanvalle.

 

Bespreking

Die praktiese toepassing uit voorafgaande proefgegewens is as volg:

 

1. SELEKSIE

In ooreenstemming met die resultate wat in Australië verkry is deur verskillende navorsers, wys bostaande proefgegewens dat brommeraanvalle hoofsaaklik in die mik van merino-ooie voorkom. Werklike lyfaanvalle kom maar selde voor in die Karoo, omrede die heersende droë klimaatstoestande.

Wat egter van belang is, is dat 40.2 persent en 49.2 persent van die aanvalle op die stert en langs die vulva onderskeidelik voorgekom het. Tesame op hierdie twee gedeeltes, is nie minder as 89.4 persent van die aanvalle aangetref nie.

Die oorsaak van die stert-aanvalle ontstaan hoofsaaklik as gevolg van sterte wat te kort afgesny is. As 'n ooi se stert, as lam, te kort afgesny is, en .veral wanneer daar mediale en/of laterale plooie aanwesig is, is die neiging dat hierdie plooie teen mekaar druk, met die gevolg dat so 'n ooi haarself gedurig benat. Nie alleen is so 'n plek baie kwesbaar vir aanvalle nie, maar omdat die urine nattigheid branderigheid veroorsaak, sweer die vulvapunt weg, wat die posisie steeds vererger. As die stert lank genoeg is, tot onderkant die vulvapunt, dan druk die stert op natuurlike wyse, die mediale voue weg, en die kanse dat 'n ooi haarself benat as sy urineer is gevolglik minder. So 'n stert word ook opgelig sodra die ooi urineer, met die gevolg dat sy van agter droog bly.

Prakties is dit dus baie maklik om hierdie bron van aanvalle tot 'n groot mate uit die weg te ruim deur die sterte van merino-ooilammers in die toekoms op ten minste 4 dm. lengte af te sny. Suksesvolle resultate is alreeds hiermee verkry in Australië, en soortgelyke; proewe op die Grootfonteinse Landboukollege lewer baie ooreenstemmende resultate, alhoewel die proewe slegs 'n jaar aan die gang is.

Wat verder van groot praktiese belang is, is dat 109 ooie uit 'n totaal van 250, vry van laterale voue was, terwyl die mediale voue slegs tot 'n geringe mate aanwesig was. Volgens die proefgegewens het dit geblyk dat sulke ooie baie minder vatbaar is vir brommeraanvalle as wanneer plooi-ontwikkeling aan hierdie gedeelte prominent is.

Dit is dus moontlik om deur seleksie sulke vatbare tipes uit die kudde uit te gooi, en hierdeur sal die voorkoms van brommeraanvalle aansienlik verminder. Brommer-waarnemings het ook aan die lig gebring dat ooie met 'n hangkruis of ooie wat besonder nou is van agter tussen die ysbene, skynbaar meer vatbaar is as die met 'n reguit toplyn en breë agterkwarte. Tesame met bogenoemde faktore moet hierdie twee bouvormpunte dus ook die nodige aandag geniet by die seleksie van minder vatbare tipes.

Terwille van die klompie ooie wat gedurig weer aangeval word, moet die boer noodwendig die hele kudde gereeld bymekaar maak en hulle ondersoek vir aanvalle. In werklikheid is dit dus hoofsaaklik slegs 'n gedeelte van die kudde wat die arbeidskoste verbonde aan brommerbestryding vir die hele kudde so hoog maak.

 

2. TELING

(a) Kuddeskape.-‘n Baie vername punt is egter dat met die seleksie van kudderamme, nie alleen op die wolhoedanighede en algemene bouvorm gelet moet word nie, maar dat daar ook veral aandag aan geskenk moet word dat 'n kudderam glad is van agter met so min moontlik laterale en/of mediale voue. As toegesien word dat uitsluitlik ramme wat so glad moontlik van agter is, aanhoudend in die kudde gebruik word, moet die daaropvolgende geslagte kudde-ooie oorheersend ook glad van agter word.

Dat dit moeilik sal wees om vandag genoegsame gewenste tipe kudderamme te bekom, word goed besef, maar as die koper dit as 'n vereiste beskou by kudderamme om hierdie eienskap te besit, nl. Om glad van agter te wees, sal stoettelers noodgedwonge ook hul aandag hieraan moet skenk, aangesien laasgenoemde se bestaan hoofsaaklik afhanklik is van die aanvraag vir kudderamme, en die boer wat met kuddeskape boer, stel dus die aanvraag na sekere tipe ramme vas.

 

(b) Stoetskape.-Van groot belang is egter dat merino-stoetboere by die seleksie en teling van hul skape ook die nodige aandag moet skenk om stoet-ooie sowel as stoetramme so glad moontlik van agter te kry, aangesien die kuddeboer deur die stoetboer van ramme voorsien word. Op die oog mag 'n kudderam onvatbaar lyk, maar as die voorouers van so 'n ram prominente plooi-ontwikkeling gehad het, is die kanse, nieteenstaande daardie ram glad van agter is, baie klein dat hy lammers sal teel wat glad van agter is.

Seleksie en teling vir onvatbare tipes moet dus by die stoetteler begin, omdat hy die kern is van ons skaapboerdery. Of kuddeskape oorheersend vatbaar of onvatbaar gaan wees hang dus hoofsaaklik af van die teelbeleid wat deur die stoetboer gevolg word.

Dat sukses met die teling van onvatbare tipes noodwendig 'n langsame proses is, word terdeë besef, maar nogtans as die belangrikheid van brommerbestryding in die oog gehou word, sal die arbeid lonend wees.

In die toekoms moet die merinostoet-boer dus die nodige aandag aan hierdie belangrike probleem skenk, deur te poog om minder vatbare kudderamme te teel en hierdie beleid konsekwent en streng deurvoer.

Dit kan net hier gemeld word dat daar op die Grootfonteinse Landboukollege, met fondse beskikbaar gestel deur die Wolraad, reeds 'n proef begin is wat ten doel het om merinoskape te teel wat minder vatbaar sal wees vir brommeraanvalle.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 18