Last update: April 4, 2012 11:19:07 AM E-mail Print

 

WOLBOERE KAN LEER UIT DIE GROOT SKRIK

 

deur J.J. Venter Landbounavorsingsinstituut van die Karoostreek Middelburg K.P.

 

DIE wolboere skep weer asem - en moed - na die styging in die wolpryse op vanjaar se verkopings. Net betyds ook. Want dinge het vir baie boere so sleg begin Iyk dat hulle hul Merinoskape weggemaak en oorgeskakel het na vleis- of dubbeldoelrasse. Ander was aan die oorweeg om voorbeeld te volg toe die uitredding gekom het. Tog, terwyl ons nog die skrik behoorlik onder lede het, sal dit dalk goed wees as ons die hand in eie boesem steek en probeer vasstel presies watter en hoeveel skuld ons, die wolboere, self het aan die krisistoestand wat ons so byna-byna gevang het? Met ander woorde, ons moet antwoord vind op die vraag: Waarom het die vraag na Merinowol so onrusbarend gedaal?

Om voor te begin: Enkele jare gelede nog was die wolvesel een van die populêrste tekstielvesels vir kledingstowwe - soveel so dat die aanbod nie in die behoefte kon voorsien nie en aangevul moes word met kunsvesels of herwonne wol. Dit het meegebring dat die kunsvesel, wat 'n maklik manipuleerbare vesel is en volgens voorafbepaalde spesifikasies vervaardig kan word, deur navorsing spoedig verbeter is. Eienskappe wat in wol van waarde beskou is, is nageboots - hier dink ons veral aan karteling en ander eienskappe. Kreukeltraagheid, wat selfs moeilik in wolkledingstowwe verkry kan word, is redelik effektief met kunsvesels bewerkstellig.

Om weer die vraag na en die verbruik van wol te stimuleer word daar nou intensiewe tekstielnavorsing in Suid-Afrika en oorsee gedoen om die eindprodukte van wol - onder meer wat betref kreukeltraagheid en krimpweerstand - te probeer verbeter, al moet dit dan geskied deur middel van 'n vermenging met kunsvesels.

Nog 'n rede waarom minder wol gebruik word, is die tydrowende verwerkingsprosesse. Dit verg arbeid en koste om wol tot 'n bruikbare eindstadium deur te voer. Dikwels ook is daar hoë verliese aan veselmateriaal as gevolg van sekere gehalte-afwykings.

 

HUIDIGE PROBLEME

In die eerste plek word die wol maklik, deur onkunde of gebrekkige belangstelling, swak vir bemarking aangebied. Die afranding en tipering volgens voorgeskrewe standaarde word in die hande van leke en dikwels onopgeleide arbeiders gelaat. Dit bring mee dat die uniformiteit van tipes binne die bale veel te wense oorlaat, veral wat betref lengte en veseldikte, asook gehalte en skoonopbrengs. Afwykende tipes word nie as sulks uitgeken nie. In baie gevalle maak dit herklassing nodig - ten koste van die produsent.

Die wanklassing bemoeilik die evaluasie van die wol in die baal deur die koper, met gevolg dat minimum pryse as veilige norms aanvaar, aangebied en betaal word. Die koper weet in werklikheid nie wat aangebied word nie en is derhalwe nie bereid om die risiko van oorbetaling te loop nie.

 

 

REDES VIR VERLIESE

Daar is verskeie redes vir hierdie ongewenste toestand. Die wol wat die skaap produseer, is dikwels van swak gehalte en openbaar sekere gebreke wat met verdere verwerking ondervind word, byvoorbeeld:

 

OORSAKE VAN SWAK GEHALTE

Daar is 'n hele aantal faktore wat aanleiding gee tot swak gehalte soos hierbo uiteengesit. Die vernaamste is 'n verkeerde verhouding tussen kartel en veseldikte in die wol en verwering.

 

Ongewenste kartel/veseldikteverhouding

Goeie kwaliteit wol was en is nog altyd 'n gesogte vereiste by wolkopers en fabrikante. In die beoordeling van wol word 'n goeie aanvoeling, egaligheid en afwesigheid van steekhare as voorvereiste vir kwaliteit gestel.

Reeds sedert die veertigerjare is ondersoek ingestel na die faktore wat die kwaliteit van wol bepaal en beïnvloed. Van Wyk (1946) het die weerstand teen same persing as maatstaf geneem en het opvallende verskille in weerstand teen same persing in Merinowol aangedui.

Die belangrikste bevinding was die verskil tussen wol waarvan die kartels per 2,5 cm (per duim) en veseldikte van die Duerdenverhouding (1929) verskil. 'n Tabel is deur wyle prof. Duerden opgestel wat die gemiddelde verhouding tussen die spintelling, getal kartels per 2,5 cm (per duim) en die veseldikte in mikron aangee. Is die wol dunner as wat die kartels aandui, is dit ondergekartel; is dit dikker, is dit oorgekartel.

Dit het geblyk dat wol wat sterker is as wat die kartels aandui, groter weerstand teen samepersing bied as wol met 'n normale verhouding tussen karteling en veseldikte. By wol wat fyner is as wat die kartels aandui, is die weerstand teen same persing kleiner. Sodanige afwykings van die gemiddelde verhouding is dus een oorsaak waarom sommige wol lywig en ander pap voel en min staankrag het.

 

 

Die verskynsel is verder ondersoek met betrekking tot die styfheid van enkel vesels (Van Wyk & Venter, 1954, Venter 1958) en dieselfde gedrag is ook ten opsigte van die uitrekking van individuele vesels gevind. Dit impliseer dat, hoe meer ondergekartel die wol is, des te papper is die wol en omgekeerd. 'n Oorbeklemtoning van sagtheid van aanvoeling in teling bring mee dat die wol mettertyd al hoe meer ondergekartel raak d. w .s. papper. Daar word gevolglik al hoe meer van die Duerdenstandaard afgewyk.

Volgens Venter (1965), Uys (1966) en Kruger (1969) het die Suid-Afrikaanse Merinowol opmerklik met die jare meer ondergekartel geword. Kartels per eenheid lengte is gevolglik nie meer 'n betroubare aanduiding van die gemiddelde veseldikte nie.

Die gevolge hiervan word weerspieël in 'n groot mate van variasie in veseldikte in die baal. Die wol is dikwels baie fyner as wat die kartels aandui en wol wat dieselfde kartels per 2,5 cm (per duim) besit, verskil baie in veseldikte en wyk ver af van die Duerdenlyn (soos in Fig. 1 gesien kan word) volgens ontledings wat deur die Vagtoetssentrum gedoen is. Om die evaluasie van wol meer betroubaar te maak, het Whan (1968) voorgestel dat ondergekartelde wol uitgeken en apart gebaal en volgens objektiewe metings verkoop behoort te word.

Albei hierdie eienskappe word deur voeding beïnvloed, dus sal gunstige voeding as algemene bestuurspraktyk die verhouding handhaaf. Veseldikte is baie meer gevoelig vir 'n voedingsverandering en neem onder strawwe toestande maklik 28 persent af (Venter, 1953), dog die getal kartels verander en pas in 'n mate ook geleidelik daarby aan. Die verhouding van veseldikte tot aantal kartels verander egter nie drasties nie (ongepubliseerde data).

Ooiwol is in 'n sekere mate geneig om meer ondergekartel te wees as ramwol. Van 'n jaar tot 2½ jaar wanneer die dier volwasse raak, is die wol van albei geslagte geneig om meer gekartel te wees (Venter & Hugo, 1969).

 

Verwering

'n Hoë graad van verwering veroorsaak dat die tipgedeeltes van die wol chemies en fisies beskadig raak. Die beskadigde gedeeltes breek af in die kamprosesse en gaan as uitkamsels verlore. Volgens Australiese syfers word minder as 18 persent van die oorspronklike tipgedeeltes in die kambolstadium gevind terwyl in die garingstadium minder as een persent voorkom. 'n Aansienlike verlies van bykans 30 persent in lengte word ondervind.

Ondergekarteldheid, veral omdat dit met papheid van die wolvesel gepaard gaan, veroorsaak ook 'n gebrek aan staankrag op die skaap. Die vesel is te pap om dit teen oopval en gevolglik dieper blootstelling aan verwering en stofindringing te beskerm. Sodanige wol is nie net meer nie, maar ook veel dieper verweer (Veldsman & Kritzinger, 1960; Steenkamp, Venter & Edwards, 1970). Erg verweerde wol vervilt ook makliker. Dieselfde geld vir ondergekartelde wol (Veldsman & Kritzinger, 1960), soos vroeër hier beskryf.

Veldsman (1970) het verskeie nadele van 'n ondergekartelde wol ten opsigte van die verdere verwerking en eindproduk (wolmateriaal) aangestip, onder meer - dis meer geneig om te vervilt (wat ongewens by kamstof is); lit drapeer swakker en is meer geneig om te kreukel.

'n Oorgekartelde wol daarenteen openbaar nou wel nie die genoemde nadele nie, maar die kenmerkende aanvoeling van tipiese rasegte Merinowol word in 'n groot mate prysgegee. 'n Oorgekartelde wol is egter baie geskik vir die vervaardiging van breiwol en ander weefstowwe. (Cilliers, Robinson & Slinger, 1968.)

Die uiters voordelige eienskappe van wol wat aan die Duerdenverhouding voldoen, regverdig die teelt en seleksie van skape wat die inherente vermoë besit om 'n wol te produseer wat aan die verhouding voldoen. Beide veseldikte en kartels per eenheid lengte is geneties oorerflik - so dus ook vermoedelik die verhouding waarin die twee tot mekaar staan.

Aan die Landboukollege Grootfontein is ondersoek ingestel na die invloed van seisoen en klimaat op die mate van verwering. Steenkamp, Venter & Edwards (1970) het aangetoon dat die verwering op die wol gedurende die somerperiode, November tot Februarie, op sy hewigste is. Wol wat nuut uitgroei na skeer is blykbaar nog nie volledig gekeratiniseer nie en gevolglik meer gevoelig vir verwering, sodat dit gemiddeld meer as 70 persent beskadig raak as dit net vir een van die genoemde maande blootgestel word. Wol wat oor die periode lank is maar nie voldoende digtheid, staankrag of vloeibare wololie besit nie, sal geneig wees om oop te val en selfs nog dieper beskadig raak.

Gedurende die koeler wintermaande is verwering baie minder en daal dit tot onder 10 persent. Dit is gevolglik duidelik dat 'n lang wol oor die somermaande sover moontlik vermy moet word deur die skeertye so te reël.

'n Vergelyking is getref tussen 8-maande-wol wat oor verskillende seisoene gegroei het. Die resultate toon duidelik dat die tipgedeeltes (1 cm) relatief (80-90%) verweerd is, ongeag oor watter periode dit gegroei het. Die mate van dieper verwering is egter betekenisvol verskillend tussen die groepe en bevestig die reeds genoemde gevolgtrekking. Wol wat toegelaat is om te groei vanaf Februarie tot einde Oktober het betekenisvol minder dieper verwering ondergaan as wol wat, veral aan die end van die groeiperiode, oor die warm somermaande gegroei het. Selfs die verwering van die tipgedeeltes was, hoewel nog betreklik hoog, betekenisvol minder as die van die ander.

Die verwering op die lyf van die skaap kan egter in 'n groot mate beperk word deur te selekteer en te teel vir staankrag, goeie vagdigtheid, voldoende en vloeibare wolwas.

Die voorsiening van skaduwee, veral gedurende die warm somermaande, kan die mate van verwering aansienlik verminder. Die aanplant van meer bome in kampe, of sonskerms of afdakke naby waterkrippe in die veld kan hier baie help.

 

MOONTLIKE OPLOSSINGS

Die ideale toestand sou wees om 'n gesonde wolvesel te produseer wat treksterk is oor die hele lengte en wat so min moontlik verweer is; wat verder 'n gebalanseerde kartel-tot-veseldikte-verhouding besit en aan die vereistes van die fabrikant voldoen.

Indien Merinowol die aanvraag en gebruike as tekstielvesel wil herwin en behou, sal alles moontlik gedoen moet word om meer aan die vereistes van die fabrikant te voldoen, afgesien nog van die verbetering in die eienskappe van die eindproduk.

Probleme wat deur die fabrikant ondervind word in die verwerking moet sover doenlik reeds deur die produsent uitgeskakel word. Die versekering moet aan die fabrikant gegee kan word dat die wol aan sekere vereistes voldoen en, indien moontlik, gespesifiseer volgens objektiewe maatstawwe aangebied word. Afwykende tipes wat probleme sal en kan oplewer, moet uitgeken en apart gebaal word, soos reeds aanbeveel deur Whan (1968) en Venter & Steenkamp (1971).

Die boer moet besef dat hy 'n tekstielvesel produseer wat aan sekere vereistes moet voldoen. Hy staan tans by 'n kruispad: Wil hy met die kunsvesels kompeteer, sal sy wolgehalte meer aandag moet geniet. As die produsent nie daarmee wil inval nie, sal hy genoodsaak wees om oor te skakel na 'n dubbeldoelras waar wol 'n sekondêre posisie inneem teenoor vleis. Hy sal gevolglik met 'n laer prys vir sy wol tevrede moet wees en die verskil met vleis probeer bybring.

 

AANBEVELINGS

Aanbevelings om die huidige toestand te verbeter, kan soos volg saamgevat word:

 

Daar is geen rede waarom, as hierdie ideale nagestreef word, die wolprodusent nie finansieel aansienlik sal baat nie. 'n Verhoging van selfs 10% in wolpryse kan so bewerkstellig word.

 

VERWYSINGS

CILLIERS, W.C., ROBINSON, G.A. & SUNGER, R.I., 1968. The processing characteristics of South African wools. Part IV. High crimp wools. S.A.W.T.R.I. Tch Rep. No. 110

DUERDEN, J.E., 1929. Standards of thickness and crimps in Merino grease wools. J. Text. Inst. 20, T 93-100

KRUGER, T.J., 1969. Die kartel-tot-veseldikte-verhouding van Merinowol met spesiale verwysing na die Duerden-standaarde.Agroonimalia 1,169-174

MICHELL, G.H., 1970. Prior wool selection by local processors. Wool Tech. Sheep Breed XVII 2, 70

STEENKAMP, C.H., VENTER, J.J. & EDWARDs, W.K., 1970. Seasonal effect on weathering of wool. Agroonimalia 2, 127-130

VAN WYK, C.M., 1946. A .study of the compressibility of wool with special reference to South African Merino wool. OnderstepoortJ. Vet. Sci 21,1,99-226

VAN WYK, C.M., VENTER, J.J., 1954. The initial resistance of crimped wool fibres to extension. J. Text. Inst. 45, T 809-819

VELDSMAN, D.P., 1970. Wat wolfabrikante van die S.A. Wolskeersel verlang. Die Wolboer. XXIII 6, 5-7

VEWSMAN, D.P. & KRITZINGER, C.C., 1960. Studies on the felting properties of South African Merino wools. J. Text. Inst. 51, T 1 257-1 270

VENTER, J.J., 1953. Die noodsaaklikheid van gesonde groei in wol. Boerd. in S.A. 28, 374

VENTER, J.J., 1958. Let op karteling en dikte van die vesel. Boerd. in S.A. 34,42-44

VENTER, J.J., 1965. 'n Studie van die interverwantskappe tussen vag- en veseleienskappe by die Merino. 1. Subjektiewe skatting van die tipe wol (spintelling). S. Afr. Tydskr. Landbouwet. 8,1123-1132

VENTER, J.J. & HUGO, W.J., 1969. Die verskille tussen ram-, hamel- en ooiwol. Die Wolboer Vol. 23,4 No. 9.1

VENTER, J.J. & STEENKAMP, C.H., 1971. Classing of wool according to crimp fineness. Golden Fleece Vol. 1,9 Supl. p. 19-20

UYS, D.S., 1966. Merinovagwol soos in Suid-Afrika geproduseer. M.Sc. (Agric) verh. Univ. van Pretoria

WHAN, R.B., 1968. Is woolclassing worthwhile? Wool Tech. Sheep Breed. 16,1 87-91

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 48 (7)