Last update: April 3, 2012 09:57:06 AM E-mail Print

 

SKEMATIESE VOORSTELLING - STEEKGRAS-GROEPDRIEKAMPSTELSEL 

A J Siepker 

 

Weiveldbeplanning bring vir die veeboer verskillende probleme mee.

Hy moet, onder andere, oorweeg volgens watter beginsels hy die veelsoortige veld op sy plaas moet skei, hoeveel veesuipings daar in elke kamp moet wees, wat 'n gepaste drakrag vir sy plaas is, hoe dikwels sy weikampe moet rus en hoe hy die nodige rusperiodes op ‘n eenvoudige, dog stelselmatige manier kan reël.

Dit is die laasgenoemde vraag wat hier aandag geniet, veral in sover dit spesifiek op die steekgrasbesmette veldsoorte van die land betrekking het.

Steekgras (Aristida spp.) is 'n ewigdurende las vir sowel vee as veeboer op die uitgestrekte vlaktes wat so kenmerkend van baie Karooagtige streke in Suid-Afrika is. Vanweë die swak waterhouvermoë van die vlak grond, die droë klimaat en wisselende reënval, skyn dit onmoontlik te wees om 'n standhoudende bedekking van meerjarige soetgrasse in hierdie vlaktes op te bou.

Daar kom egter vlaktes voor waar, weens grond- en klimaatstoestande, dit nog moontlik is om deur middel van oordeelkundige weidingbestuur in standhoudende bedekking van meerjarige grasse op te bou.

Hoewel dit nou met steekgras besmet is, was hierdie vlaktes beslis ook vroeër met soetgrasveld bedek. Dit besit nog ‘n sanderige leem bo-grond en kom in dele voor wat vogtiger klimaatstoestande geniet. Ter wille van grondbewaring is dit noodsaaklik dat in sulke dele die oorspronklike soetgrasveld herstel word.

Waar dit dus nie duidelik is of 'n stuk vlakteveld onder die eerste of tweede soort (soos hierin beskryf) ressorteer nie, maar waar steekgras wet 'n las is, kan die volgende Groepdriekampstelsel met veiligheid gevolg word. (Kyk naasliggende skematiese voorstelling).

 

 

Volgens hierdie stelsel word die steekgras sowel benut as ontduik, en van ‘n las in ‘n bate omskep. Dit voorsien in sowel die gras- as bossiebehoeftes van die skape, en maak ruimskoots vir grasontwikkeling voorsiening deurdat elke kamp om die beurt 'n laatsomerrus, opgevolg deur 'n lente- en vroeë somerrus, geniet en beurtelings ‘n lenterus na die somerrus toegeken word.

Indien die veld stadigaan in ‘n soetgrasveld ontwikkel, kan daar mettertyd na 'n soetgrasveldstelsel oorgegaan en beeste geleidelik ingebring word.

In hierdie stelsel, vir die uitvoering waarvan ten minste drie kampe vir elke afsonderlike trop nodig is, strek ‘n jaar vanaf die lente tot die einde van die daaropvolgende winter, dit wil sê vanaf September tot September. Na voltooiing van die derde jaar word die stelsel herhaal.

Gedurende strawwe droogtes kan die beskikbare weiding na willekeur gebruik word. Dit is egter baie belangrik dat na die stelsel teruggekeer word sodra goeie reëns geval het.

 

Published

Karoo Streeksnuusbrief Junie