Last update: April 5, 2012 08:17:17 AM E-mail Print

 

Droogtevoeding van skape

BDH van Niekerk Landboukollege Grootfontein

 

VERLIESE aan veeproduksie in droogtetye is waarskynlik die grootste enkele probleem waarmee die Suid-Afrikaanse veeboer voortdurend te kampe het. Deur egter gebruik te maak van bestaande kennis, kan hierdie verliese aansienlik verminder word. Die doel van hierdie artikel is dus om 'n paar van die vrae wat dikwels deur skaapboere in tye van droogtes gestel word, te beantwoord:

 

Wanneer moet begin word met voerdery?

Die antwoord op hierdie vraag sal veral afhang van die kondisie van die skape by die aanvang van die droogte en van die veldbeheer wat deur die boer toegepas word. 'n Plaas wat swaar bewei word, is byvoorbeeld baie meer gevoelig vir droogtes, terwyl skape wat by die aanvang van 'n droogte in goeie kondisie is, soms maande lank swak voedingstoestande kan verduur sonder noemenswaardige verliese.

In die praktyk word byvoeding egter dikwels te lank uitgestel. Dit is belangrik om skape te begin voer voordat hulle reeds te swak is. Hierdie punt is veral van belang waar skape wat nie byvoeding gewoond is nie, pitvoere soos mielies gevoer moet word. Want minstens 3 tot 4 weke is nodig om skape tydens 'n droogte op hul volle rantsoen te bring. Aan die ander kant is dit ook belangrik om te onthou dat 'n maer skaap van 70 pond gewig heelwat minder voer nodig het vir onderhoud as 'n vet skaap wat 100 pond weeg..

 

Watter skape moet gevoer word?

Jong aanteelooie is die mees gesogte tipe skaap na 'n droogte en ook die duurste om te vervang. Dit is ook bekend dat die wolproduksie en die uiteindelike liggaamsgrootte van skape nadelig beïnvloed kan word mits hul groei as jong lammers en as speenlammers ernstig gestrem word. Gevolglik moet hierdie twee tipes skape voorkeur kry tydens droogtevoeding. Daarbenewens is die voedingsbehoeftes van speenlammers relatief laag en kan hulle goedkoper as volwasse diere deur die droogte gehaal word.

 

Hoe en waar moet gevoer word?

Omdat skape wat byvoeding ontvang geneig is om naby die voerplek rond te lê, word die weiding elders in die kamp as gevolg daarvan relatief swak benut. Ons beveel dus aan dat skape nie by hul suipings gevoer word nie, sodat hulle gedwing word om die beskikbare weiding in die kamp beter te benut. Proewe het bewys dat relatief min energie vereis word deur skape wat rustig op gelyk grond wei, al word hulle tot 2 myl van die naaste suiping af gevoer.

Vir die meeste voersoorte is geen spesiale voergeriewe noodsaaklik nie en 'n harde oppervlakte in enige deel van die kamp kan vir die doel gebruik word. Op plase met oorwegend sandgrond mag dit egter nodig wees om pitvoer in voerkrippe te voer. Met 'n smaaklike voer soos mielies kan voerbakke dalk andersins selfs 'n nadeel wees aangesien skape maklik te veel op 'n slag kan vreet. Die voordeligste metode om mielies te voer is om dit in 'n dun streep agter 'n bewegende voertuig te laat uitloop of selfs met 'n graaf uit te strooi.

Wanneer die veldweiding sodanig verswak het dat dit van geen of baie min waarde vir die dier is, is dit voordeliger om die skape in klein kampies te voer. Hierdeur word vervoer- en arbeidskoste besnoei. Terselfdertyd kry die meerjarige weidingsgewasse kans om te rus en word die onnodige vertrapping van die veld voorkom.

 

Hoe dikwels moet gevoer word?

Waar skape in groepe gevoer word, sal die sterker diere altyd ,meer as hul deer van die rantsoen ontvang. Teen lae voedingspeile soos gewoonlik die geval is met droogtevoeding, sal dit beteken dat sommige skape vrek weens ondervoeding terwyl ander selfs gewig optel - wat die doel van droogtevoeding verydel.

Hierdie probleem kan egter oorbrug word deur skape slegs elke tweede of derde dag of selfs slegs een maal per week te voer.

Die voer is dan oor 'n langer periode beskikbaar en die stadige of skaam vreters asook die swakker skape kry dus ook 'n kans om hul deel van die rantsoen te bekom. Skape wat minder dikwels gevoer word is minder geneig om by die voerplek rond te Iê en maak gevolglik beter gebruik van die beskikbare weiding. So word arbeids- en vervoerkoste ook aansienlik besnoei. Op uitgestrekte of bergagtige plase kan dit 'n belangrike faktor wees. Periodieke voeding word egter nie aanbeveel tydens die laaste periode van dragtigheid en terwyl die lam aan die ooi suip nie.

 

Watter voersoort moet gevoer word?

In die praktyk sal die boer enige reserwevoer wat hy voorhande het, waarskynlik die eerste opvoer. Sodra daar egter voer aangekoop moet word is dit natuurlik wenslik om teen die kleinste moontlike koste soveel skape so as moontlik aan die lewe te hou.

Die twee vernaamste voedingstowwe wat in tye van droogte verskaf moet word, is energie en proteïen. 'n Tekort aan energie (as gevolg van 'n gebrek aan voedsel) is die vernaamste oorsaak van verliese tydens droogtes. Die hoeveelheid bruikbare energie in 'n voer, wat gerieflikheidshalwe in terme van voedseleenhede uitgedruk kan word, is dus die vernaamste maatstaf van die waarde van 'n voer vir droogtevoeding.

Die hoeveelheid voedseleenhede wat per eenheid gewig in voere voorkom verskil egter aansienlik. Die voedingseenhede en die proteïeninhoud van 'n paar algemene voersoorte word in Tabel 1 opgesom.

 

 

Om vas te stel wat die goedkoopste voersoort is, is dit slegs nodig om die koste per voedingseenheid te bereken. Dit kan byvoorbeeld maklik gedemonstreer word dat bitterlupiene teen R24 per ton 'n goedkoper voer is as lusern teen R16 per ton aangesien 1 voedingseenheid lupiene slegs 1.5 sente kos terwyl 1 voedingseenheid lusern 2 sente sal kos.

 

Hoeveel voer moet gegee word?

Dit is moeilik om te veralgemeen oor presies hoeveel voer die skape tydens enige spesifieke stadium van 'n droogte nodig het. Dit hang af van die tipe skaap wat gevoer moet word en die toestand van die weiveld. Aanvanklik kan slegs 'n paar onse voer per dag gevoer word en die hoeveelheid voer kan volgens die boer se eie oordeel vermeerder word namate die kondisie van sy diere verswak. As toestande uiteindelik sodanig verswak dat die skape uitsluitlik van byvoeding afhanklik is, kan die skape se absolute minimum vereistes deur die hoeveelhede voer soos in Tabel 2 aangegee voorsien word:

 

 

Hierdie syfers kan ook gebruik word as 'n aanduiding van die relatiewe hoeveelheid voer wat aan die verskillende tipes skape tydens die vroeë stadiums van 'n droogte gevoer moet word.

 

Is dit veilig om slegs pitvoer op swak veld te voer?

Die wanbegrip bestaan dat mens nie skape wat op swak veld loop, net pitvoer kan voer nie. Dit kan egter wel gedoen word indien (a) die skape aanvanklik nie toegelaat word om hulle te oorvreet aan die voer nie en (b) die hoeveelheid pitvoer wat gevoer word, geleidelik vermeerder word sodat die skape by die rantsoen kan aanpas.

Waar skape vir 'n lang tydperk net pitvoer gevoer word en min ruvoer daarby ontvang, sal dit dalk ook nodig wees om die een of ander bron van kalsium aan hulle te voorsien.

 

Wanneer om op te hou voer?

Swaar veeverliese word dikwels ondervind nadat 'n lang droogte deur reëns onderbreek word deurdat boere te gou ophou om te voer.

Byvoeding gedurende hierdie tydperk is egter nog steeds belangrik; veral waar sulke reëns met koue weer gepaard gaan. Die liggaamsgewig van skape na die eerste reëns toon normaalweg 'n skerp daling, waarskynlik omdat die skape op die jong lote konsentreer en gevolglik nie voldoende voedsel-energie inneem nie.

Ons beveel dus aan dat skape vir die eerste paar weke nadat die droogte gebreek is, gevoer word totdat daar voldoende weiding beskikbaar is.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 40 (4)