Last update: March 30, 2012 12:11:42 PM E-mail Print

 

SKADUWEEVOORSIENING IS DIE MOEITE WERD

JJ Venter 

 

Blootstelling van wol op skape aan die ultra-violet strate van die son het verwering van die wolvesel tot gevolg. Die vesel raak fotochemies beskadig  en breek dan maklik in die was- en kamprosesse.

Volgens dr J J Venter, woldeskundige aan die Landboukollege Grootfontein, is skaduweevoorsiening nie alleen wenslik om die wol teen verwering te beskerm nie, maar is ook noodsaaklik vir die algemene welsyn en gesondheid van die dier.

Lang wol wat min staankrag besit as gevolg van 'n swak stapelformasie, of te droog is as gevolg van 'n swak olievloei, val makliker oop op die skaap se lyf en raak makliker dieper beskadig. Tot soveel as 'n derde van die normale vesellengte word beskadig en veroorsaak 'n vesellengteverlies vir die fabrikant. Tot so min as 18% van die oorspronklike tipgedeeltes bly in die kambolstadium behoue en minder as 1% in die garingstadium.

Afgesien van die effek van voedingsvariasie op wolgroei, is fluktuasies in dagliglengte en omgewingstemperatuur ook verantwoordelik vir 'n groot deel van nie-voedingsvariasie. Dit word beweer dat skape in omgewings met kleiner temperatuurverskille tussen somer en winter, 'n wol van meer egalige gehalte en teen 'n meer egalige spoed produseer as in omgewings waar groter temperatuurverskille voorkom.

Die aanpasbaarheid van die dier teenoor 'n vreemde klimaat en voedingstoestande word ook as 'n bepalende faktor vir die graad van verwering gereken. Die graad van verwering neem toe namate die intensiteit van verweringsfaktore, veral stralingsenergie en reënval, toeneem.

Gemiddelde somer- en winterdagtemperature in die Karoo volg 'n sikliese tendens wat varieer van 20,2 ± 1,30°C in die somer tot 9,2 ± 1,27°C in die winter. 'n Ooreenstemmende sikliese tendens geld ook ten opsigte van die ure sonskyn per dag. Gedurende die somermaande, November tot Maart, is die dagtemperatuur oor die algemeen die hoogste terwyl gedurende die periode, Mei tot Augustus, die dagtemperature relatief laag is.

Skape wei normaalweg nie gedurende die middel van die dag nie, maar versamel by die waterpunte met die koppe na onder teen die dam of onder struike of bome - wat algemeen min in sekere weigebiede te vinde is. Verweringsindekse van wol uit die meer bosryke Karoogebiede is opvallend minder as die van wol uit die Middel- en Noordwestelike Karoogebiede, sê dr Venter.

Hy doen dus 'n ernstige beroep op wolprodusente om dringend aandag te skenk aan voldoende skaduwee vir hul vee. Indien dit moontlik is en inpas by die weidingsprogram, behoort skaduweekampe in die somer en oop kampe gedurende die wintermaande bewei te word. Om dieper verwering te voorkom, moet skeertyd so gereël word dat die wol oor die warm somermaande relatief kort is. Kortwol val moeiliker oop as lang wol en word dus minder beskadig. Hoewel skaapkomberse die effektiewe manier is om verwering te verhoed, beveel dr Venter die voorsiening van skaduwee in kampe by wyse van bome of afdakke van sink, riete of garingbome as meer praktiese oplossings aan.

Op grond van die huidige prysverskil (1982/83-seisoen) van 44c per kg vetwol tussen 'n spintipe en gemiddelde kamboltipe vir 'n 21-22 mikron wol, kan 'n skaap van 6 kg vetwol (3,3 kg vagwol) produseer die boer R1,47 per skaap meer in die sak bring. Skaduweevoorsiening is dus die moeite werd, sê hy.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Somer